Wat sê die Britte met Brexit?

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Die uitslag van die sogenaamde Brexit-referendum – 51,9% vír Britse uittrede uit die Europese Unie (EU) en 48,1% daarteen – het regoor die wêreld ʼn duisternis ontleders na hul penne (of eerder rekenaars) laat gryp. Die groot vraag is: Wat het die Britte nou eintlik daarmee gesê?

As ʼn mens die reaksies op Afrikaanse media se berigte en kommentare lees, lyk dit of baie lesers die uitslag simplisties op grond van hul eie ideologiese uitgangspunte benader. Baie, ofskoon nie almal nie, sien dit as ʼn bevestiging van die belang van etniese identiteit, van nasionalisme teenoor internasionalistiese identiteitloosheid, van konserwatisme teenoor liberalisme.

Dié mense is nie heeltemal verkeerd nie. Dit hét wel deeglik ʼn rol gespeel. Maar as jy die uitslag in sy volle omvang ontleed, blyk die prentjie – soos eintlik maar alles in die lewe – veel meer genuanseerd te wees, eerder grys as ʼn duidelike swart-wit.

Die stemgedrag oor die hele Verenigde Koninkryk was uiters interessant. Dit het ʼn hele aantal breuklyne in die land blootgelê wat kris-kras loop en op ʼn hele paar plekke oorvleuel of selfs teenstrydig is.

Om mee te begin, het dit ʼn duidelike verskil tussen ouer en jonger kiesers aan die lig gebring. Byna driekwart (73%) van die kiesers jonger as 25 jaar het téén Brexit gestem, teenoor 60% van dié ouer as 65 jaar wat vír uittrede was.

Tussen dié twee ouderdomsgroepe neem die steun vir Brexit toe saam met ouderdom. Vir diegene tussen 25 en 34, was die steun vir lidmaatskap 62% en by dié tussen 34 en 45 het dit afgeneem tot 52%. Altesaam 56% van die kiesers tussen 45 en 54 was vír Brexit en dit het by dié tussen 54 en 65 tot 57% toegeneem.

Die ooskus het inderdaad in streke waar die meeste afgetredenes woon, oorweldigend uittrede gekies.

Die rede hiervoor, meen ontleders, is dat die ouer Britte nog nostalgies is en verlang na die dae toe Brittanje op sy eie ʼn groot moondheid met ʼn ryk was. Die jonger mense ken dit nie; hulle ken slegs ʼn Brittanje as deel van die EU. Hulle is meer internasionaal in hul lewensbeskouing as die ouer geslag.

Die probleem is die jonges het nie sterk genoeg gevoel om in groot getalle te gaan stem nie. Aansienlik minder van hulle het by die stembus opgedaag as die oueres.

ʼn Tweede breuklyn is klas. Altesame 57% van die kiesers in die hoër inkomstegroepe wou in die EU bly, terwyl 64% van dié met laer inkomstes wou padgee. Dit word bevestig deur die meeste gegradueerdes wat wou bly, teenoor die ongestudeerdes wat wou uittree.

Van die kiesers met die laagste opgeleiding, mense sonder enige kwalifikasie, het 75% vir Brexit gestem. Onder die gegradueerdes was dit net bo 30%.

Die kloof blyk ook uit die stemgedrag van etniese groepe. Wittes wou naelskraap (53 teenoor 47%) weg van die EU. Van die Asiërs wat in Brittanje woon, wou 67% en van die swartes ʼn volle 73% in die EU bly.

Dalk nog belangriker was die inheemse etniese kloof. In Skotland was 62% van die kiesers vír die EU en in Noord-Ierland 56%. Die stemgedrag van die Walliesers het min of meer die landwye uitslag gevolg, terwyl 53% van die Engelse teen voortgesette lidmaatskap gestem het.

Dit het op kort termyn die Skotse onafhanklikheidsideaal weer laat opvlam. Die Skotse eerste minister, Nicola Sturgeon, het laat blyk dat sy ʼn tweede referendum oor onafhanklikheid in Skotland wil laat hou.

In 2014 het die onafhanklikheidsgesindes met 45-55% verloor, maar hulle meen hulle staan in die huidige omstandighede ʼn beter kans.

En ook in Noord-Ierland borrel dit onder die oppervlak. Katolieke – eintlik maar etniese Iere – praat al oor ʼn referendum om Ierland te herenig.

