SA as staat bepaald broos, maar (nog) nie voos

Deur prof Deon Geldenhuys

Prof. Deon Geldenhuys

“Iets is vrot in die staat van Denemarke”. Met hierdie bekende woorde het die karakter Marcellus in Shakespeare se Hamlet (geskryf in ongeveer 1599) vermoedelik na Denemarke se korrupte en onregverdige heersersklas verwys. Sodoende het hy vrotheid in die staat aan die regeerders gekoppel.

Vandag beleef baie state, Suid-Afrika inkluis, verrotting – en dis grootliks weens die regeerders se doen en late. Staatsverval is bloot ’n beleefder begrip as staatsverrotting, maar dis nie die enigste konsep wat vandag gebruik word vir die mensgemaakte gebreke van state nie.

Die idee dat state kan verval, is nie nuut nie. In sy teorie van politieke verval (1965) het Samuel Huntington verval voorgehou as die teenoorgestelde van politieke ontwikkeling, wat destyds hoogmode in Westerse politieke en akademiese debatte was. Veral nuut onafhanklike Afrikastate het die slagoffers van politieke verval geword.

Sedert die einde van die Koue Oorlog het ’n nuwe internasionale besorgdheid oor Afrika posgevat. Westerse moondhede, internasionale organisasies en hulpverleners was bekommerd dat Afrikastate se gebrek aan goeie regering hul kanse op ekonomiese ontwikkeling sal knou en ook tot konflik binne en tussen state lei.

Wat is redelikerwys van Afrikastate (en trouens alle ander state) verwag? Volgens die befaamde Afrika-intellektueel Ali Mazrui moes die regerings van state ses kernfunksies verrig: soewereine beheer oor grondgebied; soewereine toesig oor die nasie se hulpbronne; doeltreffende invordering van belasting; die bou en instandhouding van voldoende nasionale infrastruktuur; die lewering van sosiale dienste soos onderwys, behuising, gesondheid en sanitasie; en die handhawing van wet en orde.

In praktyk is daar geweldige variasie in state se uitoefening van regeerfunksies; die gehalte van regering wissel van baie goed tot uiters swak.

In ’n poging om die aard en omvang van tekortkominge in regering beter te verstaan, veral in post-koloniale Afrika, het ontleders met allerlei konsepte en ontledingsraamwerke vorendag gekom. Die Amerikaanse politieke wetenskaplike William Zartman, in sy seminale boek Collapsed States (1995), betoog dat ’n staat ineenstort (of knak) as goeie regering, wet en orde verval. Die staat as besluitnemende, uitvoerende en afdwingende instansie kan nie langer besluite neem en toepas nie. Kritiek teen hierdie ontleding is dat dit net van toepassing is op uiterste en seldsame voorbeelde van staatsverval, soos Somalië.

’n Breër ontledingsraamwerk is dié van Robert Rotberg (2004), wat gaan oor “state failure” oftewel staatsmislukking. Op grond van hul vermoë om noodsaaklike openbare dienste te lewer (met sekuriteit boaan die lys), plaas Rotberg state in drie kategorieë. Sterk state is in beheer van hul grondgebiede en lewer ’n volle reeks van hoë gehalte openbare dienste aan die bevolking. Swak state gaan gebuk onder ekonomiese beperkinge, ontoereikende openbare dienslewering, interne politieke spanning, hoë vlakke van korrupsie en ander misdaad, en die verval van wet en orde.

Swakheid kan eskaleer tot die punt van mislukking, waar ’n staat gekenmerk word deur erge spanning en gewelddadige konflik tussen wedywerende faksies, wydverspreide kriminele geweld, beperkte openbare dienslewering, florerende korrupsie, ekonomiese agteruitgang en die regering se verlies aan legitimiteit. Zaïre, Sierra Leone en Liberië was voorbeelde van mislukte state.

In Rotberg se skema, is ’n geknakte staat ’n rare en ekstreme voorbeeld van ’n mislukte staat, weer met Somalië as voorbeeld. Soos Rotberg beklemtoon, is nóg mislukking nóg ineenstorting noodwendig terminale of onomkeerbare toestande vir state; in praktyk het mislukte state soos Libanon al “herstel” tot swakheid. Swak state kan op hul beurt (weer) sterk word.

’n Ander raamwerk om staatsverval te meet, is gebou rondom die idee van “fragile” of brose state. Dis state wie se vermoë om basiese regeerfunksies bekwaam te verrig, ernstig aan bande gelê word deur gebrekkige instellings en regeringsbeleide. Hulle loop ernstige gevaar van politieke onstabiliteit en interne konflik. Invloedryke instansies soos die Wêreldbank, Afrika-Ontwikkelingsbank, Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling en die Amerikaanse Fund for Peace, het indikatore of kriteria ontwikkel om state se mate van broosheid deurlopend te meet.

Een van die omvattendste en gesofistikeerdste instrumente om broosheid kwantitatief vas te stel, is die genoemde Fund for Peace se jaarlikse Fragile States Index. Die indeks ontleed nie net state met ernstige regeerprobleme nie, maar ’n volle 178 lande. Die uitgangspunt is dat broosheid nie ’n alles-of-niks situasie is nie, maar eerder ’n kontinuum verteenwoordig; geen staat is volledig sonder broosheid nie, maar die grade van broosheid verskil geweldig.

