Vir wie moet ek stem?

kallie-kriel-2019-05-02

Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum. Foto: Verskaf.

Die vraag, “Vir wie moet ek stem?”, word volgens my ervaring die afgelope paar weke aansienlik meer gereeld as voor enige ander onlangse verkiesing deur lede van minderheidsgemeenskappe gevra.

Die positiewe hiervan, is dat dit aan Afrikaners, Afrikaanssprekendes en minderhede oor die algemeen ’n geleentheid bied om die onderskeie partye se beleidsrigtings goed te oordink en vir hulself te besluit watter party hul belange die beste kan dien.

Daarteenoor is die gevaar van onsekerheid dat kiesers kan wegbly van die stembus af – iets wat tragies genoeg direk in die hande van die ANC en EFF sal speel.

AfriForum, wat as burgerlike organisasie buite die partypolitiek funksioneer, kan en gaan nie aan sy lede, ondersteuners en minderheidsgemeenskappe probeer voorskryf vir watter party hulle moet stem nie. Hierdie gemeenskappe is in elk geval meer as in staat om vir hulself te dink en te besluit. AfriForum en ekself neem wel die vrymoedigheid om die volgende versoeke aan lede van minderheidsgemeenskappe te rig:

  • Stem asseblief op 8 Mei 2019! Die ANC en EFF is beide daarop uit om die land se Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Om dit te bereik, het hulle ’n twee derde-meerderheid nodig. Minderhede kan help om dit te probeer verhoed deur vir ’n party te stem wat eiendomsreg respekteer. Wat eiendomsreg betref, maak dit nie saak of jy vir die VF+, DA, ACDP, Cope of enige ander pro-eiendomsregparty stem nie, jou stem sal tel om eiendomsreg te help beskerm.
  • Stem vir die party wie se waardes en beleid jy steun! Daar is baie pogings om kiesers te probeer dwing om vir ’n bepaalde party of partye te stem op grond van wie die ANC se mag die “beste” kan inperk. Partye moet na my mening kiesers se steun wen deur hul belange ernstig op te neem, eerder as om hul steun op ander gronde as beleid te probeer wen. Die werklikheid is ook dat die proporsionele stelsel meebring dat geen stem gemors word nie. Of een party wat die ANC teenstaan byvoorbeeld tien setels het, of twee partye wat die ANC teenstaan onderskeidelik ses en vier setels het, maak geen verskil nie, aangesien daar steeds tien setels is wat die ANC teenstaan. AfriForum se aanbeveling is dus dat lede die onderskeie partye vir wie hulle oorweeg om te stem, se beleid bestudeer en op grond daarvan ’n besluit neem.
  • Moenie dat partypolitiek ons verdeel nie! Mededinging tussen opposisiepartye en hul onderskeie ondersteuners is eie aan die aard van partypolitiek. Wat egter verhoed moet word, is dat ons nie weer verval in ’n situasie waar gemeenskappe daardeur verdeel word, soos wat in die vorige bedeling met NP/KP-verdelingslyne die geval was nie. Ons moet onthou dat partypolitiek net een aspek van ’n breë spektrum aksies is wat nodig is om ’n toekoms te bou waar Afrikaners en Afrikaanssprekendes vry, veilig en voorspoedig kan wees. ’n Rede vir die groot sukses wat AfriForum in plaaslike gemeenskappe behaal, is juis dat ons daarin slaag om bo-oor partypolitieke verdelingslyne mense saam te snoer ter bereiking van gemeenskaplike doelwitte in hul gemeenskappe.

AfriForum as waghond oor opposisiepartye

 Ten spyte daarvan dat AfriForum nie aan lede voorskryf vir wie om te stem nie, beskou die organisasie dit wel as sy rol om te help toesien dat die partye vir wie AfriForum-lede en -ondersteuners stem, op ’n wyse sal optree wat nie direk in stryd met ons lede en ondersteuners se belange is nie.

AfriForum verwag ook nie van politieke partye om voorkeur aan AfriForum-lede en -ondersteuners se belange te gee nie, maar ons verwag beslis dat ons ondersteuners se belange nie ondergeskik aan ander kiesers se belange gestel word nie.

Dit is binne hierdie konteks wat AfriForum byvoorbeeld sonder om te skroom al beswaar teen sekere beleidsrigtings van die DA en optrede deur sommige parlementslede van die ACDP, Cope en VF+ aangeteken het. AfriForum het ook beswaar gemaak toe die DA besluit het dat ras tot nadeel van minderhede as maatstaf moet dien vir SEB-beleidsrigtings, dat die Laerskool Schweizer-Reneke-insident op roekelose wyse deur die DA tot rassevoorval verhef is, en die DA-beheerde studenteraad by Tukkies Sonop aangevat het omdat die koshuis te “wit en Afrikaans” is.

