Superaanhangers of superopportuniste?

Deur Charné Mostert

Joyce Chauke, ook bekend as Mama Joy. (Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

“Die regte plek op die regte tyd” is ʼn gesegde wat beteken om in die beste posisie te wees om ʼn geleentheid te benut. Is Mama Joy Chauke en Botha Msila getrou aan die etiket superaanhangers van Suid-Afrika wat hulle gekry het? Of was hulle bloot op die regte tyd op die regte plek om supergeleenthede te benut?

Sportsuperaanhangers is bekend vir die uiterste patriotisme waarmee hulle atlete en atletiekspanne ondersteun. Hulle drapeer hulself met trots van kop tot tone in helder spankleure en sal oral heen reis om sportgeleenthede by te woon en passievol van die pawiljoene af te juig.

Wat passievolle mense in Suid-Afrika nie doen nie, is om op belastingbetalers se koste in die luukse besigheidsklas te vlieg en in deftige hotelle te bly om atlete te ondersteun. Maar ongelukkig was dit nie so in Mama Joy Chauke en Botha Msila se geval nie. Hierdie twee Suid-Afrikaanse superaanhangers het tydens 2023 se Rugbywêreldbekertoernooi in Frankryk meer as R1,3 miljoen van belastingbetalers se geld net op vlugte en akkommodasie verkwis.

AfriForum het hierdie inligting deur middel van ʼn versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting 2 van 2000 (PAIA) van die departement van sport, kuns en kultuur verkry. Die departement se swye oor die keuringsproses en kriteria vir die aanwys van superaanhangers is egter verdag.

Voorts was daar ook ʼn skaarste aan uitgaweverslae vir die afgelope dekade oor die koste om hierdie superaanhangers by sportgeleenthede te kry. In reaksie hierop het AfriForum stappe gedoen om op die kwessie in te gaan. Die organisasie het die Inligtingsreguleerder sowel as die Openbare Beskermer betrek om die nodige inligting te bekom en met ʼn ondersoek te begin.

Die roekelose vermorsing van openbare fondse is net so frustrerend as om die bal in die doodsnikke van ʼn rugbywedstryd te verloor en toon ʼn ernstige minagting van die regering. Dit dien as ʼn duidelike teken dat hierdie soort misbruik nooit op die belastingbetaler se koste mag plaasvind nie, en tog het dit ʼn geregverdigde woede ontketen onder inwoners, wat wil hê dat hul swaarverdiende belastinggeld vir werklike probleme eerder as onnodige plesiere aangewend moet word.

Soos die oorverdowende gedruis van die skare geleidelik wegsterf en die stadion in ʼn spookagtige stilte agterlaat, kan ʼn mens nie help om te wonder wat van die superaanhangers geword het nie. ʼn Opportunis is per definisie iemand wat ʼn geleentheid aangryp wat na sy kant toe kom en dit tot sy voordeel aanwend. Kan dit wees dat diegene wat deur Suid-Afrika as superaanhangers geëtiketteer is inderwaarheid superopportuniste is? Stel jou ʼn scenario voor waar die kollig val op ʼn edele saak wat deur ware superaanhangers gesteun word – sou dit nie kon dien om ʼn land te verenig sonder om vertroue in sy regering te ondermyn nie?

Net twéé superaanhangers het by die buitensporige uitgawe gebaat; wat as meer as twee daardeur geraak is? Kyk na die miljoene mense in Suid-Afrika wat in armoede leef. Kinders uit armoedige agtergronde speel dikwels op sandvelde in stukkende rugbystewels, geskeurde hemde en oorgrote broekies. Ten spyte van hul gesukkel, volhard hulle in hul sport. Elke lopie, elke duikslag en elke rugbywedstryd moedig hulle aan om te verbeter – omdat hulle dít kan beheer. Die swaarkry, die gesukkel, die honger verdwyn as hulle rugby speel. Hierdie verhaal was Suid-Afrika se rugbykaptein, Siya Kolisi, se realiteit. Siya was in sy grootwordtye ten nouste bekend met hierdie gesukkel. Rugby het meer as net ʼn sport vir hom geword; dit was ʼn veilige hawe teen die swaarkry by die huis. Kolisi praat dikwels oor die maagpynhonger wat hy gevoel het, ʼn situasie wat vandag deur honderde kinders gedeel word.

Ten spyte van hul moeilikhede, het hierdie kinders ʼn onwrikbare verering vir die Springbokspan en streef daarna om soos hul helde te wees. Hulle versinnebeeld die ware wese van superaanhangers en vind ʼn veilige hawe en onwrikbare motivering in elke drie wat gedruk word. Elke bykomende punt op die telbord verskaf ʼn oomblik van louter plesier en skril gille van vreugde ongeag die uitdagings waarvoor hulle te staan kom.

Suid-Afrika se werklike superaanhangers is sy jeug, aangevuur deur ʼn egte belangstelling in sport. Suid-Afrika voer voortdurend ʼn stryd teen korrupsie, ineenstorting van infrastruktuur, energiekrisisse en werkloosheid, om maar enkeles te noem. Die hele wêreld het gekyk toe die departement besluit het om hardwerkende Suid-Afrikaners se geld op ʼn oorsese Rugbywêreldbekertoernooi te vermors, terwyl hulle blatant die probleme by die huis onder ʼn pleister wegsteek.

Deur proaktief voorbedagte beleggings in hierdie kinders se sportontwikkeling te maak, bemagtig ons nie net talentvolle mense nie, maar bevorder ook ʼn kultuur van sportuitnemendheid waarby hele gemeenskappe baat vind. Hierdie jongmense beliggaam die gees van passie, volharding en sukses wat die land se sportnalatenskap kenmerk. Húlle is die ware superaanhangers.

  • Charné Mostert is ʼn veldtogbeampte by AfriForum. Sy het ʼn honneursgraad (cum laude) in internasionale politiek en is tans besig met haar meestersgraad in sekuriteitstudies by die Universiteit van Pretoria. Charné publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen Twitter), LinkedIn en TikTok.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.