Redakteursbrief: ʼn Brief aan die tannie* wat so kla

Lesersfoto

Lesersfoto

Liewe Tannie*-wat-so-kla

Ek weet nie of jy dit weet nie, maar Afrikaans is aan die brand.

Op Tuks het uiteenlopende studentegroepe gister standpunt ingeneem vir en teen Afrikaans op die kampus. Die gemoedere het hoog geloop en die polisie moes woedende EFF-lede wegkeer van Afriforum Jeug-lede wat ʼn vergadering oor die universiteit se taalbeleid wou bywoon. (Ek is nie partydig nie, kyk gerus die video.)

Instansies soos die Afrikaanse Alumni-vereniging veg hul vingers stomp vir die behoud van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch.

Op die Puk, reken talle, het Afrikaans so tien jaar oor. Die storie oor Afrikaans op dié kampus is al ou nuus.

By die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se spitsberaad oor studente-onluste en die implikasies vir Afrikaans aan hoëronderwysinstellings wat vroeër die week in Pretoria gehou is, het Chris Klopper, besturende direkteur van die SAOU, gesê die aantal Afrikaanse skole het van 2010 tot 2015 met 355 afgeneem. Dis 355 minder instansies waar kinders in Afrikaans skoolgaan.

In Limpopo, sê hy, is daar net een Afrikaanse enkelmedium-hoërskool oor.

Dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit, het by dieselfde spitsberaad die mening uitgespreek dat die Universiteit van die Vrystaat teen 2017 volkome Engels sal wees. Hoewel daar 50% Afrikaanse studente aan die Universiteit Stellenbosch studeer, wil net 30% in Afrikaans klas draf, sê hy. Hy reken Afrikaans by Stellenbosch se dae is getel oor min of meer vyf jaar van nou af.

In die 18de weergawe van die instansie Ethnologue – Languages of the World se taalverslag vir 2015 word Afrikaans gedokumenteer as ʼn taal met 6 860 000 moedertaalsprekers en 10 300 000 tweedetaalsprekers – “but decreasing”.

Ek dink nie ons kan meer bekostig om tyd te spandeer daaraan om te kla op al wat digitale forum is nie. Die tyd is verby om ons vingertjies seer te tik oor ander se spelfoute op sosiale media, of om in die kommentaar-afdeling van webblaaie soos Maroela Media speelgoed rond te gooi oor iemand dit waag om van ons te verskil.

As ons ons taal wil red, sal ons ons moutjies moet oprol – nie om die sleutelbord beter by te kom nie, maar om daadwerklik ʼn verskil te maak.

En jy, tannie, jy en jou man kan help.

As julle plaaslike hoërskool nog Afrikaans is (die kans is skraal as julle in Limpopo bly), vat vir die skoolhoof en die Afrikaanse onnies koeksisters. Ondersteun jul plaaslike Afrikaanse gemeenskapsradiostasie deur daarna te luister en positiewe terugvoer te gee, nie deur te kla oor hulle Bobby se nuwe liedjie drie dae laas gespeel het nie. Lees die plaaslike gemeenskapskoerant en moenie vir die redakteur briewe skryf oor elke tik- en spelfout nie. Ten minste doen hulle iets vir Afrikaans.

Koop vir jou kinders en kleinkinders Afrikaanse DVD’s, en koop vir hulle (en vir jouself) Afrikaanse boeke. Ondersteun die Afrikaanse kunstenaars wat die moeite doen om in julle gemeenskapsaal te kom optree, al hou jy nie van haar musiek nie. Gaan kyk Afrikaanse teater, al moet jy stad toe ry daarvoor. Stuur vir jou familie oorsee alles waarop jy jou hande kan lê wat Afrikaans is. Praat Afrikaans oral waar jy kom. Sê dankie as jy diens in Afrikaans kry.

Maar moet in hemelsnaam net nie kla nie.