Hoewel AfriForum nie altyd met die optrede van sommige partye se nasionale leierskap saamstem nie, weet AfriForum ook dat daar op plaaslike vlak tientalle raadslede en lede van al bogenoemde partye is wat ’n baie positiewe rol speel en met groot entoesiasme saam met AfriForum werk om gemeenskappe te help verbeter. Juis daarom gaan AfriForum geensins ’n veldtog vír of téén enige opposisieparty voer nie.

Wat AfriForum wel kan doen, is om sy lede en ondersteuners bloot te stel aan die standpunte van die leierskap van die partye vir wie hulle volgens ons meningspeiling oorwegend gaan stem.

Juis daarom het ek as deel van AfriForum se “Vir wie moet ek stem?”-programreeks onderhoude met die leiers van die VF+, DA, ACDP en Cope gevoer wat op my YouTube-kanaal en Facebook-blad geplaas is. Kyk gerus daarna en besluit self vir wie jy moet stem. Indien jy steeds twyfel, beveel ek aan dat jy Solidariteit se “stembepaler” gebruik om vas te stel tot watter mate die onderskeie partye se manifeste jou standpunte weerspieël. Die “stembepaler” is by hierdie skakel beskikbaar: https://solidariteit.co.za/stem-bepaler/

Die “Vir wie moet ek stem?”-programreeks is by die volgende skakels beskikbaar:

Ten slotte, braai gerus op 8 Mei… maar eers nadat jy gestem het!

Nog verkiesingsnuus: Kyk ook Vrydag 3 Mei om 10:00 op Maroela Media se Facebook-blad regstreeks na ʼn debat tussen die DA en VF+.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Attie. ·

Daar wag ‘n groot verrassing wanneer stemme getel word. My voorspelling is dat baie Afrikaanssprekendes gaan terug huis toekom en VF+ stem. Die DA gaan die Afrikaanses se stemme mis en Good gaan ook paar stemme in die Kaap afrokkel van die DA. Die stempersentasie gaan redelik laag wees en die party wat die hardste gaan huil met minder as 50% van die stemme is die ANC. Waar die DA aan die bewind gaan wees sal dit in koalisie met minderheidspartye wees. Die VF+, ACDP en Cope gaan beslis meer stemme kry as in die verlede en gaan baie belangrik wees as koalisievennote. Ek stem VF+ en my tweede keuse is ook VF+

Andreas ·

Ek kan verseker hiermee saamleef, en jou voorspelling klink baie realisties. Maak aantekening, dan gesels ons na die stemme getel is weer.

Hendrik UAE ·

Wanneer word die uitslag van die oorsese kiesers bekend gemaak?

Vra net ·

Ek het die vraag verskeie kere in die verlede gevra en nog nooit ‘n sinvolle antwoord gekry nie. Indien ‘n persoon wat DA, VF+, COPE of wat ookal sou stem, wegbly dan bevoordeel dit glo die ANC, EFF en BLF.
Nou my vraag: As ‘n persoon wat ANC, EFF of BLF sou stem sou wegbly, bevoordeel dit dan die DA, VF+ en dies meer? Kom ons kyk of iemand my die keer kan antwoord.

Judge Dredd ·

Ja natuurlik – dus moet jy jou ANC/EFF maatjies aanmoedig om nie te stem nie.

Andre ·

Die ANC sal weer meer as 50% kry en met die volgende verkiesing sal hulle verloor maar dan saam met die EFF smelt. So vir die volgende 8 jaar gaan ons land nog verval. Die DA beteken niks, hulle file net die heletyd hofsake maar dan raak dit stil. Hulle gaan ook baie kleur stemme verloor, Mmusi is `n failure en sal moet vervang word. VF+ en Cope gaan die groot wenners wees.

Judge Dredd ·

Ek stem saam dat die 2024 verkiesing die een sal wees waar ANC heel moontlik onder 50% sal kry.
Vir hierdie verkiesing in die area van 55%.
DA sal ook steun verloor.
Kleiner partye soos EFF/IVP/VF+/Cope/ACDP en GOOD party sal steun wen.

Dries du Toit ·

Indien die VF+ nie tenminste 100% beter doen nie gaan ek ernstig daaraan dink om te immigreer. Dan weet ek my volk is tevrede om in hierdie gemors te lewe en dat dit nie help om verder te loop saam met die hanskakies nie.

Boerboel ·

Ek stem beslis vir VF+ , Dis baie belangrik dat almal gaan stem sodat ons verhoed dat ANC en EFF nie n’ koalisie kan vorm nie, As dit gebeur het ons baie groot probleme, so mense gaan stem . Ons kan lekker braai na die stemmery en hoop vir die beste. Hierdie is ons laaste kans.

