Tien feite op die pad na ’n oplossing vir konflik tussen Israel en Palestyne

Israeliese weermagsvoertuie op die grens tussen Israel en Gaza. (Foto: Jack Guez/ AFP)

Die huidige konflik tussen Israel en die Palestyne, wat twee weke gelede begin het deur die bloedigste terreuraanval tot nog toe op Israeliese burgers en die mees koelbloedige aanslag op Jode sedert die Tweede Wêreldoorlog, dreig steeds om in ʼn breër streekskrisis te ontaard wat die reeds gespanne globale verhoudinge verder kan laat verswak. Die gerespekteerde Amerikaanse skrywer, Niall Ferguson, het die afgelope week gewaarsku dat die huidige konflik tussen Israel en die Palestyne, die gepaardgaande globale wantroue en ʼn hernude Koue Oorlog tussen die VSA en sy opponente tot ʼn Derde Wêreldoorlog kan lei.

Wat die afgelope week ook duidelik was, is die groot risiko wat met propaganda tydens konflik en oorloë gepaardgaan. Die onverantwoordelike wyse waarop die media Hamas se bewerings oor ʼn lugaanval op ʼn hospitaal in Gasa-stad vir soetkoek opgeëet het, dra reeds by tot gewone mense se totale verlies aan vertroue in die hoofstroom media.

Die afgelope twee weke se konflik het op verskeie vlakke die huidige spanningslyne tussen die demokratiese Weste en sy bondgenote en die ondemokratiese, outokratiese Ooste en sy bondgenote bevestig. Uit die wyse waarop lande, politieke leiers en groepe op die konflik gereageer het, is dit duidelik dat, net soos met die oorlog in Oekraïne, die konflik tussen Israel en die Palestyne ook ʼn onderdeel van die globale stryd tussen demokrasie en outokrasie en tussen Westerse vryhede en Chinees-Russies geleide diktatuur geword het.

Die brutale aanval deur Hamas op Joodse nedersettings in die suide van Israel en die afgelope twee weke se gebeure, insluitende die wyse waarop Arabiese lande en groot Arabiese bevolkings in Westerse lande hierop gereageer het en selfs die hernude simpatie vir die Palestyne (en die daarmee gepaardgaande onwilligheid om die terreuraanval te veroordeel) van groepe en lande in Afrika, Asië en Suid-Amerika het die vals opvatting van die afgelope paar jaar oor Israel se langtermyn-bestaanskrisis blootgelê.

Indien wêreldleiers, en veral dié in Israel, die VSA, Europa en Arabiese lande, sowel as Palestynse leiers ernstig is daaroor om te verhoed dat die konflik verder uitkring, en indien hulle steeds verbind is tot ʼn langtermynoplossing vir die konflik tussen die Palestyne en Israel, moet sekere feite van fiksie onderskei word. Die volgende tien feite (daar is natuurlik baie meer) kan en moet erken word:

  1. Hamas is ʼn terreurgroep; die aanval was ʼn terreuraanval

Brandende motors ná ʼn vuurpylaanval uit die Gaza-strook in Ashkelon in die suide van Israel (7 Oktober 2023) (Foto: Ahmad Gharabli/AFP)

Hamas is ʼn terreurgroep wat reeds 16 jaar lank sy magsposisie in die Gasastrook gebruik om voortdurende aanvalle op Israel te loods. Hamas het een oogmerk en dit is om Israel uit te wis en om ʼn terreurstaat in die hele historiese Palestynse gebied (wat die hele Israel insluit) te vestig. In hierdie opsig is Hamas selfs meer ekstreem as die Taliban in Afganistan en kan dit eerder met die drome van ʼn nuwe kalifaat in die Levant, soos wat Isis ʼn paar jaar gelede met brute geweld probeer skep het, vergelyk word.

Die verrassingsaanval twee weke gelede op Israel, waarin meer as 1 400 mense dood is, was ʼn terreuraanval en die Amerikaanse president Joe Biden is heeltemal korrek wanneer hy daarop aandring dat dit so beskou moet word.

