Studente-stoomroller duidelik deel van breër opstand

Betogende studente by die Universiteit van Wes-Kaapland. Foto: Twitter

Betogende studente by die Universiteit van Wes-Kaapland. Argieffoto.

Die studente-opstand wat die afgelope weke byna soos ’n stoomroller oor Suid-Afrika geloop het, vorm duidelik deel van ’n breër opstand teen die regerende ANC en dié se leiers. Dit geld veral vir mense soos pres. Jacob Zuma, min. Blade Nzimande en die party se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe.

Die studente se opstand is voorafgegaan deur tientalle plaaslike betogings teen falende dienslewering, ANC-leiers se buitensporig weelderige lewenstyl en flagrante korrupsie. Verskeie protesteerders moes met hul lewe betaal. Marikana was die ergste voorval, maar daar was verskeie ander waar betogers doodgeskiet is.

Dit is onder meer hieruit dat die EFF ontstaan het. Toegegee, die EFF se ontstaan is ook aan ander faktore te danke, soos die feit dat Julius Malema weens sy rebellie teen Zuma uit die ANC gedryf is. Maar sy relatief vinnige groei moet toegeskryf word aan die groeiende opstand op voetsoolvlak teen die ANC.

Wat die studente-opstand van sy reeks voorgangers onderskei, is dat hy ná ’n tydperk van soek en tas ’n beperkte saak gevind het waaromheen hy mense van alle rasse en stande kon verenig: die beplande verhoging van studiegeld aan universiteite en kolleges.

Die opstand is aanvanklik gekenmerk deur ’n gebrek aan dissipline, ’n geneigdheid om geweld te gebruik en platvloersheid. Om ’n emmer vol menslike ontlasting oor Cecil Rhodes se standbeeld om te keer en klasse en eksamens te ontwrig getuig immers nie van beskawing en volwasse denke nie.

Ook die feit dat die “koloniale” en “rassistiese” kultuur, saam met die gebruik van Afrikaans in die lesinglokaal, as doelwit uitgekies is, het studente eerder verdeel as verenig. Afrikaanssprekende studente – hoofsaaklik wit, maar ook sommige bruines – het dit tereg ervaar as ’n aanslag op hul grondwetlike regte en identiteit.

Dit het kampusse soos dié van Stellenbosch en Potchefstroom hoofsaaklik langs rasselyne verdeel, iets wat die opstand eerder verswak as versterk het.

Maar toe was dit asof die opstand opeens ’n ander rigting inslaan. Opeens is ’n saak uitgekies wat die potensiaal het om alle studente oor rasse- en taalgrense heen te verenig. Immers, waar daar steeds meer teen wit jong mense gediskrimineer word met die toekenning van beurse, word ook dié groep negatief deur die verhoging in klasgeld geraak.

Bowendien het dit, sy dit moontlik tydelik, die aandag van Afrikaans weggetrek.

En dus, al was Afrikaanse studente nie in groot getalle op die voorpunt van verlede week se proteste nie, het hulle ten minste nie aan die teenoorgestelde kant langs die ANC gaan stelling inneem nie. Op foto’s in die koerante en televisiebeelde op die kassie was daar wel heelparty wit gesigte tussen swartes by die proteste te sien, maar my raaiskoot is dat daar net ’n handjievol Afrikaners tussen hulle was. Dié soort proteste is immers nie deel van die Afrikanerkultuur nie.

Tog, as die swart studente verstandig is, loop hulle verder op die pad van verlede week en hou op om Afrikaans te teiken. ’n Peiling op Potchefstroom het in elk geval uitgewys dat die meeste swart studente op dié kampus tevrede is met die fluistertolkdiens, wat ook ’n vingerwysing vir die ontevredenes op Stellenbosch is.

Daar is nog ’n verskil met die proteste wat die studente-opstand voorafgegaan het.

Uit al die tientalle berigte en videomateriaal wat ek onder oë gehad het, is dit duidelik dat daar weliswaar ’n beduidende aantal aanwesiges was wat moeilikheid gesóék het en op konfrontasie uit was. Die meeste – met inbegrip van die swartes – wou egter niks van geweld weet nie.

Die polisie het ewenwel gewys dat hulle nie veel sedert die apartheidstyd van skarebeheer geleer het nie.

