Voorspoedig, verontreg of verdruk

Welstandsoudit van Afrikaners in die nuwe SA

Die onlangse debat oor die welstand van Afrikaners in die (nuwe) Suid-Afrika het die behoefte aan ʼn samehangende beoordelingsraamwerk vir groepswelstand uitgewys. Afrikaners is vanweë hulle hoë vaardigheidsprofiel ʼn belangrike bestanddeel van die land se sukses, en gesaghebbende politieke wetenskaplikes soos Francis Fukuyama het al die land se sukses gekoppel aan die behoud van geskoolde wittes. Daarom is dit ʼn geldige vraag om te vra hoe dit met Afrikaners in die nie-meer-so-nuwe Suid-Afrika gaan, net soos daar daagliks gevra word hoe dit met die armes, die werkloses en die bevoordeeldes van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging gaan.

Uitkomste

Daar het immers nou al genoeg tyd verloop sedert 1994 om die werklike uitkomste te onderskei van die bedoelings van die destydse onderhandelaars en Grondwetskrywers. Die ekonoom en Nobelpryswenner Milton Friedman het tereg gesê dat ʼn beleid aan sy uitkomste gemeet moet word, en nie aan sy bedoelings nie. Dit is algemene kennis dat Afrikaners as ʼn groep beter presteer as die meeste ander groepe op die vasteland. Die vraag is of hulle prestasie daaruit spruit dat hulle deur die oorgang bevoordeel is en of hulle ten spyte daarvan goed presteer. Is Afrikaners se sukses te danke aan die ANC, of ten spyte van die ANC?

Wesenlike welstand

Dit is belangrik om te onderskei tussen formele welstand en wesenlike welstand. Formele welstand verwys na die amptelike bepalings in die Grondwet oor sake soos die beskerming van taal, moedertaalonderrig en die taak van grondwetlike instellings soos Pansat om daaroor te waak. Wesenlike welstand verwys na die praktiese uitkomste van hierdie bepalings. Tydens en na die opstel van die Grondwet het daar talle publikasies verskyn oor die formele bepalings oor taal en kultuur, maar die wesenlike praktiese uitkomste is nog min op ʼn samehangende wyse beoordeel. Dit lei tot emosionele standpuntinname wat nie altyd op die werklikheid gegrond is nie. Wat is die werklike status van Afrikaans in die praktyk en was instellings soos Pansat suksesvol? Daarom gaan hierdie welstandsoudit oor wesenlike welstand en nie net oor formele welstand nie.

Selfbelewing

Dit is belangrik om te verstaan dat ʼn groep se welstand uit selfbelewing spruit en nie uit wat ander se mening is nie. Die beoordeling van groepswelstand gaan ook verder as die stand van algemeen geldende standaard, liberale maatstawwe soos die oppergesag van die reg ‒ hoe belangrik so ʼn maatstaf ook al is. Die uitgangspunt van ʼn groepswelstandsoudit is die Afrikaners ‒ “selfgedefinieer” as mense wat hulself as Afrikaners sien ‒ asook individue as lid van die groep. Natuurlik sal daar nie eenstemmigheid wees oor hierdie selfbelewing nie, daarom is dit goed as mense op ʼn punteskaal hulle eie belewing van Afrikanerwelstand self beoordeel en so self besluit of die Afrikaner voorspoedig, verontreg of selfs verdruk is. Vanselfsprekend is die voorgestelde raamwerk nie volledig nie, en word dit bedoel as die vertrekpunt van ʼn ouditraamwerk wat vir ander groepe in ander omstandighede ook sal geld. Dit is dus “werk in proses.”

Werkswyse: Lees die opskrif en definisie, gaan die vrae wat meer inligting gee deur en gee dan ʼn punt uit tien. Tel aan die einde al die punte op, deel dit deur die aantal vrae en skakel dit oor na ʼn persentasie. Dit is dan jou siening oor die huidige totale welstand van die Afrikaner.

1. Veiligheid (Punt: )
– Definisie: Voel jy jou veiligheid word geraak omdat jy ʼn wit Afrikaner is?
– Word die Afrikaner as groep se veiligheid bedreig?
– Bestaan daar al betekenisvolle waarskuwingstekens?

