Transitorowe is oorsaak van Selebi-politiekkanker

ian-cameron-2018-03-19

Ian Cameron. Foto: Verskaf.

Deur Ian Cameron

Die afgelope 6 maande het die land gebuk gegaan onder ’n aansienlike toename van kontant- en transitorooftogte. Dit is eenvoudig die resultaat van ’n staat wat aan totale orgaanversaking ly, met min of geen werklike behandeling nie. Hiermee is dit belangrik om te verstaan dat orgaanversaking ’n chroniese siektetoestand is wat terminaal van aard is.

Om te dink kontant in transitorooftogte is maar net ’n misdaad wat eskaleer weens polisiëringsuitdagings, is ’n drastiese wanvoorstelling van die werklike oorsprong van die krisis. Ek lees onlangs in Anneliese Burgess se boek, Heist, dat uit die tien insidente wat sy oor ʼn tyd van 21 jaar nagevors het, daar sowat R465 miljoen gesteel is, maar net R33 miljoen weer teruggekry kon word. Sy vertel, en dit is waarna ek kortliks gaan verwys, dat die meerderheid kontant in transitorooftogsake nie eers die hof haal nie. Dit is ’n massiewe kontras met die idee wat by die publiek geskep word oor die 88% wat die nasionale vervolgingsgesag voorhou as die suksesvolle vervolgingsyfer, of die polisieminister, Bheki Cele se trots waarmee hy onlangs aangekondig het dat meer as 20 bendelede in hegtenis geneem is en verbind word met sake van dieselfde aard.

Ons moet verder terugkyk. Jackie Selebi is sekerlik die grootste “kwaadaardige tumor” waarmee die Suid-Afrikaanse strafregstelsel tot dusver gediagnoseer kon word. Selebi het bekendgestaan as die kommissaris wat tyd agter tralies spandeer het, nie om met gevangenes te kuier nie, maar wel omdat hy een was. Selebi was natuurlik ook die oorsaak van die ontbinding van spesialiseenhede in die polisie wat tot vandag toe nog glad nie weer geïmplementeer of heroorweeg is nie.

Hoekom die klem op die spesifieke daad deur Selebi? Wel, navorsing deur mense soos dr. Mahlogonolo Thobane en dr. Hennie Lochner, beide van Unisa, toon baie duidelik dat dit amper onmoontlik of uiters moeilik sou wees om hierdie misdade te pleeg sonder om onder die vaandel van die polisie en ander staatsorgane se korrupsie te opereer. Spesialiseenhede soos ons dit geken het, was wel tot ’n mindere mate korrup en, alhoewel nie blaamloos nie, was dit so dat meeste van die beamptes wat deel van hierdie eenhede soos moord en roof was, werklik beroepsgedrewe en geregtigheidshonger misdaadbestryders was. Deur hulle te ontbind het die marginalisering van ’n eens sterk ruggraat van die voorste linie van die gereg bewerkstellig.

Die ontbinding het beteken dat inligtingsnetwerke en natuurlik bronne later sou privatiseer saam met die beamptes wat kort daarna uit die polisie is weens politieke inmenging en korrupsie. So het hierdie beamptes en bronne ’n privaat sekerheidstelsel binnegegaan wat nie net ’n behoefte aan hul netwerke en kennis gehad het nie, maar ook een wat hulle op ’n meer doeltreffende wyse vergoed en bewaar het vir toekomstige sukses. Dit sou egter nie akkuraat wees om te sê dat die privaat sekerheidsindustrie nou alleen sukses kon behaal nie – dit kan ons sien uit die afgelope paar maande se oorlog op ons paaie tussen uitgelewerde geldwaens en rowers wat met militêre presiesheid hul soldaatpligte uitvoer.

Die verlies van doeltreffende inligtingstelsels het veroorsaak dat misdaadintelligensie, soos ons dit nou ken, een van insameling geword het. Dit wil sê die stelsel is slegs reaktief, indien enigsins aktief.

