Reformasie: verheldering van beproefde waarhede

Deur Piet Boshoff

Die Martin Luther-standbeeld in Wittenberg. (Foto: Hendrik Schmidt/dpa via AP)

Die Reformasie van die sestiende eeu slaag daarin om die lank vertraagde hervormingspogings van die Westerse Kerk saam te snoer en word Europese gebeure. Die Europese Kerk beleef ʼn splitsing sonder om van die gemeenskaplike wortels afstand te doen.

Die oer-christelike uitgangspunte wat aan Europa vanaf sy kerstening vorm gegee het, tree nou weer sterk na vore, naamlik die voorrang van die enkeling bo die gemeenskap wat almal insluit en die onderskeiding tussen godsdiens en politiek. Dit is mense wat, een vir een, tot geloof kom. Die inhoud van die geloof is nie ʼn waarheid wat algemeen ingesien kan word nie. Geloof en ongeloof is telkens dade van individue. God se heilshandeling word reg verstaan wanneer dit hier en nou lei tot ʼn nuwe selfverstaan van die mens daarin betrokke.

Gelowiges onderskei ook tussen godsdiens en politiek. Hierdie insig mond uit in die Westerse prinsipiële onderskeid tussen kerk en staat en laat die ryk van Christus langs die ryk van die wêreld staan; die ryk van die woord van God en die ryk van die rede; die heerskappy van die evangelie en die heerskappy van die wet. In die ryk van Christus regeer God self deur sy woord, vergewe sondes, kalmeer gewetes, skenk ewige vryheid. In die ryke van die wêreld regeer God deur vorste wat die reg handhaaf en vir geregtigheid sorg. Christene leef in en onder beide ryke van God.

Exsurge Domine: “Staan op, Here”

Nadat Luther se Vyf en Negentig Stellings in 1517 gepubliseer is en Pous Leo X daaroor ingelig is, het die pouslike opdrag gekom om “die man stil te maak”. Dié taktiek het toe nie gewerk nie. Op 15 Junie 1520 reik die Pous sy amptelike bevel uit dat Luther sy ketterye binne sestig dae moet terugtrek en die mense dit moet verwerp en sy boeke moet verbrand. Luther se aandrang dat hy uit die Bybel weerlê moet word, het gemaak dat hy die Ryksdag te Worms kon oorleef en dat die saak teen hom in die lug bly hang het.

Op verskeie plekke in Duitsland en Nederland het mense egter gehoor gegee aan die sensuur en die vure aangesteek. In antwoord daarop skryf Luther ʼn ope brief aan Leo X en stuur sy Die vryheid van ʼn Christen daarmee saam. Dit moes vir Leo X getref het dat Luther hulle twee as gelykes beskou. Luther argumenteer dat geloof ʼn mens vry maak en dat niks hom skade kan aandoen nie. Wanneer iemand nou in plaas van die geloof sy hoop vestig op goeie werke om homself te regverdig, verloor hy onmiddellik die geloof en die gawes daarvan. Gebeure wat mooi geïllustreer word deur die fabel van Die hond met vleis in die bek (soos vertaal deur myself en Gafie van Wyk):

Hond het ʼn stuk vleis in die bek en wil ʼn stroom oorsteek, maar toe hy sy eie skaduwee in die water opmerk, dink hy dat dit ʼn ander hond met ʼn groter stuk vleis in die bek is. Hy laat val toe sy eie vleis en wil dié van die ander hond afneem. So gebeur dit toe dat hy van albei beroof is; die een het hy nie gekry nie, omdat dit glad nie bestaan het nie en die ander een omdat dit deur die stroom weggespoel is.

Op Philippus Melanchthon se afkondiging het studente en kollegas by die Kruiskapel bymekaar gekom en vandaar deur die Elsterpoort gestap en daar buite Wittenberg volumes van die kanonieke wet, pouslike dekrete en skolastieke filosofie in die vuur gegooi. Toe tree Luther ook na vore en gooi ook die Exsurge Domine, waarin hy met verbanning uit die kerk gedreig word, in die vuur terwyl hy prewelend uit die pouslike dokument aanhaal: “Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Vandag stort die Here jou in die ongeluk.” (Josua 7:25).

Dit was die gelade oomblik waarop dit duidelik was dat vuur met vuur beantwoord gaan word, volgens Luther “eyn anfangk des ernsts”.

Luther waarsku daarteen dat Jesus Christus net as ʼn voorbeeld verstaan moet word. Daarvolgens sou Hy niks meer as enige ander voorbeeld wees nie. Geloof is vir Luther net moontlik waar die gelowige die lot wat Christus getref het as sy eie erken wat na hom toe terugkom. In die donker magte waarmee Christus gestry het, God se toorn, sonde en dood, erken hy sy eie sonde en die magte wat daardeur oor hom heers.

Christus het in verantwoordelikheid die lot op Hom geneem wat as gevolg van die sonde (dit wil sê ongeloof) oor die mense gekom het. Die mag van die lot, sy onontwykbaarheid word verbreek wanneer sy oorsaak bekend word. En die oorsaak van die menselot lê by die voorstelling wat die mens het dat hy homself kan maak, kan regverdig en daardeur God van sy eer en goddelikheid beroof. Die gelowige neem deel aan hierdie verantwoordelikheid deur Christus se kruis op te neem en in die aanvaarding van God se oordeel oor ons sonde en ons op God se genade te beroep, want net dié wat voor God se oordeel buig, begryp en gryp in waarheid die genade van God aan. God wat doodmaak, nie om te dood nie, maar om lewend te maak. Die gelowige gee gehoor aan die woord waarin God Homself belowe.

Terugskouend (1541) het Luther die ban teen hom as ontydig beskou. Hy het sover gegaan om sy Verduidelikings van die Vyf en Negentig Stellings aan Pous Leo X op te dra. Self het hy hom toe nog as ʼn getroue katoliek beskou en die pouslike dekrete het buitendien verklaar dat die aflaatverkopers niemand van die vagevuur met aflaatbriewe kan red nie. Maar in plaas van goedkeuring en seën het daar uit Rome weerligte en storms gekom. Elkeen wat ʼn pen kon vashou, het hy gevoel, het teen hom gal gebraak. So het hy toe die skaap geword wat die water vir die wolf in Esopus se fabel Wolf en Lam vertroebel het (soos vertaal deur myself en Gafie van Wyk):

Wolf het net een kyk gegee na waar Lam by ʼn rivier water drink en hy besluit om hom onder ʼn goeie voorwendsel op te vreet. Hy gaan staan hoër stroomop en beskuldig Lam toe dat hy die water vertroebel en hom nie kans gee om te drink nie. Maar Lam antwoord dat hy net met die punte van sy lippe drink en dat hy onmoontlik, waar hy stroomaf staan, die water boontoe kan versteur. Met sy voorwendsel daarmee heen, sê Wolf toe: “In elk geval, verlede jaar het jy my pa beledig.” Lam antwoord dat hy toe nog nie eers gebore was nie, waarop Wolf vir hom sê: “Net omdat jy knap is in jou verdediging, sal ek jou daarom nie eet nie?”.

Koburg

In 1530 het Luther vanaf 16 April tot 13 Oktober veiligheidshalwe in die Koburgkasteel oorgebly. Die dag na hulle aankoms het Luther gepreek oor die kruis en lyding. Hy herinner die gemeente daaraan dat God bepaal het dat hulle nie net in die gekruisigde Christus moet glo nie, maar ook saam met Hom gekruisig moet word. Ons moet op die woord let en wegkyk van al die moeilikhede wat ons wil plattrek, soos die probleme wat die Pous en die Turke veroorsaak. Al is ons nie sulke goeie Christene as wat ons behoort te wees nie en maar swak in lewe en geloof, sal God vir sy woord opkom eenvoudig omdat dit sy woord is.

