Verset teen die verkeerde 

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Die ANC-regering het Suid-Afrika in feitlik alle opsigte gefaal. Met hul benadering van kaderontplooiing en selfverryking deur middel van, onder meer, korrupsie, word die toekoms van alle groeperinge in die land eintlik van hul gesteel. Daar is daagliks gewelddadige onluste en betogings deur mense wat ongelukkig is oor dit wat die ANC-regering nie doen nie.

Dit is verwarrend omdat mense die een dag vir die ANC stem en dan die volgende dag met betogings teen die einste ANC te begin. Onrealistiese beloftes is deur al die jare gemaak en word steeds gemaak. Daar kan eenvoudig nie daaraan voldoen word nie.

Dit is betreurenswaardig dat die regering en sy instellings in baie opsigte deel van die probleem geword het. Daar kom byna daagliks uiteenlopende voorbeelde na vore waar die een of ander magsmisbruik, korrupsie of selfverryking op verskillende vlakke in die staatsdiens of by politici aan die orde is. Die korrupsiekultuur is so openlik en gewoon dat dit al as deel van die bestel beskou kan word.

Is ons as wetsgehoorsame burgers nie eintlik mede-aandadig wanneer ons dan belasting betaal nie? Ons is inderdaad besig om misdaad te befonds. Vir hoe lank verneem ons al die regering se lippediens oor hoe daar teen korrupsie opgetree gaan word? Kommissies sit en hoor getuienis aan, maar aan die ander kant gaan dit onverpoosd voort. Die oplossing begin by ’n politieke wil van die regeerder, maar dit moet ’n groot uitdaging wees om die euwel nek om te draai, wanneer te veel kaders (lees: die wat die regte bande het) ruimskoots deel in die toedrag van sake.

Dat daar opgestaan moet word oor dit wat verkeerd is, is inderdaad ons elkeen se verantwoordelikheid.

In Afrikaner-geledere maak ons aanspraak daarop dat ons hoofsaaklik die Christelike geloof aanhang. Ons bely inderdaad ons geloof en afhanklikheid van God Drie-enig soos geopenbaar in sy Woord, die Bybel. Wanneer ons ernstige besluite neem, behoort ons dus gerig te word deur die Woord van God. God verwag nie van ons om in hierdie tyd ’n gees van vreesagtigheid te openbaar nie, maar ’n gees van krag en liefde en selfbeheersing (2 Tim. 1:7). Die Woord sê duidelik dat ons nie net in krag moet optree nie. Daar moet ’n balans wees tussen krag (wees beslis en ferm van oortuiging), liefde (tree op met die leiding van die Heilige Gees en deur Jesus se voorbeeld te volg), selfbeheersing (neem nugtere en weldeurdagte besluite gevestig in dissipline, sonder dat emosie die besluitneming oorheers).

As Christen-gelowiges erken ons die soewereiniteit van die Drie-enige God. Ons buig voor sy heerskappy en sy reg en ons beywer ons ook vir die handhawing dáárvan. Hierdie belydenis is ook sigbaar in ons optrede – veral en juis onder uitdagende omstandighede. Dit is te verwagte dat mense wat voor ’n hoër gesag as dié van die regering s’n buig, in opstand sal kom teen onregte wat ten hemele skree. Dit stuur ’n duidelike boodskap dat ons mense nie deur ’n gees van vreesagtigheid oorheers word nie.

Dit kan egter maklik gebeur dat wanneer ons emosies ons meevoer, ons die eienskappe van krag en liefde en selfbeheersing vaarwel roep. Hierdie drie dinge staan in ewewig met mekaar. Om hierdie rede moet ons waak daarteen dat ons nie opgesweep en meegevoer raak en keuses op emosie alleen maak nie.

Daar is meer krag in selfbeheersing as in anargie. Die land en die samelewing het nou verskillende uitdagings, selfs bedreigings, om te oorkom. Wanneer ons krag nie ook deur ons liefde vir God en ons naaste en deur selfbeheersing beheers word nie, bestaan die gevaar dat die onaanvaarbare vlak van wetteloosheid uitgebuit kan word. Dit kan uiteindelik tot ernstige konflik, bloedvergieting en die vernietiging van infrastruktuur en eiendom lei.

Hiermee gee ons nie ons verset teen hierdie ongeregtighede prys nie. Ons het, inteendeel, die verantwoordelikheid om in verset te gaan oor dit wat nie Skrifgerig is nie. Die Woord stippel die wyse van verset vir ’n Christen uit. Calvyn het in sy Institusie dit duidelik gemaak dat daar slegs skriftuurlik – vanuit ’n gevestigde gesagstruktuur, en wanneer die verset verklaar is – in verset gegaan kan word, en nie net om met die uiterste vorm van wapengeweld weg te trek nie. Ons kan nie aanspraak maak op ons Christelike geloof indien ons nie vashou aan dit wat die Woord ons leer nie.