Elke keer as jy ʼn kelner nydig bykom omdat hy jou in Engels durf vra het of jou kos lekker is, kap jy ʼn spykertjie in Afrikaans se doodskis – want dis een meer nie-Afrikaanssprekende wat negatief is oor Afrikaans. Elke keer as jy jou hooghartig hou teenoor iemand wat ʼn Afrikaanse woord verkeerd uitspreek, het jy gehelp om Afrikaans se pad die afgrond in te baan. Elke keer as jy in die Afrikaanse gemeenskap onderlinge verdeeldheid veroorsaak deur op sosiale media en geselsforums (soos Maroela se kommentaar-afdeling) in meningsverskille betrokke te raak, het jy ʼn bietjie energie gemors wat jy kon gebruik het om Afrikaans te help red. Elke keer as jy vloek, iemand beledig of rassisties raak in ons kommentaar-afdeling, en ons moet dit verwyder, mors jy twee minute van ʼn joernalis wat die tyd kon gebruik het om ʼn Afrikaanse artikel te skryf.

Dié wat daarbuite is en Afrikaans probeer red, is baie, glo my. Hulle kom elke dag oor ons pad, in honderde gedaantes. Hulle skryf, debatteer, marsjeer, daag op, hou vergaderings, skryf briewe, lewer betoë, doen toesprake, gaan VN toe, publiseer boeke, sing liedjies, teken petisies, maak spelfoute reg, gee woordeboeke uit, druk Afrikaanse T-hemde, bou brûe met nie-moedertaalsprekers, sê dankie vir Afrikaanse diens. Hulle hou die Afrikaanse vlam aan die brand; hulle steek Afrikaans nie aan die brand nie.

Sluit jou by hulle geledere aan. Hou op kla en doen iets vir Afrikaans. Ek vra mooi. Ons taal is in groot, groot moeilikheid en ons het jou hulp nodig.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

(* Vir die rekord: Ek sluit hierby elke oom en elke jongeling van albei geslagte wat saam kla in – omdat ek in die verlede beskuldig is daarvan dat die tannies in my redakteursbrief altyd die goeie karakters is en die ooms die slegtes, maak ek vandag die tannie die sondebok. Mens kan in dié land mos nie bekostig om nié polities korrek te wees nie.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

32 Kommentare

Johann ·

Kon dit nie beter stel! Kom ons werk POSITIEF saam en laat mense sien wie ons werklik is.

Reinhardt ·

Fantasties gestel Susan. Ek preek dit al vir maande, maar dit val op dowe ore. Ek dink ek sal sommer musiek in Afrikaans begin maak, ek meen met die kwaliteit van Afrikaanse musiek daarbuite sal dit nie te moeilik wees nie! haha

Reinhardt ·

Terloops, op die onderwerp van musiek. Vergelyk gou asseblief hierdie lirieke van FPK met die afrikaanse musiek op RSG en Bok Radio.
“Ek is sonder kultuur gebore.
Ek bly toevallig in Afrika.
Ek praat toevallig Afrikaans.
Daar’s baie min mense wat my verstaan.

Ek sluip deur die strate,
Sonder rigting,
Sonder koördinate.
Sondebok,
Verslaaf aan massamedia,
Slagoffer van prestasie-angs en…

Paranoia, paranoia!
Ons bid ons bly beskut,
Terwyl die duiwel aan ons vensterrame ruk.
’n Lewe met paranoia, paranoia!
Afrika die vampier,
Beeldskone ondier.”

Kobus ·

Baie dankie Susan!
Afrikaans is die taal wat ons gevorm het!

tamboti ·

Ek kan ook saamstem, al is ek baie uitgesproke probeer ek my taal en spelling suiwer hou maar vergewe asb die gebrek aan kappies en deeltekens, net te veel moeite om hul te gaan soek op hierdie blikbrein. Maar nou ja, hy skryf baie mooier as ek want dan kon ek maar los, niemand sou ‘n woord kon lees nie!

Uit die Ooste ·

Susan jy is n yster, hoop die tannie wat so kla lees jou kommentaar. As sy nie besef dat sy haar houding jeens Afrikaans moet verander nie sal niks meer vir haar help nie. Die tannie het niks om elke dag te doen nie, daarom kla sy net oor alles. Ek woon in Thailand hier is dit n plesier om te bly en te werk. Natuurlik verlang ek terug na my land. Ek lees elke dag die nuus op die net wat alles daar in SA gebeur. Ek se net dit is een groot sirkus met een hoof nar. Dit is chaos , ek kan nie glo dat n land waarvoor ons almal lief is so in sy hele wese tot niet gaan nie.
Ek wil net se ons wat buite SA woon dink aan julle ons bid vir julle.
Serkte .