Hamas het die afgelope paar jaar humanitêre hulp op slinkse wyse na die Gasastrook herkanaliseer om hulle terreuraktiwiteite te finansier. Die wyse waarop mense in die Gasastrook onderdruk word, jong kinders gebreinspoel en geradikaliseer word en burgerlikes as menseskilde gebruik word, spreek van ʼn groepering wat niks anders as ʼn terreurgroep is nie.

Hamas wil nie met Israel onderhandel nie. Hamas wil nie met ander Palestynse groepe soos Fatah saamwerk nie. Hamas wil Israel deur blote terreur uitwis en ʼn anti-Westerse terreurstaat, wat Islamitiese ekstremisme wil bevorder, in die gebied vestig.

  1. Daar bestaan geen Palestynse volk nie; die Palestyne het ʼn reg op eie grondgebied

In die naskokke van Hamas se aanval op Israel (Foto: MAHMUD HAMS / AFP)

Dit was, ironies genoeg, die Romeine wat eerste die woord “Palestina” gebruik het om te verwys na ʼn gebied waar die Jode, wat deur die Romeine uitgedryf is, gewoon het. Die werklikheid is dat dié gebied deur Jode bewoon is nog voordat die Moslem-geloof bestaan het.

Sedert die Romeinse tyd is daar dus na dié gebied waar Israel, die Gasastrook en die Wesoewer vandag is as Palestina verwys. Dit is afwisselend deur verskillende groepe en gelowe bewoon. Die geskiedenis van Jerusalem en die groot belang van hierdie stad vir Christene, Jode en Moslems bevestig dit.

Arabiese groepe het oor die afgelope 200 jaar in die gebied ingetrek, dikwels op soek na geleenthede vir werk. In die tyd van die Ottomaanse Ryk is daar ook na die gebied as Palestina verwys. Daar was egter nooit ʼn Palestyns-Arabiese volk wat eienaarskap van die gebied geneem het nie. Oor die eeue het die gebied bloot hande verwissel tussen verskillende ryke.

Die Arabiere, na wie die afgelope 100 jaar as “Palestyne” verwys word, is dus kultureel dieselfde mense as Arabiere wat in lande soos Sirië, Jordanië en Libanon woon. Dit beteken nie dat hierdie mense nie ʼn bestaansreg en ʼn reg op hulle eie grondgebied het nie, maar die valse persepsie dat Israel ʼn (denkbeeldige) Palestynse volk van hulle tuisland ontneem het, is verkeerd.

  1. Hamas en die Palestyne is nie sinoniem met mekaar nie, maar te veel Palestyne is geradikaliseer

Israel se nooddienste bekyk die toneel van ‘n vuurpylaanval in die stad Ashdod.
(Foto: Ahmad Gharabli / AFP)

Mense aan die onderskeie kante van die konflik het die afgelope twee weke dikwels na Hamas en “die Palestyne” as sinonieme verwys. Dit is verkeerd. Die Palestyne van Gasa en die Wesoewer (ʼn mens kan die 20% van Israel se burgers wat Arabiere is ook daarby voeg) is al vir jare uiters verdeeld en sonder ʼn enkelleierskapstruktuur. Sedert Hamas in 2006 ʼn verkiesing in Gasa gewen en kort daarna beheer oor die gebied geneem het, is Hamas in ʼn stryd gewikkel met die meer gematigde Fatah-beweging wat die Wesoewer regeer. Die 2006-Palestynse verkiesing was ook die laaste Palestynse verkiesing en die Palestynse owerheid het sedertdien sodanig in tweestryd verval dat daar nie ʼn enkele instelling is wat namens die Palestyne kan onderhandel nie.

Waarmee Hamas egter sedert 2006 geslaag het, is om ʼn groot deel van die bevolking van Gasa te radikaliseer. Hulle doen dit deur onderwys, maar ook deur die skep van ʼn persepsie dat die toekoms van die mense van Gasa uitsluitlik deur Israelse onderdrukking in die wiele gery word. Op dié manier slaag Hamas ook om simpatie by pro-Palestynse groepe, dikwels in konserwatiewe Arabiese lande, maar ook in linkse strominge van die Westerse politiek, te wek.

