Vryspraak: Dompel Zuma ons tans in ’n grondwetlike krisis?

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

Die verskil tussen grondwet en konstitusie het nie baie aandag geniet voordat prof. Koos Malan dit in sy jongste boek, There is no Supreme Constitution (2019) uitgelig het nie. Vir baie mense maak dit nog nie veel sin nie omdat hulle nie oplet hoe groot die verskil geword het tussen die Grondwet en die bedoelings wat veronderstel is om daarin vervat te wees, en aan die ander kant die werklike optrede van en magsverhoudings tussen rolspelers op die Suid-Afrikaanse politieke toneel nie.

Die spanning tussen grondwetlike bepalings en konstitusionele werklikhede het die afgelope jare opgelaai en kan onder een sleutelwoord, naamlik transformasie, tuisgebring word. Die fundamentele verbod teen diskriminasie op grond van, onder meer ras, het ‘n eenrigtingverbod geblyk te wees – en in alle billikheid het die Suid-Afrikaanse Grondwet dié verbod uit die staanspoor ondergeskik gestel aan die behoefte om aandag aan historiese wanbalans te gee. Wat dit uiteindelik sou beteken, het min mense destyds besef en Afrikaners is destyds vol moed die toekoms in net om later agter te kom op watter dryfsand hul hoop vir ‘n billike plek in die reënboognasie gebou was.

Die voorheen bevoordeeldes se klagtes oor omgekeerde ongelykheid en nuwe rassisme het, om voor die hand liggende redes, nie die aandag getrek wat die klaers sou wou hê nie. Soos ‘n Amerikaanse waarnemer dit aan ‘n vriend van my gestel het: “You had it coming, what did you think?” Selfs die vooruitsig op ‘n Grondwetwysiging om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak, is nog nie as ‘n krisis beskou nie, waarskynlik omdat dit nog parlementêr en prosedureel aangevoor en beveg is en die vertroue op geregtelike wyse (due process) nog die hoop lewendig hou dat hierdie bedreiging afgeweer kan word.

Wat niemand egter voorsien het nie en wat wit en swart waarnemers om’t ewe laat steier het voor die werklikheid van ‘n gebreekte bedeling, is die weiering van ‘n uitgetrede president om die Konstitusionele Hof se ondubbelsinnige uitspraak in ‘n eenvoudige SAA – naamlik of hy oor staatskaping gedurende sy ampstermyn moet getuig – te gehoorsaam. Dit is grondwetlik ondenkbaar, en tog is dit besig om te gebeur. Prosedureel gesproke is die volgende stappe eweneens nie ingewikkeld nie: Hy moet vir minagting van die hof vervolg word, waarna vervolging op al die ander hangende klagtes teen hom behoort te volg.

Maar wat is die kans? As mens dit verwag, kan jy ook verwag dat pres. Cyril Ramaphosa sy voorganger soos ‘n goeie skoolhoof in sy vertroue neem en sê: “Jacob, jong, jy sal moet help. As jy nie saamwerk nie, gaan ons nooit weer orde op die speelgrond hê nie. En onthou: op die lang duur is dit vir jouself ook beter om verantwoordelikheid te vat vir wat jy gedoen het. Dis dalk nou sleg, maar die uiteinde is tog vir ons almal beter.”

Op ‘n manier is dit denkbaar – dalk nie regtig denkbaar nie, maar darem rasioneel … billik … wenslik – behalwe in ‘n land waar staatskaping ‘n werklikheid is. In so ‘n land stuur jy eerder ‘n skerpskutter as groete vir jou opponent.

Die punt is, dat saam met al die ander kragte wat Suid-Afrika tans onder druk plaas, die land op die drumpel van ‘n grondwetlike krisis staan en hom reeds óór die drumpel van ‘n konstitusionele krisis bevind.

