Wanneer liberale demokrasie die probleem word

Ernst Roets (foto: AfriForum)

Daar is in die laaste dekade of so veel geskryf oor die tekortkominge van demokrasie. Een besonder treffende opmerking is die argument wat Ryszard Legutko in sy The demon in democracy voer wanneer hy tot die gevolgtrekking kom dat liberale demokrasie uiteindelik tot sosialisme lei.

Legutko, wat aanvanklik onder kommunisme geleef het en later liberale demokrasie in Pole, merk op dat dié twee stelsels eenderse vooronderstellings oor geskiedenis, die samelewing, politiek, kultuur en die menslike natuur deel. Hiermee bedoel hy die verwerping van die idees wat die grondslag van die Westerse beskawing oor millennia heen gevorm het, asook ʼn gevolgtrekking dat ou idees – wat veral uit Jerusalem, Athene en Rome spruit – met moderne idees vervang moet word.

Poolse filosoof Ryszard Legutko (Foto: Beata Zawrzel/NurPhoto)

Dié moderne idees word dan afgedwing deur ʼn magtige staat (die leviatan, soos Thomas Hobbes dit uitdruk) om “vooruitgang” te bewerkstellig. Die mag van die staat is noodsaaklik omdat dié idees oor vooruitgang (hetsy liberaal of sosialisties) strydig is met die menslike natuur en nie bewerkstellig kan word as gemeenskappe gelos word om hulself volgens hul eie gebruike en tradisies te organiseer nie.

Liberale dinkskrums soos Freedom House en die Economist Intelligence Unit het hul kommer uitgespreek oor die voortgesette globale skuif weg van vryheid en nader aan outoritarisme oor die afgelope twee dekades. Hoewel hulle dit nie gewoonlik uitdruklik sê nie, is hierdie dinkskrums daartoe geneig om vryheid te definieer as vryheid vir die ontkoppelde (Engels: disengaged) individu.

Ek gebruik dié term (dit word ook deur die Kanadese filosoof Charles Taylor gebruik) omdat dit nie die individu as deel van ʼn groter gemeenskap met verantwoordelikhede en verpligtinge beskou nie, maar eerder as ʼn wese wat sigself baie maklik van hierdie dinge kan losmaak. Trouens, deur met die groter gemeenskap oor verantwoordelikhede en verpligtinge te praat, word gewoonlik beskou as ʼn ontering van vryheid en ʼn uitdrukking van outoritarisme, omdat verpligting die antitese daarvan is om vir jouself te kies.

Die Kanadese filosoof Charles Taylor (Foto: Horst Galuschka / DPA / dpa Picture-Alliance via AFP)

Wanneer dié dinkskrums hul kommer uitspreek oor hierdie afname in vryheid, bedoel hulle in die reël ʼn skuif weg van individualisme – soos saamgevat deur moderne liberale demokrasie – en nader aan ander politieke idees en ander regeringsvorme. ʼn Pertinente geval is die opmerkings deur die Hongaarse eerste minister, Victor Orban, dat hy nie-liberale (Engels: illiberal) demokrasie in Hongarye wil bevorder.

Dit is algemeen aanvaar as ʼn aanduiding van antidemokratiese, outoritêre neigings. Orban het dit baie duidelik gestel dat hy nie ten gunste is van ʼn tipe demokrasie wat die individu van die gemeenskap losmaak nie. Die Hongaarse benadering is om God, die nasie en die gesin sentraal tot die Hongaarse identiteit te stel, in teenstelling met die individu. Om ten gunste van dié soort demokrasie te wees, word in die hoofstroom aangebied as ʼn skuif nader aan outoritarisme en weg van vryheid.

Viktor Orban (Foto: Attila KISBENEDEK/AFP)

Hierin lê twee probleme. Die eerste is dat enige vorm van demokrasie wat veral nie met die kriterium vir liberale demokrasie strook nie as “ondemokraties” afgemaak word. Die tweede is dat die konsep van vryheid tot so ʼn mate deur individualiste geskaak is dat die verwerping van selfs die mees vernietigende leerstelling van moderne individualisme as ʼn verwerping van vryheid getipeer word.

Volgens dié logika was die uitvinders van demokrasie – die Grieke – geensins demokrate nie, omdat hulle nie hul samelewing op individuele regte gestruktureer het nie. Net so sou stellig die bekendste boek wat ooit oor demokrasie geskryf is, naamlik Alexis de Tocqueville se Democracy in America, nie as ʼn bespreking van demokrasie beskou kon word nie. Die demokrasie wat De Tocqueville in die Amerika van die 1830’s waargeneem en begin waardeer het, is een met ʼn federale politieke bestel wat onderstut is deur ʼn sterk sin vir gemeenskap en ʼn entoesiastiese deelname deur burgers in die strewe na gemeenskaplike voordeel (teenoor wat hy as selfsugtige individualisme beskryf).

