Renosters: Stroop of verkoop?

Argieffoto: Andrew Taylor/ScienceLine

Nagenoeg 700 renosters is in 2018 gestroop. Daar dit darem heelwat minder is as in 2016 en 2017 (1 250 teenoor 700), klink dit na goeie nuus. Dog, deur renosterhoringhandel te wettig, kan die getal tot nul daal. Só skryf dr. Peter Oberem, grootwildboer en renostereienaar.

Om 700 vermoorde renosters in een jaar te tel, is bitter slegte nuus. Waarom moet ons die dood van byna twee renosters per dag in Suid-Afrika aanvaar as daar ’n oplossing is? Na my mening – en ek glo honderde ander bewaarders en grootwildboere voel dieselfde – is die logiese oplossing om die renosterhoringbedryf te wettig.

Hierdie stap sal die waarde van die lewende renoster weer herstel en eerlike verbruikers van renosterhoring toegang tot wettige en volhoubare produkte gee. Sou Suid-Afrika se suksesverhaal van natuurbewaring op hierdie manier voortgesit kan word, sal mens én dier voordeel daaruit kan trek.

Bewaring van lewende renosters

Suid-Afrika is die tuiste van 79% van Afrika se algehele getal renosters en sluit wit- en swartrenosters in – sowat 25 600 altesaam. Voeg ʼn mens die eenhoringrenoster van Indië by, loop daar maar slegs 28 000 renosters van alle spesies in die wêreld rond. Byna eenderde van hierdie renosterbevolking word privaat deur grootwildboere in Suid-Afrika besit. Volgens die 2017-opname wat onlangs bekendgemaak is, is 46% van alle witrenosters in Suid-Afrika (sowat 7 500) op privaat wildplase.

Te danke aan twee wette is Suid-Afrika een van min lande ter wêreld waar grootwild kommersiële waarde het.

Kragtens die Wet op Wilddiefstal (wet 105 van 1991) word die eienaarskap van wilde diere wat in ’n behoorlik omheinde kamp aangehou word, van die staat na die eienaar van die kamp oorgedra. Volgens hierdie wet kan wilde diere privaat besit en daarom ook verkoop word. Omdat sulke transaksies waarde aan die diere verleen, word die diere as bates beskou – iets wat die eienaar bereid is om te beskerm en te bewaar. Dan is die reg om op ’n volhoubare manier die natuurlike bronne (fauna en flora) van die land te gebruik ook in die Grondwet vervat.

Die trefkrag van hierdie wetsontwerp is duidelik waar te neem in, eerstens, die dramatiese toename van natuurbewaringsgebiede in Suid-Afrika. Ongeveer 20 miljoen hektaar (sowat 20%) van vroeëre grensgebiede en dikwels verwaarloosde landbougrond is nou privaat wildplase. Tweedens is daar ’n aansienlike toename in wild (van ’n beraamde 500 000 in 1965 tot ongeveer 20 miljoen tans).

Meer spesifiek, in 1895 was daar minder as 60 suidelike witrenosters in iMfolozi; teen 1990 het die bewaringspogings van die regering die getal na ongeveer 6 000 laat toeneem. Die skerp styging na die sowat 20 000 witrenosters wat ons tans het, is grootliks te danke aan die verskuiwing van sommige diere na privaat wildplase die oomblik toe dit gewettig is. Ongelukkig het die aantal renosters in die res van Afrika gedurende hierdie tydperk met meer as 80% afgeneem.

Tans hou die grootwildboere renosters vir die liefde daarvan aan. Een van die aaklige gevolge van stropery is juis die vernietiging van die markwaarde van die lewende renoster. Dit kos ’n grootwildboer minstens R28 000 per maand om die diere teen stropery te beskerm. Sommige grootwildboere voer hul renosters snags om hulle van die heinings weg te hou. Daarbenewens beloop die onthoring van die renosters elke twee jaar sowat R6 000 per dier. Die eienaar moet natuurlik ’n permit vir die verwyderde horing hê – wat hom ook geld uit die sak jaag – en dié moet veilig bewaar word sodat die eienaar en alles wat aan hom behoort nie aan gevaar blootgestel word nie. Die koste van ’n veilige kluis beloop om en by R3 000 per maand.