Die rol van die polisie by onluste, so leer die ervaring wêreldwyd, moenie wees om proteste met maksimum geweld (Sharpeville en Marikana!) te beantwoord nie; dit vererger sake net. Dit moet wees om die situasie met die minimum geweld te ontlont.

Dis natuurlik makliker gesê as gedaan, en jy sal dit ook nie kan regkry met swak opgeleide en aangevoerde polisiebeamptes wat bowendien veels te min is om die protesteerders aan te pak nie. Dit sal die SA Polisiediens loon om opnuut ’n behoorlike studie van skarebeheer te doen. Daar is oorgenoeg materiaal beskikbaar, gegrond op dekades se ervaring sowel in Suid-Afrika as elders in die wêreld.

Terug by die studente. Hulle het, vir die eerste keer sedert 1994, reggekry dat die ANC op ’n strategies belangrike punt kleinkoppie getrek het. Die verhoging van die klasgeld is gekanselleer.

Dis belangrik, want in die proses het veral Zuma, Nzimande en Mantashe enorme prestigeverlies gely. Dis ’n sielkundige deurbraak wat vorentoe van groot belang kan word.

Dis terselfdertyd egter belangrik om die redes vir die sukses behoorlik te verstaan. Jy kan naamlik nie in die wilde weg teen die noordewind brul en dink dat jy iets gaan regkry nie. Jy moet slim wees.

Dus, allereers en van deurslaggewende belang is: Beperk jou eie geweld tot die minimum. Daar sal altyd moedswilliges wees wat wíl baklei, maar stel vooraf maatreëls in om hulle sover moontlik te isoleer.

Beperk onbeskaafde en platvloerse gedrag. Dit gee aan die teenstanders eenvoudig ’n argument op ’n skinkbord om die aandag van jou geregverdigde saak af te trek.

Ten tweede, kies ’n haalbare – en dus relatief beperkte – doel uit, een wat breë steun oor grense heen kan monster, nie een wat mense uitmekaar dryf nie. Aanvaar dat jy só ’n breë steun slegs deur ’n uiteenlopende koalisie sal kry, en dat jy verskille moet verdra en nie op die spits dryf nie. (Presies wat die ANC in die jare 80 gedoen het!)

In die derde plek, smee bande met groepe buite studentegeledere. Die studente-opstand in Parys in 1968 het pas gevaarlik geword toe die werkers hulle (al was dit tydelik) aan die studente se kant geskaar het.

Ten slotte, moenie die illusie koester dat jy die regering op kort termyn kan laat val nie. Wat wel kan gebeur, is dat jy – indien jy sake reg hanteer – die openbare mening sodanig kan beïnvloed dat die ANC mettertyd deur ’n algemene verkiesing val.

Maar goed, ’n mens moet dinge dalk nie te ver vooruitloop nie. En jong mense is eerder bekend vir hul heethoofdigheid as volwasse denke, wat beteken dat hulle welgemeende raad van ’n grysaard soos ek waarskynlik nie sal aanvaar nie.

Que sera, sera, sê die Franse – wat sal gebeur, sal gebeur. Na watter kant dinge ook al gaan, dis moontlik dat ons verlede week ’n waterskeiding beleef het.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Bruno Stef ·

Wat my baie bekommerd maak is die EFF wat honger is en binne bereik van die volle trog is, Die DA is gaan nie in die toekoms n faktor wees nie en sal waarskynlik steun verloor en by hoofsaaklik die ANC soos die oorlede NP inskakel hulle beleid verskil nie baie van mekaar nie.Die enigste moontlikheid is as daar n werkers party gestig word en die stemme verdeel maar watter kant toe ookal ons gaan deur Kommuniste/Sosialiste regeer word daarom is dit belangrik dat die Afrikaner as groep moet aandring op Selfbeskikking

Justa ·

Soos Moeletsi Mbeki se : “Suid-Afrika is n tikkende bom wat wag om the ontplof”

Sarel Strydom ·

Die Studente en Studente organisasies laat hulle misbruik deur radikale elemente in die Politiek. Hulle weet dit nie eers nie.

Fanie ·

Pasop maar vir ou Julius Malema. Hy gaan ‘n helske groot ontploffing in hierdie land veroorsaak. Almal dink hy is stupid, maar hy het klaar die wiel aan die rol gesit, vir dit wat hy wil bereik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.