Vir dié wat bly

Barend Uys. Foto: Verskaf.

’n Ontnugterde belastingbetaler skryf ’n rukkie gelede dat belastingbetalers wat die vermoë het, ’n morele plig het om hul finansiële ondersteuning van die onderdrukkende bestel te onttrek deur te emigreer.

Dié opmerking het my nogal herinner aan Ayn Rand se epiese novelle Atlas Shrugged. Breedweg handel die verhaal oor ’n groep entrepreneuriese mense wat hulle aan ʼn staat onttrek waar hul vryheid om op te tree al meer aan bande gelê word deur ’n onderdrukkende meerderheid wat hulself in allerhande komitees organiseer om alles te reguleer. (Dit klink nogal bekend!) Die entrepreneuriese mense gaan skep dan vir hulself ’n vryemark-heilstaat in afwagting op die noodwendige mislukking en einde van die bestel waaraan hulle ontsnap het.

Die vraag of daar ’n morele verpligting op dié rus wat wel die vermoë het om hul steun aan ’n onderdrukkende bestel te onttrek, kan nie ligtelik opgeneem word nie. Van my familielede wat die land verlaat het, het juis aangevoer dat een van die redes vir hul emigrasiebesluit was dat hulle nie die diskriminasie teen hul eie gemeenskap verder wou finansier nie.

Almal van ons weet dat so ’n heilstaat in werklikheid nie bestaan nie – alle plekke het voordele en nadele. As voorbeeld, kan daar genoem word dat dit hier by ons steeds oorwegend maklik is om wapens te besit, terwyl dit in, byvoorbeeld, Australië meer beperk en elders selfs onmoontlik is. ’n Belangriker verskil is dat die meeste mense hier in suidelike Afrika Christene is, wat veroorsaak dat hier ook baie kerke is om uit te kies. In die Westerse lande waarheen die meeste Afrikaners emigreer, is Christene ’n minderheid.

Die meer bepalende werklikheid is egter dat dit vir die meeste gewone middelklasgesinne eenvoudig nie moontlik is om te emigreer nie. Die debat oor bly of gly is dus eintlik maar ’n debat vir ’n welgestelde, goed gekwalifiseerde elite – vir gewone middelklasgesinne is dit lugkasteelpraatjies. Mens moet ook nie die fout maak om te dink dat dié debat uitsluitlik in sogenaamde wit kringe gevoer word nie. Een besoek aan Australië is genoeg om jou te laat besef dat goed gekwalifiseerde en welgestelde mense van alle kulture en tale voor hierdie keuse te staan kom – ontnugtering oor die falende staat is wydverspreid.

Geen mens wil in ’n land bly om maar net ’n doring in die vlees van die regerende elite te wees nie. Gewone mense wil graag vry, veilig en voorspoedig leef en wil veral die vooruitsig hê dat ’n mooi toekoms op hul kinders wag. Hoe dan gemaak?

Die enigste praktiese oplossing om ’n toekoms te skep – binne die agteruitgang van gewone mense se leefwêreld weens ’n toenemend mislukkende staat – is selfbestuur deur gemeenskapsinstellings. Die staat se prestasie oor die afgelope 25 jaar het immers bewys dat ’n toekoms nie van bo af gegee gaan word nie, maar dat dit van onder af gebou sal moet word.

As jy nie van die toekoms hou wat die regering vir jou bied nie, en jy wil of kan nie skuif nie, sal jy eenvoudig moet inspring en sélf ’n ander toekoms bou. ’n Samelewing wat gevorm word deur die vestiging van sterk gemeenskapsinstellings (byvoorbeeld skole, kerke en burgerlike organisasies) sal die lugleegte kan vul wat die afwesige staat laat – en op dié wyse ’n toekoms moontlik maak.

’n Wyse man het op ’n dag vir my gesê dat mens moet kies om óf op die vasteland óf op die eiland te bly – sommige mense mors hul hele lewe deur voortdurend tussen die vasteland en die eiland te swem.

Besluit wat jy wil doen – en as jou hart by die vasteland lê, hou op om oor die see na die eiland te staar, steek jou hande uit jou moue en werk saam met jou gemeenskap vir daardie toekoms wat jy graag vir jou kinders wil hê.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Neels ·

Met selfbestuur word heerlike lugkastele gebou. Iemand moet die kastele bou, bestuur en onderhou. En dit kos geld wat die inwoners nie het nie, want die ware regeerders belas hulle tot in die grond. Stuur jou kinders oorsee en laat hulle daar ‘n toekoms bou.

Alex ·

Jy sukkel om te verstaan. Self sê jy dat inwoners nie geld het nie, maar in dieselfde asem sê jy hulle moet hul kinders oorsee stuur. Met watse geld?