Dit is eers wanneer die Palestyne deur geloofwaardige leierskap, wat terreur verwerp, verteenwoordig word, dat daar weer met erns oor ʼn Palestynse staat (iets wat nog nooit in die geskiedenis bestaan het nie) gepraat sal kan word.

  1. Israel het ʼn bestaansreg, maar dit kan net volhoubaar wees in samehang met die streek

Israel se vlag. (Foto: Oleg Vakhromov / Unsplash)

Die geskiedenis van die Jode in die Levant, en eintlik in die hele Midde-Ooste, is een van tragiese voortdurende bedreiging en uitwissing. Die Romeine het daarmee begin en telkens daarna het dieselfde verhaal hom in lande met groot Joodse bevolkings afgespeel. Gevolglik is dit so dat daar bykans geen Joodse bevolkings meer in die meeste lande in die streek bestaan nie.

Terwyl Amerika, en tot ʼn mindere mate Europa, sterk verbind is tot die bestaansreg van Israel, besef die Weste ook dat Israel net volhoubaar sal kan voortbestaan indien die land ʼn basis van normale verhoudinge met Arabiese lande kan vestig. Die normalisering van verhoudinge met Egipte en Jordanië was ʼn begin en die Trump-administrasie se Abraham-akkoorde was ʼn baie goeie voortsetting hiervan.

Die huidige konflik bedreig egter hierdie normalisering en ontbloot steeds baie Arabiese lande en leiers se inherente haat vir, of minstens afkeer van Israel.

  1. Arabiese lande is oneerlik oor hulle Palestynse motiewe

Palestyne skep water uit ‘n fontein. in Rafah in die suidelike Gaza-strook. (Foto: MOHAMMED ABED / AFP)

Die wyse waarop talle Arabiese lande die afgelope twee weke op die konflik gereageer het, wys dat die persepsie van vordering in die verhouding tussen Israel en Arabiese lande vals is en dikwels op ekonomiese voordeel, eerder as op eerlike erkenning van die bestaansreg van Israel, gebou is.

Dat Arabiese leiers Hamas se propaganda as die waarheid aanvaar, dui op ʼn inherente wil by Arabiese leiers om Israel steeds as die enigste slegte rolspeler in hierdie konflik af te maak. Katar se onderduimse ondersteuning van Hamas, terwyl dié land hom dikwels ook as bondgenoot van die Weste probeer vestig, behoort die gevaarligte oor die motiewe van die Golflande in Washington, Brussel, Londen en Berlyn te laat flikker.

Wat wel duidelik is, is dat die meeste Arabiese lande nie wil hê dat die konflik verder uitbrei nie omdat dit ook ʼn negatiewe invloed op hulle kan hê. Verder moet die vraag gevra word wat die Arabiese lande se motief met die Palestynse kwessie is. Soos wat die VSA ʼn sleutelrolspeler is om Israel te dwing om te onderhandel vir vrede oor die langtermyn, hou die Arabiese lande die sleutel om die Palestyne te dwing om hulle huis in orde te kry. Dit lyk egter of talle Arabiese lande bereid is om die konflik aan die gang te hou ten einde Westerse invloed in die streek te beperk.

  1. Iran gebruik Palestyne in sy stryd teen die Weste

(Argieffoto: Khalid Mohammed, AP)

Dit het die afgelope twee weke duidelik geword dat Iran nie net ʼn indirekte nie, maar ook ʼn direkte ondersteuner van Hamas is en dat Iran waarskynlik direk betrokke was by die beplanning van die terreuraanval. Vir Iran is die stryd teen Israel nie net ʼn stryd teen die Jode nie, maar ook ʼn stryd teen die Weste en spesifiek Amerikaanse invloed in die Midde-Ooste.