Ek ook vf PLUS ·

Daars geen ander opsie vir my as VF plus nie, dis die party wat vir my opgekom het.

Vienna ·

Hendrik UAE ek wil ook weet
Ek het 158.2 km x 2 gery om te kan stem

Hendrik UAE ·

Ek is nogal angstig om te sien of die DA weer so oorheers met die stemmery oorsee. Ek weet party mense het groot onkostes aangegaan en baie moeite gedoen om te gaan stem.

Hendrik ·

In ons geval werk dit so. Ons ondersteun (Geldelik en moreel) as gemeenskap Afriforum en so ook die Solidariteits Beweging (Solidariteit, Afriforum, Helpende Hand en FAK). Maar .. julle ondersteun nie ons gemeenskap, (nie geldelik en moreel) in ons strewe in selfstandige selfbeskikking (Gesprek op Pretoria FM 2 weke gelede – Flip Buys en Willie Spies). Daar is net enkele mense van die 1500 mense in ons gemeenskap wat gaan stem. Onthou ons moet ook ons infrastruktuur regkry en dit kos baie geld . Julle sal R80 miljoen investeer, van ons ledegeld, in ‘n ander gebied 750km vanaf die mark en groter Afrikaner bevolking. Julle gaan nie 100 000 mense lok nie deur net ‘n infrastruktuur daar op te sit nie. Miskien moet julle maar volgende verkiesing weer probeer met die versoek om te stem, want die meeste van ons mense het nie eers geregistreer nie. Kom praat mense ons en ons ondersteun mekaar.

Liza ·

Selfbeskikking met ‘n volkstaat as eindoel gaan ‘n lang en moeisame pad wees om te loop. Dit kan maklik 30 jaar neem om dit te verwesenlik. Indien ons in 1990 begin het was ons nou daar. Ja, dit sal nie rondom Pretoria wees nie, want ‘n volkstaat sal van die grond af opgebou moet word, waar die bevolking tans yl is en weinig infrastruktuur bestaan.

Theoman ·

Sonder twyfel gaan ons familie en vriendekring hierdie verkiesing weereens VF+ stem . laat my dink aan die goeie ou dae ….. STEM REG STEM PLUS+

Paul Bergh ·

Dankie ek maak uit van die minderheid en ondersteun veeltaligheid en is ‘n Christen. Ek ondersteun geen rassewette nie. Is lief vir Afrikaans. Ek het uit gevind hoe die proporsionele stelsel werk en verstaan dat my stem tel. Ek verstaan ook dat dit beter is om vir my waardes te stem en dat dit nie nodig is om vir ‘n groot oposies te stem om teen die ANC en EFF te stem nie. Ek kan nie vir ‘n aborsie party stem nie. Wat ek nie mooi verstaan nie is as daar gesê word dat almal wat op ‘n plaas werk ook aandele moet ontvang is dit nie ook maar onteiening sonder vergoeding nie? Ek gaan deffenitief stem. Ek word gelei deur die beleid van die party en nie mooi beloftes nie. Gee ek nie vir die party waarvoor ek stem ‘n mandaat volgens die beleid nie? Ek stem dus vir ‘n party sê beleid. Is dit korrek?

Andreas ·

Jy klink na ‘n eerlike en opregte mens wat omgee en dit veil vir sy land het. Ek dink ek moet vir jou stem.

Anoniem ·

Gaan vang eerder vis daai dag. Die water lewer gewoonlik n vissie of twee op dan het ek darem n bord kos vir die dag. Politieke leiers eet elke dag lekker en al waaroor hulle omgee is jou stem dan kom hulle met allerhande beloftes en na die stemmery dan gaan dit maar weer sleg.

Boer ·

Ons Boere het gelukkig nie die probleem wat ander volke in die RSA het nie, naamlik om te besluit vir wie om testem. Ons het laas in die 1992 Referendum gestem, en weier om met ‘n kruisie by die regime se stembus legimiteit aan hierdie onwettige terroristebende te verleen.

Dup ·

Boer,
Ek stem saam met jou. Die 1992 referendum was die belangrikste stem.
Dis ook wanneer laas ek gestem het.

As jy nou stem en jy verloor moet jy jou mond hou en inval by die tiranie van die meerderheids stem.