Benewens bogenoemde onkoste is die inkomstevermoë van renosterplase so te sê tot niet gemaak deur burokrasie. Terwyl die verkoop van renosterhoring nou wettig is, is dit bykans onmoontlik om die nodige permitte van die departement van omgewingsake te verkry. En internasionale handel word steeds en misleidend deur CITES (die Konvensie op Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora) verban.

Aangesien jag weer gewettig is (hoewel streng beheer), beteken dit dat ’n dooie (gejagte) renoster nou meer werd is as ’n lewende een.

Die gesamentlike uitwerking van reuse-uitgawes en feitlik geen inkomste nie het aanleiding gegee tot die verlies van meer as 200 000 ha renosterveld sedert die verbod in 2010 op renosterjag en renosterhoringverkope.

Om die renosterhandel te wettig, sal geweldig baie bydra tot die herstel van die waarde van die lewende renoster. Die volgende syfers toon:

  • Die straatwaarde van renosterhoring in China en Viëtnam is tans US$60 000/kg (sowat R900 000/kg).
  • Indien die handel gewettig is, sal die Asiese handelaar sowat R300 000 vir ’n kilogram renosterhoring verdien (eenderde) met sowat R600 000 wat weer teruggekanaliseer word die land in.
  • Teen ’n belastingkoers van 29% kry die regering sowat R175 000 wat weer vir natuurbewaring aangewend kan word, en los R425 000 vir die grootwildboer – meer as genoeg om die gepaardgaande onkoste vir die groei van renosterhorings te dek.

Enige handel wat gewettig is, maak geweldig sin betreffende die ekonomie van ’n land. Die 20 000 witrenosters van Suid-Afrika kan, byvoorbeeld, ongeveer 30 000 kg horing per jaar lewer, met ’n inkomste van R27 miljard aan die land. Die regering verdien R7,8 miljard in belasting met R19,2 miljard wat na die renostereienaars gaan.

Die geleentheid om ’n inkomste uit renosterboerdery te verdien, sal grootwildboere aanmoedig om dié diere aan te hou en met hulle te teel, en só die aantal renosters en natuurbewaringsgebiede laat toeneem.

Wat ook van belang is, is dat nie slegs die regering en privaat grondeienaars hierdie voordele sal geniet nie, maar ook gemeenskappe wat renosters op gemeenskapsgrond onder dieselfde bepalings aanhou. Die R600 000 wat een kilogram renosterhoring wat wettig verhandel is, kan lewer, is gelyk aan 17 werkgeleenthede bereken teen die minimumloon vir plaaswerkers.

Renosterhoring kan wettig bekom word

Renosterhoring is ’n erkende bestanddeel in tradisionele Chinese medisyne; dus is ’n mark daarvoor ’n gegewe. In ’n wettige handelsomgewing sal toegang beheer word en weens ’n moontlike afwaartse druk op pryse sal praktisyns voordeel daaruit trek om eerder wettige handelaars as stropers te ondersteun.

Wettige handel word ook maklik deur DNS-identifikasie gekontroleer – elke horing wat verwyder word, kan vergelyk word met die lewende renoster wat onthoring is. Met ander woorde, elke stukkie renosterhoring wat waar ook al ter wêreld gevind word, se oorsprong kan opgespoor word – in ag genome dat die onthoring wettig gedoen is en deur die RhODIS-proses (die Renoster-DNS-Indeksstelsel by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde by Onderstepoort) gegaan het. Enige renosterhoring (of gedeelte daarvan) wat nie geïdentifiseer kan word nie, is gestroop en sy handelaars kan vervolg word.

Die gevolgtrekking wat gemaak kan word, is dat die vraag na onwettige renosterhoring sal daal en uiteindelik heeltemal sal verdwyn.

Is daar genoeg wettige voorraad?

Die antwoord is ’n ondubbelsinnige ja.

’n Renosterhoring kan met ’n massa van 1 kg tot 1,5 kg per jaar groei. Met 20 000 renosters in die land kan Suid-Afrika bykans 30 000 kg (30 ton) per jaar lewer. Toe renosterhoringstropery hoogty gevier het, het stropers 1 250 renosters in Suid-Afrika gedood, met ’n gemiddeld van 5 kg horing elk. Dit bring die jaarlikse vraag na (slegs) 6,25 ton per jaar – veel minder as die land se vermoë om renosterhoring wettig te verhandel.

