Styging in steun vir wêreldleiers weens koronakrisis

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

So onlangs as twee maande gelede het politieke leiers soos Angela Merkel van Duitsland en Emmanuel Macron van Frankryk historiese lae vlakke van steun onder die burgery van hul onderskeie lande geniet.

Die koronapandemie het dit alles verander. Dit is egter nie net Merkel en Macron wie se steun toegeneem het nie, maar wêreldwyd het die meeste politieke leiers, regerende politieke partye en regeringskoalisies ’n skerp toename in steun geniet.

Die leiers van die tien grootste demokrasieë in die wêreld se steunvlakke het almal sover tydens die koronakrisis toegeneem. Die Amerikaanse peilingsagentskap het die gewildheid van die leiers van Australië, Brasilië, Kanada, Duitsland, Frankryk, Indië, Japan, Mexiko, die Verenigde Koninkryk en die VSA onlangs getoets en daar was ’n gemiddelde toename van 9% in steun vir hierdie leiers. Ook die leiers van lande soos Italië, Turkye, Spanje, Nederland, Pole en Hongarye geniet ’n toename in steun van hulle landsburgers. Slegs enkele lande se tendense word hier bespreek.

Die VSA

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Alex Brandon)

President Donald Trump se gewildheid was nog nooit baie sterk sedert hy in Januarie 2017 president van die VSA geword het nie. Vir die grootste deel van sy termyn was net minder of net meer as 40% van Amerikaanse kiesers met sy werkprestasie tevrede. Die rede hiervoor is natuurlik die ongelooflike politieke verdeeldheid – die ergste sedert die Amerikaanse Burgeroorlog – wat tans in die VSA heers.

Daarmee saam is President Trump ’n verdelende figuur wat sterk op sy 30% tot 40% getrouste ondersteuners en hul behoeftes gefokus is en gevolglik kon hy nooit tydens die eerste drie jaar van sy presidentskap daarin slaag om ’n meerderheid van Amerikaners te oortuig om hom te steun nie.

President Trump het aanvanklik die koronavirus se verspreiding as ’n kleinerige uitdaging wat vinnig sou oorwaai, afgemaak. Hy het egter gou besef dat die virus ’n pandemie gaan veroorsaak en het ’n span van bekwame dokters en kenners in die Withuis betrek om die stryd teen die virus op ’n federale vlak in die VSA te lei. Vier peilings wat hierdie week in die VSA bekendgestel is, naamlik Reuters/Ipsos, Grinnell/Selzer, Economist/YouGov en Harvard/Harris wys almal dat meer Amerikaners tevrede is met Trump se hantering van die koronakrisis, as dié wat ontevrede is.

Trump se algemene steunvlakke het ook met ’n gemiddeld van vyf persentasiepunte gestyg en sy gewildheid is tans die beste sedert hy president geword het.

Duitsland

Duitse kanselier Angela Merkel. (Foto: Markus Schreiber, AP)

In Duitsland ervaar die regerende Christen Demokratiese Unie (CDU) van Angela Merkel reeds die afgelope paar jaar ’n afname in steun. Dié party wat nog so onlangs as tien jaar gelede meer as 40% van die stemme in ’n verkiesing gekry het, het aan die einde van 2019 op slegs 26% steun in peilings gestaan. Peilings die afgelope paar dae wys egter dat die party se steun tot 35% herstel het.

’n Verstommende 79% van Duitsers het verlede week in ’n peiling aangedui dat hulle tans tevrede is met die prestasie van die bondskanselier Angela Merkel. Drie jaar gelede was minder as 50% van Duitsers tevrede met haar werk.