Sven ·

Alex, jy mis die punt. Gebruik alle geld wat jy het op jou gesin om vir hulle ‘n goeie toekoms oorsee te bou. Maak seker jou kinders is goed opgelei en bemarkbaar. Om te help bou hier gaan nie julle situasie juis verbeter nie.

Expat ·

Dis ‘n nuwe uitkyk op die hele debat oor emigrasie. Ek het altyd gedink dat ons dit net vir ons gesin se welstand en toekoms moontlikhede gedoen het. Nou blyk dit egter dat emigrante indirek die agterblyers help deur die SA regering te weerhou van belasting inkomste waarmee hulle indirek burgers onderdruk. Sien, ons was toe al die tyd reg gewees!

Karel ·

Ek verkies om te bly. As ek sou emigreer, voel ek asof ek al daai mense wat van Helpende Hand afhanklik is in die steek laat. Ek sal sukkel om die ou in die spieël in die oë te kyk.

Sterkte aan die wat wel emigreer. Wees asb. net ordentlik genoeg om jou troeteldiere saam te vat, al kos dit wat. Dis die regte ding om te doen.

Andre ·

Karel, die lewe is hard. Maak eerstens seker jy en jou gesin is veilig en het ‘n toekoms. Indien julle hier probleme opdoen is julle op jul eie. Onthou, moenie op ander steun vir hulp nie.

Expat ·

Karel, as ek gebly het, sou ek sukkel om my vrou en kinders in die oë te kyk. My kinders se hond en kat het saam gekom en gaan nog goed aan dankie.

Erik ·

Ek probeer weer, so verskoning indien my kommentaar dalk twee keer geplaas word.

Dankie Barend, goeie artikel. Ek stem saam met jou en ek glo dat dit wel moontlik is om jouself reg te posisioneer vir die toekoms.

Wat my egter baie ontstel is dat mense wat besluit om in Suid-Afrika te bly (heelwat mense kies dit tog om hier te bly!) uitgekryt word en sleggesê word op alle maniere moontlik.

Ek is lief vir Afrika en Suid-Afrika en die mense van hierdie land. Ek sien bloot nie kans vir Kanada se yskoue nie. Ook nie vir Australië se hitte, vlieë en muskiete nie. Kyk gerus hoe lyk Nieu Seeland se huise en huispryse – nee dankie! Nou waarheen dan?

Die positiewe in SA word nie in die media uitgebeeld nie, maar is soveel meer as die negatiewe. Soveel mense emigreer na SA vanaf Nederland en Britanje. Vir die wat wel emigreer, ek is seker het goeie rede. Gaan en maak die beste daarvan, want dis ‘n dapper stap.

My kinders is in goeie groot Christelike Afrikaanse skole. Hulle ry fiets in die strate. Ek voel nie onveilig of bedreig nie. Ek besit, en nie huur, ‘n 5 slaapkamer huis met groot erf. My huis word vir my skoongemaak en my gras word vir my gesny. My familie is naby my. Ek is gelukkig, deur genade, so laat my toe om gelukkig te wees en hier te bou.

Gerhard Kotze ·

Goeie kommentaar Erik.

Van ons bly aangesien ons lief is vir die Afrikaner volk…..

Expat ·

Ag jinne ou Erik, jy het seker ook iemand wat jou stert afvee! Wanneer het die volk so lui geword?

@Expat ·

Jy mis die punt. Slegs skatryk mense in eerste wêreld lande kan huiswerkers en tuiniers bekostig. Ek sal dit ook nie kan bekostig in ‘n eerste wêreld land nie. Maar hier in SA kan ek en leef ek soos ‘n koning. En glo my, dis nie die rede hoekom ek kies om te bly nie.

Andre ·

Gerhard, is die Afrikaner volk lief vir mekaar? Ek dink nie so nie. Vir meer as ‘n twee eeue is dit net wegbreek en skeuring van kerke, politieke partye en feeskomitees. Daar sal nooit eenheid en liefde wees nie.

John ·

Die self-inperking van Afrikaners, ons almal doen dit, is iets waarteen ons moet veg. Klein dingetjies, soos minder aandag aan bv selfversorging, ontspanning, sport en selfs lekker-eet, begin posvat. Huispartytjies of saam-gaan-stap is taboe. Hoekom? Min mense tof bietjie op na geleenthede. Ons los dit vir die ANC en hul staatsbegrafnisse en ons kyk maar op tv na mense oorsee wat dit nog waag. Bo in Afrika blink die burgers in arm gemeenskappe en spring flink oor stink stroompies en hou die blinkkant bo.
Ons sal eeendag elders… Waar is dit?

Gerhard Kotze ·

Neels ongelukkig gaan die meeste mense bly. So van ons gaan veg en oorwin. Die belastingkwessie sal wel meer radikale opstand noodsaak.