Die indeks gebruik 12 sleutelindikatore wat in vier kategorieë val: indikatore van kohesie; ekonomiese indikatore; politieke indikatore, en sosiale en kruissnydende indikatore. Die 12 kernaanduiders bestaan op hul beurt uit meer as 100 subindikatore. Op elk van die hoofindikatore word elke staat ’n punt toegeken, asook ook ’n algehele punt. Hoe laer die punte, hoe minder is ’n staat se broosheid.

Op hierdie wyse kan faktore geïdentifiseer en gemoniteer word wat state kwesbaar kan maak vir broosheid. Voorts kan state op ’n stewige feitelike basis met mekaar vergelyk word. Deur die ondersoek jaarliks te herhaal, kan daar ook bepaal word of state vooruit of agteruit boer ten opsigte van hul kwesbaarheid vir broosheid.

In die Fragile State Index se verslag vir 2020, is die topvyf lande op grond van hul lae algemene punte vir broosheid die volgende: Finland (40,2), Noorweë (40,4), Switserland (41,0), Denemarke (42,3) en Ysland (42,2). Hulle val in die kategorie van baie volhoubare lande. Op die ander uiterste van die spektrum, in die kategorie van baie hoë waarskuwing, vind ons Sirië (110,7), Suid-Soedan (110,8), Somalië (110,9) en Jemen (112,4).

Suid-Afrika verskyn 85ste op die algehele 2020-indeks met ’n oorhoofse punt van 70,1 en in die kategorie van verhoogde waarskuwing. Die afdelings waarin Suid-Afrika die swakste presteer, is ekonomiese agteruitgang, werkloosheid, sekuriteit, demografiese druk en wedywerende elites. Onder Afrikalande vaar Suid-Afrika relatief goed; net agt van hulle is beter as ons.

Benewens die Fragile States Index is daar ook ander gerekende internasionale indekse wat aspekte van regeringsgehalte vergelykenderwys meet. Hulle kan met vrug saam met die Fragile States Index gebruik word om ’n selfs meer volledige prent van die stand van regering in individuele state te verkry.

Die Wêreldbank se Worldwide Governance Indicators meet onder meer politieke stabiliteit en die afwesigheid van geweld, regeringsdoeltreffendheid, oppergesag van die reg en beheer van korrupsie. Lewensverwagting, onderwys en inkomste word gemeet in die Verenigde Nasies se Human Development Index. Die Global Peace Index, saamgestel deur die Economics & Peace Institute (hoofkwartier in Sydney), meet die stand van vrede wêreldwyd in drie domeine: die vlak van veiligheid en sekuriteit in samelewings, die omvang van nasionale en internasionale konflik, en die mate van militarisering. Die Rule of Law Index van die World Justice Project (Washington DC) gebruik op sy beurt agt indikatore waaronder korrupsie, orde en sekuriteit, en wetstoepassing. Die Global Competitiveness Index, wat deur die Wêreld Ekonomiese Forum opgestel word, berus op 12 pilare wat infrastruktuur, makro-ekonomiese omgewing en die arbeidsmark insluit. Laastens is daar Transparency International se alombekende Corruption Perceptions Index wat jaarliks state beoordeel op grond van persepsies van korrupsie in hul openbare sektore. Suid-Afrika verskyn in al hierdie indekse.

Gemeet aan internasionale kriteria, is Suid-Afrika as staat bepaald broos, maar (nog) nie voos nie. Korrupsie word uiteindelik met vasberadenheid vervolg, maar hef aan lê nog voor. Boonop gaan dit nóg moeiliker wees om die boosheid van barbaarse geweldsmisdaad en anargisme (’n samelewing met min respek vir wet en orde) uit te roei. Staatsverval gaan daarom nog lank Suid-Afrikaners se deel en lot wees.

  • Deon Geldenhuys is ʼn emeritusprofessor in politiek aan die Universiteit van Johannesburg (UJ).

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

OW ·

Interessante verskeidenheid van al die indekse wat gebruik word om lande te meet.SA mag dalk broos wees gemeet aan internasionale kriteria maar is beslis misdaad vodde, verwysend na moord.Hier is meer mense in SA vermoor sedert 1994 as wat mense gesterf het in ‘n konvensionele oorlog,wat gereken word meer as 250 000.

Vrijburger ·

Dankie, vir die akademiese uiteensetting. Die kritiese vraag – in watter rigting beweeg ons jaar na jaar. Verbeter of verswak SA?

Japie ·

Ek reageer graag op die artikel. My seun en 3 van sy vriende (almal met hulle eie besigheide wat tussen 15 – 20 mense indiens) het emigreer Nederland toe. Baie van hulle universiteits vriende is reeds weg. Soos wat hulle oorsee vestig sal hulle besighede in Suid Afrika tot niet gaan. Die enigste oplossing in Suid Afrika is territoriale selfbeskikking vir die Afrikaner. Solidariteit, Afriforum en die Vryheidsfront het 25 jaar gemors en moes lankal territoriale selfbeskikking n gesprekspunt in Suid Afrika en die wereld gemaak het. Elke Afrikaner wat uit die land uit trek is n mosie van wantroue in Solidariteit, Afriforum en die Vryheidsfront. Hoekom het julle nie lankal julle lede se opinie gevra oor watter rol die lede wil he dat Solidariteit en Afriforum moet speel nie. Julle kon lankal al billboards opgesit het wat ook die positiewe van Afrikaner selfbeskikking vir Suid Afrika as geheel uit beeld. Dit lyk vir my of julle maar net die Afrikaner probeer paai totdat hy sag heengaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.