Klaas ·

Dankie Susan – positiewe insigte. Daar is egter een ding wat ons moet byvoeg: Die “mode” om kinders na Engelse skole toe te stuur met die verskoning dat hulle op die wyse gereed gemaak word vir die besigheidswêreld wat deur Engels oorheers word. Ek kan nie hiermee saamstem nie. Ek kom uit die Marico uit (daar waar Engels in die 60-s so skaars soos ‘n Pool-hond in die Sahara is), het aan ‘n Afrikaanse universiteit (PUK) gestudeer en vir 30 jaar in ‘n organisasie waar die enigste besigheidstaal Engels was, gewerk. Ek het nooit probleme gehad nie. My kinders het ook in Afrikaans gestudeer en die meest van hulle werk in ‘n hoofsaaklik Engelse omgewing. Taal is ook nie vir hulle ‘n hindernis nie. Ons dra deels sel by tot al minder Afrikaanse skole omdat daar ‘n groot groep Afrikaanse ouers is wat verkies om hulle kinders na Engelse skole te stuur.

Elizabeth ·

Pragtig Susan maar as die anties nie kla nie dink almal alles is ‘hankie dorie’…

Oom Boer ·

Susan, geluk met jou pragtige skrywe, want jy het mos die platform of vloer om die lof te besing.
Wel ongelukkig is ek een van daai ou “Omies en Tannies” en is nie beskore om jul hoë platform te deel nie, maar dit is seker ‘n debat vir die jonger garde. Betrokkenheid val net inlyn vir die gekose groepies, so al wat ek kan sê is sterkte vorentoe en die tyd sal leer.

Francois ·

Susan, jou artikel bevat heelwat goeie punte. Daar is egter ook heelwat kwessies waaroor ek van jou verskil. Spelfoute in kommentare op sosiale media lyk dalk na ‘n onbenulligheid om oor te kla, maar sommige kommentators se bydraes is dermate deurspek met spelfoute (om van swak formulering nie te praat nie) dat die waarde van hul bydraes daardeur negeer word.

Om te redeneer dat ons erkenning moet gee aan sekere instansies, want ‘ten minste doen hul iets vir Afrikaans’, is ook ‘n mistasting. Hier in die noordelike voorstede van Kaapstad is ‘n sekere gemeenskapsradiostasie wat sogenaamd Afrikaans is, maar die ‘Afrikaans’ wat deur die meerderheid van dié stasie se omroepers gebesig word, is só deurspek met Engels dat dit ‘n pyn is om na hulle te luister. Hulle het my as Afrikaanse luisteraar dus lank gelede reeds verloor, want hulle berokken, na my mening, Afrikaans meer skade as wat hulle ‘iets vir Afrikaans doen.’

Laastens is ek onbeskaamd nydig met kelners, winkel- en bankkassiere, en dies meer wat in oorwegend Afrikaanssprekende areas nie Afrikaans kan of wil praat nie, maar net in Engels wil kommunikeer. Diesulkes rig in my oë eerder skade aan Engels aan, want hul geneigdheid om met Engels te volhard, eerder as om hoflikheidshalwe basiese Afrikaanse sinne of begrippe onder die knie te kry, versterk bloot die wrewel wat ek het in die geforseerde oorheersing van Engels in baie Suid-Afrikaanse lewensfere.

Dina ·

Nee wat Susan! Nou gooi jy mos die baba met die badwater uit. Jy hits nou die lui praters
aan? Asof ons spelling en taalstruktuur nie alreeds op skool aan die agterspeen suig nie!
Francois is doodreg: ‘n Paar basiese sinne wat net ‘n handvol keer herhaal word, sal ver gaan om verhoudinge te verbeter. Buitendien vir elke een sin Afrikaans, praat ek tien sinne Engels.
Die karwag wat ek graag hier in my sentrum ondersteun, is die een wat al kan se: “More Ouma” Is dit toevallig dat hy eintlik Franssprekend is? Ek en hy lag lekker oor al ons weder-
sydse taalblapse. Maar die knie buig OF om soos die taalui Kapenaars te praat? Vergeet
dit Sus!