Die ding met emigrasie is dat dit oorbeklemtoon word. Emigrasie is niks nuut nie en baie ander lande se mense emigreer in veel groter getalle en as n persentasie van hul bevolking. Die Iere en Portuguese emigreer baie meeer as ons Afrikaners.

Dit is ook n miete dat dit altyd die room van die bevolking is wat emigreer. Baie mense vestig hulle self ook in Suid-Afrika van lande soos Engeland, Duitsland en Frankryk. Ek ken self bv. n gesin van Yorkshire in Engeland wat hulle hier in SA gevestig het.

Ons is hier om te bly.

Yup ·

As ek en my gesin agter gebly het sou ons op straat gesit het. Ons was baie naby. Ons het net geglo en gebid, toe n werks offer oorsee. Alles het eenvoudig net in pleg geval. Mens het geloof nodig en glo dat die Here sal help.

@Yup ·

Jou kommentaar maak vir my heeltemal sin. Indien ek in ‘n doodloop straat was sou ek ook die pad gevat het. Almal is nie in ‘n doodloop straat nie – die wat dit glo het nog nie SA se geskiedenis die laaste 400 jaar gaan oplees nie. Omstandighede verskil. Myne laat my toe om in SA ‘n goeie lewe te bou, ‘n ander ou sin dalk nie. Ons moet mekaar dus nie oordeel nie.

Neels ·

Dis elke ou vir homself. Niemand gee ‘n snars om wie bly en wie gly nie. Jy doen wat vir jou werk. Dit gaan om keuses. Indien jy ‘n verkeerde keuse maak moet jy die gevolge dra. Niemand gaan vir jou jammer wees nie. Wat Afrika betref dink ek maar net aan Zim. Sowat 30 jaar gelede was die wittes daar nog gelukkig en min wou die land verlaat. Wat gebeur het is geskiedenis. Iere, Franse, Duitsers, Britte en baie ander lande se burgers sal altyd ‘n tuisland hê, ongag waar hulle woon. Afrikaners het nie werklik meer ‘n tuiste nie, ons is nou gaste waar ons ook al woon, selfs in SA. Net soos die Jode voor 1948. Artikel na artikel probeer Afrikaners hul bestaan in SA steeds regverdig. Na 350 jaar? Ek steun Afriforum se pogings om te bou, maar dit sal die finale hoofstuk in die Afrikaner se geskiedenis net meer draaglik maak, niks meer nie. Die beste Afrikaner breinkrag emigreer wel. Gesels maar met jou plaaslike dokter. Die lys van spesialiste op hul rekords word minder en ouer. Met NGV gaan dit nog erger word.

Jimmy ·

Gaan kyk ook in jou woonbuurt wat is die gemiddelde ouderdom van GPs. Tot in die vroeë 1990s was daar altyd dokters in hul laat 20s vroeg 30s wat praktyke begin het. Deesdae is almal 55 plussers. Baie ou dokters sê hul dokter-kinders sit in die buiteland en sal nie eendag die praktyk oorneem nie. Alles baie tragies.

Jerry ·

Ek is tevrede dat genoegsame getalle Afrikaners geemigreer het en genoegsame Afrikaners agter gebly het. Wat ookal in SA gebeur of nie gebeur nie en in ander lande waar die Afrikaner hom gaan vestig het, die Afrikaner en sy nageslagte sal voortbestaan en wraak, diskriminasie en vergelding van die jaloerses sal nie meer alle Afrikaners se ideale, drome en toekoms kan vernietig nie!

Basson ·

Ek werk in die buiteland. Maar dis altyd lekker om weer terug te gaan na my geboorteplek. Alles is daar, Huis, Vrou, Kind, Honde, Papegaai hoeners en skilpad. So het ons maar aangepas met veiligheid en alles om die lewe so gerieflik moontlik te maak. Maar die land het sy uitdagings. Meet as ander lande. Baie jare terug het die voortrekkers ook in die vreemde ingegaan en met moed en geloof die pad neergele tot waar ons was in 1995. Vandag het ons baie meer middele en kennis om dinge weer te verbeter. Tyd sal leer. Ons moet maar vasbyt.

Belasting SA ·

Om belasting in SA te betaal is soos om ‘n gulsige moordlustige draak te voer en hom dikgevreet te hou. Beginselloos in alle opsigte.

Se net ·

Meeste mense se belasting word vanaf hul salarisse afgetrek en oorbetaal so daar is nie ‘n keuse by betrokke nie. Mense kan dis daarvan beskuldig word dat hul beginselloos is indien hul belasting betaal nie. Die wat nie betaal nie kan wel as skelm gebrandmerk word en is dan net so verkeerd soos ‘n korrupte regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.