Taktiek en meningsverskille in ’n gesonde demokrasie

Ernst Roets tydens die bekendstelling vir dokumentêr, Disrupted Land. Foto: Ersnt Roets/Twitter.com

Oor AfriForum se video Disrupted Land is daar nou al ’n hele klomp dinge gesê.

Enersyds het dr. Corné Mulder (VF+-LP), Barnard Beukman (Beeld se redakteur), asook Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die SA Instituut vir Rassebetrekkinge, hulle baie krities oor die video en sy maker, Ernst Roets, uitgelaat. Andersyds het AfriForum se eie uitvoerende hoof, Kallie Kriel, die produksie sterk verdedig.

Ek het nie die video gesien nie en wil dus nie eens ’n oordeel daaroor probéér fel nie. Ek ken wel al die betrokke individue en weet dat hul verskil oor taktiek gaan, nie oor beginsels nie.

Kom ek kyk dus na taktiek. Hoe voer jy ’n beskaafde openbare gesprek in die huidige omstandighede in Suid-Afrika?

Om mee te begin, moet jy bepaal wat jy wil bereik, sowel in algemene as in spesifieke sin. Kom ons kyk eers na die algemene terrein.

Jou doel kan, dalk onbewus, primêr wees om emosionele bevrediging vir jouself te bereik.

Jy is – dalk volkome tereg – verontwaardig, boos en gefrustreerd. Dus laat waai jy. Jy sê diegene wat jy as die oorsaak van jou frustrasie beskou so sleg dat die see hom of haar nie kan afwas nie. Jy beskuldig so iemand van oneerlikheid, van haat, van kriminele oogmerke.

Dit laat jou goed voel, al is dit net tydelik. Jy het ten minste daardie frustrasie van jou hart gekry.

Die probleem daarmee is: Die verligting is net tydelik; omdat die oorsaak nie weggeneem word nie, kom die frustrasie weer terug. En dan kan jy maar weer – vergeefs – laat waai.

’n Tweede probleem hang saam met die oorspronklike vraag: Wat wil jy bereik? Want as jou openbare gesprek in die rigting van jou opponente hoofsaaklik uit ’n geskel bestaan, kan die uitwerking gewaarborg word: Hulle skakel af.

As – ás – hulle aanvanklik hoegenaamd geluister het, luister hulle ná ’n tyd nie meer nie. Veral nie as jy in húl oë, reg of verkeerd, behoort tot ’n groep wat hulle instinktief as onbetroubaar beskou.

Dié opmerking werk in Suid-Afrika in albei rigtings. Dit geld vir swart mense wat nie na wit mense luister nie, en vir wit mense wat nie na swart mense luister nie.

Ons het dus, om mee te begin, al klaar te make met ’n emosionele probleem. Die swart mense sien die wit mense immers as historiese verdrukkers en ontkenners van hul menswaardigheid; die wit mense sien die swart mense as diegene wat hul taal en identiteit wil onderdruk en jaloers op hul suksesvolle kultuur is.

Die gevolgtrekking tot dusver is dus: Om jou openbare gesprek hoofsaaklik deur middel van ’n wedersydse geskel te voer, hou meer nadele as voordele in.

Dit lei ons tot die tweede deel van dié beskouing: Hoe moet die gesprek dan wel gevoer word?

Ook hiér is die menings verdeeld.

Een groep meen jy moet jouself min of meer wegsyfer en ekskuus vra dat jy leef. Jy moet beskeie wees, diep in die stof voor die ander buig en sonder ophou oor jou sondes bieg.

Bowenal moet jy nie op jou regte staan nie, al word dit ook al in die Grondwet en die reg in die algemeen gewaarborg. Jy kan die ander dalk kwaad maak!

Dit maak jou gespreksgenote in die praktyk egter nie mild nie. Dit wek slegs minagting.

Nee, as jy jouself op beginsels baseer, is dit goed om jou mening openlik, duidelik en sonder vrees te stel. Sê wat jy van die lewe verwag, hoe jy jou eie rol in die geheel sien, wat die bydrae van jou gespreksgenote na jou mening moet wees.

Moenie jou mening onder stoele of banke wegsteek nie.

Maar – en dit is belangrik – doen dit sonder om te skreeu en te skel. Bly beskaafd. Benader jou gespreksgenoot met dieselfde respek wat jy van hom of haar teenoor jou verwag.

Dit beteken ook dat jy ’n wag voor jou mond moet plaas. Dat jy moet besef watse uitwerking jou woorde kan hê. Dat jy nie onnodig provoserend moet wees net om jouself emosioneel te bevredig nie.