Van groter belang is dat daar geen skade aan die renoster berokken word as hy onthoring word nie – die proses is niks meer as soos om ’n nael te knip nie – en grootwildboere doen dit al ’n geruime tyd in ’n poging om stropery te voorkom.

ʼn Mens kan nie anders as om tot die slotsom te kom dat diegene teen wettige renosterhoringhandel óf nie die werklikheid van renosterbewaring verstaan nie óf ’n gevestigde belang in stropery het. Die regering se rompslomp dra ook by tot die vernietiging van die sogenaamde suksesverhaal van natuurbewaring in Suid-Afrika wat daargestel is om op ’n volhoubare manier gebruik te maak van natuurlike hulpbronne (fauna en flora) soos in die Grondwet vervat.

Hiermee lewer ek ’n pleidooi aan ons president wat (so glo ek) hierdie kwessie verstaan en die regte stappe sal doen ter wille van renosterbewaring in die besonder en natuurbewaring in die algemeen. En ter wille van alle huidige en toekomstige renostereienaars asook gemeenskappe wat diep in die binneland op gemeenskaplike grond bly.

Asseblief, president Ramaphosa, laat jou regering jou help om die verbod op wettige renosterhandel te lig en sien toe dat die burokrate ophou om ons toekoms nek om te draai.

Maz’ enethole – Dankie (oftewel, mag jou koeie kalf).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Helizna ·

Beeste sal nooit uitsterf nie oor hulle kommersiële waarde het. Renosters is baie vrugbaar en getalle kan vinnig groei as hulle soos beeste geteel word vir ‘n produk.

Anja van der Merwe ·

Dagsê Helizna

Volgens die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (reël 15.47) word ‘n breuknaam, wat uit meer as een komponent bestaan, vas geskryf, en indien ‘n breuknaam die voegwoord “en” bevat, word dit met koppeltekens geskryf. Dus, ‘n driehonderdste, eenderde, tweederdes, seweagtstes, ‘n een-en-twintigste, ‘n vier-en-sestigste.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Andreas ·

Helizna, die nuwe AWS neem almal op sleeptou, al is jy reg, voor die nuwe AWS was dit die norm en reg.

Jerry ·

Ek stem saam om renosterhandel te wettig sal mos nou die wind uit die seile neem van onwettige organisasies. Om die renoster egter te bewaar vir nageslagte gaan egter ook gepaard gaan met politieke en ekonomiese stabiliteit. Die oomblik wat die stryd daar verloor word sal nie net renosters, maar alles wat ons bewaar tot niet gemaak word, selfs die plantegroei!

JohanL ·

Baie interessante artikel en standpunt. Ek self het al baie gewonder wat die oplossing is.

Ek vra net :
– deur die verkoop te wettig, gaan dit regtig die sluikhandel (onwettige stropery) stop? Ek dink nie so nie. Dalk verminder, maar stop?
– as verkope gewettig word, sal die prys regtig daal? Hoekom sal die verkoper tevrede wees met R300 000/kg as hy weet die eindverbruiker is bereid om 3 keer meer te betaal (in sluikhandel)?

Alles in ag genome volg ek die argument en wil tog glo dat wettiging ‘n oplossing kan wees. Sorg net asb dat alle prosesse so is dat kans op korrupsie klein is.

Net twee ander hoeke.
1) Ek sou pleit dat die jag van lewendige renosters (en leeus en olifante) verbied word.
2) Die ware rede waarom daar ‘n mark is vir renosterhoring en leeu beendere, is omdat Chinese glo in die tradisionele genesingswaarde daarin. Ek mag seker nie te krities wees nie, maar ek dink dit is snert. As daardie mite wegval, sal daar nie ‘n mark wees nie. Maar ek besef dit is wensdenkery om te dink dat ons die Chinese (en Vietnamese) anders sal laat dink daaroor.

Gert ·

Dit gaan my verstand te bowe dat mense nie hierdie argument kan insien nie. Sorg dat renosters in privaat besit is, gee die eienaars die geleentheid om die horings te verkoop, en laat die vrye mark oorneem. Die eienaars kan hulle inkomste aanwend om die “kudde” te laat aanteel en te beskerm, en voor ons ons oë uitvee, is renosters nie meer bedreig nie.
Nou staan almal voor dat handel in renosterhoring verbied word, dit beteken net stropers kan geld maak, en hulle doen dit altyd deur die arme dier te vermoor.