2. Lewensgehalte (Punt: )
– Definisie: Lewensverwagting, inkomste, opvoedingspeil
– Onbelemmerde uitlewing van lewenswyse
– Voel jy (as Afrikaner) steeds welkom in SA?

3. Dienste (Punt: )
– Definisie: Kry jy die dienste wat jy benodig en waarvoor jy belasting betaal?
– Staatsdienste, soos veiligheid, munisipale dienste, onderwys en gesondheid
– Is daar privaat of gemeenskapsdienste wat leemtes vul?

4. Toekomssekerheid (Punt: )
– Definisie: Voel Afrikaners seker oor die toekoms?
– Voel jy dat ons blywend suksesvol hier kan voortbestaan?

5. Staatsbehandeling (Punt: )
– Definisie: Word Afrikaners as groep ingesluit, uitgestoot of neutraal behandel?
– Wetgewing en regstatus: amptelike of nie-amptelike benadeling of diskriminasie
– Kry Afrikaners formele en wesenlike behandeling van die staat?
– Regeer die regering vir of teen ons, of is hulle neutraal?
– Is Afrikaners, hul belange of hul waardes onder staatsdruk?
– Word maatreëls getref wat die groep bemagtig om gelykheid te geniet?
– Is daar ʼn ope samelewing met geleenthede vir almal?
– Hoe raak staatsdoeltreffendheid die groep?

6. Groepstatus (Punt: )
– Definisie: Status van groep met betrekking tot selfsiening, regering en ander groepe
– Formeel en wesenlik
– Is die groepstatus oorheersend, onderdruk of neutraal?
– Voel Afrikaners soos ʼn “in”- of ʼn “uit”-groep?
– Word Afrikaners beoordeel (of geteiken) volgens groeplidmaatskap?
– Word die groep enigsins gedelegitimiseer?
– Het die groep die status van tweederangse burgers?
– Is daar wesenlike openbare aanvalle op die groep as groep?
– Die regering se houding teenoor sulke aanvalle
– Is die groep se menswaardigheid onder druk?

7. Ekonomies (Punt: )
– Definisie: Hoe vaar die groep (gemiddeld) ekonomies?
– Geleenthede: formeel en wesenlik
– Gemiddelde inkomste
– Huidige skuldlaste, spaarvermoë
– Toereikendheid van pensioenfondsbydraes
– Is regeringsbeleid ʼn wesenlike ekonomiese bedreiging, bv. eiendomsreg?

8. Gehalte van regering (Punt: )
– Definisie: Word Afrikaners goed regeer?
– Nasionaal, provinsiaal of plaaslik
– Verteenwoordiging: Het Afrikaners inspraak in die regering oor sake wat hulle raak?
– Is daar genoegsame toegang tot die regering?
– Slaan die regering ag op Afrikaners?

9. Aandeel in belastinggeld (Punt: )
– Definisie: Waarde vir groep se belastinggeld
– Inspraak in spandering van belastinggeld
– Befondsing van groepsbelange, bv. onderwys, staatsmedia

10. Grondwetlike voorsiening (Punt: )
– Definisie: Mate van grondwetlike erkenning van groep
– Grondwet: Bepalings oor verdraagsaamheid of positiewe maatreëls
– Hoe vergelyk SA se Grondwet met buitelandse beste praktyke?

11. Toepassing van grondwetlike beskerming en bevordering (Punt: )
– Definisie: Toepassing van grondwetlike bepalings
– Bevordering
– Beskerming
– Welwillende verwaarlosing
– Benadeling

12. Maatskaplik (Punt: )
– Definisie: Maatskaplike status van groep
– Getal en persentasie armes
– Toegang tot staatsdienste
– Onderlinge vertroue en samewerking binne groep
– Bydraes van intellektuele tot die groepslewe

13. Onderwys en opleiding (Punt: )
– Definisie: Toegang en gehalte
– Stand van instellings
– Behandeling van instellings deur staat

14. Gesondheid (Punt: )
– Definisie: Groepsgesondheid
– Lewensverwagting
– Algemene welstand
– Staatsorg
– Privaat sorg
– Toekomsverwagting van gesondheidsorg

15. Sielkundige welstand (Punt: )
– Definisie: Algemene sielkundige welstand
– Vervulling en behoort
– In- of uit-groep
– Privaat of openbare uitlewing van identiteit
– Bestaansangs en -vrese
– Belewing van groeplidmaatskap

16. Rasseverhoudinge (Punt: )
– Definisie: Stand van algemene rasseverhoudinge
– Wedersydse erkenning en respek
– Formeel en wesenlik
– Groepskonflik
– “Ons” en “hulle”
– Onderlinge intergroep-verhoudings
– Word verhoudinge met ander groepe aktief bevorder?

