Tunisië: terug na die verlede?

Tunisië se vlag. Argieffoto: Pixabay.com

Tunisië, ʼn land in Noord-Afrika met 12 miljoen inwoners en ʼn voormalige Franse kolonie, het onlangs in ʼn referendum oor ʼn nuwe grondwet besluit wat die huidige een van 2014, gebore uit die Arabiese Lente, moet vervang.

ʼn Jaar gelede het die president, Kais Saied, ingrypende veranderings deurgevoer. Hy het die parlement ontbind, die eerste minister en sy regering in die pad gesteek en ook menige regters vervang. Hy het ook meestal deur middel van dekrete regeer. Om die ingrypende verandering die stempel van regmatigheid te gee, het Saied ʼn nuwe grondwet laat opstel wat die veranderings wettig en meer magte aan die president gee, ten laste van die parlement en eerste minister.

Die huidige hibriede stelsel van ʼn magsbalans tussen uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag, wat eintlik die kern van die demokrasie is, word terug verander na ʼn presidensiële stelsel, waar die president uitermate magtig is. Die basiese demokratiese regte soos vryheid van spraak, die reg tot vreedsame betogings en die reg om lid van ʼn vakbond te word, bly egter onveranderd. ʼn Interessante punt is ook dat die nuwe grondwet nie langer Islam as staatsgodsdiens van Tunisië noem nie en effektiewelik, soos in Westerse lande, staat en godsdiens van mekaar skei.

Die uitslag van die referendum was wel oorweldigend ten gunste van die nuwe grondwet, naamlik 92%, maar die deelname van slegs 25% van die stemgeregtiges werp ʼn skaduwee daaroor. Die opposisie het ook ʼn beroep op sy ondersteuners gedoen om die referendum te boikot om dit sodoende van sy geloofwaardigheid te ontneem. Die uitslag is dus slegs ʼn halwe oorwinning vir Saied en sodra ook hy nie die wonderwerke wat mense van hom verwag kan lewer nie, kan daar dalk groot ontnugtering gepaard met betogings kom.

Saied is egter werklik gewild onder aansienlike dele van die bevolking en regeer nie met vrees nie, maar met outoriteit. Die periode van demokratisering het vir vele mense nie die beloofde verbeterings, veral ekonomies, gebring nie, en daarom is hulle nou ontnugter en weer te vinde vir ʼn outoritêre leier. Saied verskil wel van die bekende outokrate in die Midde-Ooste en ook van die langdurige heerser, Ben Ali, wat deur die Arabiese Lente ontsetel is. Hy is geleerd en het die aura van ʼn professor wat weet waarvan hy praat (en hy was inderdaad ʼn universiteitsdosent) en dit in keurige taal doen; hy het as onafhanklike kandidaat gestaan toe hy in 2019 tot president verkies is en word nie met korrupsie of die ou orde verbind nie.

In sy persoonlike lewe is hy beskeie en plat op die aarde en skep die indruk dat hy sy mag ter wille van sy land en volk, nie ter wille van homself wil gebruik nie. Saied is volgens sy eie uitsprake nie teen die Arabiese Lente gekant nie en wil nie die verlede herskep nie, maar hy voel dat dit nodig is om sekere afwykings reg te stel. Sy teenstanders vrees egter dat hy, soos menige ander outokrate, net eers sy mag wil vestig om dan sy ware kleure te wys en as diktator te heers. Dit is tans nog te vroeg om Saied klinkklaar te beoordeel.

Soos ook in ander Arabiese lande die geval was, het groter demokrasie beteken dat Moslem-partye wat ʼn soort teokratiese sosialisme belowe en veral by die armes gewild is, in verkiesings goed vaar en die land op ʼn gevaarlike pad stuur. Ook die buurland Egipte, naas Tunisië een van die eerste lande waar die Arabiese opstande vlam gevat het, het eintlik net weer terugbeweeg na sy uitgangspunt toe: van ʼn outokratiese leier wat deur massabetogings uit die kussing gelig is tot ʼn demokraties verkose, chaotiese en verdelende Moslem-bewind en weer terug na ʼn outokratiese leier wat ten minste orde handhaaf en ʼn mate van ekonomiese sukses behaal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.