Verstaan hulle dan nie die Grondwet nie?

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Ek het nooit gedink ek sal tot dié gevolgtrekking gedwing word nie: Die regters van die konstitusionele hof wat hul name aan die meerderheidsuitspraak insake Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat geheg het, verstaan nie die Grondwet nie. Hul politieke en ideologiese onderrok hang ontoelaatbaar ver uit.

Kom ons kyk eers na wat die Grondwet sê, dan na die uitspraak en vervolgens ontleed ons dit.

Daar is veral twee relevante artikels in die Grondwet. In art. 6 word Afrikaans naas ander tale as amptelike taal erken. In 6(4) word eksplisiet bepaal dat alle amptelike tale “gelykheid van aansien geniet en billik behandel word”.

Art. 29(2) laat hom uit oor taal as onderrigmedium: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelik doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg …”

By die toelaat van enkelmediuminstellings moet drie sake oorweeg word: billikheid, doenlikheid en die behoefte om diskriminasie van die verlede reg te stel.

Dis natuurlik nie ál dele van die Grondwet wat in ag geneem moet word nie. In sy openbare bydraes het oudregter Johann van der Westhuizen byvoorbeeld daarop gewys dat art. 29 nie uitgeoefen mag word op ’n manier wat die gelykheidsbepalings – dink maar aan art. 9 – oortree nie.

Enige staatsregsgeleerde sal vir jou sê dat regte soms teen mekaar opgeweeg moet word. Dikwels is regte wedersyds uitsluitend of teenstrydig, en dan moet besluit word watter reg die swaarste weeg.

En dis hier waar die menslike element – vooroordeel, emosie en subjektiwiteit – sy kop uitsteek. Regters is immers nie soos rekenaars waar jy data aan die een kant invoer en aan die ander kant ’n onbetrokke uitset lewer nie.

Kyk maar hoe daar in Amerika geveg word oor die aanstelling van konserwatiewer en meer liberale regters in die hoop dat hulle die Grondwet en die reg meer na dié of daardie kant sal uitlê. Om ’n regsuitspraak te gee is geen eksakte wetenskap nie. Dis baie soos my eie vakrigting, die geskiedeniswetenskap, waar jou eie belangstellings, agtergrond en voorkeure noodwendig ’n rol speel.

Nietemin, daar ís ’n grens.

In my akademiese geskrifte oor die Grensoorlog – ek kom altyd openlik daarvoor uit – lê my natuurlike simpatie eerder by die SAW as by Swapo, Fapla of die Kubane. Dit mag egter nooit daartoe lei dat jy feite wat jou vertolking weerspreek moet verswyg of onderbeklemtoon nie. Jy moet wel so goed as wat jy kan na volledigheid en eerlikheid strééf.

Dieselfde geld vir ’n regter wanneer hy uitspraak lewer oor die regte wat die Grondwet aan Afrikaanssprekendes verleen. Wanneer ’n mens die meerderheidsuitspraak oor Afrikaans aan die UV lees, lyk dit egter nie of daardie strewe na eerlikheid voldoende by die ondertekenaars van die meerderheidsuitspraak aanwesig was nie.

In die uitspraak, geskryf deur hoofregter Mogoeng Mogoeng, weeg hulle die regte wat in art. 29(2) aan Afrikaanssprekendes gegee word, op teen die sentrale boodskap wat na hul mening in die Grondwet verkondig word.

Dié sentrale boodskap vind die regters in ’n uitspraak wat die destydse adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke in 2009 in die saak teen die Hoërskool Ermelo gegee het. Nadat Moseneke vertel het hoe swart skole in die apartheidstyd doelbewus verwaarloos is, volg dié sleutelsin:

“In an unconcealed design, the Constitution ardently demands that this social unevenness be addressed by a radical transformation of society as a whole and of public education in particular.”

Dít is die uitgangspunt waarom die hele uitspraak geweef word. Daar is ’n lang, taamlik emosionele ontleding van hoe verskriklik apartheid was en die negatiewe rol wat Afrikaans en sy sprekers in die uitbuiting van swartes gespeel het.

Oor art. 29(2) sê die regters geen uitleg mag in stryd wees met die hoofboodskap van die Grondwet (die een wat reeds deur Moseneke gegee is) nie. ’n Myns insiens taamlik verwarrende taalkundige analise van die artikel volg dan waarin hulle (my vertolking) basies tot die gevolgtrekking kom dat daar nie regtig staan wat daar staan nie.

