Verkiesingsdrama in Kenia

Ontstoke betogers Maandag in Kenia. (Foto: Gordwin Odhiambo / AFP)

Kenia het onlangs ʼn verkiesing gehou nadat die huidige president, Uhuru Kenyatta, weens termynbeperkings moes uittree. Vir Afrika is dit op sigself merkwaardig, want dikwels probeer leiers die grondwet verander om langer aan bewind te bly.

Kenyatta het dit ook probeer, maar die grondwetlike hof het ʼn stokkie daarvoor gesteek. Hy is deel van ʼn bekende politieke dinastie; sy pa was ʼn vegter vir onafhanklikheid van Brittanje en die eerste president. As president het Kenyatta jr. egter dit gedoen waarvoor Afrika-leiers ongelukkig te dikwels bekend is: homself, sy familie en vriende verryk, alhoewel hy reeds voor die tyd ʼn welvarende man was.

Die twee hoofkandidate wat Kenyatta wil opvolg, is Raila Odinga en Wiliam Ruto. Odinga is ʼn langdurige opposisieleier en het al verskeie kere naelskraap verloor. Hy was egter al eerste minister en is intussen ook deel van die gevestigde magsorde. Ruto was die land se visepresident, onder Kenyatta, maar nadat die twee mans ʼn uitval gehad het, het Kenyatta skielik Odinga openlik gesteun. In Kenia, soos in menige  Afrika-lande, is verkiesings dikwels ʼn etniese sensus. Kenyatta behoort tot die grootste en invloedrykste volk, die Kikuyu, en het op sterkte daarvan, eerder weens sy beleid, twee keer gewen.

Aanduidings is egter dat etnisiteit die keer nie meer so ʼn groot rol gespeel het nie, maar eerder griewe. Ruto, wat tot die Kalenjin-volk behoort, het hom, alhoewel self vir lank deel van die magskliek en ʼn welvarende mielieboer, bemark as kampioen van die armes en vegter teen korrupsie.

Kenia was nog altyd ʼn arm land, maar die wêreldwye inflasie en veral die skaarste van graan weens die Oekraïne-oorlog het dinge vererger. Beide kandidate se beleid verskil weinig van mekaar en gaan veral oor armoedeverligting deur middel van die staat. Behalwe vir Odinga en Ruto was daar nog twee minder bekende kandidate, maar hulle was geen faktor in die verkiesing nie.

‘n Keniaanse polisiebeampte tydens die chaos. (Foto: Yasuyoshi CHIBA / AFP)

Na amper ʼn week se tellery en ʼn gedurige kop-aan-kop-stryd tussen Odinga en Ruto is die uitslag bekend: Ruto het net-net met 50,5% gewen. Ook in die gelyklopende parlement- en goewerneursverkiesing het Ruto se party goed gevaar. Soos daar met so ʼn naelskraap uitslag verwag kan word is daar groot ongelukkigheid onder Odinga en sy ondersteuners, wat beweer dat daar onreëlmatighede was en die uitslag as bedrog afmaak. Selfs onder die verkiesingskommissie is daar verskeie lede wat die uitslag nie wil sertifiseer nie, omdat dit te naby is en daar na bewering ongerymdhede was.

Nou hou almal asem op en hoop dat daar nie ʼn herhaling van 2007 se verkiesing sal wees nie: Toe was dit ook Odinga wat net-net verloor het en wie se Luo-volk, gesteun deur ander soos die Kalenjin, die Kikuyus aangeval het. Meer as 1 000 mense is in die opstande gedood en honderdduisende moes vlug.

Odinga is bitter dat hy soveel kere dit net-net nie gemaak het nie en nou, weens sy ouderdom van 77, waarskynlik ook geen kans meer sal hê nie. Odinga kan die uitslag betwis en deur die grondwethof ongeldig laat verklaar. Anders as in die meeste Afrika-lande, waar die regstelsel nie onafhanklik van die regering is nie, het die grondwethof in Kenia die moed gehad om die laaste verkiesing ongeldig te verklaar en ʼn herhaling te eis. Nog ʼn moontlikheid, wat ook al in die verlede probeer is, is om Odinga in te bind in ʼn regering van nasionale eenheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vonkprop ·

Dit gaan hier ook gebeur as die ANC by die stembusse verloor. Daar sal nie ‘n vreedsame oorgang wees na ‘n ander party toe nie. Selfs al is dit na die EFF toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.