VSA-verkiesing: Kieskollege en watter deelstate om dop te hou

Hillary Clinton. Foto: (AP Photo/Richard Drew, File)

Tydens die 1928-verkiesing in die VSA is Herbert Hoover, die minister van handel in die kabinet van president Calvin Coolidge, tot president verkies. Hoover het sy opponent, die Demokraat Al Smith, in ʼn wegholoorwinning met 58% van die stemme teenoor 41% oorrompel.

In Kalifornië het Hoover 64,69% van die stemme gekry. Sedert 1928 was die beste prestasie vir enige presidentskandidaat in ʼn Amerikaanse verkiesing in Kalifornië Hillary Clinton se 61,73% in 2016. Nie eens Ronald Reagan, ʼn voormalige goewerneur van Kalifornië, kon in 1980 of 1984 dié deelstaat met ʼn groter persentasie wen nie.

Hoewel Clinton nie by Hoover se 65% steun in Kalifornië kon uitkom nie, was haar stempersentasie steeds die beste vir enige kandidaat in byna 90 jaar. Die kanse is wel goed dat die Demokrate se kandidaat in vanjaar se verkiesing, Joe Biden, daarin sal slaag om Hoover se rekord te verbeter. ʼn Mens kan eintlik reeds voorspel dat Biden enorme oorwinnings in deelstate soos Kalifornië, Washington, Virginia, New York, Massachusetts, Illinois, Connecticut, Rhode Island, Delaware en Maryland sal behaal. Jare gelede het die persepsie bestaan dat om ʼn Amerikaanse verkiesing te wen, ʼn kandidaat Kalifornië moet wen. Deesdae moet ʼn kandidaat eerder Florida en Ohio wen om die verkiesing te wen – dit ten spyte daarvan dat Kalifornië die grootste deelstaat is.

Pres. Donald Trump. (Foto: Randy Hoeft/The Yuma Sun via AP)

Clinton het in 2016 op nasionale vlak byna drie miljoen meer stemme as Donald Trump gekry. Tog het sy die verkiesing verloor. Groot oorwinnings in die stedelike, liberale gebiede van die Amerikaanse weskus en in die noord-ooste van die land kon nie opmaak vir verliese in die Midde-Weste, suide en ander meer landelike deelstate nie.

Terwyl die Republikeinse Party se grootste uitdaging die toenemende diversiteit van Amerika is, en veral die diversiteit in deelstate wat hy móét wen, soos Florida, Texas, Georgia, Noord-Carolina en Arizona, is die Demokrate se grootste uitdaging die geografiese konsentrasie van liberale en linkse kiesers in twintig deelstate met groot stedelike bevolkings.

Die Amerikaanse kieskollege

Grafika: Pixabay

ʼn Amerikaanse president word nie na afloop van ʼn verkiesing deur ʼn nasionale stemtotaal bepaal nie. Die Amerikaanse kiesstelsel is sterk gegrond op federalisme en die beskerming van die regte van ylbevolkte landelike deelstate.

Daarvoor is die Amerikaanse kieskollege ontwikkel waarvolgens stemme aan elke deelstaat toegeken word. Die kieskollege bestaan uit 538 lede, en die deelstate met die kleinste bevolkings het elk ʼn minimum van drie verteenwoordigers in die kieskollege. Dit is in ooreenstemming met elke deelstaat se verteenwoordiging in die Amerikaanse kongres (senaat en huis van verteenwoordigers) waar die kleinste deelstate ook ʼn minimum van drie lede in die kongres (twee senatore en een lid van die huis van verteenwoordigers) het.

Elke deelstaat se verteenwoordiging in die kieskollege word dus bereken deur twee lede te voeg by die getal distrikte wat die deelstaat vir die huis van verteenwoordigers het. So het ʼn deelstaat soos Arizona 11 persone in die kieskollege. Arizona het nege distrikte, en saam met die twee senatore het Arizona dus 11 lede in die kongres. Daarom kry Arizona ook 11 lede in die kieskollege. Dit is egter belangrik om te besef dat die kieskollege en die kongres geen verband met mekaar het nie.