In dieselfde onderhoud in Rapport verlede Sondag, waar Mulder soveel kritiek op Roets uitgespreek het, vertel hy hoe hy en Hlengiwe Mkhaliphi, adjunk-sekretaris-generaal van die EFF, drie uur in ’n taxi in Wes-Afrika in mekaar se geselskap moes deurbring. Hulle het, lei ’n mens af, reguit en openlik met mekaar gesels.

Maar dit het met wedersydse respek gebeur. Of altans, dit het met wedersydse respek en begrip geëindig. Hulle verskil waarskynlik steeds, maar “deesdae groet ons mekaar met ’n druk”.

Nie alleen, so lyk dit, begryp Mulder die “swart standpunt” nou beter nie; ook Mkhaliphi begryp die “Afrikanersaak” beter.

Dít is wins. Dít is wat ordentlike, beskaafde gesprekvoering kan bereik.

Ongelukkig is die struktuur van die parlement nie bevorderlik vir só iets nie. Daar slaan almal hakke in die grond. Daar is geen sprake van ’n dialoog nie; wel van ’n wedersydse gegil tussen dowes.

Deel van die probleem is ook die moderne kommunikasiemiddele. Dit lyk of sommige mense wat onderaan artikels soos dié reageer, alle remme verloor en bloot gil en skreeu.

Eintlik het dit nog altyd gebeur. Maar vroeër was dit beperk tot die kroeg of die braaivleisvuur; nou word dit – dikwels anoniem – die wêreld ingeslinger.

Beskaafde mense voer beskaafde gesprekke. Daardie gesprekke sal nie noodwendig tot konsensus lei nie. Konsensus is ook nie noodsaaklik terwille van konsensus nie.

’n Gesonde demokrasie verg juis verskil van mening. Die groot vraag is hoe jy daardie meningsverskille hanteer.

Die antwoord is duidelik: Wees ferm en duidelik, maar bly beskaafd en respekvol. Uiteindelik kom jy die verste daarmee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Beskaafde gesprekke in Afrika is “window dressing”. Afrika demokrasie werk so: Ek het ‘n AK en jy het ‘n graad in Kern Fisika, daarom maak ons soos ek sê…..en as jy nie daarvan hou nie, gebruik ek my AK en dan maak ons soos ek sê…..wat hiervan is nie duidelik vir jou nie?

Tom ·

Dis miskien tyd om gewraakte video af te laai en te kyk Leopold en dan jou mening direk daaroor te gee. Wag graag daarvoor.

Sarie ·

Stem saam. Diegene wat hul uitgespreek het teenoor die video het weer net gecherry pick. Vir my was dit ‘n goeie video met ‘n gebalanseerde boodskap en die geskiedenis van grond is op ‘n meer gebalansseerde wyse aangebied as die retoriek wat deur die regering en hul meelopers in die media aangebied word. Het veral van Lakota en daardie Khoisan van die Kalahari se bydrae gehou.

willem Botha ·

Ek het die video gekyk en vir die eerste keer die waarheid gehoor soos dit is,hoe meer mense die werklike feite ken soos dit is en ek praat van wit en swart hoe vinniger kan die land weer gesond gemaak word.

Dup ·

@Willem Botha,

“Hulle” stel nie belang in werklike feite nie.

Wonder ·

Ek het ook die video gekyk en dit baie insiggewend en interessant gevind. Dit het wel vir my voorgekom asof feite oor apartheid weggelaat is om dit te romantiseer. Al is die video feitelik korrek, was apartheid ‘n skreiende sonde wat nie reggepraat kan word nie.

Andreas ·

Wonder, hierdie is in kort die opdrag en doel van die dokumenter soos per die webwerf:

DISRUPTED LAND IS A DOCUMENTARY FILM ABOUT THE HISTORY AND FUTURE OF LAND OWNERSHIP IN SOUTH AFRICA.

The film deals with the controversial history of land in South Africa and views it is a matter that has been distorted for political gain by politicians and land reform activists. The film investigates the question of how white farmers obtained land in South Africa and exposes the extensive failure of the South African government’s land reform initiatives. Disrupted Land refutes the claim that there is a large-scale hunger for rural land among black people in South Africa. The films also points out that the situation would deteriorate if the ruling ANC and its alliance partners were to succeed with its push for expropriation of private property without compensation.

