Vryspraak: Ons misdaad teen die mensdom en die kwessie van oorlewing

(Grafika: Verskaf.)

Ouer Afrikaners raak nogal rebelserig as hulle met die kwessie van apartheid as misdaad teen die mensdom gekonfronteer word. En dan praat ons nie van mense wat geen fout in hul geskiedenis kan erken en geen rede vir verandering kan sien nie. Ons praat van mense wat die einde van wit minderheidsregering ondersteun en selfs help bewerkstellig het.

Dink maar aan die bohaai wat vroeër vanjaar gevolg het op die EFF se beswaar teen pres FW de Klerk se bywoning van die parlementsopening en die manier waarop hy hom druipstert by die heersende orde se siening moes neerlê. Is daar enigeen wat dink dat hy dit glo? Of het hy maar gedoen wat die meeste mense in so ‘n posisie doen: om vir eers die plofbare debat te vermy met ‘n gedagte êrens in die agterkop dat die tyd wel sal leer …

Die hele storie verwys natuurlik terug na die Verenigde Nasies se International Convention on the Suppression and Punishment of the Crime of Apartheid (ICSPCA) wat in 1973 deur die algemene vergadering aanvaar is. Vroeër het pres. De Klerk gesê dat hy dit “nie heeltemal” aanvaar nie omdat dit, ten spyte van oortredings en vergrype waarvoor hy namens die regering verskoning gevra het, nooit die omvang van ‘n werklike volksmoord aangeneem het nie.

Ná die debakel met Malema in die parlement het die FW de Klerk Stigting in ‘n verklaring gesê wat die meeste ouer Afrikaners waarskynlik glo, naamlik dat die hele VN-besluit agitasiepropaganda was wat onder leiding van die Sowjetunie en sy ANC/SAKP-bondgenote van stapel gestuur is om wit Suid-Afrikaners te stigmatiseer deur hulle in een asem met werklike misdade teen die mensdom, soos totalitêre onderdrukking en die slagting van miljoene mense, te noem.

Die openbare veroordeling hiervan was egter so oorweldigend dat pres De Klerk die verklaring teruggetrek het en hom by die heersende konsensus neergelê het. Daarvoor is hy natuurlik uit ander oorde gekritiseer, maar hy het in werklikheid min meer gedoen as die meeste van ons as ons dié ongemaklike debat wil vermy omdat ons nie by magte is om reg daaraan te laat geskied nie. Die meeste van ons beskik eenvoudig nie oor al die toepaslike gegewens nie en wil boonop nie die verlede verdedig asof dit sonder foute was nie. Ons het immers almal met ‘n mate van verligting afskeid geneem van wat as apartheid beskryf word.

Twee artikels het egter sedertdien op daardie onblusbare forum van vrye spraak, Politicsweb (www.politicsweb.co.za) verskyn – een van die historikus prof. Hermann Giliomee en die ander van die joernalis en redakteur James Myburgh. Giliomee skryf op 26 Februarie 2020 ‘n artikel onder die opskrif “The ‘apartheid as a crime against humanity’ question revisited” (nadat hy op 11 November 2019 ‘n artikel met die opskrif “A death warrant for Afrikaans” geplaas het). Ek verwys na laasgenoemde omdat Myburgh intussen op 23 September 2020 ‘n omvattende artikel onder die opskrif “A death warrant for the Afrikaner” gepubliseer het – alles op Politicsweb.

Die punt is dat die geskiedskrywers aan die werk is – en dan verwys ons na veel meer as die populêre en ietwat oppervlakkige opvatting dat “die oorwinnaars die geskiedenis skryf”. In hierdie geval is dit tegelyk waar en onwaar. Die waarheid daarvan is gedemonstreer met die sensuur op wat bedoel was om ‘n gematigde siening van ‘n geradikaliseerde saak te wees, die sensuur waarvoor pres. De Klerk en sy stigting moes swig. Maar die teendeel daarvan blyk weer uit die deeglike en onomstootlike perspektiewe van skrywers soos Myburgh en Giliomee – wat nie een as ‘n “unrepentant apologist for Apartheid” beskryf kan word nie.

Myburgh se artikel gaan dan ook verder as om die hele kwessie bloot histories in perspektief te plaas. Dit doen hy wel en voortreflik, maar hy voer die vraag verder deur die belang daarvan vir vandag en vir die internasionale politiek ter sprake te bring. Waarom was dit byvoorbeeld belangrik genoeg om dié misdaad, wat immers toe al afgesweer en verby was, in 1998 tot die Statuut van Rome, ingevolge waarvan die Internasionale Geregshof tot stand gebring is, te vervat?

Dit gaan kennelik om meer as ‘n historiese misvatting wat ter gelegener tyd reggestel kan word, of desnoods sonder groot skade kan bly staan sonder om deur almal geglo te word. Daarom dat die Vryheidstigting in sy eersvolgende aanlyn gesprek die vraag na “Ons misdaad teen die mensdom en die kwessie van oorlewing” aan die orde stel.

  • Die Vryheidstigting beeldsend Donderdagaand 22 Oktober om 19:00 ‘n gesprek oor “Ons misdaad teen die mensdom en die kwessie van oorlewing” tussen Annemarie Hoogenboezem en Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting en skrywer van NP van Wyk Louw en die derde Afrikaner enVerder as vryheid.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Carel Boshoff

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae