Tien lesse uit Senekal-gebeure

Die afgelope tyd se gebeure by Senekal het tot soveel berigte en gerugte gelei, dat dit moeilik is om sin uit alles te maak. Daar staan vir my tien lesse in die gebeure uit.

Les 1: Boerelewens maak nie (regtig) saak nie

Brendin Horner (21), ‘n plaasbestuurder, is wreed vermoor. (Foto: Facebook)

Die meeste nuus oor Senekal het die sentrale punt gemis: die gruwelike moord op ’n jong wit boer, Brendin Horner. Die meeste politici, joernaliste en kommentators wil die storielyn versag deur te sê dat “plaasmoorde deel is van die geweldsmisdaad wat almal in Suid-Afrika raak, en dat ras en politiek nie ’n rol speel nie”.

Natuurlik is elke moord tragies en verwerplik. Die rassefaktor kan egter nie weggepraat word by plaasmoorde nie. Radikale swart politici teiken immers wit boere vanweë hul ras. Dit geld nie net vir openlike rassisme soos Malema se Kill the Boer-opswepery nie. Die ANC noem boere gereeld gronddiewe, en die onteiening sonder vergoeding van wit boere se grond is hul amptelike beleid.

Daar woed al jare lank ’n giftige politieke klimaat teen wit boere. Niemand kan nou mos verbaas wees as dit tot moorde lei nie?

Die meesterstorie oor Senekal is egter nie die sieklike moord op Brendin Horner nie. Julius Malema dreig twee dae voor die tweede hofverskyning met ’n rasseoorlog. Daarby sing sy ondersteuners “Kill the (wit) Boer” tydens ’n hofsitting oor ’n moord op ’n wit boer. Hoe siek is dit? Maar dis nie al nie. Langs Malema sit die minister van polisie tjoepstil langs ’n grootmond-politikus wat die land met ’n rasseoorlog dreig, wat in werklikheid vír plaasmoorde kom betoog, en wie se ondersteuners openlik ’n haatlied – wat deur die hooggeregshof as haatspraak verklaar en verbied is – sing!

Anti- (wit) boer-rassisme word genormaliseer en selfs polities geregverdig. Die feit is, boerelewens maak nie regtig meer saak nie, want dit word weggepraat as “gewone” moord.

Les 2: Malema en die Media

Julius Malema, Bheki Cele en Ayando Dlodlo in die hof. Foto: Christel Cornelissen

Daar is ’n wedersyds afhanklike verhouding tussen Malema en die media. Malema soek publisiteit, en die media soek nuus. Malema en sy EFF is grootliks ’n mediaskepping, en hy is die liefling van talle joernaliste.

Die EFF het tydens die streng inperkingstyd verdwyn, omdat hulle nie die nuus kon haal nie. Die meeste medianuuskanale slurp bykans alles vir soetkoek op wat Malema sê of doen. Daar word wel oppervlakkige kritiek oor hom gelewer, maar daar’s uiters min deurtastende beriggewings wat sy naakte haat en rassisme blootlê vir wat dit is.

Les 3: Mag word ‘reg’

Daar is al talle en talle sake teen Malema gemaak, maar daar gebeur niks nie. As organisasies soos AfriForum dit nie dryf nie, doen die polisie en vervolgingsgesag dit nie. So word mag “reg”, en doen Malema en sy ondersteuners al meer net wat hulle wil. Daar’s mos nie gevolge nie. Politieke mag het verkeerd “reg” gemaak.

Les 4: ANC- en EFF-vennootskap

Dit word al meer duidelik dat daar ’n onuitgesproke vennootskap tussen die ANC en EFF is. Dit het nie net uitgekom in die twee se samespanning met die ontseteling van die DA in Pretoria, Johannesburg en Port Elizabeth nie. Die EFF is die ANC se nieamptelike jeugvleuel, wat die politiek in die land na links druk. Wanneer die EFF dreig om iets met wapens te doen, kondig die ANC aan dat hulle dit eerder met wette sal vermag. So kry die regering dit reg om “gematig” voor te kom as hulle radikale wette deurvoer.

Les 5: Dubbele standaarde

André Pienaar (51) tydens die betoging buite die hof op Senekal.

