Sou die Skotte hul kans in Afrika kry?

Foto: David Cheskin/PA Archive/Press Association Images

Foto: David Cheskin/PA Archive/Press Association Images

Skotland se lang verwagte onafhanklikheidsreferendum vind vandeesweek plaas en die resies blyk baie meer gelykop te wees as wat die pro-Britse kamp gehoop het.

Die nuutste opnames toon dat 49% van die Skotse publiek ten gunste van ’n onafhanklike Skotland is terwyl 51% “nee” gaan stem. ’n Rukkie gelede het die pro-unie groep nog ’n 22% voorsprong gehad en die nuutste verwikkeling verteenwoordig ’n skielike ommekeer.

Die kwessie van selfbeskikking in die vorm van staatskap (sesessie) is een wat selfs in die 21ste eeu van globalisering en die oënskynlike vervaging van grense steeds ’n uiters relevante en emotiewe onderwerp bly. Heelwat mense het, in die lig van Skotland se strewes en ook Kosovo se bestrede onafhanklikheidswording in 2008, die moontlikheid van nuwe state in Afrika begin opper. Dis ’n geldige dog komplekse vraag wat ek gaan poog om kortliks te probeer beantwoord.

Europa en Skotland

Indien die Skotte volgende Donderdag “ja” stem vir onafhanklikheid, sal Skotland die derde Europese gebied in agt jaar word om onafhanklikheid te verkry. Dit sal die eerste nuut geskepte Westerse staat in dekades word. Nog eietydse internasionale voorbeelde van staatskepping was Kosovo se eensydige onafhanklikheidsverklaring van Serwië in 2008 en Montenegro se afskeiding van die Staatsunie van Serwië en Montenegro in 2006 via ’n referendum wat deur die EU gefasiliteer is.

Hoewel die Verenigde Koninkryk ’n unie en nie ’n federasie is nie, geniet Skotland al sedert die laat jare 90’s groter streeksmagte ingevolge die beleid van dewolusie. Dit beteken groter selfregering en afwenteling van administratiewe en ekonomiese mag vir Skotland, wat sedert die Uniewet in 1707 sy eiesoortige nasionaliteit, regstelsel, vlag, kultuur, sportspanne en burgerlike samelewing behou het terwyl dit ook op baie vlakke (soos byvoorbeeld taal) aansluiting by Groot Brittanje vind. Nog steeds het die onafhanklikheidsveldtog, met die Skotse Nasionale Party (SNP) aan die spits, voortgeduur. Premier David Cameron het ingestem tot ’n referendum en die Referendumwet is verlede jaar deur die Skotse parlement goedgekeur.

Cameron, leier van die Konserwatiewe Party (Tories), het ’n politieke risiko hiermee geneem wat op die oog af goedhartig lyk, maar ook vir homself en sy party vrugte kan afwerp hoewel hy steeds sal wil keer dat Skotland afskei. Hoewel dit dalk ’n ongewilde besluit by baie mense in Engeland, Wallis en Noord-Ierland sal wees om Skotland vaarwel te roep, sal baie Engelse mense, wat verreweg die meerderheid van die VK se bevolking uitmaak, bly wees dat Skotland eerder die unie verlaat het. Die Skotte is slegs 5 miljoen mense uit die Britse bevolking van sowat 63 miljoen. Hulle stem ook oorwegend vir die Arbeidersparty, is baie meer van die staat afhanklik as die res van die Britse bevolking en hul demografiese bydrae is nie substansieel nie. Deur hulle te laat gaan, beteken dus ’n groter Tory-meerderheid by die stembus – 2015 is immers weer verkiesingsjaar in Brittanje – en ’n kleiner las op die Britse fiskus (ofskoon Skotse onafhanklikheid ook wesenlike nadele vir die Britse ekonomie inhou). Baie Engelse sal dit ook vertolk as ’n verwerping van hulle as die kernnasie van Brittanje en die meeste is wrewelrig oor die feit dat die Skotte hul eie parlement het en terselfdertyd oor aansienlike seggenskap in die gesamentlike Westminster-parlement in Londen beskik.