Ons sit met dieselfde situasie met broodbome, waar die staat dit nou vir praktiese doeleindes onwettig gemaak het om privaat broodbome te kweek en versprei, en so broodbome se toekoms vernietig het.

Gert ·

Dit gaan my verstand te bowe dat mense nie hierdie konsep verstaan nie. As jy sorg dat renosters in privaat boere se besit is, en jy maak dit moontlik om handel te dryf in renosterhoring, sal die vrye mark oorvat en alles uitsorteer: Renosterboere sal inkomste verdien uit die horings, hulle sal dit benut om die renosters te beskerm en om hulle “kudde” uit te brei, en voor jy jou oë uitvee is die renoster nie meer bedreig nie.
Nou dink almal die oplossing is om handel in renosterhoring te verbied, dit beteken net stropers kan geld maak uit renosterhoring, en hulle vermoor altyd die arme diere.

Judge Dredd ·

Hierdie voorstelle was al 5 jaar terug gemaak – net om deur die Bunny Huggers gekruisig te word.

Andreas ·

Maroela, mag ek inset lewer? As iemand nie saamstem nie, laat daardie persoon self antwoord, maar moet my nie uitsluit nie. Die renoster kan nie praat nie.

Gys ·

Dankie tog daar was nie diereregte duisende jare gelede nie, anders sou ons voorouers nie skape, beeste, hoenders, katte en honde kon vang en mak maak nie. Hulle was tog immers duisende jare gelede net so “wild” soos wat renosters nou is.

Natuurlik moet diere met respek behandel word, maar God het tog ook gesê ons moet oor die diere en plante heers (met respek en verantwoordelikheid natuurlik).

Ek sien regtig niks verkeerd of wreed daaraan om elke nou en dan ‘n renoster se horing te oes nie, net soos wat skape se wol ook elke nou en dan geoes word.

Andries ·

Ons het die argument, dat renosterhoring gewettig moet word ter wille van hulle bewaring, al baie gehoor. Maar is dit regtig so? Is dit nie maar net gierigheid nie? Die ietermagô bevolking is besig om ineen te stort as gevolg van onwettigge handel op die swartmark, en ek sien nie dat boere nou skielik begin vra dat die handel in ietermagô’s gewettig moet word nie. Wat van olifante? Sal ons nou maar die handel in ivoor wettig want ‘n boer het ‘n paar tande in sy skuur? Die doelwit wat ons wil bereik is dat renosters veilig in die natuur kan oorlewe, MET hulle horings. Dit kan net gebeur as die mark vir renosterhoring toegemaak word, soos wat reeds besig is om te gebeur met die mark vir ivoor. Om beeste in ‘n voerkraal vet maak om te eet is al hartseer genoeg, maar om nou ‘n renoster in ‘n kampie te sit en sy horing elke maand te “oes” is hartverskeurend. Dis nie ter wille van die renoster nie – dis gierigheid.

Gert ·

Andries, gierigheid is maar net ‘n skelwoord van sosialiste vir kapitaliste, eintlik is absoluut almal gierig, selfs die sosialiste. Kyk maar na ons politieke leiers, meeste gee voor hulle is sosialiste, maar dis baie duidelik hoe gierig hulle is.
Die feit is niemand gaan die mark toemaak vir renosterhoring nie, as mense dit soek gaan hulle sorg dat hulle dit kry. Dus is daar twee opsies: Laat wettige renosterboere hulle renosterhoring verkoop om hulle uitgawes te kan betaal, of verbied dit, sodat hulle nie kan bekostig om hulle renosters te beskerm nie, en die stropers dan alles kom doodskiet vir die horings. In die tweede geval SAL alle renosters binnekort uitgewis wees.

Andreas ·

Gert, dis soos met skaap, wat vee is, beduie jy, as die wol lank genoeg, skeer jy dit af, dan gaan dit veiling toe.

So renoster het vir julle soos vee geraak.

Die wat wil verskil slaan tog die verskil tussen wild en vee na.

Andreas ·

Gert, klomp jaar gelede het mens gesê, ‘blaas my siel’, vandag is dit ‘martel my siel’.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.