Human ·

Ek en my vrou is trotse diw oupa en ouma van ons klein Engelsmannetjie wat verlede jaar in Gr R en hierdie jaar in Gr 1 in ‘n AFRIKAANSE skool is. En kan hy mooi Afrikaans praat, sing en bid.

Henry ·

Ai toggie
Is dit ‘n gebrekkige humorsin of is dit ‘n oorontwikkelde ego?

Nog 'n ou tannie ·

Dit is “verskil met” – nie “verskil van” nie – en eerder “toetsbord” as “sleutelbord”.

Suné van Heerden ·

Dagsê Nog ‘n ou tannie

Die korrekte voorsetsel in die uitdrukking is wel “van” wanneer jy van mening verskil.
‘n “Toetsbord” verwys na ‘n “keypad/test board”. ‘n “Keyboard” op ‘n rekenaar is ‘n “sleutelbord”.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

E.K. ·

Oor swak Afrikaanse taalgeberuik in kommentare moet gekla word – of julle hou daarvan of nie. Om nou te kla oor mense wat probeer dat die res reg spel is regtig …klakous-erig! Moedig liewer mense aan om dit te doen. O, en ja, koop woordeboeke mense.

Realis ·

Reinhardt. Jy soek nou moeilikheid op die regte plek want jy gaan dit kry. (van ‘n klomp verkrampte afrikaanses of is dit afrikaanse verkramtes).
Laat ons nou maar eerlik met mekaar wees. In die oorgrote meerderheid van ons sit daar maar altyd ‘n latente kramp of twee iewers vas wat le en smeul tot hy die regte vonkie kry. Die resultaat is die uiting van ‘n klagte van een of ander aard oor die of daai onbenulligheid wat vir van die ander “afrikaanstes” ‘n pyn van intense proporsies op ‘n onvanpaste demografiese ledemaat veroorsaak. Kla is deel van ons menswees, of dit nou substansie het al dan nie.
Die oopkop redakteursbrief spreek die tipiese “attitude” (verskoon my maar ek het nog nie ‘n gepaste afrikaanse alternatiewe woord hiervoor gevind nie want nie een van die vartalings werk vir my nie) van ons deursnee afrikaner aan. Of ons nou daarvan hou of nie. Dit is objektiewe realisme. Ek glo Susan het meer blootstellig aan die afrikaner kultuur as die meeste van ons.
My gevoel is dat ons steeds kan kla oor iritasies maar hou dit relevant en verwant.
Ek sal nog steeds kla oor oordrewe afrikaanse spelfoute van afrikaanse respondente met die doel om te verbeter en trots te kweek,eerder as om te verneder of om sarkasties te wees.
“Ik hebdt gezegd”

Ampie ·

Anders as mense soos Francois en “die anner antie” geniet en waardeer ek dit om Afrikaans te kan lees, dit elke dag rondom my te kan hoor en is ek altyd jammer dat taal snobs altyd uit hul gate moet kruip…hou dit vir jouself en as jy nie kan nie gaan irreteer jou familie, nie die res van die samelewing nie! Afrikaans is deel van Afrikaans sprekendes se siel en hoe meer ons dit oppas hoe beter vir ons! Vanoggend vir elk van my seuns n Afrikaanse storieboek gekoop…vat my terug na die dae van Ampie, Trompie en die Uile!!

Realis ·

Nog een stuiwer in die armbeurs vir die ooms en anties.
Hou in gedagte dat hoe ouer jy word, hoe meer het jy om te se maar hoe minder mense wat na jou wil luister
(Toemaar ek is ook ‘n oom)

Liewe lulu ·

Hierdie ou tannie is trots op haar taal. So spel reg, dit is deel van jou trots wees op jou taal.

Elizabeth ·

Ek het respek vir myself, dis waarom ek gesteld is op korrekte spelling en suiwer taalgebruik. Spel gerus soos jy wil, maar moenie die publiek wat jou bydraes lees verkwalik as hulle (sonder om “tannies” en “ooms” te wees of op die forum te kla) van jou dink wat jou skryfstyl oor jou verklap nie. En die geneigdheid om ander te verkwalik omdat jyself foute maak en daarop gewys word … dis deel van ons kultuur van patologies vergrote ego’s!

Henry ·

Is veral jou laaste sin rakende die oorontwikkelde ego’s wat beïndruk, Elizabeth.