Daar is al hoe meer dubbele standaarde in die land as dit by ras kom. Twee boere word vervolg oor ’n polisiebakkie, maar daar is geen vervolgings teen die EFF se jare lange grootskaalse verwoesting nie (soos, byvoorbeeld, onlangs by Clicks). Die sowat 13 000 aanvalle en sowat 2 000 moorde op wit boere sedert 1994, trek baie minder aandag as een wit “rassis” se twiet. Helen Zille het betekenisvolle opmerkings oor hierdie “nuwe rassisme” gemaak.

“Whites fulfil all the criteria for becoming a scapegoat for contemporary South Africa’s problems and policy failures — just as ‘the British’ remain the scapegoat for populist racial nationalism in Zimbabwe, 35 years after independence.

“The condemnation of a whole category of people because of their (white) race is the new face of racism in South Africa.”

Les 6: Plaasmoorde deel van groter prentjie

Plaasmoorde vorm deel van die groter prentjie van staatsverval in die land. Dit behels die verval van plattelandse dorpe, swak staatsbestuur, geweldsmisdaad, die ekonomiese resessie, rekordhoë werkloosheid en die algemene mislukking van die ANC-regering

Les 7: Minderhede het minder regte

Flip Buys.

Die Grondwet se papierwaarborg dat almal dieselfde regte het en ewe gelyk is, is deur die praktyk ingehaal. Rassebeleid is ná 1994 nie afgeskaf nie, maar net onder nuwe bestuur geplaas. Dr. James Myburgh het uitgewerk dat daar al 83 stukke wetgewing oor ras deur die ANC-regering deurgevoer is.

Die grondwetlike hof het self al bevestig dat ras bepalend is vir werksgeleenthede. Die hof het by monde van die hoofregter dit duidelik gemaak dat die regsprekende gesag die wetgewende en uitvoerende gesag se ideologie van radikale transformasie van die totale samelewing deel. Die Grondwet verskans meerderheidsregte in plaas van minderheidsregte.

Die werklikheid is dat die regte van lede van die meerderheid swaarder weeg as die regte van die minderhede. Die ergste is dat hierdie rassebedeling so genormaliseer word dat baie mense sal ontken dat daar diskriminasie teen minderhede is. Hulle dink dis “normaal”.

Les 8: Minderheidsbestaan op platteland word onvolhoubaar

’n Minderheid met politieke mag kan sorg dat die voorwaardes vir ’n volhoubare lewe van ’n minderheidsgroep in die platteland bestaan. Dit behels sake soos Westerse dorpsbestuur, veiligheid, eiendomsreg, infrastruktuur, werkende staatsdienste en kulturele instellings soos skole en ouetehuise. Hierdie voorwaardes vir die volhoubare bestaan van ’n minderheidsgroep het nou verval, en die meerderheid beheer bykans alle aspekte van minderhede se lewens.

Les 9: Vervreemding

Die Senekal-gebeure het weer eens gewys hoe diep die vervreemding tussen die regering en Afrikaners is. Daar is bitter min vertroue waarop gebou kan word, en daar bestaan min aanduidings dat die ANC besef dat ’n nuwe skikking in die land nodig is om al die krisisse te oorkom. Hoewel persoonlike verhoudinge tussen mense van verskillende rasse nog goed is, lei die swak politieke verhoudinge tot vervreemding. ANC-politici gebruik wit mense as sondebokke om die aandag van hul mislukkings af te lei. Dit word al meer gewild om téén wit mense te regeer. Politici hoop moontlik om Afrikanerstandbeelde na ’n sogenaamde “Park van skande” te verskuif, sodat dit die aandag van die “monumente” van ANC-skandes en mislukkings sal aflei.

Les 10: Ons wil, kan, en sal self

Die mislukking van ANC-bestuur in die land, noodsaak groter Afrikaner-selfbestuur. Ons het nie ’n ander keuse nie. Die enigste toekoms wat ons gaan hê, is die een wat ons self skep. Gelukkig hoef ons nie voor te begin nie. Ons bou lankal reeds aan groeiende selfbestuur deur die netwerk van selfhelporganisasies wat die Solidariteit Beweging oor die afgelope jare opgebou het. Die uitdaging is wel om in die lig van die versnellende staatsverval wat nou ervaar word, na ’n nuwe rat van versnelde opbou oor te skakel.

Kom ons eer die nagedagtenis van Brendin Horner, deur hierdie lesse te gebruik om die omstandighede vir ’n volhoubare vrye, veilige en voorspoedige voortbestaan te bou, ook vir Afrikaners.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Les nr 11: Die land lyk so omdat ons minderhede nie wil saamstaan as een nie. Die blankes alleen is in 50 verskillende groepies verdeel. Ek skaam my voor die wêreld. Dan sê ons nog ons dien een God. Skandelik.

