Sukkelende munisipaliteite, Kubaanse ingenieurs en die ANC se rassebeleid

Gerhard Papenfus.

Plaaslike regerings in Suid-Afrika stort letterlik in duie. Die land was onlangs in rep en roer oor berigte van plaaslike regeringstrukture wat hof toe gesleep word as gevolg van hul versuim om, ten opsigte van hul grondwetlike mandaat, basiese dienste aan gemeenskappe te lewer.

Nou het die regering die dienste van 24 Kubaanse ingenieurs ingewin om munisipaliteite te help met die “verkenning van volhoubare waterbronne, instandhouding van infrastruktuur, strategiese beplanning rondom hulpbronne en projekbestuur”.

Weereens, onverklaarbaar genoeg, het die regering die plaaslike kundigheid wat op al hierdie gebiede beskikbaar is, geïgnoreer. Suid-Afrika beskik oor talle tegniese en projekbestuursvaardighede, maar tog het die regering dit goedgedink om elders te soek; dit, komend vanaf dieselfde regering wat hulle beywer vir plaaslike indiensneming en moontlik binnekort werkvisums sal weier vir buitelanders wie se beroepe nie as ‘n “kritieke vaardigheid” beskou word nie.

Die argument dat ‘n samewerkingsooreenkoms tussen Kuba en Suid-Afrika op die gebied van waterbestuur onderteken is, en die Kubaanse ingenieurs gevolglik ingeroep is omdat hulle na bewering ervaring het met die hantering van hul eie waterbestuurskwessies, is absurd. Suid-Afrika het van die bes gekwalifiseerde tegniese personeel, ingenieurs ingesluit, in alle vakgebiede. Die meerderheid van hulle vind dit egter moeilik om werk te kry as gevolg van hul velkleur.

Die mees algemene kwessies wat verantwoordelik is daarvoor dat munisipaliteite nie basiese dienste lewer nie, is die gebrek aan instandhouding en toesig oor water- en sanitasie-aanlegte. Dit is as gevolg van die feit dat die water- en sanitasievoorsieningstelsel, soos wat dit die geval is met die meeste staatsbeheerde fasiliteite, in baie gevalle in ‘n haglike toestand is weens verwaarlosing, onbevoegdheid en onverskilligheid van die plaaslike regering. Die “invoer” van kundigheid is bloot ‘n rookskerm om hierdie feit te verdoesel.

Die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, het gesê dat Suid-Afrikaanse ingenieurs amptelik in diens geneem sou moes word – behoede ons dat Suid-Afrika met ‘n werkloosheidsyfer van 43%, versuim om vir ons landsburgers werk te skep; dít terwyl die Kubane slegs ‘n “toelaag” betaal sal word. Volgens die minister sal die grootste deel van die R65 miljoen blykbaar aan die Kubaanse regering betaal word. Die koste hieraan verbonde kom dus neer op ongeveer R75 000 per Kubaanse ingenieur per maand.

Dit is inderdaad ‘n uiters ruim “toelaag”, maar ten minste hoef die regering nie plaaslike kundigheid “in diens te neem” nie. In een asem sê Sisulu dat die kundigheid nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie – wat loutere onsin is, maar ook dat Suid-Afrikaanse ingenieurs nie drie jaar in die platteland wil bly nie. Hierdie duidelik weersprekende uitlatings is bloot ‘n aanduiding van die feit dat daar ‘n duistere motief agter die regering se besluit skuil.

Nieteenstaande die bogenoemde, sal die nasionale krisis by water- en sanitasie-aanlegte nie deur 24 Kubane opgelos word nie; plaaslike kundigheid moet op ‘n baie groter skaal benut word en dit is plaaslik volop beskikbaar. Byvoorbeeld, die Koster-water- en sanitêre dienste is binne ‘n week herstel nadat dit uit die regering se hande geneem is.

Ons kan net aanvaar dat die redes vir die blatante miskenning van plaaslike vaardighede die volgende is:

  • as gevolg van ’n historiese skuld aan Kuba; en
  • bevestiging dat die regering nie van plaaslike vaardighede gebruik wil maak nie, omdat die beskikbare vaardighede in Suid-Afrika bloot van die verkeerde kleur is.

Die betrokke Suid-Afrikaanse owerhede is in besit van lyste van mense met toepaslike vaardighede wat benodig word om die gebreke van ons verswakte munisipaliteite te herstel. Dit is gekwalifiseerde en ervare individue wat stelselmatig uit plaaslike regering gedwing is, met die gevolglike blitsige verbrokkeling van dienslewering.

‘n Soortgelyke tendens kom voor in elke staatsdepartement en staatsonderneming. Ten opsigte van die regering se rasgebaseerde “transformasie”-beleid, word die verlies van vaardighede nie vervang deur bekwame mense nie, maar deur makkers en kaders. Hierdie is die wortel van al Suid-Afrika se kwale en tensy dit daadwerklik aandag kry, sal ons nie uit die moeras waarin ons onsself bevind, kan ontsnap nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard Papenfus

Gerhard Papenfus is die uitvoerende hoof van NEASA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Suzette ·

Dit is alles die waarheid – wat gaan en kan daaromtrent gedoen word?
Hoekom kan daar nie ‘n wettige fonds gestig word, wat deur kundiges bestuur word, vir water, sanitasie, vullisverwydering, instandhouding in munisipaliteite nie. Die pligsgetroue belastingbetalers se geld kan dan direk daar inbetaal word en sodoende weggeneem word by die onbevoegde, skelm munisipaliteite. Dit is werklik skreiend dat ‘n mens ekstra moet betaal om iets gedoen te kry en dan ook nog die munisipaliteite moet betaal vir geen diens. Die enigste manier hoe munisipaliteite dalk sal luister is om geld weg te vat by hulle.

Michael ·

bevestiging dat die regering nie van plaaslike vaardighede gebruik wil maak nie, omdat die beskikbare vaardighede in Suid-Afrika bloot van die verkeerde kleur is.

Dit is rasisme op sy hoogste. Kla hulle an.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.