Eentalige Afrikaanse onderrig kom neer op die uitsluiting van swartes, en dus ’n voortsetting van apartheid, meen hulle: “The use of Afrikaans has unintentionally become a facilitator of ethnic or cultural separation and racial tension. Its continued use would leave the results of white supremacy not being addressed but kept alive and well.”

Hul aanname, fundamenteel foutief, is dat Afrikaans slegs deur wit Afrikaners gepraat word. En die UV se betoog (nogal sonder bewyse) dat die gebruik van Afrikaans tot diskriminasie lei, word klakkeloos aanvaar.

Aldus die meerderheidsuitspraak.

Daar is ook ’n minderheidsuitspraak, waarvan die volgende sin van regter Johan Froneman dalk die kern vorm: “It [die meerderheidsuitspraak] sanctions an approach that would deprive speakers of one of our official languages of the constitutional right to receive education in the language of their choice.”

Wat Froneman impliseer, is dat daar régtig in 29(2) staan wat daar staan.

Wat die saak des te ontstellender maak, is dat die name wat by die meerderheidsuitspraak staan, dié van agt swart regters is, en dié by die minderheidsuitspraak dié van drie wit regters.

Dit wys opnuut dat wanneer Afrikaanssprekendes en swart mense in Suid-Afrika oor taal – veral Afrikaans – debatteer, hulle fundamenteel bymekaar verby praat.

Wanneer Afrikaanssprekendes daaroor praat, gaan dit oor ’n kwessie van menseregte. Ja, natuurlik is daar diegene wat vir Afrikaans veg in ’n poging om verlore mag terug te win, maar my waarneming is dat verreweg die meeste daardie stasie agter hulle gelaat het.

Hulle het destyds ingestem tot die afskaffing van apartheid met die idee dat daar ’n grondwet sou wees wat onder meer hul taalregte beskerm. Nou blyk dit dat die konstitusionele hof daardie beskerming soos ’n mat onder hul voete weggepluk het – nie omdat die Grondwet as sodanig verkeerd is nie, maar omdat die regters dit ooreenkomstig hul eie (op sigself begryplike) emosies, pleks van bewese feite, vertolk.

Want wanneer Afrikaanssprekendes oor hul taal as ’n mensereg práát, hóór die swart regters apartheid, diskriminasie, eksklusiwiteit.

’n Mens sou dit graag aan ’n misverstand wil toeskryf. Maar ís dit? Of word die sentimente in die meerderheidsuitspraak hoofsaaklik gedryf deur bitterheid en wraaksug?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

25 Kommentare

JC ·

Bitterheid en wraaksug Leopold. Maar weet jy wat, dit maak Afrikaans net STERKER.

Afrikaans Leef!

Basson ·

Inherente / latente onsekerhede oorwin objektiwiteit en veroorsaak ‘n emosionele reaksie ipv rasionele aksie.

As iemand gemaklik in sy eie vel is, sal so persoon bes moontlik (selfs onbewustelik) ‘n meer objektiewe / onemosionele sienswyse en beoordeling he?

Frans C ·

Solank die president ‘n belangrike rol in die aanstelling van regters vervul, is dit seker dat hy
nie regters sal aanstel wat die uiteindelike doelwitte
van die ‘centre’ in die wiele sal ry nie,want almal is maar net ‘anc cadres’ wat ‘deployed’ is .

Estelle ·

Baie dankie vir u verstaanbare bespreking van hierdie saak; as leek het dit my insig verbreed. My gevoel is beslis dat die Grondwet hier moedswillig vir ‘n eie saak na eie belang vertolk is – eintlik geminag is. Ontstellend en teneerdrukkend, want dit is nie hoe demokrasie vir my lyk nie. As ‘n konstitusionele hof dan nie eens onpartydige besluite kan neem nie, waarheen dan?

DewaldS ·

Ek sou eerder sê diegene wat gedink het die grondwet gaan enigiets waarborg, verstaan nie hoe dit in Afrika werk nie.

[email protected] ·

Geagte mnr Scholtz: Hoe definieer ‘n mens eenduidig in Afrikaans “rooi” of “groen”?
U interessante waarneming: “Wat die saak des te ontstellender maak, is dat die name wat by die meerderheidsuitspraak staan, dié van agt swart regters is, en dié by die minderheidsuitspraak dié van drie wit regters”.
Beide die Bybel en die Grondwet is skriftelike dokumente en derhalwe vatbaar vir oneindig vele interpretasies. Geen taal is eenduidig nie.
Begrippe soos “BILLIKE behandeling”, “waar daardie onderwys REDELIK DOENLIK is”, “moet die staat alle REDELIKE alternatiewe in die onderwys . . . OORWEEG . . . “, “BILLIKHEID, DOENLIKHEID en die behoefte om diskriminasie van die verlede reg te stel “, “en dan moet besluit word welke reg die swaarste weeg” is wollerige begrippe wat hom leen tot vele interpretasies gehul in eie motiewe en ideologië. En dan wil elke party kla indien hy nie die saak wen nie! Die feit dat die Grondwet homself leen tot verskillende interpretasies is die spil of wese van die GEBREK van die Grondwet. Vergeet van “wigte en teenwigte”.
So, wat is die alternatief? Prediker 8: 17: “die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom(self) ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.”
Feit is: daar is geen perfekte Grondwet nie!