Meer belangrik, egter (om weer terug te keer na Legutko se opmerking): Die vreemde gevolgtrekking dat individuele vryheid die enigste maatstaaf van vryheid is, is ʼn heftige verwerping van die grondslag waarop die Weste gebou is. Dit is vir seker ʼn verwerping van die idees wat in Jerusalem, Athene en Rome ontstaan het.

Alexis de Tocqueville (1805-1859)

In die Nuwe Testament koppel die apostel Paulus baie duidelik die konsep van vryheid aan verantwoordelikheid en opoffering, veral selfopoffering. Om vry te wees, is om nie aanleiding tot die vlees te gee nie (Galasiërs 5:13), maar eerder in die vrug van die gees; dit wil sê om goed te doen uit gehoorsaamheid aan God en om nie jou eie belange ten koste van ander te bevorder nie.

Dieselfde geld vir die Atheense konsep van vryheid, wat so passend deur Aristoteles beskryf is as die beweging van potensialiteit tot verwesenliking; dit wil sê om op aarde te doen waarvoor ons geroep is. So ook is die Romeinse konsep van vryheid saamgevat in Marcus Cicero se De officiis (Afrikaans: oor pligte), wat – soos wat die titel aandui – verduidelik dat ons slegs waarlik vry kan wees as ons ons plig teenoor God, ons gemeenskappe, ons nageslag en selfs ons voorouers nakom.

Marcus Tullius Cicero. Romynse redenaar en staatsman (Foto: Ann Ronan Picture Library / Photo12 via AFP)

Volgens Cicero is ons plig teenoor ons voorouers om die goeie wat ons van hulle geërf het vir ons kinders te bewaar. Hy verduidelik dat dit glorieryk is om dit te doen, terwyl dit hoogs oneerbaar is om hierin te misluk.

Om deesdae hieroor te gesels, word egter gereeld aanvaar as ʼn vorm van anti-liberale kettery. In soverre liberalisme beteken dat ons meningsverskille moet respekteer en dat ons nie ons wil op ander wil afdwing nie, is dit inderdaad iets wat ons moet koester en bewaar. Maar in soverre liberalisme ideologiese, ontkoppelde individualisme is wat tot nadeel van die groter prentjie strek, en in soverre dit ʼn verwerping van die basiese grondslag van die Weste geword het, is dit iets wat inderdaad teengestaan moet word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Treurwilger ·

‘n Skitterende stuk deur Ernst Roets, wat ‘n rukkie gelede in Politicsweb ook verskyn het.
Die hoeveelheid leserskritiek op daardie blad het verstom, en wys duidelik hoe daar reeds van “die grondslag waarop die Weste gebou is” afgewyk word.

As Viktor Orban tog maar gekloon kon word …

Treurwilger ·

Nee, ek het weer gaan loer op Politicsweb en is bly om te kan berig dat Ernst Roets loshande die polemiek oor die liberale demokrasie wen.

Marthinus W ·

Ek weet nie of ek Freedom House as n “liberale” dinkskrum sal klassifiseer nie. In my ondervinding is hulle rasieleiers vir Amerikaanse imperialisme.

Chris ·

Roets en Kriel het al die CATO instituut in VSA besoek – glo dit was met goeie bedoeling . Die CATO instituut ontvang egter van hul befondsing van onder andere Soros, Democracy Fund, Wells Fargo, National Immigration Law Centre ens. Daar moet gelet word dat al hierdie ondersteuners van die libertynse ideologiese sentimente soos die CATO instituut, werklik ons demokrasie ondermein ter bevordering van die sogenaamde “Elite”. Daar is ‘n aantal “usefull idiots” wat geblindhoek die agenda van die versteekte hand bevorder, en ons moet waaksaam wees dat ons nie daarby ingesleep word nie. Ek hoop dat ons geloofs-grondslag en gesonde verstand sal seevier.

Nettie ·

Goed gestel, Chris. Ons geskiedenis het gewys dat ons alte gereeld deur hierdie versteekte hand se mooi stories en beloftes en idees of omkoopgeld val, en ons kom altyd die slegste daarvan af.

God hou nie van dinge wat “weggesteek” moet word nie. As mens dit in die geheim moet doen, is die grondslag klaar verkeerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.