Nog ʼn interessante feit is dat byna 60% van die inwoners van Londen, maklik een van die mees internasionale en kosmopolitiese stede ter wêreld, in die EU wou bly. Elders in Engeland, veral op die platteland, was die steun vir uittrede oorweldigend.

In Londen gaan al stemme op – waarskynlik meer ironies as iets anders – dat die stad hom van Brittanje moet afskei.

Luidens ʼn peiling het 49% van dié wat vír Brexit gestem het, dit gedoen om te verseker belangrike besluite word in Londen geneem, pleks van Brussel. Slegs ʼn derde het as rede aangevoer Brittanje moet beheer oor immigrasie behou – ʼn interessante uitslag, gesien in die lig van die groot klem wat die Brexit-kamp in die veldtog hierop geplaas het.

Wat sê dit alles?

Allereers Engelse nasionalisme het ʼn beduidende rol gespeel. Britse nasionalisme veel minder.

In die tweede plek was dit ʼn klasse-opstand teen die elite. Dit was die armer mense, wat in die kapitalistiese Thatcher-revolusie uitgesak het, wat ʼn middelvinger na die elite gewys het met die boodskap dat hulle verwaarloos voel en meen niemand luister na hulle nie.

Derdens het jonger mense gewys hulle is veel minder nasionalisties as die oueres. Maar ook dat die dinge wat die ouer mense so opgewonde maak, hulle nie veel kan skeel nie.

Nietemin het die meeste jonges saamgestem in ʼn peiling met ʼn stelling dat die Brexit-besluit beteken hulle sal veel langer met die gevolge as die ouer geslag moet saamleef. Hulle verkwalik die ouer mense daarvoor.

In die vierde plek het die Skotte en etniese Iere in Noord-Ierland hul stert teen die Engelse gelig. Die dreigement dat die Skotte kan besluit om van Brittanje weg te breek, het ʼn rol in die referendumveldtog gespeel, maar die Engelse het vermoedelik besluit dis ʼn onbeduidende moontlikheid.

Ten slotte was dit opvallend dat die “Remain”-kamp oorwegend op rasionele argumente – ekonomiese skade, vrede in Europa, invloed in Brussel, ensovoorts – staat gemaak het. Die “Brexiteers” het hoofsaaklik op mense se emosies gespeel, wat wys dat emosies dikwels ʼn aansienlik belangriker rol speel wanneer mense moet besluit waar hulle hul kruisies gaan trek.

ʼn Mens sou dit seker kon betreur, maar dis wel deeglik ʼn politieke feit waarmee ontleders rekening moet hou. En waar Suid-Afrika aan die vooraand van munisipale verkiesings staan, is dit ʼn gedagte wat ʼn mens sekerlik nie uit die oog moet verloor nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Hierdie hele Brexit-sage was interessant om dop te hou en die dramas hou net nie op nie.

Die jonger stedelinge wat ontevrede is met die uitslag en ‘n demokratiese besluit d.m.v. ‘n petisie beveg, het hopelik op die harde manier geleer dat ‘Twitter en Tweet’ ‘n mens nêrens bring nie. Daag by die stembus op as ‘n saak vir jou belangrik genoeg is! Die Britte in die plattelandse dorpies waar die skole oorvol is en die mense nie werk kry nie a.g.v. die “migrant”-kwessie het gaan stem, want dit was vir hulle ‘n saak van oorlewing.

David Cameron se impromptu bedanking stem baie ooreen met die jonger garde se dikbek-houding en stel uiters teleur. I.p.v. om nou sterk leiding te toon, selfs al het hy nie sy sin gekry nie, is die indruk dat Brittanje planloos ronddobber.

Nou word Theresa May voorgestoot as nuwe leier bó Boris Johnson … dit terwyl sy binne die EU wil bly, m.a.w. sy is téén die wil van die meerderheid?! “Mind boggling”…

Arak ·

Dankie vir ‘n interessante kyk na Brexit,

My vraag is net waar kom die statistiek vandaan wat so mildelik aangehaal word, soos byvoorbeeld dat “mense sonder enige kwalifikasie 75% vir Brexit gestem het”; dus, per implikasie was dit dommes en onopgevoedes wat Brexit gesteun het?

Is dit nie dalk dieselfde valse statistiek wat algemeen deur die media voor die referendum uitbasuin was dat die Brexit stem gaan verloor nie?

Ongelukkig het ek maar my bedenkinge oor baie van hierdie sogenaamde “statistieke”. Die enigste feit is dat die Brexit stem wel gewen het.

