Takealot maak dit doodnatuurlik om jou kis aanlyn te koop

Howard Feldman. (Foto: Verskaf.)

Deur Howard Feldman, hoof van bemarking by Synthesis

Asof 2020 tot dusver nie vreemd genoeg was nie, kan Suid-Afrikaners nou doodskiste op die gewilde kleinhandelwebwerf Takealot koop. Die kiste verkoop teen net onder die R5 000 elk op voorwaarde dat die maatskappy geen terugsendings sal aanvaar nie. Te verstane, as mens mooi daaroor dink.Die beskrywing lui soos volg: “Die mees gewilde en tradisionele styl kiste word van egte hout vervaardig. Die fineer belegde houtwerk is met ’n masjien gesny en met die hand gepoleer. Die kis maak bo of onder oop.” Nou waarom iemand ’n kis wil hê wat onder oopmaak, gaan my verstand te bowe en ek wil dit ook nie juis uitpluis nie. Maar ek moet sê, die meegaande foto laat dit nogal aantreklik lyk – moet mens dit nie dalk koop en solank in jou garage hou vir die wis en die onwis nie? Of dalk moet mens dit sommer in grootmaat koop (iets soos twee vir die prys van een)? Maar dit gaan seker bitter vreemd lyk as ’n Takealot-afleweringswa by my huis stilhou met ’n paar doodskiste wat agter uitsteek. Ek wonder wat my bure gaan dink…

Ek besluit toe om op hul webwerf te gaan kyk na wat die klante te sê het en nadat ek niks kon vind nie, tref dit my dat enige kommentaar my die horries sou gee – wie sou die tevrede of ontevrede klant wees en wat sal ’n vyfsterwaarde regverdig? Mens kan seker reken dat die ontvanger oorgenoeg tyd sal hê om kommentaar te lewer, maar dis onwaarskynlik dat daar in die beperkte ruimte en ontwerp van die kis plek gaan wees vir ekstra bagasie. En as mens dan wel iets moet inpak om saam met jou die ewigheid in te neem, sal dit darem seker nie ’n toestel wees om met ’n aanlynwinkel te kommunikeer wat sukkel met aflewering in die Vrystaat nie – om nie eens te praat van die hiernamaals nie.

Die besluit om hierdie beperkte reeks van stapel te stuur, fassineer my. Reflekteer dit die verhoogde behoefte aan dood-bybehore (my woord, nie Takealot s’n nie) of is dit bloot toevallig? Om billik te wees, daar is tans nie ’n besigheid ter wêreld wat nie ’n vergadering byeengeroep en nie die volgende vraag gestel het nie: “Covid-19 is ’n swartswaan-gebeurtenis. Ons kon dit nie voorspel nie en ons besigheid is sleg daardeur geraak. Die vraag wat ons aan onsself moet stel, is hoe ons dit in ’n geleentheid kan verander.”

Nou sit en wonder ek, het daar tydens die Takealot-vergadering ’n skrander jongmens sy/haar virtuele Zoom-hand opgesteek gesê: “Mense gaan doodskiste benodig!” Ek kan my net voorstel dat die res (wie se aandag nie afgetrek is deur hul kinders wat kaalstert deur die vertrek hardloop nie) sou gesê het: “Watter briljante idee!”

Die doodskis is as een van die gewildste items op die webtuiste Takealot gelys (Foto: Skermgreep)

En so is die Hiernamaals-reeks van stapel gestuur.

Een van die uitdagings is natuurlik aflewering. In sommige gebiede, is ons gewaarsku, mag dit ’n hele paar werkdae duur. Dit beken dat die koper deeglik op hoogte moet wees van die mediese toestand van die voorgenome verbruiker. Kan jy jou die uiterse verleentheid voorstel as tant Sannie, wat skielik – maar heel onverwags – herstel het, haar sitkamer inloop en ’n oop kis (bo en onder) sien staan? Ek twyfel of enige verduideliking so ’n penarie sal kan opklaar. Aan die ander kant, om te lank te wag om die bestelling te plaas, sal dieselfde probleem skep as wanneer ’n begrafnis uitgestel moet word weens laat aflewering.

Covid-19 het die meeste van ons (in een of ander stadium) tot op die randjie van kranksinnigheid gedryf. Ná meer as 100 dae van grendelstatus is ons brose houvas op die werklikheid aan die verdwyn – die meeste van ons kan beswaarlik ’n Woensdag van ’n Vrydag onderskei en indien wel, is dit waarskynlik omdat iemand vir ons gesê het watter dag van die week dit is. Dis duidelik dat besighede nie veel anders is nie… dis ’n geval van die gekkes wat die malhuis oorgeneem het en nou doodskiste aan ons verkoop.

Ek voel effe aardig om Takealot alle voorspoed met sy nuwe onderneming toe te wens.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Scalla ·

Gebruik dit vir drank kabinette, ek waarborg jou hul is te bang en sal nie eers in die vertrek kom nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.