Nederland

Mark Rutte. Foto: (AP Photo/Olivier Matthys)

Nederland word tans regeer deur ’n koalisie van die liberale Volksparty voor Vrijheid en Demokratie (VVD), die sentrum-konserwatiewe Christen-Democratisch Appèl (CDA), die links-liberale Demokraten 66 (D66) en die klein Christen-sosiale party die ChristenUnie (CU). Hierdie komplekse vierpartykoalisie is die derde regering van eerste minister, Mark Rutte. Weens verskeie ongewilde kompromieë wat reeds deur die koalisievennote gemaak moes word, het drie van die vier partye (VVD, D66 en CDA) verlede jaar in die provinsiale verkiesing wesenlike steun verloor en het die koalisie ook sy meerderheid in die eerste kamer van die Nederlandse parlement verloor.

Die koalisie was by tye al onder groot druk en daar is allerweë aanvaar dat hierdie Rutte se laaste regering sou wees. Vroeër hierdie week het ’n peiling van EenVandaag egter gewys dat steun vir Rutte se VVD met 5% toegeneem het en dat sy party nou weer by verre die grootste party in Nederland is. Voor die koronakrisis het Rutte oor die afgelope drie jaar tussen 25% en 45% steun onder Nederlanders geniet. Dit het hierdie week tot 75% opgeskiet.

Frankryk

Emmanuel Macron. Foto: (Loic Venance, Pool via AP)

Nadat Emmanuel Macron in Mei 2017 president van Frankryk geword het met ’n boodskap van hervorming en ’n einde aan die politiek van die afgelope dekade of twee, het sy steun gedurende 2019 voortdurend gedaal. Sy regering se ekonomiese hervormings het tot groot betogings aanleiding gegee wat openbare dienste soms vir weke aaneen lamgelê het. Hierdie betogings deur vakbonde is voorafgegaan deur die nou bekende Geelbaadjie-beweging wat in Oktober 2018 tot weeklikse betogings oor die hele Frankryk aanleiding gegee het.

Die Geelbaadjie-beweging is ’n populistiese beweging van linkse en regse groepe wat ontevrede was, en steeds is, met hoë lewenskoste en die wyse waarop ekonomiese hervormings druk op die werkersklas en middelklas in Frankryk geplaas het. Dit het meegebring dat die eens gewilde Macron se steun tot net bo 20% gedaal het.

Daar is allerweë aanvaar dat hy tydens die volgende presidentsverkiesing in April of Mei 2022 uitgestem sou word. Sy steun het egter sedert die uitbreek van die koronapandemie in Frankryk tot ’n allemintige 51% gestyg.

Verenigde Koninkryk

Boris Johnson. Foto: (Pippa Fowles/10 Downing Street via AP)

Boris Johnson is aan die begin van Desember verlede jaar tot sy eerste vol termyn as eerste minister van Brittanje verkies. Hoewel Johnson en sy Konserwatiewe Party baie goed gedoen het deur 43,6% van die stemme in die verkiesing te kry, het ook Johnson en sy party se steun tydens die koronakrisis toegeneem.

Steun vir die Konserwatiewe Party staan tans op 52%, die beste in meer as 50 jaar en 72% van Britte sê dat hulle tevrede is met die werk wat Johnson doen. So ’n hoë vlak van steun is ongewoon vir die Verenigde Koninkryk.

Pole

In Pole is kiesers veronderstel om op 10 Mei na die stembus te gaan in ’n presidentsverkiesing. Die huidige president, Andrzej Duda, staan vir ’n tweede termyn en sy steun het ook die afgelope paar dae van onder 50% tot bo 50% gestyg wat beteken dat sou ’n verkiesing nou plaasvind, hy gemaklik in die eerste ronde herkies sal word.

Italië

Giuseppe Conté. Foto: (Roberto Monaldo/LaPresse via AP)

Italië is steeds die land in die wêreld waar die koronakrisis die hardste gevoel word. Hoewel die VSA nou meer bevestigde gevalle het, is Italië weens ’n snelle toename van die virus baie hard getref. Die land se ekonomie was reeds in die moeilikheid en Italië se gesondheidsorg is nie die beste in Europa nie.

