Swart en wit rassisme vandag

rassisme mnn_com

Grafika: Mnn.com

Daar het onlangs ’n interessante en bykans ongewone artikel in The Sunday Times verskyn en dit het amper ongesiens deur sowel gewone mense as die kommentariaat gegaan. Hierdie gebrek aan verdere bespreking van die akademikus William Gumede se artikel – getiteld ‘Black victimhood’ is a ready option that covers multiple sins – is egter nie vreemd nie, gesien in die lig van die polities korrekte tydsgees waarin ons onsself bevind.

Dit is min dat swart kommentators sulke rubrieke skryf en The Sunday Times het die land en sy grotendeels swart lesers ’n guns bewys deur dit op die middelblad te publiseer. Die artikel kan ook op BusinessLIVE gelees word, indien u sou belangstel. Ek beveel dit sterk aan.

Ter wille van ruimte en tyd gaan ek slegs opsommende opmerkings uit die rubriek aanhaal. Meeste hiervan is nie nuut nie, maar die feit dat Gumede dit so rondborstig stel, is nogal verrassend en selfs verfrissend.

Volgens Gumede word die ANC sentralisties bedryf en dink die party hulle is bo die reg verhewe – wat in sekere gevalle seker (en ongelukkig) waar is. Hulle is korrup en stel mense in die staat en privaat sektor aan op grond van hul struggle-geloofsbriewe en nie oor hul vermoë nie.

Dan gaan hy voort en sê dat baie ANC-ondersteuners steeds hiermee saamgaan bloot oor rasse-solidariteit. Misplaaste swart solidariteit verg dat twyfelagtige mense omarm en beskerm moet word.

If a white person rightly criticises a corrupt black person, the corrupt person is embraced. Misplaced struggle solidarity has the same effect. If a non-ANC person, or an opposition party member or supporter criticises a corrupt ANC leader, the corrupt ANC leader is protected. If a black person is doing the criticism, he or she is a ‘puppet’ of whites or ‘white monopoly capital’ and ‘selling out’ their race,” skryf hy.

Hy voer aan dat feitlik elke verkeerde regeringsbesluit en mislukking deur huidige leiers as gevolg van apartheid, kolonialisme of vyandige Westerse state is.

Black leaders in government and the private sector are increasingly using colonialism, apartheid and Western ‘imperialism’ to cover their incompetence, mismanagement and corruption.”

Hy doop dit dan die “maklike opsie” en, baie belangrik, veroorsaak dat leiers en regerings hul verantwoordelikhede jeens kiesers en die publiek kan versaak.

Waarheen is ek op pad hiermee? Soos ek gesê het, is dit min dat iemand  só ’n artikel skryf sonder dat dit naastenby die interaksie of verdere gesprek ontlok wat dit moes nie. Daar is baie wit joernaliste en kommentators wat bloot hul “wit skuld” bely sodra hulle die kans kry. Hulle is tipies te bang om enigsins verder oor Gumede se skrywe te skryf wat hoegenaamd saamstem met hom, uit vrees dat hulle as rassiste gebrandmerk sal word (al is Gumede self swart). Swart kommentators stem dalk bloot nie saam nie of het ook dieselfde vrese as hul wit kollegas.

Dit is egter nodig dat ons ’n eerlike gesprek moet voer oor rassisme en wat dit in hierdie land behels, want in hierdie stadium is dié debat en verskynsel ontsaglik eensydig en dubbele standaarde gedy. Dit is, helaas, al vir ’n wyle die geval.

Swart rassisme is in ’n groot mate genormaliseer en word dikwels openlik en met opset gepleeg. En slegs in sekere gevalle word die ergste oortreders – soos Andile Mngxitama van Black First Land First (BLF) – oor die kole gehaal en dalk gestraf. Nie net ly wit mense as individue en as groep hieronder nie, maar swart mense en trouens die sosiale kohesie ook omdat rassisme bloot ’n politieke slaanstok word, rassisme ’n plaasvervanger vir werklike oplossings is en verantwoordbaarheid by die venster uitgeslinger word.

Ek gaan glad nie ontken dat wit rassisme bestaan nie en ek keur dit ten sterkste af. Elke groep het rassiste, slegte mense en ook goeie mense. Daar is egter duidelike kwalitatiewe en kwantitatiewe verskille tussen wit en swart rassisme vandag. Daar is ook ’n reuseverskil in hoe gevalle van onderskeidelik wit en swart rassisme hanteer word.

Kom ons neem ’n paar voorbeelde in oënskou.

Sedert die begin van 2016 is Penny Sparrow die openbare gesig van wit rassisme en as ’t ware rassisme in die algemeen. Sy het in Januarie 2016 in ’n boodskap op haar persoonlike Facebook-blad na swart mense op Durban se strande as “ape” verwys. Twitter het skielik ontplof en sy is deur die media gekruisig. Duisende mediaberigte op die internet handel oor daardie inskrywing. Voordat die Menseregtekommissie (MRK) haar nog voor stok kon kry, het die ANC haar reeds gelykheidshof toe gesleep. Sy is aan crimen injuria skuldig bevind en 12 maande gevangenisstraf of ’n boete van R5 000 opgelê. Dit was die ANC se redding in ’n verkiesingsjaar en haar naam word tot vandag toe nog in die media genoem as daar na rassisme verwys word.

