Wat sit agter Frankryk se geelbaadjie- protes?

Betogers loop deur traangas tydens betogings in Parys (8 Desember 2018) (Foto: AP Photo/Rafael Yaghobzadeh)

Die massabeweging van die “gilets jaunes” (geel baadjies) hou Frankryk nou al vir meer as drie weke aan ʼn lyntjie. Wie is die Geelbaadjies? Ons sit hier met ʼn verskynsel wat waarskynlik in die era voor sosiale media nie moontlik sou gewees het nie. Die Geelbaadjies is nie georganiseerd in ʼn politieke party of vakbond nie. Hulle is nie regs of links nie. Hulle het geen leier nie, wel ʼn klomp eise en ʼn saambindende woede teen die regering.

Die frustrasie het lankal opgebou. Die lont aan die kruitvat was blykbaar ʼn YouTube-video van ʼn gewone vrou waarin sy haar frustrasie met die daaglikse stryd om finansieel kop bo water te hou uitgedruk het, terwyl die regering, gesteun deur ʼn globalistiese elite, een wet en belasting na die ander instel.

Dit is egter nie ʼn klassestryd volgens die ou lees nie. Die beweging is heeltemal te divers daarvoor: dis jonk en oud, mans en vroue, laer klas en middelklas, stad en platteland. Die kern van die Geelbaadjies se saak staan só: Die politieke en kulturele elite bemoei hulle met wêreldkwessies van dekades of eeue van nou af, maar ons sukkel om dit finansieel te maak tot die einde van die maand. Baie Franse kan hulle daarmee vereenselwig en steun die Geelbaadjies. Omdat die Geelbaadjies geen leier en geen politieke party het nie, is dit moeilik om hulle te diskrediteer en ook om met hulle te onderhandel. Dit is eintlik vir elke regering ʼn nagmerrie: ʼn spontane massabeweging uit alle oorde van die samelewing sonder ʼn duidelike ideologie of leier.

Dit gaan oor die hoë lewenskoste, oor die duur huurtariewe, spesifiek oor die nuwe dieselbelasting wat dit vir gewone mense al hoe moeiliker maak om by die werk te kom, terwyl die elite so ryk is dat dit hulle nie raak nie en hulle ʼn ekologiese lewenstyl (met elektriese motor en woonstel in die middestad) leef omdat hulle dit kan bekostig. Maar dit gaan oor meer as dit, laasgenoemde is net simptome. Dit gaan te diepste oor ʼn woede jeens en teleurstelling in pres. Emanuel Macron en sy binnekring. Macron is meer as ʼn jaar gelede gekies as die messias wat ʼn nuwe verenigde Frankryk belowe het en wat die vermeende spook van ʼn verregse en verdelende presidentskandidaat Marine le Pen gekeer het.

Die oorsaak van die protes spruit uit die goeie bedoelings van die regering wat te ver gegaan het. Almal is ten gunste van ʼn gesonde omgewing, maar dit is onnodig om die kernkragsentrales wat werk of moderne dieselvoertuie met windmeulens en elektriese motors te vervang om ʼn ekologiese Shangrila te skep, terwyl Frankryk se bydrae tot besoedeling nie eers ʼn druppel aan die emmer is in vergelyking met China, Indië of die VSA nie.

Dit is deesdae ʼn algemene verskynsel in die Weste: ʼn elite in politiek, media en die kunste wat heeltemal verwyder is van die gewone mense, wat in hulle globalistiese ivoortoring leef en wat hulle met “edele” sake soos wêreldvrede, klimaatverandering, wêreldwye migrasie ensovoorts bemoei, maar nooit ʼn gewone werk gehad het nie en nie weet hoe die gemiddelde mense lewe en wat hulle bekommernisse is nie. Macron is die vergestalting van die elite: Self het hy geen kinders nie en is getroud met ʼn ryk vrou toe hy nog baie jonk was. Van die harde werk om ʼn gesin te onderhou weet hy niks nie.