Intussen regeer ’n wankelrige koalisie van die sentrum linkse Demokratiese Party en die populistiese Vyfster Beweging die afgelope paar maande. Daar is verlede jaar aanvaar dat hierdie regering nie vir lank staande sou bly nie.

Die Italiaanse eerste minister Giuseppe Conté het onlangs op televisie in trane uitgebars nadat hy erken het dat sy regering alles in hul vermoë doen om die pandemie te beveg, maar dat daar nie baie meer is wat hulle kan doen nie.

Volgens peilings in Italië het Conté se steun sedert Februarie met 27% tot ’n baie sterk 72% toegeneem. Dit is die meeste steun vir ’n Italiaanse eerste minister sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog.

Waarom so ’n styging in steun?

Politieke analiste wêreldwyd probeer verstaan waarom politieke leiers en regerende partye orals ter wêreld weens die koronakrisis ’n styging in steun geniet. Hoewel daar lof uitgespreek kan word vir hoe die meeste wêreldleiers die krisis bestuur, is daar ook heelwat rede tot kritiek.

Tog kyk landsburgers verby hul leiers se foute en verby die kritiek van politieke kommentators. Die rede daarvoor is waarskynlik die aard van die koronakrisis. Die krisis word reeds met ’n oorlogsituasie vergelyk en weens die fisieke en ekonomiese bedreiging wat dit vir die meeste mense inhou en die skielike wyse waarop dit toegeslaan het, verkies mense om rondom ’n nasionale leier te verenig. In tye van ’n krisis is mense geneig om eerder leiers te volg as tydens tye van relatiewe kalmte en vrede.

Die vraag is natuurlik wat gaan gebeur wanneer die koronakrisis verby is. Ná die 9/11-aanvalle in die VSA het president George W. Bush die steun van byna 90% van Amerikaners geniet. Enkele jare later het hy die Withuis verlaat met die derde minste steun van enige president oor die afgelope 100 jaar.

Indien leiers lesse uit die koronakrisis gaan leer en dit verder sal toepas, kan hulle ’n wesenlike deel van hul steun behou, maar indien hulle net weer na gewone politiek sal terugval, sal hierdie tydelike hoë steunvlakke ook weer wegkwyn.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JC Venter ·

En Zuma of sy opvolger is nêrens nie. (Dink nou net as Zuma hier by ons aan die stuur moes wees en sy gewildheid het nou toegeneem.)

JC Venter ·

Maar ek het ook ‘n idee die media hier by ons werk in dié tyd harder aan Cyril se gewildheid as hyself, nie dat hy nie probeer nie.

Therese ·

Welkome vars bries in ‘n bedompige stroom kritiek oor sommige leiers.
Politieke kommentators daal tot nuwe laagtes.

Die storm wat oor die kop van die Amerikaanse president losgebars het, is skokkend om te aanskou.
Suiwer politieke wraak wat behoorlik ‘n naar kol op die maag veroorsaak.

Wanneer die Wêreld se gesondheidswaghond (WHO) wegkom met betreurenswaardig mosterd-na -die-maal-gesange, terwyl die president van die VSA letterlik as die corona-moordenaar in die verhaal uitgebeeld word, is heel duidelik geen salf meer te smeer aan verdeeldheid in die Weste nie.
China kom heel waarskynlik skotvry en “divide and conquer” kry hernude betekenis.

Zacharias ·

Jaco, jy of iemand het ook komentaar gelewer hier dat liberale owerhede skielik baie konserwatiewe “dinge” begin doen het, die waarde van grense is skielik besef, instroming van sogenaamde asiel soekers is gestop…
So my mening is die ‘zeit geist’ van ‘n meer konservatiewe wêreld is dalk net vir ‘n rukkie bevredig. En dis (ook) hoekom leiers bietjie meer populêr geword het… In my onproffessionele opieni.
Groete dankie vir die goeie komentaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.