Inligting kan nie meer so vinnig verwerk word om betyds pro-aktiewe vermoëns te skep om sulke misdade totaal te keer nie. Dit pas eintlik baie goed by die gesprek van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Die NVG se vermoë word nie dikwels genoeg bevraagteken nie. Die NVG verduidelik dat die suksesvolle vervolging van misdadigers ’n 88%-suksesgradering het. Die publiek moet verstaan dat dit slegs gemeet word volgens die hoeveelheid sake wat hulle self oor besluit het of hulle dit wil aanpak of nie. Die sluit geensins die duisende sake, wat dit van die polisie af nie tot in die hof maak nie, in. Dit behoort te kan verbeter indien die polisie en aanklaers, sonder korrupte bedoelings, meer saamwerk soos insidente plaasvind. Dit is byna onmoontlik vir ’n onervare aanklaer wat nog nooit op ’n transitotoneel was, om sy/haar werk doeltreffend in die hof af te handel nie.

Ons moet verder vra, waarheen gaan die geld? Wil die staat die aanslag werklik stop, of is hulle op ’n meer senior vlak deel daarvan?

Om dié kanker enigsins uit te roei, moet ons klem lê op die doeltreffende implementering van intelligensie-eenhede wat op spesialisgebiede kan floreer, eenhede wat werklik die vermoë het om inligting te verwerk, wat toepaslik gebruik kan word om misdaad te stop voordat dit gebeur. Dit is dalk tyd dat sekere elemente in die staat se wetstoepassingsagentskappe finaal ten gronde gaan sodat daar werklik skoon begin kan word.

Vir nou, moet ons eenvoudig doen wat ons kan om as gemeenskappe die goeie beamptes te ondersteun en by te staan, gelyktydig moet ons ons eie vermoë skep om ten minste onsself in ’n meerdere mate te beveilig. ’n Oplossing vir die staat is nie een alleen nie, maar een wat bestaan uit talle elemente wat oorweeg moet word in ’n kliniese skoonmaakaksie wat dalk gouer as later moet gebeur. Ek glo steeds daar is elemente wat invloed kan uitoefen vir verbetering – ons het geen ander keuse nie as om maar self in te spring om ook invloed uit te oefen om verandering te bring. As iemand nie self betrokke is by hul gemeenskap nie, dan is hul klagte nie soveel werd soos diegene wat hulself beskikbaar stel vir gemeenskapswerk en ondersteuning nie.

  • Ian Cameron is hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Selfbeskikking ·

Dankie vir wat julle doen Ian. Ek glo sterk die beste manier om skoon van voor te begin en om ons veiligheid te bewerkstellig is deur selfbeskikkingsonderhandelinge.

Fanie ·

Daar is nie ‘n Afrikaner ‘Skotland/Lesotho’ wat net vry onderhandel kan word nie. Dis hoekom Selfbeskikking nog nooit gevorder het nie- daar’s nie ‘n praktiese plan daarvoor nie. Dis seker die saak waaroor die meeste gepraat maar die minste gedoen word. Selfbeskikking word meestal as ‘n politieke ‘hoofpynpil’ gebruik, en nie as ‘n ernstige strewe nie.

Planmaak ·

Die feit dat daar nie reeds in die verlede’n plan was nie beteken nie dat ‘n plan opgetrek kan word nie. Baie groepe het al hulle lande gekry regdeur die geskiedenis, dit is nie iets ongewoon nie.

Pietman ·

Is daar enige wet wat mense die reg gee om hulleself te verdedig siende dat misdadigers se menseregte aangetas word as jy jouself probeer verdedig teen roof, aanranding, ens? Ons het geweet Jackie Selebi maak droog op groot skaal met die ontbinding van die spesialisafdelings – nie die Minister, President of Parlementêre Konitee het skynbaar iets gedoen om dit te bevraagteken of ongedaan te maak nie aangesien die situasie steeds voortduur – is daar maar net niemand in die regering wat besef dat sodanige aksies inherent krimineel en roekeloos -nalatig is nie? Misdaad raak tog elke enkele persoon in die land. Die blote gedagte dat een persoon toegelaat word om die hele land se veiligheid en sekuriteit sodanig te benadeel sonder enige logiese rede laat net meer vrae ontstaan oor hoe die regering sy mandaat oor veiligheid en sekuriteit bestuur.

Eish ·

Ek het myself belet om die volgende twee weke niks negatief in woord en gedagte te uiter of te vertroetel nie.
Dus, daar is ontsettend ruimte in die land… ruimte vir verbetering.

Christo ·

Onthou net volgende jaar is dit verkiesing. Dit is waarnatoe die geld gaan vir die regerende party. Vorige verkiesings was die selfde. Omkoop geld.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.