Daarmee tesaam is dit duidelik dat China en Rusland hulle bande met Iran probeer gebruik om Westerse invloed in die Midde-Ooste te verswak. Iran se stryd teen Israel raak dus ʼn onderdeel van die globale magstryd tussen die Weste en Rusland en China.

  1. Die krake in Israel ook tekenend van krake in Westerse beskawing

(Foto: Jack Guez/AFP)

Israel se regering, weermag en intelligensiedienste het drooggemaak deur nie die aanval twee weke gelede te voorkom nie. Israel was vir dekades ʼn onstuitbare en vasberade nasie wat altyd op die voorvoet was en altyd gereed was om sy vyand die hoof te bied en te oorwin. Dit wil egter voorkom asof die Israel van 2023 minder paraat is. ʼn Hele nuwe generasie Israeli’s is verder verwyder van die idees en strewes van die stigters van Israel.

Net soos in die meeste Westerse lande (en Israel is natuurlik nie ʼn Westerse land in die ware sin van die woord nie) is baie mense in Israel ook bederf deur die ekonomiese sukses van die afgelope dekades en die vals persepsie van vrede en sekuriteit.

Daarmee gepaardgaande het ʼn reuseverlies aan kultuur en identiteit, sowel as enorme politieke verdeeldheid tussen die konserwatief-nasionalistiese en die moderne liberale elemente van die Israeliese samelewing die land die afgelope paar jaar polities verlam. Hamas was deeglik bewus daarvan.

Die verval van ʼn geloofsgebonde nasionale identiteit is besig om die Westerse beskawing al hoe vinniger te laat wegkalwe. ʼn Soortgelyke neiging in Israel kan ook ʼn reuse-uitdaging in die toekoms skep wat kan beteken dat die werklike bestaansbedreiging nie noodwendig van buite nie, maar eerder van binne kan kom om Israel te vernietig.

  1. Israel het nie die Baptiste-hospitaal aangeval nie; die media het erg drooggemaak

Israel en Palestina probeer nou die skuld op mekaar pak vir die lugaanval op die Al-Ahli-hospitaal in Gaza. (Foto: Husam Zomlot/X)

Koerantvoorblaaie wêreldwyd, asook talle internasionale nuuskanale, radiostasies en aanlyn publikasies het dit Woensdag uitbasuin dat Israel ʼn lugaanval op ʼn hospitaal in Gasa geloods het wat tot die dood van 500 kinders, dokters en ander onskuldige burgerlikes gelei het.

Teen Woensdagaand was dit egter reeds duidelik dat dit nie Israel was wat vir die ontploffing by die hospitaal verantwoordelik was nie, dat baie minder mense in die ontploffing omgekom het en dat Hamas duidelik die ontploffing as ʼn steunwerwingsoefening vir globale simpatie gebruik het.

Hoe kon die media dit so lelik verkeerd kry? Die persepsie is die afgelope paar jaar geskep dat Israel deur sy lugaanvalle in die Gasastrook, wat telkens in reaksie op Hamas-aggressie was, daarop uit was om burgerlikes in Gasa te dood. Toe Hamas en sy ondersteuners die nuus oor die aanval kommunikeer, het baie media, heeltemal te veel van hulle, dit dus vir soetkoek opgeëet.

Verder bydraend hiertoe is die oorweldigende ideologiese swaai na links wat die afgelope dekades in nuuskantore reg oor die wêreld plaasgevind het. Die ingeboude simpatie vir die Palestyne het dus by baie joernaliste ʼn blindekol vir Hamas-propaganda veroorsaak. Hopelik sal die media belangrike lesse hieruit leer.

  1. Betogings, terreurbedreigings in Westerse lande lê gevolge van massa-immigrasie bloot

Die Ponte-toringgebou het Donderdagaand met die Israeliese vlag verlig. (Foto: X)

Elke poging van Westerse leiers soos Emmanuel Macron van Frankryk en Rishi Sunak van Brittanje om pro-Hamas-betogings te verbied, het die afgelope paar dae misluk. Van die strate van New York, Los Angeles, Chicago en Boston tot die strate van Londen, Brussel, Parys, Amsterdam en Berlyn het groot groepe Moslem-immigrante en meestal links-progressiewe simpatiseerders aan betogings teen Israel en meestal nie net ten gunste van die Palestyne nie, maar ten gunste van Hamas en ander terreurgroepe, deelgeneem. Selfs die vlag van Isis en Al-Kaïda was dikwels by hierdie betogings vertoon.