Die ander rede vir Cameron se besluit is ongetwyfeld die tydsgees in Europa en die vereistes wat die Europese Unie (EU) aan sy lidstate stel. Wes-Europa, maar eintlik die hele Weste, het ná die Tweede Wêreldoorlog grootskaalse politieke veranderinge ondergaan en kolonisering en dominasie het onfatsoenlik geraak. State soos Brittanje, Frankryk en Nederland het hul kolonies in Asië en Afrika stelselmatig op onafhanklikheid voorberei en vrygestel en die aantal state in die wêreld het tussen 1945 en 1970 meer as verdubbel soos wat die dekoloniseringsproses versnel het. In die laat 1980’s en vroeë 1990’s is Europa self deur grootskaalse staatskepping getref soos die einde van die Koue Oorlog die vroedvrou was van ’n hele boel nuwe state, waarvan Rusland een is. Dit was weer, nes die 50’s en 60’s vir Afrika, ’n periode van nuwe staatskepping, desentralisering en state in die vorm van nasies giet. Westerse state soos Spanje, Kanada en Brittanje het groter magte na sekere provinsies en groepe afgewentel in die 90’s en Quebec het byna van Kanada in 1995 afgestig, maar dié moontlikheid is met ’n piepklein minderheid in die referendum verslaan.

Kortom, Europa en die Weste het oor die laaste 70 jaar op ’n groot skaal gedesentraliseer en geliberaliseer. Die EU se invloed en voorskrifte het ook tot gevolg gehad dat sekere “Europese” waardes (soos die handhawing van die demokrasie, afwenteling van mag, verdraagsaamheid en die oppergesag van die reg) definiërende kenmerke van meeste van Europa se state geword het (met die uitsondering van sommige post-kommunistiese state). Grense het ook minder belangrik en meer onderhandelbaar geword soos wat die kontinentale milieu daaroor verander het. Brittanje se weiering om aan Skotland ten minste die geleentheid te gee om hul wil hieroor uit te druk, sal derhalwe on-Europees voorkom en ook indruis teen Britse waardes. Skotland se onafhanklikheid sal ook nie vyandigheid en ’n totale verhoudingsbreuk met die VK verteenwoordig nie.

Die vastheid van Afrika se grense

Afrika, wat uiteraard ’n totaal ander geskiedenis het as Europa, het ander prioriteite in die tweede helfte van die 20ste Eeu gehad en daar het ’n ander kontinentale konsensus ontstaan. Die golf van onafhanklikheid wat oor die vasteland gespoel het, het op die stigting van Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) in 1963 uitgeloop. Dié streekorganisasie se aantal lidstate het vinnig gegroei soos die kolonies onafhanklik geword het en die organisasie se fokus was primêr op verdere dekolonisering en die beskerming van die nuwe state (wat die koloniale era se arbitrêre grense weerspieël) se soewereiniteit en gebiedsintegriteit. Verdere sesessie buite dekolonisering is taboe deur die OAE verklaar en ’n kunsmatige eenheid en integrasie is ook statutêr deur die akte van oprigting en ander resolusies aan die kontinent opgedwing. Goeie regering, demokrasie, liberalisering, groter mense- en minderheidsregte, federalisme en regerings se verantwoordbaarheid het gevolglik tweede viool gespeel.

Die OAE is teen die eeuwisseling met die Afrika-Unie (AU) vervang weens die veranderende omstandighede en behoeftes op die vasteland. Die hele Afrika is toe reeds bevry en armoede, ongrondwetlike staatsgrepe, burgeroorloë en onderontwikkeling het bevryding as prioriteite verbygesteek. Die grondoorsake van hierdie probleme, soos gebrekkige liberalisering en demokrasie, het steeds nie groot voorrang in die AU gekry nie. Eenheid is, ten koste van groter vryheid, steeds ongeag wesenlike verskille en openlike konflik tussen groep in sekere state, deur die AU op die vasteland opgedwing. Die handhawing van koloniale grense en die onskendbaarheid van bestaande state se grondgebiede geniet steeds buitengewone prominensie en voorrang in die organisasie se akte van oprigting.

