Van aardverwarming na aardbewondering

Foto: Markus Spiske/Unsplash

Deur Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, Akademia

Het die tyd aangebreek dat die lewensbeskouing – dat menslike welvaart alleenlik afhanklik is van ekonomiese groei en industrialisasie – moet verander na een waar menslike welvaart eerder gemeet word aan selfverantwoordbaarheid, geestelike welsyn en die strewe na volhoubare ekosisteme?

Dit word al duideliker dat die huidige model van ekonomiese groei, wat gepaard gaan met die oorbenutting van natuurlike hulpbronne, nie net nadelig is vir ons natuurlike lewensomgewing nie, maar ook ʼn nadelige uitwerking het op ons fisieke en geestelike welstand.

Die invloed van menslike bedrywighede op ons lewensomgewing het weer sterk op die voorgrond getree toe die 16-jarige klimaataktivis Greta Thunberg by die mees onlangse Klimaataksieberaad in New York uitgevaar het teen wêreldleiers oor hul aandeel in die vernietiging van ons natuurlike omgewing. Daarbenewens is aardverwarming maar net een uit vele nadelige invloede wat die moderne mens op natuurlike ekosisteme uitoefen.

Aardverwarming is ʼn realiteit. So byvoorbeeld sorg natuurlike kweekhuisgasse in die atmosfeer dat temperature heelwat hoër is as wat dit sou gewees as die aarde geen atmosfeer gehad het nie. Gevolglik bied die aardgemiddelde temperatuur van +15°C toestande wat bevorderlik is vir lewe op aarde soos ons dit vandag ken.

Met ʼn bevolking van by die 7,5 miljard mense op aarde is daar tans net genoeg spasie om 50 mense per vierkante kilometer te akkommodeer. In hierdie beperkte ruimte moet alle lewensmiddele aan die mens verskaf word, en dit is dus ooglopend dat die mens self verantwoordelik is vir die oorbenutting van natuurlike hulpbronne en besoedeling van ons natuurlike omgewing, wat op sy beurt weer reaksies soos aardverwarming tot gevolg het.

Daar word oor die algemeen aanvaar dat die verbranding van fossielbrandstowwe sedert die eerste nywerheidsrevolusie gedurende die vroeë 1800’s ʼn groot bydraende faktor was in die verwarming van die laer atmosfeer. In Suid-Afrika word beraam dat hierdie verwarming plaasvind teen ʼn tempo van ongeveer 0,15°C per dekade, wat oor die afgelope 200 jaar geakkumuleer het tot ʼn temperatuurtoename van ongeveer 3°C.

So wat staan ons te doen? Daar word dikwels gehoor dat die mens in staat is om die “aarde te red”. Dit is belangrik om daarop te let dat die aarde in die verlede al heelwat anders daarna uitgesien het as vandag. So, byvoorbeeld, was kweekhuisgas­konsentrasies in die verlede al tienvoudig keer hoër as vandag, terwyl temperature 50 miljoen jaar gelede tot 14°C warmer was as vandag. Nieteenstaande hierdie toestande bestaan die aarde nog steeds en is daar geen nodigheid vir die mens om die “aarde te red” nie. Wat wel nodig is, is vir die mens om te verseker dat die omgewingsgrense wat op hierdie tydstip ekosisteme en lewe op aarde moontlik maak, nie oorskry word nie, en veral nie oorskry word as gevolg van menslike toedoen nie.

Dit beteken dat die mens self verantwoordelikheid moet neem vir die skade wat as gevolg van ekonomiese groei en industrialisasie aan ons natuurlike omgewing aangerig word, en dat die mens dus self verantwoordelik is vir die skep van ʼn herstelroete na volhoubare ekosisteme en ʼn lewensvriendelike omgewing.