Hendrik ·

Jy gaan nooit die mense wat in gemak lewe laat saamstaan nie want dit is moeite. Net so gaan jy nooit dit regkry dat massa mense trek na Selfbeskikking gebiede want dit is moeilik en nie lekker nie. Orania het in 26 jaar 2000 mense gelok en Kleinfontein, net buite Pretoria, het 1600 gelok. Die meerderheid mense wat soontoe getrek het is afgetredens wat geld het want dit is rustig en veilig. Die saamstaan jonges begin nou intrek maar die gemaklike Afrikaners sal nie beweeg voor sy TV en sal nie sy tuindienste opgee nie.

Trotse Boervrou ·

Presies net soos jy sê Hendrik. Ek stem 100% saam.

Johan ·

Wees dankbaar oor die Afrikaner se weerbarstigheid. Die feit dat ons van mekaar verskil beteken nie noodwendig dat ons nie sal saamstaan wanneer die tyd kom nie. Dink net hoe anders sou die geskiedenis dalk verloop het as die Boere nie hulle sterte vir die Engelse gewip het, destyds in die kaap nie, en maar daar aangebly het? En as groepe nie later ook maar in eie rigtings gespaander het nie? Nee wat, ek dink die mense wat so neul omdat die “Afrikaner nie kan saamstaan nie” moet uit daardie verrotte groef klim en die diversiteit van die Afrikaner waardeer en ontgin. Byvoorbeeld, as hulle nie ons taal op akademiese instansies wil toelaat nie, dan bou ons self instansies, met ons eie geld en bronne! En so is daar nog ‘n klompie ander. Wees verseker, die Swartmening wat saak maak is oortuig dat die Afrikaner net ‘n geringe geleentheid nodig het om suksesvol te wees. En dit is die belangrike faktor. Buitendien, dit sou maar ‘n vaal spel wees as ons almal Flou Bul-ondersteuners was…

Trotse Boervrou ·

Senekal bewys ongelukkig die teendeel, Johan. Dit is feite op die tafel en het niks met ‘n groef te doen nie. Weereens, so sal ons elkeen verskil. Jy het jou opinie en ek myne.

Heinrich ·

Feite Flip, feite!! Een nog meer les: Afriforum en Solidariteit se mediaveldtog oorsee om hierdie feite van Flip uit te wys mag nie verslap nie sodat niemand in die buiteland onder enige illusies verkeer van die ANC se ware kleure nie. Ons is inderdaad deel van ‘n ‘slow war’ waar terreur maar net aan misdaad toegeskryf word.

Vernon ·

Uitstekend Mnr. Flip Buys!!! Samesprekings met ANC en EFF werk nie….daar bly net een manier oor!

Kokerboom ·

Jy is 100% reg Flip. Uiters noodsaaklik is dat Afrikaners en so ook Afrikaanssprekendes moet saamstaan en NIE so verplinterd soos by Senekal. Dis ‘n taai klap in die gesig van ons saak. Solidariteit moet asb baie sterk standpunt inneem om verval van plaaslike owerhede hok te slaan. Dinge kan nie so voortgaan

Maria ·

Die blankes word verguis en verniel omdat dit so maklik is. Die regering verkoop elke duim aan enigiemand wat belangstel, dit sal net stop as die laaste duim verwoes is en hulle bakhand staan by die WMF. . Mens moet jou eie pot krap met jou naaste en mekaar ondersteun en nog meer beveilig – staan saam en help mekaar sonder klagtes of voorbehoud

Lilly ·

Hierdie plaasmoorde kan definitief nie as gewone misdaad beskryf word nie.
Daar is wel baie ander geweld en moorde in SA, maar mens kan duidelik sien daar is ‘n rasse ding agter plaasmoorde.
Hul het ‘n ander agenda met plaasmoorde en dit kan nie verbind word met gewone moorde nie.
Plaasmoorde is ‘n apart gestel van gewone misdaad of moorde.
Dit word aangevuur deur haat teenoor blankes en gebruik gewone misdaad en moorde net as ‘n skerm om so meer plaasmoorde aan te hits sodat almal kan glo dis net gewone misdaad. Die ANC en EFF sit hier agter, dis so duidelik soos daglig.
Hul gaan hiermee voortgaan solank as almal dit sien as gewone misdaad en niks daaromtrent doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.