Regering versuim sy plig met fondsbesnoeiing

(Grafika: Helpende Hand.)

Geagte minister Zulu

Ons skryf om ons kommer uit te spreek oor die departement van maatskaplike ontwikkeling se onlangse besluit om toelaes vir welsynsorganisasies in Suid-Afrika te verminder.

As burgers van hierdie land, glo ons sterk dat elke Suid-Afrikaanse burger die reg het om veilig te voel en dat dit die regering se verantwoordelikheid is om na ons regte om te sien.

Die vermindering van toelaes vir welsynsorganisasies raak onder andere die statutêre regte van kinders, die versorging van bejaardes, veilige werksplekke vir gestremdes, die werk van maatskaplike organisasies en die ontwikkeling van gemeenskappe deur sterk organisasies. Welsynsorganisasies speel ʼn kritieke rol om te verseker dat hierdie regte nagekom word, en dit is die verantwoordelikheid van die regering om hulle te ondersteun.

Die staat het ʼn grondwetlike plig om na weerloses om te sien, maar nieregeringsorganisasies (NRO’s) kan dit meer doeltreffend en koste-effektief as die staat doen. Dit is dus noodsaaklik dat ons mekaar ondersteun. Daarom is ons teleurgesteld dat die departement van maatskaplike ontwikkeling, sonder behoorlike raadpleging, besluit het om toelaes te verminder en in totaliteit te staak by beskermende werksplekke vir gestremdes. Die impak wat dié besluit sal hê op die mense wat op nieregeringsorganisasies staatmaak vir ondersteuning is nie in ag geneem nie. Hierdie besluit is ʼn duidelike skending van Suid-Afrikaanse burgers se regte en moet onmiddellik aandag kry.

Ons is bewus daarvan dat die departement van maatskaplike ontwikkeling druk plaas op welsynsorganisasies om die diensvlakooreenkomste wat bepaal dat hulle toelaes besnoei word te onderteken sonder dat hulle voldoende tyd kry om dit te bestudeer of oor die inhoud te onderhandel. Dit is onaanvaarbaar en toon ʼn gebrek aan respek vir organisasies wat noodsaaklike dienste aan die gemeenskap lewer. Die regering moet met hierdie organisasies saamwerk en alternatiewe op die tafel plaas om te verseker dat hulle effektief en doeltreffend kan bly funksioneer sodat dienste nie negatief geraak word nie.

Dit is noodsaaklik dat die departement van maatskaplike ontwikkeling die kritieke rol van welsynsorganisasies in ons samelewing erken en hulle die nodige ondersteuning bied om te verseker dat hulle kan voortgaan om dienste te lewer aan dié wat dit nodig het. Ons dring daarop aan dat u die besluit om toelaes te verminder, en in sekere gevalle selfs te staak, heroorweeg en met nieregeringsorganisasies saamwerk om ʼn volhoubare oplossing te vind wat verseker dat alle Suid-Afrikaanse burgers se regte beskerm word.

Hiermee rig ons ʼn dringende versoek aan u, minister Zulu, om met die verteenwoordigers van nieregeringsorganisasies te vergader om hierdie saak te bespreek.

Groete,

Hannes Noëth,

Hoof van Solidariteit Helpende Hand

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy kan net sowel met ‘n klip praat, mnr. Noëth.

Mariana ·

Nee luister sal sy nie. Hoe gaan al die salarisverhogings gebeur as daar geld moet gaan na hulle wat dit nodig het. Hoe gaan daar geld wees vir Kuba en kie as daar vir welsyn geld gegee moet word, hoe gaan straat en dorpsname verander word as hulle vir arm gemeenskappe, gestremdes en kinders moet geld gee. Dit is ‘n skreiende skande dat daar altyd geld is vir snert maar wanneer dit kom by SA se nood, regte nood, is daar niks en sal daar nog weggeneem word ook. Maar net nog ‘n ANC fout.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.