Bert ·

Kan die wigte en teenwigte van FW De Klerk nou asseblief begin inskop? Kan die Kodesa onderhandelaars asb terugvoering gee? Hoe dan nou? Toe Treurnicht gewaarsku het was hy afgelag. Nou huil ons almal saam oor Afrikaans; eers by die universiteite en nou ons skole.

John ·

Die Koeksoda-onderhandelaars borrel en gorrel nog en raak letterlik steeds meer gewigtig ten spyte daarvan. Met sekere opponente raak mens nooit in ‘n onderonsie betrokke nie ~ mens leer dit reeds op skool ~ want hul speel nooit volgens die reels nie of verdraai dit om hul saak te pas amper soos party slimjanne debatsaande probeer skaak. Alles klink dood-dollies net alles is een groot jok. So het die Grondwethof sy hofnarspel gespeel, alles gegrond op ‘n aanname dat die grondwet ‘n mat is wat hulle by wyse van hul aanstellings onder die voete van mede-landsburgers kan uitpluk om die grappige effek te aanskou….

Stefaans ·

Ek aanvaar dat apartheid by mense ‘n minderwaardigheidsgevoel veroorsaak het. Na meer as 20 jaar in beheer is swartmense steeds nie in staat om dit af te skud nie. Elke mens het die keuse – jy kan in die hoek sit en tjank, of jy kan aan jou toekoms werk. Ons swart regters huil nog oor die verlede.

De la Rey ·

Voor en na die 2e Anglo boere-oorlog was Afrikaners verdeeld deels omdat Afrikaners in die Kaap nie aan die oorlog deelgeneem het nie en ander in die Vrystaat en ZAR op verskillende stadiums oorgegee het omdat die prys wat betaal is so geweldig was. Die unie-regering het aanvanklik ‘n versoenende beleid gevolg maar gebeure soos die oorlogsverklaring teen Duitsland rondom 1914 en die hantering van die gevolglike rebellie asook die latere mynwerkerstaking het gematigde Afrikaners en selfs stoere SAPPE oorgehaal om saam te staan soos nog nooit in die geskiedenis nie om die NP aan bewind te plaas in 1948.

Soos Leipoldt goed weet leer mense nie eintlik uit die geskiedenis nie en Mogoeng beslis ook nie. Daarvoor wil ek hom eintlik bedank. Soos Leipold uitwys hang die swart regters se onderrok uit en dwing hulle hom eintlik tot sy gevolgtrekking. Soos Boerseun sé die liggie gaan vir meer en meer mense aan en stadig maar seker borrel Afrikaner nasionalisme, terwyl politieke verdeeldheid in SA toeneem.

Sterk staan Afrikaners, vertrou op God, wees betrokke in jou gemeenskap. wag en wees gereed. Tik, tik, tik..tik….

Dink Self ·

“When will the lesson be learned? You cannot reason with a tiger when your head is in its mouth!” W. Churchill. Hoe lank gaan Afrikaner en Afrikaner organisasies nog tyd verspeel deur nie die ware toedrag van sake te herken nie? Elke dag word ons situasie slegter! Dit dui op onbevoegtheid of samesweering!

Rupert Ashford ·

Die ou Slimkoppe van die verlede het vir ons die antwoorde op so baie probleme uitgesorteer, maar ons hedendaagse selfvoldane generasie reken hulle weet beter oor alles.

Jordaan ·

Is daar nie gronde om op grond van hierdie miskenning van regte weer by die VN aan te klop nie? Of is daar dalk lande wat sal erken dat ons as tweedeklas burgers van SA om asiel kan aansoek doen?

Dink Self ·

Ontspan. Neem ‘n oomblik. Vra jouself, “Wat het ek gedoen, nie gesê nie, GEDOEN vir die Rohingya van Myanmar of enige ander minderheids groep onder druk in ander dele van die wêreld die afgelope paar jaar?” Niks. Ek en jy het NIKS gedoen nie. Net soos die VN niks doen om sulke tragedies te keer nie. Na die tyd is daar miskien vervolgings en hofsake, maar vir die dooies en vlugtelinge beteken dit niks.