Andreas ·

Dup, ek hoor wat jy sê, ek lees teleurstelling, frustrasie, maar jy stap met ‘n geweer rond en daar is nerens buskruit of ‘n koeël te sien nie, nie eens een in die magasyn nie. Daar is niks wat ons aan die getalle samestelling in die land kan doen nie, maar daar is soveel ander dinge wat ons kan doen.

hannes ·

Jerry. Natuurlik moet Kallie Vryheidsfront stem. Maar nie net hy nie. Elke tegsdenkende lid van alle minderheidsgroepr moet ook so maak. Ek weet ek gaan

Pieter du plessis ·

Ek gaan vir die eerste keer VF+ stem en voel nogal opgewonde daaroor ,ek weet baie van my DA vriende en familie gaan dieselfde doen.

Andreas ·

Pieter, ek sal nooit ‘n klomp jaar gelede vergeet, ek het na 1994 met die eerste verkiesing nog NP gestem, daarna DA, die afgelope 2 keer het ek VF gestem, en ek sal nooit daai juk wat van my skouers, na die eerste keer, afgeval het vergeet nie. Trane maat, trane van blydskap en verlossing … ‘n huppel in my stap.

Andreas ·

Pieter, en ek kan byvoeg, mens kan nie wag vir die uitslae nie, die bloed in jou pare pomp van afwagting.

Andreas ·

As jy jou kant gebring het, voel jy soos ‘n Jopie Fourie.

John ·

Skynbaar weet die VFPlus-ondersteuners nie mooi dat hul party dramaties verander het nie en na dese alle rasse sal moet akkomodeer nie. Besef julle dit? Dit is nie meer ‘n Afrikanerparty nie en het reeds die eerste sooi gespit met Peter Marais as Kaapland se premierskandidaat. Die onlangse hofsaak is gebaseer op die feit dat alle rasse in alle party toegelaat moet word om te registreer, wat die einste VF+ dus ook insluit. Verder sal die party dus wanneer ‘n federale-staatsbestel nagejaag word hierdie kiesers ook moet innooi hetsy godsdiens of taal. Waaroor dan al die bohaai? Ons bly in so ‘n opset. Binne 10 jaar is die VFPlus, VFkaput.

Andreas ·

Ek is jammer dat jy die Afrikaneroplewing gaan mis, ook daardie wat hulle met Afrikaans vereenselwig.

Boer ·

Korrek, en hulle selfbeskikking en vryheid in ‘n volkstaat is afgewater tot taalregte. Eintlik kan die VF+ maar saamsmelt met die DA. Weinig verskil. Hulle lei nou al vir 25 jaar lank die vryheidsbegerende wit kiesers aan hulle neuse rond oppad na nerens. Een van die dae is daar geen witte meer oor om vir hulle te stem nie – almal uitgemoor in die Boere Holocaust.

Helen Jackson ·

Ek dink nie dat om debatte in die parlement te wen beteken veel vir my volk nie. Ek sal maar die keer VF+ stem

Dink weer ·

Ek sukkel om myself met die VF+ te assosieer. Die DA, vir wie ek voorheen gestem het, het my ook teleurgestel die afgelope tyd. Ek dink ek gaan Cope ‘n kans gee – stem saam met hul sienings.

Jerry ·

Andreas, jou toestemming is skeefgetrek daarom gaan ek soos Kallie nie vir jou se vir wie jy moet stem nie, ek gaan vir jou se vir wie jy nie moet stem nie. So, indien jy deel van die oplossing wil wees dan stem jy nie vir die VF, ANC of die eff/blf nie. Jy sien die manier waarop ek dit stel maak dit nou maklik vir kiesers wie nie geweet het vir wie hulle moet stem nie, om te stem vir wie ek wil he hulle moet stem! Dit sluit jou nou natuurlik in! Jy weet nou vir wie om te stem, sonder dat dit vir my nodig was om vir jou te se vir wie jy moet stem!

Andreas ·

Dankie Jerry, lees my gerus hier bo, ek gaan stem vir wat reg is en vir die behoud en toekoms van almal in die land.

Andreas ·

Dis goed dat ons vir ander van ons wederevaringe vertel, veral die jongmense. Soos hier bo wat ek vertel het dit vir my, soos toenterjare, gevoel wat ons deurnag voor die radio op die sy gaan lê het om daardie eerste uitslae te hoor, dan nog ‘n dag, koffie gemaak, dan nog ‘n dag, ongelooflik dat dit mens bybly, vir die jongmense iets om nooit ooit te vergeet nie en vandag, na jare, hou dit my droom nog steeds lewendig.

Andreas ·

Komaan, waar is die ouer mense, ma, pa? Betrek die kinders, gee hulle ‘n lys van die partye en laat hulle telling hou van, sê, die top tien soos die uitslae deurkom! Laat hulle dit bespreek en saam met julle daaroor gesels.

Hansie ·

My stem gaan vir die ZACP, kapitalisme is die enigste stelsel wat kan werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.