Verder aangaande die emosionele stem. Is die moord van Jo Cox en die gepaardgaande manipulasie van mense se emosies deur die media om juis teen Brexit te stem, en die feit dat Engelse toe wel vir Brexit gestem het na dit alles, nie eintlik eerder ‘n aanduiding dat mense juis nie met hulle emosies gestem het nie maar met hulle verstand.

Omdat mense nie gestem het soos die wêreld heersers verwag het nie moet hulle mos nou “dom”, “oud” “wit” en emosioneel gewees het…

Laastens wil ek die voorspelling waag dat Trump Amerika se volgende president gaan wees en met ‘n baie groot meerderheid, want daardie “dom”, “ou”, “wittes” gaan ook vir hom stem ten spyte van alles wat die media se “slimmes” vir ons vertel.

Leopold Scholtz ·

Beste Arak, dit is gebaseer op sogenaamde “exit polls”. Met ander woorde, as die mense by die stembus uitloop, kry hulle ‘n vorm met ‘n klomp vrae wat hulle kan invul. Soos alle peilings is dit nooit 100% akkuraat nie, maar dit gee ‘n goeie algemene beeld. Die syfers is in al die Britse hoofstroom-media gepubliseer, onder meer in The T imes, The Guardian, The Daily Telegraph, The Daily Express, asook in vastelandse koerante in Duitsland, Frankryk en Nederland. Jy kan die syfers aanvaar as min of meer korrek. Lekker dag vir jou!

Theuns ·

Dankie Leopold. Jou kommentaar is baie insigewend! Kan jy jou indink wat sal in SA gebeur as die grense oopgestel(Dit is eintlik oop) word in SA en daar Vryheid van Beweging is soos nou tans in die EU? Het Mbeki dit nie bepleit nie? Kyk die lat wat ons vir onself gepluk het met die Oorgrens Parke? Die doel was om dit oop te maak vir diere maar nou is dit oop vir mense om te roof en steel!

Wicus ·

Stem met jou saam Theuns, ook oor Leopold se hoë standaard.

Ek vind dit baie amusant hoe ontleders/ekonome/weervoorspellers na die tyd sê hoekom dinge nie verloop het soos hulle gedink het nie. Ek dink ons verstaan gladnie wat tans in die wêreld gebeur nie.

Hou vas broer, hier kom rowwe tye!

SkarrelKind ·

Theuns, met die hoeveelheid vreemdelinge in ons land, is dit vir my amper net so goed as oop grense. Daar is nie keer aan die hoeveelheid vreemdelinge wat intrek hier neem nie.

Piet ·

Ag-nee Leipold. Die blyers rasioneel maar die Brexiters emosioneel? Is dit rasioneel om deur ‘n ondemokratiese stelsel regeer te word? Vertel vir die jeug in Griekeland en Spanje ( 50% werkloosheid) van die ongelooflike eknomiese voordele wat die EU inhou. Die EU is ekonomies en kultureel ‘n sinkende skip. Saam met Antartika die enigste kontinent wat nie ekonomies kan groei nie. Switserland en Noorweë wat in dieselfde gebied is, maar nie deel is van die EU nie is alle lede van die EU voor wat inkomste per kapita en lewenskwaliteit betref. Dit moes seker ook maar die ongeskoolde, wit ou mense gewees het wat destyds die regte besluite vir die 2 lande gemaak het.

Victor ·

“Correlation does not imply causation”

En wat van die feit dat Duitsland ‘n uitstekende ekonomie binne die EU het? Griekeland het ‘n vet staatsdiens en baie betaal nie belasting nie wat bydra tot hulle toestand.

jcwf ·

Wat wil jy sê met ‘n ondemokratiese stelsel? Die Engelse House of Lords of die Europese Parlement wat deur ons direk gekies word?

O, ja die EP het beperkte magte. Dis waar.

Dis jaar omrede Engeland dit altyd gesaboteer het… Hulle old boy network het dit nie gewil nie. Die waarheid is dat Engeland meer hervormings nodig het as die EU. Kyk net na die gemors wat hulle ‘n regering noem. Die EU het leierskap wat funksioneer. Die Engelse het twee partye wat nie funksioneer nie. In volle krisis beveg hulle hulself.

Piet ·

JCW F. Ja ondemokraties omdat die britte nie wetgewing kan inisieer nie en ook omdat hul nie veto reg op sekere wetgewing het nie.
Victor- Ek probeer nie bewys dat die EU noodwendig sleg vir ekonomië is nie. Indien jy erken korrelasie nie noodwendig lei tot oorsaak nie, dan is dit goed so. Dan erken jy dat Brexit dalk geen impak op die britte se ekonomie sal hê nie. Singapoer, Switserland en Noorweë bewys dat ‘n klein onafhanklike land met die regte beleid en menslike hulpbronne die hooste lewenspeil kan bereik.