Asb. Kom tot die besef dat die VN en die internationale gemeenskap dieselfde gaan doen vir die Afrikaner as wat dit afgelope 26 jaar gedoen het…NIKS, NUL, 0.

Ons is op ons eie. Ons sus onself en word aan die slaap gesus deur idees van ‘n eksterne redder. Hoekom?

Anton ·

Grondwette is westerse idees en tradisie. Die wat dink/gedink het dat dit werd die papier waarop dit geskryf is ken duidelik nie Afrika nie. By daardie onderhandelinge voor 1994 is daar deur vandag se meerdereidsparty geweet hulle sal altyd die meerderheid he. Afrika “demokrasie” is nie westerse demokrasie nie. Waar in Afrika is daar n werklike demokrasie? Die afbreek van alle “westerse” instellings het net die versekerde afhanklikheid van die bevolking op die koning se kraal en sy goedgesindheid ten doel.
Om dit te probeer verander is dwaas en n mors van tyd. Die Afrikaner moet eerder sy taal en lewenswyse versterk in nuwe denkrigtings en die Dingaan – Piet Retief lesse weer leer. Die doppies by die onderhandelingstafel voor ’94 het dit vergeet.

Rupert Ashford ·

Leopold, jou laaste drie woorde gee die antwoord. Ek wil its se en ek gaan dit se (sensor my maar uit die gesprek as julle wil Maroela): Die “bitterheid en wraaksug” is ongelukkig deel van menslike natuur agv ons vervalenheid en die moderne mensdom se verwerping van God en Sy gebod. Daarom kan mens niks anders verwag nie. En mens kan dit ook deurtrek na die “Global Warming Climastrology” beweging en ook hier die Feministiese “#MeToo” klompie – uiteindelik gaan dit nie oor enigiets oplos nie, maar om die bordjies te verhang en oor mag/geld.

Eish ·

Dit wat ons dag vir dag op voetsoolvlak ervaar, word nou deur die regstelsel gestempel as reg en goed.
Die bitterheid en wraaksug loop in strome deur die samelewing.

Stephan de S ·

Die feit dat geen grondwet behoorlik kan beding tussen diverse groepe nie, bring weer die idee van nasie-state (in my begrip dat elke omlynbare groep sy eie owerheid vorm) na die kollig. n Mens begin wonder of al die woelinge in bv die E U nie uiteindelik sal lei tot die herinstelling van nasie-state. Moenie sê dis ekonomiese selfmoord nie – genoeg voorbeelde oor wêreld bestaan om dit te weerlê .

Ou [email protected] ·

Hoeveel Suid-Afrikaners is bewus van die omvangryke BRITSE slawebedryf van 1600 tot laat in die 19de eeu? Hoeveel Kapenaars weet hoeveel slawe is sedert 1795 in Kaapstad aan wal gebring? Hoeveel politieke aktiviste, politici, historici en Kapenaars het ‘n studie gemaak van die impak wat die Britse slawebedryf op die mense van Suid-Afrika en hul geskiedenis gemaak het?

Frans C ·

Dit moet teen hierdie tyd glashelder vir almal wat kan sien wees,dat die grondwet net die voertuig is waardeur die ANC sy doelwitte soos vervat in die
Vryheidsmanifes wil verwesentlik.

Die ‘Centre’ waarvan ‘n mens dikwels hoor in die
“The Americans’ verhaal van Russiese spioene en hul gesin in Amerika, besluit hoe dit gedoen moet word.

So kommunisties soos wat kan kom, van vyf jaar plan,tot vyfjaar plan, grond vir almal sodat dit ‘n voedselparadys kan word.

En so word die ontplooide ‘Cadres’ pionne in die spel van mag en die kabinet ‘n rubberstempel,
en vat dit tyd voordat die ‘Centre’ ontwaak en besef sy ontplooide ‘Cadres’ is besig om hulself
ala hul kommunistiese leermeesters te verryk.

‘n Huisie en vakansie by die Swartsee word ‘n Nkandla in Suid Afrika.En waar sit hierdie ‘centre’? Probeer Lethulihuis waar die eintlike mag met die ‘NEC’ geleë is.

Gerhard ·

Wat my verstom is dat daar Afrikaners is wat geglo het ‘n Grondwet gaan hulle red in Afrika, REGTIG?

Boerseun ·

Hartseer. maar dis in die verlede, hopelik word genoeg vroeg genoeg wakker.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.