Daar is verskeie maniere waarop hierdie herstel aangemoedig kan word. Eerstens is daar die opsie om die blaam te verskuif, soos in die geval van Greta Thunberg, of om vrees-psigose in te span om optrede af te dwing. Laasgenoemde is nie ideaal nie, bloot as gevolg van die feit dat vrees teenproduktief aanleiding kan gee tot ʼn “vries of vlug”-reaksie, en sodoende enige produktiewe hersteloptrede kan kelder.

Prof. Hannes Rautenbach is die dekaan van die fakulteit Natuurwetenskappe by Akademi. Foto: Verskaf.

Alternatiewelik kan ʼn omgewing van selfverantwoordbaarheid geskep word, waar elke mens op aarde self verantwoordelikheid aanvaar vir die herstel van die skade wat aangerig is. Daarvoor is wedersydse samewerking en grootskaalse bewusmaking egter nodig.

Dit is ʼn feit dat ekonomiese groei en industrialisasie reeds daartoe aanleiding gee dat natuurgrense verskuif word, verwysende na, onder meer, klimaatsverandering, en dat hierdie verskuiwings negatief begin inwerk op menslike welvaart.

Die tyd is dus ryp om ʼn nuwe roete in te slaan – ʼn roete wat fokus op selfverantwoordbaarheid, die bevordering van geestelike welstand en ʼn gemeenskaplike strewe na volhoubare ekosisteme. Dit het tyd geword dat ons weer bewondering betoon vir die baie spesiale toestande wat bestaan om ʼn welvarende lewe op aarde moontlik te maak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Volgens NASA, met sy gespesialiseerde uitsig oor die aarde, lyk SA soos destyds in 1992 voor die Groot Depressie… uiters droog sonder vooruisigte op vinnige klimaatsverbetering… wat die teorie dat aardverwarming net mensgemaak is en dat die skreeuende skatryk Noorderlandse dogter wat skool bank, die Nobelprys, vernoem na die ou dranksmokkelaar van destyds, verdien. Wat deesdae bewonder kan word, is duister, met verval aan die orde van die dag. Sonder staatsoptrede om waterbronne uit te bou maar bloot vir mammie oodrag te gee om wasgoedwatertjies na die verlepte groentetjies te karwei, is soos om ter hemele te skreeu en die vuis te wys. Voel gaan ons voel.

Jerry ·

Die skrywer is 100% reg mbt selfverantwoordbaarheid, geestelike welstand en volhoubare ekosisteme. Die wortel van die kwaad is dat presies dit waaroor die skrywer reg is, die mens presies die teenoorgestelde benadering volg. Mense was vir eeue lank aan hulle eie ideologiese genade oorgelaat om dit wat bevoorregte ideologiee vertroetel en bewaar, te plunder en te vernietiging wanneer die geleentheid daarvoor opduik. Hierdie tendens tesame met oorbevolking het veral die laaste paar jare momentum opgetel, die dat hierdie skrywe die lig sien en mense soos Greta Thurnberg ingespan word om te probeer red wat nog te redde is. Ek is egter bevrees dat die skade gedoen is tenspyte van nie woorde vir aksie nie, maar aksie van bewaring van ekosisteme wat vir jare en jare in die praktyk toegepas was en steeds toegepas word. Die probleem is dat dit eeue vat om te bewaar en eendag om te vernietig. Tot tyd en wyl mense nie bereid is om ekosisteme te beskerm deur effektiewe toepassing van wet en orde daarvoor en beperkte bevolkingsaanwas, sal vernietiging voortduur. Die enigste ander uitweg vir 7,5 miljard mense wat reeds die aarde bewandel om die getalle af te kry en die speelveld weer gelyk te probeer trek, sal dmv oorloe kan plaasvind en gegewe die tendens van ongeergdheid van groot wereld moondhede teenoor die uitdaging lyk dit na n besliste moontlikheid!

Judge Dredd ·

En hoeveel politieke leiers bespreek die populasie probleem?
En dis die arm lande met toegang tot verbeterede medikasie wat die grootste aanwas het.
Indien die mensdom slegs 5 miljard was, het ons geen van hierdie probleme gehad.