Afgevaardigdes na die kieskollege word voor ʼn verkiesing deur die onderskeie partye aangewys. Wanneer ʼn presidentskandidaat ʼn bepaalde deelstaat wen, stuur hy/sy die volle afvaardiging vir daardie deelstaat na die kieskollege. Sou ʼn kandidaat dus ʼn deelstaat met ʼn piepklein meerderheid van die stemme wen, wen hy/sy steeds die volle getal stemme van daardie deelstaat in die kieskollege. Slegs twee deelstate, Nebraska en Maine, laat afgevaardigdes vir die kieskollege toe om volgens distrik toegeken te word.

Die Golden Gate-brug in San Franciscobaai in Kalifornië. Foto: Pixabay

Die beginsel dat landelike, ylbevolkte deelstate ʼn goeie wegspring in die magstryd met stedelike deelstate moet kry, is ook een van die redes waarom elke Amerikaanse deelstaat twee senatore het. Die staat met die grootste bevolking (Kalifornië), met sy byna 40 miljoen inwoners, en die staat met die kleinste bevolking (Wyoming), met minder as 600 000 inwoners, het dus elkeen twee senatore en kry ook uit die staanspoor albei twee lede in die kieskollege. Daarna word by elke deelstaat se verteenwoordiging in die kieskollege een lid bygevoeg vir elke kiesdistrik, wat merendeels volgens bevolkingsgrootte bepaal word.

Die huis van verteenwoordigers bestaan uit 435 lede wat in distrikte verkies word. Elke tien jaar, ná ʼn sensus, word die hoeveelheid distrikte wat elke staat het, herbereken. Tans woon daar ʼn gemiddeld van 710 000 mense in ʼn distrik, met Rhode Island se twee distrikte wat die minste inwoners (530 000 elk) het en Montana se enkele distrik (1 070 000) met die meeste inwoners. Wyoming, wat aan Montana grens, het een distrik wat die deelstaat se hele bevolking (579 000) insluit, wat byna die helfte van Montana se inwonertal is.

Dit is dus vir ʼn kandidaat van geen nut om enorme oorwinnings in 20 deelstate te behaal (soos Clinton in 2016), maar die orige dertig state – en daarmee saam die kieskollege – te verloor nie. Die kieskollegestelsel vereis van politieke partye en presidentskandidate om in verskillende Amerikaanse streke stemme te werf. Dit vereis van kandidate om tot verskillende Amerikaners, met verskillende behoeftes, te spreek.

Nege state sal die president bepaal

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Wanneer ons dus wil probeer voorspel wie die Amerikaanse verkiesing gaan wen, of indien ons die aand ná die verkiesing die verkiesingsuitslae wil dophou, is dit dus belangrik om te besef dat die nasionale stemtotale byna irrelevant is. Dit maak nie saak wie op nasionale vlak die meeste stemme gaan kry nie. Wat ons wel weet, is dat Biden ʼn baie groter kans staan om die meeste stemme te kry.

Amerika is tans ʼn uiters gepolariseerde land en in 41 van die 50 deelstate weet ons eintlik reeds wie daar gaan wen. Beide die Trump- en Biden-veldtogte fokus hoofsaaklik op nege deelstate.

Die 41 deelstate waar ons reeds kan voorspel wie gaan wen, is die volgende: Biden behoort gemaklik te wen in 20 deelstate: Washington, Oregon, Kalifornië, Nevada, Nieu-Mexiko, Colorado, Illinois, Vermont, New York, New Hampshire, Maine, Rhode Island, Massachusetts, Connecticut, New Jersey, Maryland, Delaware, Virginia, Hawaii en Minnesota. Trump behoort maklik te wen in 21 deelstate: Idaho, Utah, Montana, Wyoming, Noord-Dakota, Suid-Dakota, Kansas, Nebraska, Oklahoma, Texas, Louisiana, Arkansas, Missouri, Mississippi, Tennessee, Kentucky, Indiana, Wes-Virginia, Alabama, Suid-Carolina en Alaska. Indien daar enige groot verrassings in die verkiesingsuitslag sal wees, dan sal dit ʼn oorwinning of oorwinnings vir Biden in Texas en vir Trump in Nevada of Minnesota wees. Al drie hierdie moontlikhede is egter onwaarskynlik.

Dit bring ons by die nege deelstate wat ons moet dophou en waar die wenner van die verkiesing bepaal sal word. President Trump moet die meeste van dié state wen om die verkiesing te wen, terwyl Biden slegs twee of drie hoef te wen om die verkiesing te wen.