Die ekonoom Chris Hart het uiteindelik uit sy pos by Standard Bank bedank ná politieke druk en reusemedia-aandag omdat hy in ’n twiet daarop gesinspeel het dat swart mense hulself toenemend as slagoffers sien en hierdie etiket dan misbruik (wat in wese die strekking van Gumede se onlangse artikel was). Die werklose Kaapse student Matthew Theunissen het die k-woord op sy eie sosiale media gebruik in sy verwysing na die huidige regering en het ook talle gevolge gely – selfs ’n verbale skrobbering deur Fikile Mbalula, tans minister van vervoer en voormalige minister van sport, asook ’n straf deur die MRK. Al hierdie mense het om verskoning gevra.

Daarteenoor het Julius Malema in 2016 voor ’n skare buite ’n hof geskree dat hy “ten minste nie nou al” vir die slagting van wit mense gaan vra nie. Die MRK het hom in 2019 vrygespreek en gesê die historiese konteks en sy lidmaatskap van ’n kwesbare groep moet in ag geneem word. Dit skep die indruk dat jou verlede jou huidige wandade regverdig en dat veral magtige politici hiermee kan wegkom en aanhou doen.

Velapi Khumalo, wat vir die Gautengse departement van kuns en kultuur gewerk het, het op Facebook met ’n pistool gesê hy wil die land van wit mense reinig. Sy werkgewer het hom ’n waarskuwing gegee. Esethu Hasane was Mbalula se woordvoerder in 2017 toe hy gesê het daar moet ander straf vir wit mense wees as die droogte in die Wes-Kaap, want swart mense woon ook daar. Die nimlike Mbalula wat vir Theunissen gekruisig het, het Hasane nooit veroordeel nie en hy het geen ander straf ontvang of om verskoning gevra nie. Die voormalige minister Lulu Xingwana het op ’n Australiese TV-kanaal aangevoer alle Afrikanermans is moordenaars soos Oscar Pistorius.

Daar is nog heelwat sulke voorbeelde waar swart mense nie slegs rassisties optree jeens wit mense nie, maar geweld aanhits en dit boonop onbeskroomd, herhaaldelik en sonder verskoning doen – terwyl wit rassiste eerder beledigings sal uitdeel en dit weliswaar meer skelm doen. Ek weet nie van ’n wit rassis wat al durf waag het om openlik te sê wat Khumalo gesê het nie. Ek weet nie van een hedendaagse wit politikus of bekende persoon wat sal sê wat Malema al gesê het nie en dit boonop so openlik en straffeloos doen nie.

Hierdie wanbalans is glad nie gesond vir minder- óf meerderhede nie, want daar word bloot nie aandag aan die werklike probleme gegee nie en wakker rassehaat aan. Die ANC se rassistiese beleide en stilmaak van kritiese stemme deur hulle as rassiste te brandmerk, asook die opkoms van die EFF se politieke mag, het die klimaat hiervoor geskep.

Ons kan nie hierdie dubbele standaarde toelaat nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

sweis ·

Rassisme bestaan wel en word deur wetgewing afgeforseer op die wit minderhede, swart bemagtiging en kwotas in sport is rasistiese wette gebaseer op velkleur. Die feit dat wit minderhede bekend staan as die huidige benaadeelde minderhede is ons eie skuld mense doen immers aan jou wat jy hulle toelaat.

Stephan de S ·

Dankie vir die bekendmaking v Gumede se wyse en dappere artikel. Ek sou andersins nie daarvan kennis geneem het nie. Mens hoop dat die waarheid v hierdie tema meer en meer in die openbare debat ingebring sal word. Dis kern belangrik vir n genormaliseerde samelewing.

Tom ·

Swart rassisme is skynbaar tans om die wittes meer te haat as wat nodig is!

JohanL ·

Ook dankie vir die bekendmaking van Gumede se artikel. Ek lees nie Sunday Times nie, so ek het en sou nooit daarvan geweet het nie.

Bemoedigend dat daar wel enkele swart mense (soos Gumede) is wat die dubbele standaarde raaksien en meer belangrik daaroor skryf. Waarskynlik gaan hy nou as ‘n “puppet of whites” uitgekryt word !!

Een van die grootste probleme volgens my is dat meeste van die (swart) bevolking nie genoegsame toegang het tot gedrukte en elektroniese media nie. So Gumede se artikel gaan waarskynlik “ongesiens” verby en diegene wat ingelig moet word, word nie ingelig nie. Amper ‘n bose kringloop.

Neville ·

DIT IS N SIMPTOOM VAN N ONWERKBARE IDEOLOGIE IN N RASBEHEPTE LAND , EN JUIS AGV HIERVAN IS DIE LAND GEDOEM

Wielspore ·

Loop kry ‘n stokperdjie…. enige persoon se toekoms en die sukses daarvan word deur homself bepaal.
As jy jouself as ‘n “victim” verklaar sal jy altyd ‘n victim van jou eie gebrek aan sukses wees.

Jerry ·

Wanneer daar reeds n magswanbalans bestaan wat dubbele standaarde afdwing is daar fout en wanneer die afdwing van dubbele standaarde toeneem en vererger wanneer pogings aangewend word om dit te stop, dan is daar baie groot fout. Dan is dit tyd om stil te staan, diep asem te haal en te besin oor die strategie en taktiek as teenvoeter om dubbele standaarde te verhoed of stop. Om te dink dat daar aangehou kan word met taktiek wat dit net vererger is of uiters onintelligent of blatantweg domastrant. As jy raai of jy hou jouself blind vir die idee wat geld vir die dubbele standaarde, dan kan jy nie in jou wildste drome droom dat hierdie dubbele standaarde nie toegelaat kan word nie! Dit is juis dan dat dit sal eskaleer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.