Reformasiedag: Luther se betekenis vandag

Prof. Pieter Duvenage (Foto: Verskaf)

Martin Luther se teologiese bydrae is welbekend, maar sy denke het ook baie belangrike politieke implikasies. By hierdie geleentheid wil ek graag op laasgenoemde aspek ingaan – sonder om die teologiese hart van sy denke te ontken.

ʼn Verdere motief is ook om nie net op die universele belang van Luther te wys nie, maar ook op sy belang vir ons eie konteks – die besondere tradisie van Afrikaanse Protestantisme in Suid-Afrika.

  1. Luther se verskyning in ʼn krisistyd

Martin Luder (later Luther) is in 1483 vanuit ʼn bo-middelklas familie gebore. Sy vader was Hans, ʼn sakeman in die mynbedryf, en sy moeder Margarethe (Lindemann) Luder. Luther se leeftyd (1483-1546) word deur gisting en krisis gekenmerk.

Die ou Middeleeuse wêreld van die Katolieke kerk, die skolastiek (met Aristoteles se rol daarin) en die Heilige Romeinse Ryk het oor die drumpel van ʼn nuwe wêreld beweeg – die Renaissance, humanisme, vroeë-modernisme en -kapitalisme.

Kultuur, samelewing, wetenskap en ekonomie het gemaal en gekolk. Op tegniese gebied was daar die boekdrukkuns (Gutenberg se Bybel verskyn 1450), die ontdekking van buskruit en die kompas en die ontdekkingsreise van Columbus (1492 Amerika) en Dias (om die Kaap). Om alles te kroon kom die astronoom, Nikolaus Copernicus, in 1543 met die opsienbare stelling dat die aarde nie meer die sentrum van die heelal is nie, maar dat dit saam met ander planete om die son draai.

In die stede van suid-Duitsland, maar ook elders in Europa, het ʼn vooruitstrewende en selfbewuste burgerstand in ʼn toenemend uitgedifferensieerde maatskaplike bestel van handel, finansiering, kuns en kultuur na vore getree. So het ʼn nuwe era met priemende vrae en navorsing die tradisie onder druk geplaas.

Dit was ʼn gistende tydsgewrig van angs en onsekerheid. Die pes (ʼn voorloper van ons eie Covid-pandemie) het met golwe deur Europa getrek. Maatskaplike wantoestande, hongersnood en epidemies (so treffend geskilder deur Hieronymus Bosch) is as God se straf vir menslike sondes gesien. Vir die meeste mense was die lewe kort en wreed.

In die politiek van die tyd, het die Islamitiese Turke (Osmane) Konstantinopel, die metropool van die oostelike-Christendom in 1453, oorgeneem en in 1529 voor die stadsmure van Wene te staan gekom. Te midde van dit alles moes die Oostenrykse Keiser van die Heilige Rome Ryk, Karel V, nie net die Turke op ʼn afstand hou nie, maar ook die komplekse kragte binne Europa (die opkomende nasionale state, die pouslike mag en die komplekse lappieskombers van Duitse state) balanseer.

Portret van Martin Luther deur Lucas Cranach der Jüngere via Wikimedia Commons

In hierdie krisistyd, het Martin Luther (gebore 1483), as ʼn onopvallende kind sy skoolloopbaan in Mansfeld voltooi. Hierna studeer hy aan die Universiteit Erfurt (1501-1505) met die oog op ʼn regsloopbaan. Wanneer hy homself egter in 1505 naby sy huis in ʼn lewensgevaarlike donderstorm bevind, besluit hy om die Augustynse Orde in die Katolieke Kerk aan te sluit. Na die verwering van sy doktorsgraad word hy ʼn bloedjonge professor in Bybelkunde in Wittenberg (1512).

As teoloog staan geloof en ʼn betroubare bestudering van die Bybel in die sentrum. Dit beteken ʼn verdere verdieping van die uitlegkunde van die skolastiek. In die koue winter van 1515 buig die jong geleerde hom oor die boeiende, dog moeilik-ontsyferbare, teks van Paulus se Brief aan die Romeine. Waarmee worstel Paulus byna in ontologiese terme hier?