Dit is duidelik dat die uitdagings wat massa-emigrasie uit Derde Wêreldlande na Eerste Wêreldlande veroorsaak, besig is om toe te neem. Immigrantebevolkings, dikwels uit streng konserwatiewe Islamitiese samelewings, weier om te assimileer in Westerse lande en vorm eerder parallelle samelewings met ʼn sterk band oor generasies heen met die land van herkoms.

Dit is ook waarom Islamitiese terreuraanvalle in Westerse lande byna altyd deur mense wat al jare in daardie lande woon, gepleeg word. Mense uit Afrika, die Midde-Ooste, Asië en Suid-Amerika emigreer na Westerse lande omdat hulle vlug van armoede en verval en omdat Westerse lande se welvaart en uitgebreide regeringsdienste soos gratis behuising, mediese sorg en maatskaplike toelaes hulle lok. Hulle emigreer nie omdat die liberale vryhede van die Weste hulle lok nie.

  1. Vrede tussen Israel en die Palestyne is moontlik, politieke wil keer dit

‘n Vuurbal ontplof na ‘n Israelse lugaanval op Gazastad. (Foto: Mahmud Hams/AFP)

Tydens die Camp David-beraad in Julie 2000 in die VSA was dit duidelik dat vrede tussen Israel en die Palestyne en ʼn tweestaatoplossing moontlik is. Die onderhandelinge het op die ou end misluk toe Jasser Arafat op die nippertjie geweier het om ʼn ooreenkoms te sluit. Israel was bereid om groot gebiede aan ʼn nuwe Palestynse staat af te staan.

Sedert 2000 het die Palestyne se saak dramaties verswak. Dit het die ruimte vir terreurgroepe soos Hamas geskep om die leierskapsvakuum te vul. Vir Hamas is vrede geen opsie nie, want sy leiers floreer (ook finansieel) in die voortslepende konflik met Israel.

Om vrede en ʼn tweestaatoplossing te laat slaag sal die Palestyne eers hulle huis in orde moet kry. Dit sluit in die noodsaak vir ʼn vry en regverdige verkiesing en sterk leierskap wat met erns oor langtermynvrede wil onderhandel. Om by hierdie punt uit te kom moet terreur onder die Palestyne uitgeroei word. Israel se huidige uitwissingsveldtog teen Hamas is dus noodsaaklik vir langtermynvrede.

Die gebrek aan leierskap in Westerse lande bevorder ook nie juis die vredesproses nie. Terwyl Iran voorberei vir ʼn oorlog teen Israel en selfs die VSA, met groepe soos Hamas en Hisbolla as handlangers (proxies), is dit juis nou nodig vir leiers om na vore te tree om oor ʼn toekoms van vrede tussen Israel en die Palestyne te praat. Dit lyk egter nie of die VSA en Europa tans oor die leierskap beskik wat dit kan laat verwesenlik nie, terwyl Arabiese leiers nie in goedertrou optree nie. Met China en Rusland wat die vure van konflik verder stook, kan ons dus eerder ʼn eskalasie van geweld te wagte wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

So die Nuwe Wêreldorde van Biden is soveel edeler as die outokratiese stelsels van Oosterse lande; die Demokrate wat die opposisie met slinkse planne uitwerk en Christelike waardes minag? Rusland is konserwatief-Christelik maar dit tel nie. Israel het regte maar dit tel so-so. Die pers volg deesdae die windmakers uit die CNN-hoofkwartier. Te bang om te verskil.

Pannies ·

Goeie berig. Gee meer perspektief op n ingewikkelde situasie.
Het ons eie situasie in SA nie dalk meer in gemeen met hulle situasie nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.