Die belangrikheid van begronde strukture in die tyd, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Organisasies met ’n grondwet wat rekenpligtig is in hul optrede, dien as filter vir daardie emosiebelaaide ongestruktureerde optrede.

Ons moet waak daarteen dat ons op sleeptou geneem word deur aanhitsers wat met emosie wil optree omdat hulle kwaad is, en teen iets opstaan in stede van vir iets opstaan. Dit is in dié tye nodig dat die morele hoë grond verkry en behou moet word.

Ondeurdagte optrede gaan veroorsaak dat wetsgehoorsame burgers hulself in die tronk van hierdie ANC-regime bevind en dit moet ten alle koste vermy word. Ysere dissipline met ’n bevel en beheerstruktuur wat volledig aanvaar word, is noodsaaklik in alle optredes waar daar in verset gegaan word.

Die huidige situasie is onaanvaarbaar en moet met alle middele moontlik aangespreek word.  Die regering het die grondwetlike verantwoordelikheid om na die inwoners van Suid-Afrika se veiligheid om te sien. Die SAPD is die statutêre swaardmag wat daardie taak moet uitvoer.

Die werklikheid vandag is dat die SAPD ongelukkig deurspek is van kriminele elemente wat hul posisie in die SAPD misbruik vir eie agendas. Dit maak dit vir die goeie SAPD-lede baie moeilik om vertroue met die gemeenskappe te kan opbou. Die SAPD behoort gesien te word as die beste vriend van die bevolking. Die vertroue in die SAPD sal nie regkom alvorens hul huis in orde is nie. Hierdie situasie veroorsaak dat gemeenskappe na hul eie veiligheid moet kyk aangesien die SAPD nie meer gesien en ervaar word as deel van die oplossing nie.

’n Ander aspek waaroor daar groot kommer bestaan, is die kwaliteit van staatsaanklaers. Te veel word daar verneem dat misdadigers as gevolg van swak voorbereiding en aanklawerk in die howe loskom.

Daar gaan in dié tyd nog vele geleenthede na vore kom waar gemeenskappe in verset gaan kom oor die onaanvaarbare omstandighede. Misdadigers gaan onverpoosd voort en die vlakke van geweld grens aan barbarisme. Die afwesige regering wat slegs in sommige gevalle, ná baie druk, nie apaties staan teenoor die ernstige misdaad nie. Die klimaat van misdaad in ons land, lê vierkantig voor die deur van die regering. Die politieke wil om misdaad uit te roei, word ernstig bevraagteken.

Ons kan onmoontlik nie hierdie saak elkeen op ons eie aanpak nie. Daar sal hande gevat moet word met al die verantwoordelike organisasies en strukture om gesamentlik ’n strategie vir die pad vorentoe oor misdaad uit te werk.

Sou ons nie dalk na die volgende riglyne moet kyk vir wanneer ons in verset wil gaan nie:

  • Tree in alle gevalle op met die wete dat ons in eie reg nie tot enigiets in staat is nie, maar tree op dat die Heilige Gees die rigting en keuse sal bepaal. Dit doen ons ook op so ’n wyse dat die Woord van God vir ons die antwoorde moet gee;
  • Neem slegs deel aan enige versetoptrede indien daar weldeurdagte beplanning met duidelike oogmerke en uitkomste gedoen word;
  • Behoorlike bevel en beheer moet teenwoordig wees en ysere dissipline moet geld;
  • Bly binne die Wet;
  • Waak dat emosionele ongestruktureerde insette jou op sleeptou neem; en
  • Maak seker dat alle strukture wat deelneem aan ’n optog of versetaksie deel van die gesamentlike beplanning is en dat almal instem vir die bevel en beheerstruktuur en dat hulle die gesag sal aanvaar.

Op geen wyse moet ons gesien word as die aggressors tydens hierdie opgeboude spanning nie. Almal moet weet dat ons met alle middele tot ons beskikking onsself sal verweer en verdedig wanneer daar met aanvalle van watter aard ook al teen ons begin word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Die eie interpretasie van die Bybel word voorgehou. Hoe om die chaotiese situasie in die land te interpreteer en te hanteer sal skynbaar deur ‘ingeligte beterweters’ op hul tyd aangespreek en aangedui word. Tot dan moet almal rustig wag en slaap en sterf… tot verdere kennisgewing… watch this space for more information… remember to drink enough water…

Johann Basson

Baie goed deurdagte artikel. Baie dankie vir hierdie leierskap.

Ons grootste risiko’s is inderdaad ongeduld en emosionele besluite.

Goeie Suid-Afrikaners sal hande moet vat oor alle diversiteitsgrense heen. Goeie Suid-Afrikaners sal baie meer oor diversiteitsgrense met mekaar gedagtes en sieninge moet uitruil om gemeenskapike gronde vir saamleef te vind.

En ons moet binne die Wet bly en die morele golf van naaasteliefde ry. Ons verset moet teen onreg wees.