Roepingsgedrewe onderwysers bou en vernuwe

Deur dr. Maretha Steyn

Argieffoto (Foto: Verskaf)

Wêreldonderwysersdag word op 5 Oktober gevier. Vanjaar se tema, soos toegedig deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco), is: “Die onderwysers wat ons nodig het vir die onderwys wat ons wil hê.”

Op dié dag word daar erkenning gegee aan die vasberadenheid en ywer waarmee onderwysers hul werk aanpak. Terselfdertyd word die soeklig geskyn op aspekte waarmee die sektor en onderwyslui te kampe het.

ʼn Onderwyser is ʼn professionele persoon wat roepingsbewus met die kroon van God se skepping omgaan by wyse van onderwysende opvoeding. Roepingsgedrewe onderwysers fokus nie net op die doeltreffend ontsluiting van kennis nie, maar ook op die aktiewe kultivering van wysheid, die holistiese ontwikkeling en selfverwesenliking van leerders, asook die vorming van hart en denke.

As daar na die plaaslike onderwyslandskap gekyk word, het die heterogene aard van die Suid-Afrikaanse bevolking, anders as in toponderwyslande soos byvoorbeeld Finland, verskeie uitdagings tot gevolg het. Hierdie uitdagings sluit onder meer in meertaligheid, die onderrig van die meeste leerders in ʼn taal anders as hul moedertaal, kulturele verskille, sosio-ekonomiese beperkings, swak en verouderde infrastruktuur, toeganklikheid en ʼn gebrek aan gehalte onderrig. Laasgenoemde word voor die deur van oneffektiewe onderwysopleiding gelê.

Desondanks hierdie multidimensionele uitdagings het die plaaslike onderwyssektor die afgelope aantal jare, veral na die aanvang van die Covid-19-pandemie, van veerkragtigheid en innovasie getuig. Roepingsgedrewe onderwysers gaan daagliks kreatief en met impak om met die kurrikulum en bou in die proses brûe tussen leerders en die breër gemeenskap.

Een van die groot uitdagings waarmee die plaaslike onderwyssektor te make het, is die tekort aan goed opgeleide onderwysers. Dié uitdaging verwys nie noodwendig na ʼn stelsel waarin daar nie genoeg onderwysers opgelei word nie, maar eerder na twee diepliggende probleme.

Die eerste hiervan is die kritiese tekort aan manlike onderwysers. Hierdie tekort spoel oor na alle vakgebiede en fases. Die tweede probleem spruit uit die realiteit dat die meeste onderwysers nie hul opleiding in hulle moedertaal of die taal van onderrig en leer op skoolvlak ontvang nie. Moedertaalonderrig rus voornemende onderwysers toe om hul kennis te verdiep, krities daarmee om te gaan en om hulle kundigheid met selfvertroue aan te bied. In die geval van Akademia word onderwysstudente toegerus om in Afrikaans én Engels onderrig te besig.

Akademia het in 2021 op Wêreldonderwysersdag die bekendstelling van sy fakulteit opvoedkunde gevier. Vandag, twee jaar later, speel dié fakulteit ʼn sleutelrol in die lewering van onderwysers wat aanpasbaar is gegewe die vinnig veranderende en tegnologies gevorderde onderwysomgewing.

Dit is verder die droom en strewe van die fakulteit om deur hoogstaande onderwysopleiding ʼn positiewe bydra te maak tot die praktiese, grondliggende en refleksiewe vaardighede van Suid-Afrikaans leerders.

Uitnemende onderwysopleiding lê ʼn grondslag van hoop en sal leerders toerus met vaardighede en denkvermoëns wat die wêreld vir hulself en hul gemeenskappe sal oopbreek. Binne hierdie kontekste vervul roepingsgerigte onderwysers die onmisbare rolle van fasiliteerder, lewenslange leerder, assessor, vakspesialis, leier, kurrikulumspesialis en geestelike leier.

Roepingsgedrewe onderwysers werk positief daartoe mee om die onderwysprofessie in Suid-Afrika te vernuwe en verder uit te bou.

  • Dr. Maretha Steyn is verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.