Die leiers in Afrika wil die status quo ten alle koste bewaar omdat die sittende staatshoofde, sowel as hul voorgangers en opvolgers, hul mag wil bewaar. Sommiges is selfs aktiewe en gewelddadige onderdrukkers van minderhede en menseregte. Daar bestaan ook ’n wydverspreide, maar grootliks ongegronde, vrees dat een nuwe staat ander streke se onafhanklikheidslus sal aanwakker en Afrika in onlewensvatbare en onderling-vyandige mikrostate verdeel sal word (en die vasteland meer kwesbaar as ’n politieke blok maak).

Afrika se post-koloniale pogings tot onafhanklikheid was daarom gewelddadig en grootliks onsuksesvol. Die outoritêre sentralisering van mag en onderdrukking in Nigerië, die Soedan, Ethiopië en Somalië het tot burgeroorloë, duisende sterftes en grootskaalse ontheemding gelei. Slegs Suid-Soedan en Eritrea het met universele erkenning van ander state en multilaterale organisasies van onderskeidelik die Soedan en Ethiopië weggebreek. Dit was ná lang, uitgerekte militêre stryde weens die vernietiging van daardie gebiede se identiteite, regte en instellings; die veranderende politiek in Ethiopië twee jaar voor Eritrea se onafhanklikheid; grootskaalse internasionale bemiddeling en fasilitering en ’n oorweldigende goedkeuring van onafhanklikheid (bykans 100% in beide gebiede het in VN-referenda “ja” vir onafhanklikheid gestem). Menigte ander sesessiegebiede, soos Biafra en Katanga, is taamlik vinnig en gewelddadig gefnuik terwyl ander – soos Barotseland, Wes-Sahara en Cabinda – nog nooit uit die politieke blokke gekom het nie.

In die noorde van Somalië het Somaliland in 1991 – ná drie dekades van burgeroorlog –eensydig sy onafhanklikheid van die res van die land verklaar. Ten spyte van betreklik goeie regering, ’n goeie demokratiese rekord, ongekende stabiliteit (teenoor Somalië se onbestendigheid) en twee AU-feitesendings wat die onbestrede wil van die burgery ten aansien van onafhanklikheid onomwonde erken, voer Somaliland steeds ’n onsekere bestaan met geen staat, die VN of AU wat dit as ’n staat te erken nie. Suid-Afrika is egter een van die lande wat al die meeste steun aan Somaliland toegesê het en daar is nie-amptelike handelsbande en politieke kantore oor en weer gevestig.

Skotvry in Afrika?

Dit is hoogs onwaarskynlik dat Skotland so maklik en sonder enige geweld sy pad na onafhanklikheid in Afrika sou kon aanpak. Selfs voormalige konserwatiewe premiers soos Margaret Thatcher en John Major was heeltemal te vinde vir Skotse onafhanklikheid. Tony Blair het hulle met heelwat afgewentelde mag toegerus. Toe die SNP in 2007 ’n minderheidsregering gevorm en die kwessie van onafhanklikheid op die agenda geplaas het, het dit slegs ses jaar geneem om die referendum af te dwing. Daardie ses jaar is baie meer deur Skotse onenigheid oor dié kwessie en die SNP se administratiewe onbevoegdheid gekenmerk as Britse vyandigheid en obstruksie oor dié kwessie.

Die feit dat die pro-onafhanklikheidsaak nou eers ’n meerderheid toon, wys dat baie mense dit vandag as voordelig sien om deel van die Britse unie – met dien verstande dat dewolusie behou en later uitgebrei sal word – te bly. Ditto Quebec in die konteks van Kanada. Onafhanklikheid is nie vir die Skotte ’n lewe-of-dood stryd nie en hul regte, lewens en eiendom sal steeds veilig wees as hulle besluit om te bly. Dit was nie so in die geval van Suid-Soedan nie en daar het sowat 2 miljoen mense hul lewens oor vyf dekades opgeoffer vir onafhanklikheid. Indien Skotland op 18 September onafhanklik word, sal dit met baie minder moeite (en geweerskote) wees as enige gebied of groep wat dieselfde in die laaste paar dekades in Afrika probeer vermag het.

As Afrika dan nie aan sy grense wil laat torring nie, is dit nie tyd vir ’n nuwe benadering tot desentralisering nie?

*Brink doktoreer vroeg in 2015 met ’n proefskrif oor staatskepping in Afrika. Hy skryf hier in sy eie hoedanigheid.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae