Stryd (nog) nie teen vlees en bloed, maar bose en vrotsige idees

Du Preez de Villiers. (Foto: Verskaf.)

Deur Du Preez de Villiers

Ons Afrikaners was nog nooit goed met propaganda nie, want propaganda is ’n vuil en lelike spel. Dit het beslis met ons Christelike etos, edele Europese afkoms en sterk integriteit te make. Ons sukkel met die verspreiding van halwe waarhede en emosiebelaaide slagspreuke. Ons sukkel om mense van bedenklike karakter op te sweep om hulle tot terreur te wend, soos ons steeds in Amerika sien met die Antifa- en die Black Lives Matter-bewegings.

Die H&M-, Clicks- en Senekal-voorvalle het deur en deur gewys dat die EFF, BLF en hul meelopers ook nie agterbly nie. Die massas reageer fluks op hierdie leiersfigure se aanhitsing om die een onsinnige terreurdaad na die ander te pleeg om hul giftige vreesboodskappe te versprei. Neo-Marxiste en die verlinkses het dit tot ’n kuns vervolmaak en hulle speel hierdie wedstryd op hul tuisveld.

Die Nasionale Party se propagandamasjien destyds – om die halwe waarhede en leuens van die wêreldwye linkse media te ontbloot – was daadwerklik, maar het op die einde klaaglik misluk.

Ongelukkig het ons nie ’n ander keuse nie as om in hierdie tydgees ook propaganda te begin gebruik – só kan elkeen sy deel bydra. Hierdie is ’n kultuuroorlog wat ons nie kan bekostig om weer te verloor nie. Ons wil nie ’n werklike oorlog hê nie, want dit sal boser, morsiger en afskuweliker wees as ’n stryd waarin die beste idee moet wen. Ons moet ons penne eers leegskryf voor ons na die swaard kan gryp – daar is nog baie ruimte op die internet.

Gelukkig is daar is baie maniere om skoon propaganda te dryf.

Ons verduur steeds aanslae van linkse sosiale mediaplasings en die hoofstroommedia wat met uitstekende slagspreuke en soetklinkende eendimensionele narratiewe probeer om ons inskiklik en “gehoorsaam” te hou. Die beste manier hoe ons as Afrikaners ons menswaardigheid kan behou en hierdie nuwerwetse oorlog die hoof kan bied, is om beter slagspreuke en meer humoristiese memes op Facebook en Twitter te plaas.

Sleutelbordkrygers (keyboard warriors) het ’n negatiewe bybetekenis, maar iemand moet die kuberruimte met beter idees vul, anders gaan ons vyande dié ruimte met hul eie idees vul.

Sosiale media is ’n waardevolle stuk gereedskap wat ons nie moet miskyk nie en eerder tot ons voordeel moet aanwend. Ons moet besef daar is ’n verskil tussen ’n  die gewone sleutelbordkryger wat aggressief en afbrekend op onskuldige mense toeslaan en ’n persoon wat dit sy roeping sien om in ’n tyd van gefokusde aanslae en onsekerheid, sy skryftalent en liefde vir navorsing in te span om die waarheid te versprei en fopnuus uit te wys.

Daar is reeds ’n menigte volbloed-Afrikaners wat hul plek in argumente en debatte volstaan, maar daar is ruimte vir verbetering. Min van ons debatsverenigings op skool het ons geleer van drogargumente soos sirkelredenasies, strooipoppe, ’n beroep op gesag, op die lawaaiwa klim, genetiese dwaling, anekdotiese bewyse en ad hominems, en dit is jammer.

Dit is egter waardevol om die verskeie logiese foute te google en dit te verstaan, want dit maak jou boodskap soveel meer geloofwaardig. Jy móét binne die reëls van debatvoering bly! Aan die ander kant is dit net amateuragtige kuberkrygers wat kwaad word wanneer ’n teenstander in ’n trol verander om jou uit te lok met hol woorde. Lag hom eerder uit vir sy swak sportmangees en onbeholpenheid.

Kies jou gehore ook mooi en plaas jou netjies geformuleerde argumente en teenargumente eerder op groepe en blaaie met baie lesers, sodat jou boodskap ’n maksimum reikwydte het. Groepe met regverdige administrateurs, waar trolle vinnig in die bek geruk word, is ook belangrik. Onthou, jy gaan byna nooit jou teenstanders in ’n debat oorreed nie. Die egos is net te groot in die hitte van die stryd, maar daar is derduisende derdepartylesers wat onseker is en nog draadsitters is. Hulle is honger vir inligting om besluite te neem en ’n kant te kies.

En wanneer jy verwysende artikels plaas, kyk asseblief na die datum en of die datum toepaslik is op jou argument.

Ons Afrikaners is slim en aanpasbaar. Ons is redelik, het ’n goeie sin vir humor en daar is kosbare taalskatte wat ons kan inspan om ons boodskap op sosiale media te versprei. Al loop die leuen ook hoe snel, beter idees agterhaal hom wel.

  • Du Preez de Villiers is ‘n landboujoernalis wat ook graag sy neus in politieke sake steek.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria ·

So ‘n bek moet jêm kry! Sal eers moet gaan kyk wat is “sirkelredenasies, strooipoppe, ’n beroep op gesag, op die lawaaiwa klim, genetiese dwaling, anekdotiese bewyse en ad hominems” behalwe as u daarop wil uitbrei. Sal graag beter slagspreuke en meer humoristiese memes op Facebook en Twitter plaas ast ware.

Derek ·

Stem volkome saam, ons moenie toelaat dat hulle lafhartigheid en groot monde ons intimideer nie, hulle probeer met vrees regeer. In die proses openbaar hulle hulself en besef almal hoe lagwekkend en onopgevoed hulle regtig is met betrekking tot hul geestelikheid. Dit laat my so dink aan die persone wie met bose geeste besmet was, hulle sal nooit enkelend mense konfronteer of aanval nie, maar altyd in getalle. Dit beskryf en bevestig hul lafhartigheid en vrees. Die oumense het altyd gese, meng jou met die semels dan vreet die varke jou, presies wat die Woord ons leer in Matheus 7.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.