Arizona

Die Amerikaanse president Donald Trump. (Foto: Evan Vucci/AP)

Arizona was vir dekades ʼn baie konserwatiewe staat wat tussen 1952 en 2016 slegs een keer (in 1996) vir ʼn Demokratiese presidentskandidaat gestem het. Die afgelope tyd het die Republikeinse Party egter heelwat steun in dié staat begin verloor soos wat die bevolkings van minderheidsgroepe, veral persone van Latyns-Amerikaanse afkoms, in Arizona toegeneem het. Daar was die afgelope twee dekades ook ʼn voortdurende migrasie van mense vanaf veral Kalifornië na Arizona soos wat dié deelstaat se ekonomie gegroei het. Die Republikeine het twee jaar gelede ʼn senatorposisie in Arizona verloor, en in 2016 het Trump die deelstaat met 4% gewen. Trump behoort Arizona steeds te kan wen indien hy nie te veel stemme onder gematigde voorstedelike wit kiesers rondom Phoenix en Tucson verloor nie. Die vraag is ook hoe goed die Trump-veldtog in Arizona daarin gaan slaag om plattelandse kiesers in groot getalle by die stembus te kry. Die verstedeliking van Arizona en die meer diverse samestelling van die bevolking is egter ʼn groot kopseer vir die Trump-veldtog.

Iowa

Trump het in 2016 verras toe hy Iowa gemaklik gewen het nadat Barack Obama dié deelstaat twee keer gewen het. Sy oorwinning in 2016 was weens ʼn skerp toename in steun in landelike gebiede, veral in die landbousektor, maar ook weens die behoud van voorstedelike kiesers se stemme in die gebied om Des Moines. Trump behoort Iowa vanjaar weer te wen, maar waarskynlik met ʼn heelwat kleiner meerderheid indien hy voorstedelike kiesers se stemme verloor.

Wisconsin

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Wisconsin was saam met Michigan en Pennsilvanië een van die groot verrassings van 2016. Trump is, net soos in 2016 se peilings, met tussen 6% en 7% agter Biden. Dit is duidelik dat daar in landelike gebiede groot entoesiasme vir Trump is. Sal Trump selfs sy voorsprong in landelike gebiede kan vergroot om op te maak vir moontlike verliese in die voorstede? ʼn Belangrike veranderlike in die meeste van hierdie nege state is ook ʼn verskuiwing in die stempatroon van swart Amerikaners. Peilings wys dat Trump se steun onder swart mans styg. Trump kan steeds die verkiesing wen al sou hy Wisconsin verloor.

Michigan

Michigan was die grootste verrassing in 2016. Trump was in die peilings met meer as 9% agter Clinton en het uiteindelik uit byna 2,6 miljoen stemme wat uitgebring is, ʼn meerderheid van minder as 11 000 gekry. Trump se oorwinning in Michigan was weens ʼn afname in die getal swart mense wat gaan stem het, veral in Detroit, en ʼn skerp toename in plattelandse stemme vir Trump. Net in Detroit alleen het 60 000 minder swart kiesers gaan stem. Michigan is waarskynlik die moeilikste staat vir Trump om weer te wen, maar hy staan steeds ʼn kans om daar te wen.

Ohio

Ohio is ʼn deelstaat wat graag vir die kandidaat wat wen, stem. So het Bill Clinton, George Bush, Obama en Trump telkens Ohio gewen. Tans is Trump ʼn kortkop agter Biden in Ohio, maar dit lyk wel asof Trump hier ʼn redelike goeie kans het om weer te wen. Ohio het ʼn ouer en merendeels wit bevolking wat hoofsaaklik van die werkersklas is. Sou die Trump-administrasie ʼn verlies aan stemme in die voorstede van Cincinnati, Columbus en Cleveland kan keer en ʼn groei in swart steun kan bewerkstellig, behoort hy weer die staat te wen. Sy oorwinning in 2016, toe hy met 8,13% gewen het, was verbasend groot.

Pennsilvanië

Argieffoto

Trump was in 2016 die eerste Republikein sedert 1988 wat Pennsilvanië kon wen. Hoewel daar baie meer Demokrate as Republikeine in die staat is, het Trump se proteksionistiese boodskap tot baie werkersklas-Demokrate gespreek wat vir hom gestem het. Pennsilvanië het twintig stemme in die kieskollege en dit is vir albei kandidate ʼn groot prioriteit om dié deelstaat te wen. Sou Trump hier verloor, moet hy in Wisconsin én Michigan wen om die verkiesing te kan wen.