17. Stand van instellings (Punt: )
– Definisie: Stand van instellings as ruimtes vir groepsuitlewing
– Statutêre instellings
– Privaat instellings
– Burgerlike instellings
– Graad van druk op instellings (transformasie en verteenwoordigendheid)

18. Kultureel (Punt: )
– Definisie: Stand van kultuur
– Taalstatus: Formeel en wesenlik
– Kans om taal in werksomgewing, staatsektor, handelsektor en in die openbaar te gebruik?
– Stand van Afrikaners se deelname aan kulturele of taalinstellings
– Kom die staat sy verantwoordelikheid na?
– Kom Afrikaners hulle verantwoordelikheid na?
– Erfenisbewaring
– Geskiedenis
– Stand en status van (Westerse) groepswaardes

19. Polities (Punt: )
– Definisie: Geleenthede vir politieke deelname en invloed
– Graad van politieke in- of uitsluiting
– Stand van grondwetlike demokrasie; formeel en wesenlik
– Belewing van demokrasie as vryheid of magteloosheid
– Is die ANC se politieke en grondwetlike program steeds rewolusionêr?
– Politieke houdings teenoor groep
– Stand van politieke instellings

20. Werk en besigheid (Punt: )
– Definisie: Gelyke geleenthede, werksgeleenthede
– Formeel en wesenlik
– Hoe gaan dit met Afrikaners (as Afrikaners) in die werksplek?

21. Groepsprestasie (Punt: )
– Definisie: Hoe presteer die groep in verhouding met ander groepe?
– Presteer die groep as gevolg van bevoordeling of ten spyte van benadeling?

22. Vryheid (Punt: )
– Definisie: Mate van sê oor self
– Vryheid van persoon en groep oor sake wat hulle raak
– Formeel teenoor wesenlik
– Word die Afrikaner se lewenswyse ingeperk?
– Kan ʼn individu vry wees as die groep nie vry is nie?
– Vryheid van beweging

23. Algehele groepswelstand (Punt: )
– Definisie: Hoeveel groepslede het of wil die land verlaat?
– Hoeveel het die land verlaat of sal as hulle kan?
– Algehele groepswelstand is die deurslaggewende toets

Totaal:
Persentasiepunt:

Samevatting

Tydens Apartheid het die ou NP die vorige bedeling probeer regverdig deur daarop te wys dat swartmense in Suid-Afrika ‘n hoër lewensstandaard geniet as in ander Afrikastate. Hierdie argument is verwerp omdat die hele bestel as onregverdig gesien is, en nie geregverdig kon word deur die beperkte voorspoed van ‘n groep sonder vryheid nie. Dus kan ‘n onregverdige bestel of een met onregverdige uitkomste nie geregverdig word deur te wys op die betreklike voorspoed van ‘n bepaalde groep nie. Die algehele groepswelstand is die deurslaggewende toets van hoe dit regtig met Afrikaners gaan. Slegs Afrikaners kan uiteindelik oordeel oor die regverdigheid van die stelsel se uitkomste waaronder hulle leef. Daarom is die doel van hierdie Welstandsoudit om as vertrekpunt vir ‘n samehangende beoordeling van die Afrikaner se algemene welstand te dien.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Louis du Plessis ·

1  Wat ‘n nuttige raam om te oudit hoe Afrikaners as ‘n groep hulle eie welstand beleef!  Laat my toe om drie opmerkings te maak: oor kwantifisering, oor die nuansering van sommige vrae, en oor segmentering binne-in die teikengroep .
 
2  Dit sal interessant wees om van die faktore te kwantifiseer.  Byvoorbeeld faktor “7 Ekonomies” se element “gemiddelde inkomste”; of faktor “15 Onderwys en opleiding”; of faktor “14 Gesondheid” se element “lewensverwagting”.  Dan kan ons meet hoeveel Afrikaansspekendes gemiddeld verdien, vergeleke by ander taalgroepe; of hoeveel groepsgenote watter soort onderwys en opleiding ondergaan; of hoe oud hulle gemiddeld word. 
 
3  Faktore wat nie onder Afrikaanse beheer is nie, moet dalk geskei word van dié wat wel is.  Byvoorbeeld:  By die faktor “17 Stand van instellings” sal Afrikaners waarskynlik vir “statutêre instellings” (soos die Landbank) graag 1 uit 10 wil gee, en vir “burgerlike instellings” (soos Solidariteit of die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns) graag 9/10 wil gee! 
 
4  Daar behoort waarskynlik grondige verskille sigbaar te wees tussen die welstand van die noordelike en suidelike Afrikaner wat verskeie sake betref.  Byvoorbeeld:  Die faktor “1 Veiligheid” word verskillend beleef in Polokwane as in die Paarl.  Die faktor “19 Polities” het ook ‘n ander betekenis vir Afrikaanssprekendes in noordelike streke, wat onder die gebrek aan ANC-dienste deurloop, as vir die suidelike streke, soos Swartland en Overberg, waar die meeste raadslede insluitende die burgemeester Afrikaans praat. 
 
5  Die reikwydte van hierdie ouditraamwerk maak dit ‘n besonder waardevolle meetinstrument.

Kobie ·

Louis, sinvolle voorstelle. Die Oudit moet dus eerder kwalitatief as kwantitatief gedoen word. Flip

Chris du Plessis ·

Dis alles goed en wel om geskiedenis op te som. hoe dit tans gaan met Afrikaners is geskiedenis, dit beteken nie dit gaan so aangaan in die toekoms nie. Dus moet ons eerder kyk na wat is die toekoms en wat moet gedoen word om die huidige ‘voorspeod te behou of uit te brei. Ongelukkig is daar baie donker wolke in die toekoms en reeds baie huidige falinge wat nie so sigbaar is in die welstand van Afrikaners tans nie maar ons weet reeds waarheen dinge oppad is.
As ons oor nog 20 of 50 jaar terug kyk gaan die prentjie baie anders lyk as ons nie nou begin plan maak nie.

Johan ·

Chris se kommentaar hierbo het betrekking: Die geskiedenis is baiekeer ‘n goeie aanwyser van die toekoms as jy dit reg gebruik. As mens ‘n “trend analysis” van hierdie data kan doen en dit ook vergelyk met ander bevolkingsgroepe gaan dit dalk ook vir mens meer perspektief gee. Is dinge nog aan die verbeter vir die Afrikaner en gaan dit in die toekoms aanhou verbeter of is dit besig om te verswak? Hoe lyk die neiging RELATIEF tot ander bevolkingsgroepe – verbeter dit of verswak dit?

G Eloff ·

Johan . Jammer ons meet goedgaan aan goeters .Hoe goed gaan dit dan met jou as alles wat jy besit op n wa kan pas ? Die oudste “trend analysis” , wat ons die meeste en beste uit kan leer nou is die Bybel , vat nou maar Rigters , Gideon – hou nie van sosialisme nie (dit waarvoor hy gewerk het vir ander moet gee nie) .
. Alle oorsake van die fissiese is in die spirituele en alle oplossings vir die fissiese is in die spirituele .Hoe’s daai vir relatiwiteit 15 Desember , lank terug het dit goed gegaan met n geselekteerde mense . Kan aanhou maar netnou moddereer dit uit

Johan ·

Jammer ek dink jy mis die punt wat ek probeer maak. Lees en dink weer. Ons se (amper) dieselfde ding…

G Eloff ·

Jaa ,seker Johan ,maar ek is net n tree aan ; of terug ! Deuteronomium_4:30 ” As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister.” Nie geweet iemand lees G Eloff nie . Hoe slegter ons word(in God se oe) , hoe slegter sal dit met ons gaan .Deuteronomium_28:13 ” En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen,” Die hele 28 vertel van ,die groot droogte , die Boere oorlog ,die depressie , grondonteiening ,hoe belastings , ens ens . Of miskien hoe sleg dit kan gaan met ons in elkeen van Herr Flip se 23 stellings . Doen tog nimmer n “Huh kyk” opname en gee mense die’ oplossing . Die’ Boek is tog nie meer in Grieks nie .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.