Wil lyk asof sommige siele op MM veel eerder op die mag van die uitveër vertrou, ipv om die mag van die pen aan te wend. Veral wanneer standpunte wat nie met hul eie bekrompe stellings ooreenstem nie, teë gekom word.
:-)

Leendert van Oostrum ·

‘n Rubriek soos herdie herinnner aan die Fascistiese “Afrikaner” – kultuur waarin ek grootgeword het – waar niemand dit on waag om te verskil van die “norm” nie. Laat staan nog om te kla!

Is dit die soort hou-jou-bek-omgewing wat ons kan verwag as ons Solidariteit/Afriforum se aksies ondersteun?

Angswekkend!

loes ·

Afrikaans is nie my moedertaal nie maar dit is MY taal. ek is nie suidafrikaans gebore nie en spel nie so wonderlik nie.. Ek praat Afrikaans en is trots op MY taal. my man is van oorsprong engels sprekend en is die taal puris wat Afrikaans en engels aangaan . volgens die foto is die eienaar van die voertuig dalk nie eens wit nie. Dit is n Quantum bussie en dit word gewoonlik as taxies gebruik. wwes eerder dankaar omdat die mense die wete wil versprei as wat julle die tannie* met klippe doodgooi omdat die wyse julle nie aanstaan nie.

Realis ·

loes, jy is veilig. Dankie vir jou verduideliking. Ons looi egter net afrkaanse afrikaners wat oor die tou trap met hul taal

Mariaan ·

Wel ek is een van die mense wat ‘n broertjie dood het aan woorde wat verkeerd gespel is. Ek wil ook net noem dat uit die aard van ‘n joernalis se werk verwag ek dat sy/haar taalgebruik en spelling korrek moet wees … soos jy van dokters, tandartse ens verwag om uit die aard van hulle beroep sekere dinge te weet. Ek wonder altyd oor iemand se vlak van opvoeding as die taalgebruik en spelling so swak is.

Jaco ·

Ek is van opinie dat mense wat hul taal versorg moeite gedoen het om iets behoorlik te doen. Ek is sal nie links en regs kritiseer nie, maar dat is tog mooi om te sien as mense waardering en agting vir hul taal het deur seker te maak van spelling. Sulke mense se opinies dra gewoonlik meer gewig in my oë, want hulle het gedink oor wat hulle skryf en hoe hulle dit skryf.

Eliza-beth ·

Meeste mense, in dien nie almal, maak vingerfoute, maar growwe taal- en/of spelfoute en sms taal is ‘n pyn in my Afrikaanse hart! Ek is bly as iemand my op ‘n spelfout ag maak, so leer mens mos.

Arno ·

Dankie, Susan!

Jy kon dit nie beter gestel het nie. Ek raak so moedeloos as ek die kommentaar onder aan berigte lees, dat ek soms wens julle verbied dit. Ek kan nie glo dat mense so kinderagtig, kleinlik en bowenal rassisties kan wees nie! Dis soos Nero wat viool speel terwyl Rome brand.

Gerhard ·

Enige taal het sprekers nodig om te kan lewe. Die enkele grootste etniese groep wat Afrikaans besig as hulle moedertaal is die Afrikaner. Indien die getal Afrikaanse moedertaalsprekers afneem kan ons dus aanneem dat die getalle van daardie volk ook afneem. Die dryfveer hiervan is egter nie emmigrasie of mense wat eenvoudig ophou om hulle moedertaal te praat nie.

Die enkele grootste faktor in die selfmoord van hierdie kultuur is die gebrek aan ‘n nuwe geslag Afrikaners. Meeste jong gesinne het deesdae 1 of op die meeste 2 kinders. Dit is dieselfde kulturele selfmoord wat homself tans afspeel in elke Europeese land. Die gemiddelde getal kinders per gesin in elkeen van daardie etniese groepe is tans minder as 1. Navorsing het bewys dat indien daardie gemiddeld onder 1,7 val is daardie kulturele groep gedoem tot ‘n gewisse ondergang. Die gebrek in die arbeidsmark word dan eenvoudig aangevul deur die immigrasie van ander kultuurgroepe waarvan die groeikoers meestal heelwat meer as 2 kinders per gesin beloop…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.