Twee kontinente, twee gemeenskappe, dieselfde hartseer taalgeskiedenis…

Alana Bailey.

In Maart vanjaar het die agtiende Internasionale Konferensie oor Minderheidstale (ook bekend as ICML 2021) plaasgevind. Die gasheerinstelling was die Universiteit van Baskeland in Spanje, maar weens die Covid-19-pandemie is die konferensie aanlyn aangebied. Die doel van hierdie tweejaarlikse byeenkoms is om interdissiplinêre samewerking ten opsigte van die bevordering van minderheidstale te bewerkstellig. Dit word deur honderde akademici, aktiviste en taalliefhebbers van oor die wêreld bygewoon.

Een van die hoogtepunte van die program was die vertoning van ’n kort rolprent, Anti, gevolg deur ’n gesprek daaroor met die skrywer en regisseur Josu Martinéz.

Anti is op ware gebeure gegrond. Dit speel af in 1921 in die dorpie Bizkarsoro in Frankryk. Die inwoners van die dorpie is Baske. Nadat hulle in die Franse leër aan die Eerste Wêreldoorlog deelgeneem het, is die oorlewendes tuis. Hierdie oudsoldate dra die fisieke letsels van die stryd. In die dorpskool probeer die onderwyseres om die kinders te leer om Frans in plaas van Baskies te praat. Frans is immers die taal van die vaderland, die taal van beskawing! Sy stel die leerders aan die Anti (Anti-Baskies) bekend: “’n Klein voorwerp wat kinders sal afleer om Baskies te praat.” Die Anti is ’n stok aan ’n riem wat, wanneer ’n kind Baskies praat, om sy of haar nek gehang word. Wanneer die draer weer ’n ander kind hoor Baskies praat, word die Anti aangegee. Die kind wat aan die einde van die dag die stok om die nek het, moet ná skool bly en uitskryfwerk doen.

Die uitwerking van die strafmaatreël was vernietigend. Die kind wat die Anti dra, is deur gesinslede uitgetrap en deur maats vermy, omdat hulle bang was dat hulle uitgevang sou word en die stok sou moes oorneem. By die kinders het dit selfhaat geskep omdat hulle hul maats moes verraai en hulle vir hul identiteit moes skaam. Sommige het sommer ophou skoolgaan.

Volgens Martinéz het die gebruik van die Anti binne twee geslagte Baskies as gebruikstaal feitlik uitgewis. Vandag word pogings aangewend om die taal te laat herleef.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog moes Jode in Nazi-besette Europa ’n geel ster van lap dra om hulle te verneder en van ander gemeenskappe te onderskei. Dit het hulle as teikens vir volksmoord gemerk.

Martinéz stel die dra van die Anti gelyk aan dié sterre, maar in die Baskiese geval was die volksmoord wat plaasgevind het, die doodmaak van ’n gemeenskap se taal en identiteit.

By my het die rolprent ook sterk emosie ontlok. Ek het onthou hoe my ouma my vertel het dat sy as kind nie Afrikaans op skool kon praat nie. Wanneer sy of haar maats dit gewaag het, is hulle gestraf met ’n bord waarop gestaan het dat hulle ’n donkie is omdat hulle die onbeskaafde taal, “Dutch”, praat.

Onlangs het ek en kollega Marike van As prof. Jaap Steyn oor die herkoms van hierdie donkiebord uitgevra.

Hy vertel dat verengelsing vanaf 1860 veral in skole en op speelterreine in die Kaapkolonie skerp toegeneem het. Kinders moes Engels met mekaar praat om straf vry te spring. Die sleutel, houtblok of hartvormige plank wat kinders wat Afrikaans praat tot donkies verklaar het, het as die “Dutch Mark” bekendgestaan. Soos in Anti moes die kind wat die teken teen skoolsluiting om die nek dra, as straf honderde reëls uitskryf met stellings soos: “I must not speak Dutch and ought to know it by now.” Engels het sodoende die taal van aspirasie en sofistikasie geword.

Die situasie het eers in die 20ste eeu, danksy taalstryders se insette, ’n wending ondergaan. In 1912 het die provinsiale rade van die Vrystaat, Transvaal en Kaapland ’n sogenaamde moedertaalordonnansie aangeneem wat bepaal het dat die voertaal op skool in die eerste ses skooljare die kind se moedertaal moes wees. Tog is die ordonnansie nie oornag geïmplementeer nie, soos my ouma (wat in 1900 gebore is) se ervarings duidelik bewys het.

Tussen die Baskiese kinders se ervarings in Frankryk en dié van die Afrikanertjies in Suid-Afrika was daar dus min verskil. In die konferensiegesprek, ná afloop van die rolprent, het verskeie kongresgangers van ander lande van soortgelyke ervarings vertel. Vir almal was die herinneringe traumaties.

Nog meer tragies is dat ons nie juis beter vaar in die 21ste eeu nie. Die klagtes van koshuisstudente van die Universiteit Stellenbosch (US) dat hulle nie eens met mekaar of met hul besoekende ouers Afrikaans mag praat nie, is die moderne weergawe van die Anti of die donkiebord. Die universiteitsbestuur se verweer dat dit oor inklusiwiteit en die welstand van die vaderland gaan, is die moderne eggo van die Franse onderwyseres wat haar leerders van die verfoeilikheid van Baskies wil oortuig en só ewe verminkende letsels op hul psiges laat as wat hul vaders in die oorlog aan húl liggame opgedoen het.

Net die toekoms sal leer of ons ooit wyser word, byvoorbeeld wanneer ons eersdaags verneem wat die finale inhoud van die US se nuwe taalbeleid gaan wees.

  • Alana Bailey is AfriForum se hoof van kultuursake.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann Basson

En wat het die Afrikaner geleer uit die gedwonge verengelsingsbeleid vanaf 1860? En wat het die swartmense geleer uit die verafrikaansingsbeleid in die 1970s? Leer ons dan nie uit die foute van die verlede nie?

annie

Die verskil tussen kulture word bloot getoon en die gevolge van mag. Britsgesindes wou en wil met mag heers en hul wil afdwing. Engelstaliges wil net Engels praat. Stellenbosch is volgestop met alle rasse en die hoogste beamptes, besing soos ‘n engel, is Engels. Britte is skyn-liberaal maar back at the ranch, dood-konserwatief. Die SA-geskiedenis verskil van die van Spanje. By ons was dit 2+ rasse terwyl die swartes nie eens ‘n geskrewe taal besit het nie, wat opgehef moes word. Afrikaners het klaar geval vir BLF as die storie van ewige onderdrukking/wreedheid deur hulself as waar verkondig word.