Verkiesing in die Demokratiese Republiek van die Kongo

DRK-verkiesing

Martin Fayulu, die leier van die opposisie in die DRK, spreek sy ondersteuners in Kinshasa op Vrydag 11 Januarie toe. Honderde mense het by die geleentheid vergader om die sogenaamde “mense se gesteelde oorwinning” in die onlangse presidensiële verkiesing in die land te veroordeel. Foto: ANA/AP Photo/Jerome Delay)

In die enorme groot Sentraal-Afrikaanse staat, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) is die uitslag van die presidentsverkiesing van Desember 2018 ná weke lange se tellery bekendgemaak.

Dat die verkesing – wat al vir jare uitgestel is, en ook onlangs weer op die nippertjie nog verder aangeskuif is weens allerhande logistieke probleme – wel plaasgevind het, te midde van ʼn Ebola-epidemie, etniese geweld en politieke onluste, is op sigself goeie nuus. Verder is dit verbasend dat ʼn opposisiekandidaat, Felix Tshisekedi van die Unie vir Demokrasie en Sosiale Vooruitgang, gewen het en nie die kandidaat van die regering, Emmanuel Shadari, voorheen minister van binnelandse sake en gunsteling van die uittredende president, Joseph Kabila nie. Verbasend was egter ook dat nie die klaarblyklik meer gewilde ander opposisiekandidaat, Martin Fayulu, gewen het nie.

ʼn Demokratiese magsverandering het nog nooit in die DRK plaasgevind nie. Die reël is bewindsveranderings deur geweld: staatsgrepe en selfs burgeroorloë, en daarna skynverkiesings wat die diktator aan bewind hou totdat hy deur geweld ontsetel word. Die huidige president Joseph Kabila is ʼn klassieke voorbeeld: sy pa Laurent Kabila het in die laat 1990’s te midde van ʼn burgeroorlog en die uitdrywing van die langdurige diktator Joseph-Désiré (Sese Seko) Mobutu aan bewind gekom. Hy is deur sy lyfwag in 2001 vermoor en sy seun Joseph het hom soos ʼn kroonprins opgevolg, sonder dat daar ʼn verkiesing was. Hy het daarna deur middel van twee omstrede en heel waarskynlik bekookte verkiesings aan bewind gebly. Volgens die grondwet moes hy al in 2016 uittree, maar hy het met truuks en uitsteltaktiek tot nou toe aan bewind gebly.

Daar was dikwels opstande teen Kabila se bewind en dele van die land is onder beheer van rebelle, maar hy kon aan die mag vasklou omdat daar geen verenigde opposisie was nie en omdat hy die veiligheidsmagte aan sy kant gehad het.

Tshisekedi het met 39% gewen, Fayulu het 35% gekry en Shadari slegs 25 %. Fayulu bevraagteken egter die uitslag. Hy reken, in ʼn mate tereg, dat hy die ware opposisieleier is en die een wat werklik anders as Kabila sal wees.

Daar word beweer dat Tshisekedi agter die skerms met Kabila ʼn ooreenkoms gesluit het wat daarop neerkom dat Kabila die toutjies trek sodat Tshisekedi vir Kabila – die kleiner euwel teenoor Fayulu – wen en in ruil daarvoor sal Tshisekedi die bestaande korrupsienetwerk van Kabila en sy vertrouelinge onaangeraak laat. Hy het reeds kort ná die bekendmaking van sy oorwinning Kabila geloof en gesê dat hy met hom wil saamwerk.

Tshisekedi word as ʼn polities onervare en beïnvloedbare persoon beskryf. Sy vader, Etienne, was ʼn langdurige opposisieleier en ʼn bekende politikus en naamsherkenning is waarskynlik Felix Tshisekedi se grootste bate. Fayulu, daarteenoor, is ʼn sakeman en nie ʼn beroepspolitikus nie en die uitroei van korrupsie was een van sy hoofdoelwitte. Uitgesproke teenstaanders van Kabila soos Jean-Pierre Bemba is ook deel van sy span.

Een rede hoekom Kabila nie die uitslag in Shadari se guns probeer beïnvloed het nie, is die sterk rol wat die Katolieke Kerk gespeel het in die monitering van die verkiesing. Die kerk het blykbaar voor die aankondiging van die uitslag reeds ʼn goeie aanduiding van die resultate gehad en sou mense kon mobiliseer indien dit ʼn gesteelde verkiesing was. Hulle het nie name genoem nie, maar daar is aanduidings dat hulle bewyse het dat Fayulu eintlik die wenner was. Ook Franse waarnemers het die uitslag bevraagteken.

Fayulu gaan hom nou tot die howe wend en sy neerlaag nie aanvaar nie. Sy ondersteuners het ook reeds betoog en geweld het voorgekom. In ʼn onstabiele land soos die DRK kan dit vinnig ontaard in ʼn burgeroorlog.

Die Demokratiese Republiek van die Kongo verteenwoordig alle probleme van Afrika in sy ergste graad en is ʼn gevallestudie van ʼn land met geweldige potensiaal vir wie egter alles sedert onafhanklikheid in 1960 verkeerd geloop het. Die land is eenvoudig te groot en te divers om ʼn eenheid te vorm. Sy oorvloed natuurlike hulpbronne is meer ʼn vloek as ʼn seën, want dit is die bron van konflikte – sowel plaaslik as internasionaal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ampie ·

Afrika “demokrasie” in aksie. Dit gaan oor wie eet by die trog. Dieselfde het reeds hier in ons eie wonderlike “demokrasie” gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.