Noord-Carolina

Noord-Carolina was ook vir dekades ʼn baie konserwatiewe deelstaat wat altyd vir die Republikeine gestem het. In 2008 het Obama daarin geslaag om dié staat te wen. Noord-Carolina het een van die vinnig groeiendste bevolkings in die VSA, veral in groot tegnologiebedrywe, wat meer liberale en jonger stedelinge lok. Die staat se bevolking raak ook meer stedelik en divers, en hoewel Trump Noord-Carolina in 2016 met byna 150 000 stemme gewen het, bestaan daar vrees dat hy veral hier groot steun onder voorstedelike wit kiesers verloor het. Dit is vir Trump noodsaaklik om Noord-Carolina te wen en hy het die afgelope tyd gereeld verkiesingsbyeenkomste daar gehou.

Georgia

Net soos Noord-Carolina was Georgia ook vir dekades ʼn getroue, konserwatiewe deelstaat, maar demografiese veranderinge het dié deelstaat heelwat minder konserwatief gemaak. Die laaste Demokraat wat Georgia kon wen, was Clinton in 1992, hoewel hy slegs 43% van die staat se stemme gekry het. In 2016 het Trump met net meer as 200 000 stemme hier gewen. Trump behoort Georgia vanjaar weer te wen, maar sy voorsprong gaan waarskynlik heelwat kleiner wees.

Florida

Pres. Donald Trump by ’n verkiesingsveldtog in die Van Andel-arena in Grand Rapids, Michigan. (Foto: Cory Morse, AP)

Die afgelope paar dekades het die bevolking van Florida met rasse skrede gegroei, en sodanig dat dié deelstaat nou naas Kalifornië en Texas die derde meeste stemme in die kieskollege het. Elke Republikeinse president van die afgelope een honderd jaar het Florida gewen. Daar is min scenario’s waarvolgens Trump die verkiesing kan wen indien hy in Florida verloor. Trump se amptelike woonadres is ook deesdae in Florida. Hoewel dié deelstaat ook baie divers is, is Trump se kanse hier goed omdat hy sterk steun geniet onder die staat se groot senior bevolking (Florida is ʼn gunsteling aftreebestemming vir Amerikaners), onder die groot weermagteenwoordigheid in dié deelstaat, en onder lede van die Latyns-Amerikaanse bevolking, in die besonder Kubaans-Amerikaners. Trump het Florida in 2016 met ʼn meerderheid van net meer as 100 000 stemme uit ʼn totaal van ongeveer 9,1 miljoen gewen. Florida is ook een van die eerste deelstate waar die stemme getel word. Indien Trump Florida verloor, sal ons kan aanvaar dat hy waarskynlik die verkiesing verloor het, maar wen hy Florida, verskuif die fokus na Pennsilvanië, Michigan en Wisconsin.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese ·

Dankie, Jaco Kleynhans!
Meer volledig en interessant kan die Amerikaanse kiesstelsel nie uiteengesit word nie.
Spesiaal en briljant ontwikkel deur die stigtingsvaders om onewewigtige oorheersing te verhoed.
Hierdie leesstuk word sterk aanbeveel vir gesoute politieke kommentators, sowel as leke, wat die afgelope vier jaar nog nie ophou weeklaag het oor Hillary Clinton se drie miljoen stemme nie.
Voorstelle is selfs gemaak deur ontnugterde ‘demokrate’ dat die kiesstelsel moet verander.
Praat van swak verloorders.

Chris ·

Ek volg gewoonlik nie die VSA se verkiesings nie. Ek het egter nadat Trompie op die toneel verskyn het, ‘n belangstelling begin toon. Ek gaan my nek uitsteek en dit waag om te voorspel dat Trompie vêr gaan wen. Die Demokrate en CNN doen meer vir die Republikeinse verkiesingsveldtog as wat hulself doen. Daar is die stille meerderheid. Die deursnee Amerikaner is ‘n eienaardige wese. Wat ek nie kan kleinkry nie is die ewigdurende aanval op die president. Biden se geraamtes het nog nie uit die kas geval nie. Iemand gaan groot party hou. Iemand gaan hartsverkeurend aan die tjank gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.