Waarom? Want oudpres. Jacob Zuma is nie ‘n eensame figuur in die politieke wildernis wat hom teen ongevraagde vernedering verset nie. Hy verteenwoordig ‘n idee, nou wel vir baie van ons ‘n bisarre en onwerklike idee, maar nietemin ‘n idee. Dié idee is die volgende: as jy jou in ‘n posisie bevind waarin jy jouself en jou kring van vriende en familie kan verryk, en as jy boonop geen fout daarmee vind om dit te doen nie, waarom sal jy dit vrywillig prysgee? Die probleem is dat ‘n verstommende groot getal hooggeplaaste ANC-kaders hulle presies in dié posisie bevind en dié gedagte deel.

(Grafika: Verskaf)

As partyleier en staatspresident het Zuma skynbaar baie goed geweet hoe om op dié gedagtegang in te speel en sy vertrek het nie net sy eie posisie en vooruitsigte in gevaar gestel nie, maar ook dié van baie ander lede van die regerende elite, beide politici en amptenare. Abstrakte waardes soos die redelikheid van prosedure of die wenslikheid van deursigtige regering, beïndruk hulle nie genoeg om die konkrete werklikheid van hul gunstige posisies op die spel te plaas nie. Veel eerder verlang hulle ‘n leier wat hul werklikheid begryp en bereid is om dit in beskerming te help neem.

Daarom dat iemand soos Ace Magashule nie lankal en volgens alle billike (?) verwagting (gegewe dat hy tans op strafregtelike misdade teregstaan), uit sy sentrale posisie in die regerende party verwyder kan word nie. Gedagtig aan die gebeure in 2007 binne die ANC, kan mens die moontlikheid nie uitsluit dat hy dalk nog Ramaphosa se opvolger kan word nie.

En dit is nie meer ‘n grondwetlike krisis nie, dit is ook nou ‘n konstitusionele krisis. Dit beteken dat die aard van hierdie politieke gemeenskap wat Suid-Afrika genoem word, in ‘n betekenisvolle sin van die woord nóg aan politiek, nóg aan gemeenskap reg laat geskied. As hierdie konstitusionele krisis nie die hoof gebied word nie – en daar is skrale, indien enige, aanduiding dat dit kan gebeur – sal Suid-Afrika as betekenisvolle woord binnekort tot die verlede behoort.

Kan dit gebeur? Daaroor besin Carel Boshoff en prof. Koos Malan Donderdagmiddag 18 Februarie om 16:30 in die Vryheidstigting se Vrysending, wat regstreeks op Facebook uitgesaai word. Die gesprek sal ook later op die Facebook-blad en YouTube beskikbaar wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jedi Knight ·

Vele (n hele 69%) het in 1992 met sterretjies in hul ogies die feeverhaal van “wigte en teenwigte” en “magsdeling” geglo. n Mede Afrikaner sal tog immers nie openlik lieg nie? Veral nie een met n mooi gladgeskeerde gesig en wie n netjiese pak klere dra nie? Een wat immers n “kerkmens” is. Daar is dan selfs vanaf die kansel verkondig dat die nuwe bedeling reg en Bybels is. Wel, dis wat gebeur wanneer jy dominees en ander goed geklede mense glo.

Dirk Mostert ·

By KODESA het CR vir Roelf Meyer ore aangesit. Dis vandag moeilik om te glo CR kan enigiemand ore aansit.

OW ·

Heeltemal reg.Soveel so dat die afrikaner homself uit politieke mag, geonderhandel het.

annie ·

Die eerste rolprent oor Afrikaìsme word eerste in SA vervaardig en die VSA/Kanada maak ‘n opvolg, natuurlik groter en beter, vol flair en wyedoek-5G, en dan volg Europa en Rusland. Rolprente, want geen regering sal ooit dit herken wat nog erken vir wat dit is nie. Marsmannetjies word gesien, maar Afrika vir wat/wie/hoe dit is, nooit. Indiè is Indiè en dit hou Afrika op sy plek en Sjina… Sjina sal nie praat nie… sy KI-weermag sal die takie vir hom doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.