Die betogings het begin op 17 November en vind sedertdien elke Saterdag reg oor Frankryk plaas, met honderde duisende deelnemers, met die meeste betogers in Parys. Dit het grootliks vreedsaam verloop, maar saakbeskadiging het op plekke voorgekom. Met verlede naweek se betogings was daar ʼn baie sterk polisieteenwoordigheid om geweldpleging te voorkom. Macron het die betogings eers lank geïgnoreer of selfs daaroor gespot en eers ná gewelduitbarsting gereageer met toegewings soos ʼn verhoogde minimumloon, uitstel of afskaf van sekere belastings op diesel en op oortyd. Waarskynlik is dit te min, te laat.

Sal die Geelbaadjies weer gewone, wetgehoorsame burgers word ná ʼn paar materiële toegewings, of is dit die begin van ʼn populistiese massabeweging wat een dag die regering oorneem? ʼn Mens weet nog nie, maar frustrasies bou oor ʼn lang tyd op en gaan nie net oor enkele vraagstukke wat vinnig opgelos kan word nie. Dit is eerder ʼn gevoel as konkrete eise. In Frankryk verteenwoordig geen politieke party die gevoel van die meerderheid nie.

Toe Macron met sy kitsbeweging “La Republique en Marche”, wat nóg regs nóg links is, na vore gekom het, het talle gedink dat hy die redder is. Dit was egter ʼn beweging sonder substansie, gebou rondom een mens. In Italië het oor jare die populistiese Vyf Sterre-beweging ontstaan en hierdie jaar saam met die regse Lega die regering gevorm. Dalk onstaan ook in Frankryk ʼn populistiese party oor breë brood-en-botter-sake wat die ou elite wegvee en ʼn nuwe bedeling inlui. Frankryk se ekonomie, veral die arbeidsmark, het dringend hervorming nodig. Nog geen president kon dit egter regkry nie. Waarskynlik sou die meerderheid mense dit insien en saamwerk as dit deur ʼn leier geïnisieer is wat een van hulle is en wat self bereid is om sy lewenstyl af te skaal ter wille van die land se herstel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

John ·

Macron is tipies die bulhond wat telkens die bakkie vang, maar nie weet wat om daarmee te maak nie. Hy het skaars soos Napoleon in Parys voor die wereld hand-op-die-bors en mooi gegrimeer almal en mamma in vervoering gehad… selfs vir oupa Trump geroskam, toe trek die volk die matjie onder sy voetjies uit. Sy gesig spreek boekdele oor sy ervaring as leier,.. ‘n blanko(-tjek) onder die Franse poeieronderlaag (‘n donkerder toon om die neus reguit te vertoon vir die tv-kameras)…. Wat wil die geelbaadjies nog he…. se, se… en die kamakazi-loods, Juncker, smile want nog ‘n landjie is in sy peetjie…. llll/…. €, ha, ha…

Stephan de S ·

Mag elke politikus en kommentator die waarheid van hierdie artikel snap :haal jou kop uit die wolke en sien die stryd vd gewone mens op straat raak en gebruik jou politieke mag om hom/haar moed te gee in n omgewing waar reg kan gedy……en ook entrepreneurs kan floreer.

Jerry ·

Die lewenskoste is eenvoudig te hoog vir gewone mense om kop bo water te hou. Macron en sy administrasie het gefaal om Ekonomiese hervorming in te stel wat die gehalte van lewe van gewone mense sou verbeter het. Macron kon doodeenvoudig nie sy beloftes gestand doen nie omrede hy erg tekort skiet aan lewenservaring en lewenswedervaringe wat hom nader aan die mense en hulle behoeftes kon plaas. Macron is n jong dinamiese een dimensie gladdebek politikus, hy is nie n leier van mense en vir mense nie. Dit sal baie beter gaan in die wereld wanneer gewone mense hulle leiers uit gewone mense kies wat n eerbare en hardwerkende pad gestap het en wie in voeling is met die werklikhede van die tyd. Die mense van Frankryk se eintlike leier loop tussen hulle rond met n geel baadjie aan!

Sê Maar Net... ·

@AW, Suid Afrikaners, uitsluitend minderheid Suid Afrikaners doen dit reeds, hulle noem dit net service delivery protests en apartheid…

Sebastiaan ·

Het ek ook al gewonder. Ek sou reken die blote feit dat daar geen gemeenskaplike identiteit in Suid-Afrika is nie. Daar is diensleweringsproteste van die arm swartmense, maar dit is ongeorganiseerd en gewoonlik lokaal, terwyl die hoofsaaklik wit middelklas ander sorge het, al is al twee groepe s’n breedweg ekonomies van aard. Die regering in SA speel die rasse teen mekaar af, iets wat in Frankryk, waar daar nog iets soos ‘n staatsvolk is, nie moontlik is nie.

DewaldS ·

Die Franse kon vir Marine le Pen gestem het. Dan het hulle ‘n leier gehad wat omgee vir Frankryk en sy mense. Toe glo hulle ALWEER al die media-narratiewe en hulle stem vir ‘n marionet van die geld-mag. Nou begin hulle dit besef. maar hulle is kwaad vir alles en almal behalwe hulle-self. Volgende verkkiesing glo hulle weer die media se stories oor hoe ver-regs Le Pen is en hoe verkeerd dit is om eerste vir jou iee mense te sorg en dat hulle slegte mense sal wees as hulle vir haar stem.

Terminale onnoselheid – en dis orals in Europa so!!

Trots Franse burger ·

Goed geskryf, Sebastiaan. Wat kommentaar-leweraars betref: Hoekom wil Suid-Afrikaners altyd alles met SA vergelyk ? Ons woon al ‘n paar jaar in Frankryk, dis ‘n fantastiese land wat baie bied aan sy burgers. My kinders kry hoë gehalte onderwys, mediese sorg is uitstekend, publieke vervoer is veilig & betroubaar, ens. Glo my, die lys is lank.

Therese ·

Dit is heel waarskynlik omdat ‘n mens jou soms in die skoene van bv. die geel baadjies van Frankryk, die Brexiteers en heelwat Trump-ondersteuners behoort te plaas van wie die samelewing vergeet het. Nie almal tel onder die bevoorregte mense in enige spesifieke land nie.

Merkur ·

Sien dit ook soos Therese. Buitendien is dit spannend/interessant om alles met Suid-Afrika te vergelyk. Omgekeer gebeur dit ook. Europeërs vergelyk ook ontwikkelinge in Suid-Afrika met hulle eie situasie.

Twakkie ·

In die kol. Die gewone werkers- en werkende middelklas in die VSA het die buitengewone geluk getref dat ‘n biljoenêr- New Yorkse eiendomsontwikkelaar namens hulle in die politieke kryt geklim het teen die asemrowend korrupte heersersklas van loopbaanpolitici, Hollywoodsterre en goedbesoldigde mediamense. Die heersersklas baklei terug op maniere wat presies aantoon hoe laag hulle bereid is om te daal om hul gevestigde belange te beskerm. Trump gee die gewone mense in Europa moed, maar ‘n mens moet buite die hoofstroommedia soek na nuus van en oor dié groepe. Sonder sosiale media sou gewone mense nóóit die korrupte heersersklas kon teenstaan met die propagandamasjien van die hoofstroommedia aan laasgenoemde se kant nie. Ek meen tog die tyd is ryp vir ‘n ommekeer in die gevestigde linkse wêreldorde, dit het net té korrup geraak. En soos dié skrywer sê, heeltemal behep met ideologie en los van die werklikheid waarmee gewone mense daagliks worstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.