Jerry ·

Net soos die skrywer het ek nie die boeke gelees of die videos gekyk nie en kan nie daaroor my mening lug nie. Ek het ook n probleem met mense aan beide kante van die spektrum wat onoordeelkundige uitsprake maak om uiting aan hulle frustrasies te gee en wat dan lei tot verdere verdeeldheid en spesifiek in die Afrikaner se geval wie daardeur erger geteiken en verarm word. Die meerderheid mense aan beide kante van die spektrum soek vreedsame oplossings, terwyl daar aan beide kante klein groepies is wat dit openlik ten doel het om met hulle houdings en uitsprake skoor te soek en verdeeldheid en onverdraagsaamheid aan te wakker. Hierdie groepies soek n fight terwyl hulle nie in n posisie is om te fight nie, wat beteken dat hulle ander probeer betrek om hulle fight vir hulle te fight! As jy n fight soek moet die boodskap duidelik wees dat jy jou eie fight gaan baklei, jy gaan moet “put your money where your mouth is”! Die meerderheid mense sal opstaan en saamstaan teen skoorsoekers, nie saam met skoorsoekers nie. Beplan jou vyand se ondergang in die geheim, nie in die openbaar en kalklig nie. Jou planne moet nie bekend wees nie en jou dade moet hulle verras en verslae laat. Skoorsoekbemarking is gedoen en genoeg lede gewerf vir n Afrikanersakeryk wat nou beskerm moet word. Bewerkstellig beskerming/vooruitgang deur politiese korrektheid terwyl en indien nodig, jy die ondergang van die vyand, in die geheim laat geskied!

Felix ·

Ek het ‘n idee hier is, na ‘n dag verby is, twee kommentare verwyder.

Felix ·

Dr Leopold jy is so reg met jou opskrif: ‘Meningsverskille in ‘n gesonde demokrasie’. Dit is nou veral daardie gesonde demokrasie gedeelte.

Felix ·

Dit is nou vir die wat my aanvanklike kommentaar gemis het.

Felix ·

Dr Leopold, dankie vir hierdie stuk, almal het dit nodig, kom ons hoop almal neem dit ter harte, ook Maroela in die tye. Niemand wil ‘n pretbederwer wees nie, maar mag ons nou en dan binne perke krities wees, sonder om te skree, maar weldeurdagte opinies opper? Hoekom demp Maroela kommentare wat hulle nie pas nie, soos nou met die AIG en Steve, hulle duld dit net nie, al is dit in lyn met hul beleid, waarom tree hulle soos ‘n koerant op, wat net een sienswyse propageer?
Waarom snoer hulle ons?
Wat mens teen die bors stuit is dat hulle die kommentare ‘manipuleer’, dit is wat mens waarneem, hulle soek net uit wat hul pas en as iemand ‘n geldige teenargument het, gooi hulle dit in die snippermandjie.

Henry ·

Felix
Weereens in die kol.
Hierdie kommentare, sal waarskynlik soos die voriges, weereens verwyder word.
aquila non capit muscas
;-)

Gert ·

Dis eintlik ‘n skande dat mense kommentaar lewer oor ‘n video wat hulle nie eens die moeite gedoen het om te kyk nie. Ek het dit wel deurgekyk, en dink eerlikwaar nie dit verdien die storm van kritiek nie. Sekere kommentare het gegaan oor die feit dat hulle Dr Verwoerd beskryf het as ‘n filosoof, want glo is dit ‘n te “nice” beskrywing, ons mag net in uiters negatiewe terme na hom verwys. Die waarheid is dat hy ‘n graad in filosofie gehad het, maar nou ja, wie stel belang in die feite?
Soos die Amerikaanse parlementslid van die Demokrate, Alexandria Ocasio-Cortez dit gestel het: “Some people prefer being factually correct to being morally right”, met ander woorde feite is net in die pad van die ideologiese doel, en moet beveg word.

Dup ·

Net soos Dr Scholtz nie die video gekyk het nie, en nie regtig weet wat daar aangaan, weet hy ook nie wat werklik aangaan in Suid Afrika nie omdat hy ver hiervandaan sit.

Hy weet ook nie dat ons ver van ‘n gesonde demokrasie is nie.

Hy weet ook nie dat ‘n westerse stelsel soos demokrasie nie wil werk in Afrika nie.

Dries du Toit ·

Dr Scholtz praat so mooi. Geen een kan van hom verskil nie. Wat hy en Jerry eintlik se is : wees verdraagsaam luister wat jou opposisie se. Probeer verstaan wat sy gevoel is. Die probleem is egter net vir hoelank moet jy dit doen voordat jy tot n slotsom kom dat dit oor jare bewys is dat daardie opponent van jou nooit jou siening gaan verstaan nie maar net tevrede sal wees as jy tot niks gereduseer gaan word en jou stem verewig stil gaan wees. Verduidelik asb dit vir ons Dr Leopoldt

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.