Disselboom ·

Dit was seker ‘n rasionele besluit dat byna 69% van die toentertydse blanke kieserskorps in die 1992-referendum die groen lig gegee het vir die onderhandelinge wat tot die Nuwe Suid-Afrika gelei het. Die stempersentasie was 85 -86% (bronne verskil).

Dis klein meerderheid in die Brexit-stemmery is dalk ‘n groter stuk problematiek (onsekerheid en verdeeldheid) as enige ander statistiek. Ten minste het ons in Suid-Afrika die mandaat duidelik gegee, met meer as twee-derdes.

Interessant dat die republiek verkry is met net meer as 52% in 1960. En tog was dit ‘n sukses. Hoekom?

cobusp ·

Interessant is dat dit is die ou gaarde wat bepaal het dat Brittanje moet wegbreek uit die EU net gemiddeld 16 jaar met die besluit moet saam leef dan is hulle dood…………die arme jeug of jonger gaarde wat teen dit gestem het en verloor het moet iets soos 50 jaar en langer met die besluit saam leef…………Dit wys al klaar hoe skeef en krom die hele proses was. Dit sal baie onregverdig wees as die wegbreek van die EU langtermyn n baie negetiewe effek op die land se mense en ekonomie gaan he wat die jonger geslag die meeste gaan raak en dit was nie hulle besluit nie. Weens moderne wetenskap en medisyne leef mense baie langer en ongelukkig het is die ouer mense in Brittanje baie meer in getalle as die jonger mense……

cobusp ·

Wat ek probeer se is as volg. Wanneer jy jou testament opstel advisser die kundiges om dit prakties en uitvoerbaar te maak sodat die agter blewenis kan aangann met hulle lewe, anders as om n testament op te stel waar jy nog steeds jou familie regeer uit die graf uit……….Nou dus presies wat gebeur het die ouer mense gaan almal afsterf in die volgende paar jaar maar hulle gaan die oorlewenis nog steeds regeer uit die graf uit met hulle besluit om weg te breek……….sit dit in jou pyp en rook dit….

Therese van Schalkwyk ·

cobusp

Dit werk met alles so in die lewe … bv. huidige generasies se grootste nalatenskap is ‘n besoedelde aarde wat verswelg word in plastiek. Moenie dink hulle gaan hul gerief opgee ter wille van dié wat nog gebore moet word nie.

Daar was niks “skeef en krom” aan die proses nie. Jongmense moes hulself bloot ‘n oomblik weggeskeur het van hul selfone en ander skerms en gaan stem het dan is hulle nie nou die “slagoffer-sindroom” gespaar. Dit blyk in elk geval dat hul grootste vrees is reisplanne wat effens verontrief sal word binne die EU (paspoorte moet dalk uit sak gehaal word) en het baie min met die ekonomie te doen.

Die Britse Pond toon alreeds tekens van herstel. Die grootste “skok” met die hele Brexit-sage is die feit dat die Britte en hulle leiers net één uitslag verwag het met geen gebeurlikheidsplanne.

Therese ·

… dan was hulle nou die “slagoffer-sindroom” gespaar.

John ·

Miskien kan Leopold vir ons verduidelik wat en hoe die EU alles beheer. Dit wil voorkom of die magtige organisasie nou die eintlike en oorkoepelende regering van die onderskeie lande is en die regerings, soos ons plaaslike regerings dien: Alle opdragte kom van ‘bo’. Lande se probleme word met EU-tentakels omklem en ingespan om hul magteloos en afhanklik te laat, soos Griekeland wat die grootste gros van die vlugtelinge uit Sirie en oos moet hanteer en nie durf weier nie omdat sy skuld en lenings soos ‘n swaard oor sy kop hang. Die manier wat die EU-leierskap kommunikeer — die meerwaardige venyn — spreek boekdele. Vrese oor werkloosheid laat werkers vir oop grense stem; ‘n sluwe wapen in die hande die EU om nie sy houvas op lande en hul beursies te verloor nie. Europeers se vrese hou die EU in stand en ironies tog is die’ land wat destyds vrees sy beslag gegee het, Duitsland, nou die kamtige voorste hoeder van Europa & kie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.