Spreek met integriteit, luister met onderskeiding

Deur ds. Schalk Strauss

Ds. Schalk Strauss

Meningsvormers kan beskryf word as mense in die samelewing wat weens hulle invloed en statuur, die vermoë het om die samelewing se mening oor sake te beïnvloed. Dit is mense wie se woorde gewig dra en wat deur gewone mense vertrou word. As ons oor meningsvormers dink, kom daar gewoonlik sekere individue se name by ons op, maar daar is ook sekere beroepe wat as meningsvormend geklassifiseer kan word. Een so ʼn groep is die media, of dan joernaliste. Dit kan nie wees nie, mag ons dalk dink, want is hulle nie veronderstel om slegs die feite weer te gee nie? Dit mag dalk ons verwagting wees, maar die werklikheid is dat geen verslaggewing neutraal is nie. Die wyse waarop inligting oorgedra word, speel ʼn belangrike rol in die openbare mening. Dink maar net aan al die verskillende maniere waarop daar oor Israel se oorlog teen Hamas verslag gelewer word. Die wat pro-Israel is, sal doelbewus hulle woorde só kies dat Hamas se terroristiese karakter benadruk word, terwyl die wat anti-Israel is dalk na hulle as vryheidsvegters sal verwys.

Mediahuise maak gewoonlik groot gewag daarvan dat hulle polities of godsdienstig neutraal is. Ongelukkig is daar nie iets soos absolute neutraliteit nie, want ons leef in ʼn gevalle wêreld. Partykeer is dit dus net beter as ʼn mediahuis sy vooroordele en posisie uit die staanspoor duidelik maak, want dan weet ʼn mens wat om te verwag en om nie teleurgesteld te wees as daar nie aan jou verwagtinge voldoen word in die wyse waarop hulle verslag lewer nie. So weet ons byvoorbeeld teen hierdie tyd dat die liberale media altyd sal probeer om die mislukkings van die ANC-regering so goed as moontlik te laat lyk, in plaas daarvan om eerlik daaroor te wees en dit by die naam te noem. Dit getuig van ʼn bepaalde invalshoek en is ʼn manier om die openbare mening positief te beïnvloed, maar dit is nie eerlik nie.

ʼn Mens is daarom ook dankbaar vir mediahuise, radiostasies en sosialemediakanale wat nie skaam is om hulle Christelike onderbou en invalshoek te erken nie. Van hulle verwag ʼn mens iets anders as van ander sogenaamde “neutrale mediahuise”, maar wat in werklikheid nie so neutraal is nie. ʼn Mens verwag ʼn Christelike perspektief en ʼn soort geloofwaardigheid wat jy nie by ander mediahuise sal aantref nie. Jy verwag sekere woordkeuses en uitdrukkings; jy verwag ʼn minder polities-korrekte aanslag en ʼn meer God-verheerlikende wyse van verslagdoening. Jy verwag programinhoud en liedjiekeuses wat nie Christelike waardes en beginsels weerspreek of doelbewus afbreek nie. Dit beteken nie dat elke berig ʼn Christelike boodskap bevat nie, maar wel dat verslaggewing sal getuig van ʼn Christelike lewens- en wêreldbeskouing.

Gelowiges wat in hierdie beroepe staan, het ʼn groot verantwoordelikheid op hul skouers. Dit is om geloofwaardig te wees, maar op ʼn wyse wat God eer. Dit lê soms in die klein dingetjies soos in die keuse van ʼn woord. Jy verwag byvoorbeeld nie om in ʼn artikel van so ʼn mediahuis te lees van die eerste “transgendervrou” wat aan ʼn Mej. Heelal-kompetisie deelneem nie. Jy mag redeneer dat jy slegs die feite weergee, maar om bloot die feite weer te gee is nie noodwendig die waarheid nie. God het immers die mens man en vrou geskape en ʼn transgendervrou is niks anders as ʼn man wat sy Godgegewe identiteit minag nie. Jy verwag nie om in nuusberigte deur so ʼn mediahuis of radiostasie te lees of te hoor van “rowers” wat boere op hulle plase vermoor het nie. Net omdat hulle motief roof was, beteken nie ek hoef die wreedheid van hulle optrede te versag deur hulle karakters as moordenaars te ontken nie. Die oomblik wanneer hulle iemand vermoor het, is hulle nie net meer rowers nie, hulle is dan moordenaars. Jy verwag nie om in sulke nuusblaaie te lees dat die “rugbygode” oor die Springbokke geglimlag het sodat hulle kon wen nie, want daar is net een ware God.

As gelowige meningsvormers behoort ons skerper te formuleer, maar as gelowige hoorders behoort ons ook fyner te luister sodat ons die subtekste kan onderskei. Laat ons dus bid vir hulle wat deur God geroep is om deur die joernalistiek die rol van ʼn meningsvormer te vertolk. Op hulle skouers rus ʼn groot verantwoordelikheid. Mag die Here elkeen wat in daardie posisie geplaas is, deur sy Gees begenadig sodat Paulus se woorde in Filippense 4:8 die wyse sal beïnvloed waarop hulle hul roeping uitleef: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.