As God ʼn regverdige God is, wat is die verhouding tussen God en mens? Die antwoord hierop is dat die mens hom nie voor God met menslike dade hoef te bewys nie – die mens is reeds deur die gekruisigde God in Christus gered. Die geredde leef dus met die geloof.

Die menslike rede staan nie in verhouding met God se rede nie, maar Augustinus se punt oor menslike gevallenheid en God se genade is hier ter sprake. Ek kan nie God omkoop nie. In plaas van vrome boetedoening en ewige selfondersoek en -kastyding word die mens alleen deur sy geloof in God se genade van sy sonde verlos. God is nie ʼn regter wat die sondige straf nie, maar ʼn barmhartige God wat diegene wat in hom glo uit genade vergewe. So word die begrip van God se geregtigheid nou eerder een van liefde (in ontsag) as vrees.

Hierdie kort notas oor Luther se teologie bring sy verskille met heersende ordes van die Katolieke Kerk van sy tyd markant na vore. As die mens reeds deur God se genade gered is, dan hoef die pous, priesters en kerk nie meer tussen die sondaar en God te bemiddel nie – ook wanpraktyke soos aflaatbriewe om vir jou sondes deur die kerk te betaal verval.

Jy hoef nie meer voor en deur die priester of die pous by God te bely nie. Die verhouding tussen die mens en God is direk en elke mens is nou sy eie “priester” met al die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan.

Die kerk is egter nie minder belangrik vir die groot hervormers nie, dit is die vrye saamkoms van gelowiges in afwagting op die verkondiging. Dit is basies die argumentatiewe bedding van die 95 stellings wat Luther, vandag 505-jaar gelede, teen die Kasteelkerk-deur in Wittenberg gespyker het.

“Vergadering van Reformatiste” (Foto: Bianchetti/Leemage)

  1. Die politieke implikasies van Luther se teologiese denke

Hierdie bondige lees van Luther se teologiese denke, bied nou die geleentheid om by enkele sistematiese aspekte van sy breër denke uit te kom. Dit gaan hier oor die politieke, sosiale en ekonomiese implikasies van sy denke die afgelope eeue.

Die individu

Luther se denke bring die kwessie van die moderne individu sterk na vore. Die bronne hier is: ʼn sekere lees van Paulus (wat by Augustinus aansluit) dat omdat God die mens deur genade uit sonde gered het (as ʼn liefderyke God) is die mens vry om te handel – met verantwoordelikheid. Die ou-wêreldse voorskrifte en reëls wat jou handeling met vrees afdwing, verval.

ʼn Christen handel goed, nie vanweë straf (en ʼn straffende God) wat bo hom hang nie, maar deur die etiese voorbeeld van Christus. Eties gesproke staan God se horisontale liefde en genade in verhouding met hoe jy vertikaal met jou naaste omgaan. Dit is dus nie bloot die somber prentjie van die gevalle mens nie (soos by Augustinus), daarom die blydskap en kreatiwiteit wat so ʼn kenmerk is van die Protestante kerkmusiek (Bach) en die bloei van ego-dokumente wat tot die Westerse roman- en digkuns bygedra het.

Saam met hierdie opvatting van individualisme en kreatiwiteit volg ook die belangrike begrip van die selfbewussyn − wat later so ʼn groot rol in die denke van Kant, via die Romantiek en Hegel, speel en in die invloedryke 20ste-eeuse fenomenologiese uitmond by ʼn denker soos Heidegger (as dasein).

Die Bybel

Saam met die individualisme kom ook verantwoordelikheid dat die mens die Bybel, as basis van jou geloof in die genadige redding van God, so goed as moontlik sal ken. In die opsig het Luther met sy Bybel-vertaling in Duits so na as moontlik aan die taal van mense gekom.

Philip Melancthon,
Martin Luther, Pomeranus (Johann Bugenhagen) en Cruciger (Gaspard Creuziger), die vier groot Duiste Protestantse teoloë werk aan Luther se vertaling van die Bybel.

In die opsig kom die tema van taal en denke na vore en die noodsaak om die Bybel so goed as moontlik te interpreteer. Dit is die opkoms van die grootse hermeneutiese tradisie in die geesteswetenskappe – dalk een van die grootste prestasies van die Weste. Saam met Bybelinterpretasie kom die noodsaak van algemene geletterdheid en opvoeding (Bildung) sodat ons lees van die Bybel aan die maatstaf van skriftelikheid en redelike interpretasie kan voldoen.

Die samelewing

Vanuit ʼn meer sosiaal-politieke hoek lei individualisme tot ʼn nuwe siening van die mens in die samelewing. Kerkregering word nie hiërargies ingerig nie – die kerk en die priesters het nie so ʼn voorskriftelike greep meer nie. Elkeen is in ʼn sekere sin ʼn priester. Elke individu kan die skrif lees en elkeen kan interpreteer. Natuurlik moet die Protestantse predikant leiding gee, maar altyd volgens die maatstaf van skriftelikheid en redelikheid.

Hoewel Luther dit nie so geformuleer het nie is die politieke implikasies van die gesketsde opvatting van kerkregering in baie opsigte rewolusionêr. Ons moderne opvatting van liberale demokrasie en die moderne wetenskap hou hiermee verband.

In politieke terme word die begrip van individualisme (ook in die kerkregering) met gelykheid eerder as hiërargie (soos by Aristoteles) verbind. Elke persoon as “regter” is skepties oor enige gesag wat nie redelik verantwoord of geregverdig is nie. Dit gaan hier oor die skeptiese “waarom-vraag” wat in die hart van die moderne wetenskapsbeoefening en demokratiese praktyk staan. Jy moet op redelike gronde kan regverdig wat jy verdedig. Redelikheid en skriftuurlikheid.

Die skadukante

Daar is natuurlik skadukante aan hierdie individualisme van Luther. In die eerste plek kan ʼn individualisme wat nie behoorlik veranker is nie maklik ontspoor tot hubris – en selfs tot sekularisering lei.

Luther het, tweedens ook, met die skeiding wat hy tussen kerk en staat tref, ʼn dubbelsinnige opvatting van die politiek. In die opsig sien hy politiek as ʼn tipe euwel wat sy posisie moeilik maak om die staat kritiseer. By Luther staan die staat nie meer onder ʼn heilige wet nie, maar word dit eerder deel van die kontrak tussen individu en staat binne ʼn sekulêre soewereine nasiestaat.

Die gevaar van oordrewe nasionalisme bestaan aan die staat se kant. Gelukkig het die Calvinisme as ʼn belangrike opvolg-nuanse in die Protestantisme hierdie probleme by Luther in die rigting van die regstaat verder deurdink. Elemente hiervan is ook by Luther teenwoordig.

Ten slotte is daar ander skadukante aan Luther se denke, soos sy onverdedigbare kritiek op die Jode laat in sy lewe, waaroor daar vandag wyd gedebatteer word.

  1. Luther in ons eie konteks

Boere-pioniers

Ossewaens is tot diep in die twintigste eeu nog as nagmaalwaens gebruik. Hier is ou vriendskappe hernu en het nuwe liefdes geblom.

Die vraag is nou wat het ons met belangrike tradisie, wat so deel van ons is, aan die suidpunt van Afrika gemaak? ʼn Mens sou kon aanvoer dat hoewel Van Riebeeck eerder ʼn Hervormde en Gereformeerde weergawe van Protestantisme na Suid-Afrika gebring het dat Luther nog altyd ʼn onmisbare onderbou hiervan is.

Hierdie tipe Hervormd-Gereformeerde-Protestantisme was deel van die boere-pioniers soos hulle vanaf die Kaap na die binneland, in die 17de en 18de eeu, versprei het. In die wakis was die Bybel en enkele kommentare hoofsaaklik uit die nadere Reformasie van Nederland, maar ook uit die Duitse Piëtisme soos die waardevolle navorsing van Karel Schoeman, Andries Raath en ander aandui.

Die verspreiding van die boere, en later die Voortrekkers, na die binneland, het geestelik-sosiaal plaasgevind in die komplekse verhouding tussen die ruwe individualisme (selfs hardkoppigheid) van die Boere, maar altyd met respek vir die instelling van die kerk. ʼn Tipe Boere-piëtisme het posgevat soos ʼn mens uit die ego-dokumente van vroue soos Susanna Smit kan aflees.

Hierdie Boere-piëtisme het egter nooit in iets bloot persoonlik en moralisties gaan strand nie, maar is altyd ingebind in die belangrike wisselwerking tussen huisgesin en die breër institusionele orde (kerk en staat).

Afrikaanse teologie

In die afgelope drie eeue het die behoefte om eie predikante op te lei al hoe sterker geword. Al drie susterskerke het vanaf die middel van die 19de eeu tot die 1920s teologiese kweekskole gevestig te Stellenbosch, Burgersdorp (later Potchefstroom) en Pretoria. In die proses het ʼn Afrikaanse teologie, en verskeie geslagte van teoloë, vanuit ons eie konteks in ʼn kreatiewe gesprek met die erflating van die Protestantisme (met Luther inbegrip) getree. Hierdie gesprek moet vandag, vanweë die agteruitgang van teologie by die staatsuniversiteite, in nuwe instellings voortgesit word.

In die proses was die kerk belangrik, maar altyd volgens die goeie Protestantse beginsel van skriftelikheid en redelikheid van ʼn demokraties gestruktureerde kerkregering. Hierdie beginsel het ook in die Boererepublieke van die 19de eeu neerslag gevind. Hierdie Boererepubliek se grondwette toon duidelik Protestantse trekke in die sin dat die burgers aktiewe republikeinse deelnemers van die staat, en nie bloot byspelers op die verhoog van ʼn gesagstaat was nie.

Moderne Afrikaners

Indien ons nou die vinnige sprong van die 19de eeu oor die 20ste eeu tot in ons eie tyd maak, kan daar met die volgende opmerkings volstaan word: Dit sou interessant wees om te gaan kyk hoe ons Protestantisme ons deur die trauma van die Anglo-Boereoorlog gehelp het en ook om tot terme te kom met die totstandkoming van die ou Suid-Afrika, die verdediging van die apartheidstaat, maar ook in die kritiek daarvan.

ʼn Mens sou kon beweer dat die grondwet van 1996 ʼn baie sterk onderliggende Protestantse en selfs Lutherse invloed het. Die groot taak na 1994 is dat die beginsels van die grondwet halfhartig deur die regerende party toegepas word en dat ʼn aktiewe burgerlike samelewing hier nodig is wat weer baie uit ons Protestantse tradisie kan put.

Dit bring my ten slotte by die Hervormd-Gereformeerde Afrikaanse Protestantisme. Hoewel dit kwantitatief kleiner staan binne Suid-Afrika vandag, beskik dit kwalitatief oor ontsettende ryk bronne.

Saam met al die ander Protestantse kerke, en die breë Christelike tradisie, het ons die verantwoordelikheid om hierdie bronne op so ʼn hermeneutiese wyse te ontsluit, dat ons die krisisryke tye waarin ons leef met dieselfde toegewydheid as ʼn Luther kan aanpak.

Hierdie artikel is ʼn geredigeerde weergawe van voordrag wat op 29 Oktober 2017 na die erediens by die Nederduitsch Hervormde Kerk, Welevredenpark in Johannesburg gehou is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Duvenage

Prof. Pieter Duvenage is die dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oom ·

Meer verstommend is die feit dat die instansie (volgens Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 29 nie ‘n kerk nie) in 505 jaar nog nie die lig gesien het nie.

Hendrik ·

Oom ek dink ons moet maar liewer weer begin om sending werk te doen in SA onder die Afrikaners soos dit nou aangaan. Lanklaas so baie lee kerke gesien met so baie mense op motorfietse en bote op ‘n Sondag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.