Therese van Schalkwyk ·

Puik stuk!
Waardering vir die kalm en bedaarde stem midde die histeriese beskuldigings.

Vyf-en-twintig pragtige gróót koeltebome wat vernietig moet word, want “dit lei tot motorongelukke omdat die bestuurders se sig belemmer word”, is genoeg om my te ooruig dat die mens se ingebore selfsug en gemaksugtigheid veel groter as sy kommer oor ‘klimaatsverandering’ is. En dis net een voorbeeld …

Arak ·

Ek is van mening dat ons die aarde moet oppas, maar ongelukkig is baie van die “inligting” in die artikel valse inligting en ongegrond. Kom ons kyk net na een van die bewerings wat aangebied word as feit. 50 mense/km^2: Hoe oorleef die Hollanders, hoe oorleef Singapoer. Sulke stelling wat so uit die lug gegryp word is valse. Volgens Wikipedia is daar meer as 125 lande met bevolkings hoër as 50/km^2. Die probleem van die aarde is nie oorbevolking nie, maar onder ontwikkeling en die koste van energie. Gestel energie was baie goedkoper/verniet dan kon jy al die woestyne herwin en koue gebiede verander in voedselsentra ens ens. Jy kon plante 24 uur per dag groei in hoë geboue. Die probleem, as daar een is, is onderontwikkeling. In plaas daarvan dat die wetenskaplikes hulle beywer vir goedkoop energie, mors hulle almal se tyd met die valse evangelie van vrees en veroorsaak ongegronde angs by menigtes.

Marthinus Willemse ·

Die huidige model, wat gesien word as die wortel van al die kwaad, is hoogstens `n paar honderd jaar oud.

`n Studie van Boesmans, Khoi, San (hoe hulle hulself ookal noem), die Amerikaanse Indiane, Australië se aborigines, die stamme in die Amesone, ens, wys dat húlle in harmonie met die omgewing geleef het. Hulle het “groen” geleef nog voor die begrip ontstaan het. Hulle het slegs gejag vir wat nodig is. [Die hartseer, is dat hulle almal hul grond verloor het, omdat diegene wat die grond wou koop, nie aan hulle kon verduidelik wat dit beteken nie. Hulle houding was: “alles behoort aan almal, en moet met respek en verantwoordelikheid gebruik word. Waarom my geld aanbied daarvoor?”

Vandag, in Tjoekotka, op die Russiese (Siberiese) skiereiland aan die Bering Seestraat, leef `n groep soos die Tjoektji nog steeds so. Hulle oorleef hoofsaaklik op `n dieet van see-soogdiere soos walvis, walrus, en robbe. Bewoners van Tjoekotka mag 136 gryswalvisse per jaar jag. Die dorpie Lorino se kwota is 52 walvisse per jaar. Nadat die walvis gevang is, word dit op die strand gesleep, waarna enigeen soveel kan afsny as wat hulle nodig het – verniet. Hulle moet die vet van dié diere eet om hulle energie te gee – sodat hulle nie doodvries nie. Die temperatuur daal maklik tot -25°C, en weens die wind aan die kus, is die aanvoelbare temperatuur 20° laer. Hulle probleem is aktiviste wat `n gemaksugtige lewe in die stad lei, en dan nagmerries oor walvisse kry.

Therese van Schalkwyk ·

Puik kommentaar, Marthinus!
Oorbevolking, óórontwikkeling, ‘n bose kringloop en verby die punt van geen omdraai.
Besoedeling van land, en veral kosbare water, met plastiek en riool alléén is ‘n tikkende tydbom.

Arak (hierbo) het ‘n heeltemal teenoorgestelde, en tog interessante siening.
Die woorde “gestel energie was baie goedkoper/verniet” maak dit egter tans blote wensdenkery.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.