Luther hou deur middel van briewe kontak met sy vriende wat op die Ryksdag van Augsburg hulle saak moet stel. Hy skryf aan Melanchthon dat hy beplan om die tyd daar te werk aan die Psalms en die Profete en om die fabels van Esopus te verwerk. Hy beskryf sy werksaamheid aan hulle deur vir elkeen ʼn hut te bou, hulle as’t ware tuis te laat kom. Esopus se hut sal egter net tydelik wees. En hy bedoel daarmee dat sy bewerking van Esopus se fabels waarde vir die tydelike lewe het in teenstelling tot die inhoud van die Psalms en Profete wat ewigheidswaarde inhou. Luther was oortuig dat mens nie ʼn fyner boek oor wêreldlike en algemene wysheid as die “eenvoudige lawwe kinderboek van Esopus” kry nie.

Die wêreldlike regering bewaar vrede, reg en lewe wat tydelik en verbygaande is. Nietemin is die wêreldlike regering ʼn glorieryke instelling en uitstaande gawe van God wat dit ingestel het en wil behou as iets waarsonder mense nie kan aangaan nie. Prediking maak van sondaars heiliges en van dooies lewendiges. Wêreldlike regering maak uit wilde diere mense en voorkom dat mense wilde diere word. Wêreldlike regering beskerm mense en besittings. Voëls en diere sou kon sê dat ons ons behoort te skaam oor ons ondankbaarheid vir dié gawe, want in vergelyking met hulle is ons gode.

Dit is duidelik dat tydelike gesag ʼn skepping en ordening van God is. God het dit nie ingestel om vernietig te word nie. Ons moet dit onderhou, maar nie met die vuis nie. Salomo het die Wysheid hoor sê: “Deur my regeer konings, en hooggeplaastes vaardig regverdige dekrete uit” (Spreuke 8:15, 2020-vertaling).

Luther maak gebruik van die aan Esopus en Salomo toegedigte lewenswysheid. Hulle lewenskuns kom uit die ervaring van versamelde lewenswyshede wat dikwels in spreekwoorde bewaar en van geslag tot geslag oorgelewer is en word. Hierdie wysheid is nie op wonderbaarlike wyse aan die wêreld geopenbaar nie, maar met die skepping en die lewe self gegee en dit groei uit die lewe – en die sterwe.

Hierby kan ons nog voeg: “Ja, aan die mens wat Hy aanvaarbaar vind, gee Hy wysheid, kennis en vreugde” (Prediker 2:26, 2020-vertaling). Ons verstand help ons om tussen die baie stemme die waaragtige uit te luister, om nugter en saaklik te oordeel en nie kop te verloor nie. Maar daar is so baie mense wat ons liewer as onverstandiges sal wil sien en sal wil hê. Hiervan en daarvan verstaan jy niks, sê hulle. En so kom ons naderhand heel onverstandig voor. Maar ons moet ons nie dom laat maak nie. Baie dinge sal beter wees as ons net meer verstandig sou wees en ons nie dom laat hou nie.

Teen die middel van Julie 1530 stuur hy sy manuskrip ʼn Preek, dat mense kinders op skool moet hou Wittenberg toe vir publikasie. Daarin verduidelik hy dat Duitsland deur die keiserlike Romeinse reg en wet regeer word. Hierdie wet is die regering se godgegewe wysheid en redelikheid. Die regering kan net staande bly deur die wet te handhaaf. “Wie sal dit regkry? Nie vuiste en wapens nie, maar koppe en boeke moet dit doen.” Daarom moedig hy dit aan dat kinders ywerig moet skoolgaan.

Almal wat te doen het met die wetlike kant van die staatsadministrasie moet die wet en wysheid van ons wêreldlike regering bestudeer en goed ken en in staat wees om instinktief die regte ding te doen. Daar mag by tye goeie regeerders na vore tree, maar hulle is skaars; daarom is dit altyd beter om by die geskrewe reg, wat groter erkenning geniet, te hou.

  • Piet Boshoff is ‘n navorsingsgenoot in die Departement Ou-Testamentiese Wetenskap aan die Universiteit van Pretoria.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.