Wat van die kaderkaping, Cyril?

James Kemp (Foto: Verskaf)

“Min mense sou kon raai tot watter dieptes die land getrek sou word weens gierigheid, selfsugtigheid en magsmisbruik.

“Min mense sou kon raai dat onder die leierskap van ons openbare instellings, van binne ons sakekringe, vanuit ons openbare ampsdraers en amptenare, ʼn netwerk met ʼn kriminele agenda na vore sou tree.

“Min mense sou kon raai dat dié groep mense sleuteldepartemente van die regering, staatsbeheerde ondernemings, privaat maatskappye, wetstoepassingsagentskappe en veiligheidsdienste sou infiltreer om openbare fondse in groot bedrae te plunder en staatsinstellings te verswak en te vernietig en sodoende die regering se uitvoerende vermoë verminder.”

Met hierdie inleidende woorde het president Cyril Ramaphosa bevestig tot watter mate van ontkenning hulle geleef het in die era van staatskaping. Nie in ontkenning oor die feit dat staatskaping plaasvind nie, maar in ontkenning oor die ingeligtheid van die publiek.

Daar was talle nuusberigte en parlementêre vrae wat navraag gedoen het oor verdagte aanstellings en vreemde staatskontrakte wat dit duidelik uitgewys het dat die media en opposisiepartye nie onbewus was van die ongerymdhede wat op die hoogste vlak plaasvind nie.

Die president en sy ANC-kaders was egter in ’n staat van ontkenning oor die hoeveelheid inligting wat buite die ANC-bende se kring beskikbaar was.

Ramaphosa het Sondagaand aangekondig watter aanbevelings van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in werking gestel sal word. Dit sluit in dat ministers en lede van staatsbeheerde ondernemings se rade verbied sal word om direk by verkrygingsprosesse betrokke te wees. Raadslede en uitvoerende amptenare van staatsbeheerde organisasies sal ook nie meer goedsmoeds verwyder en aangestel word nie.

Leefstyl-oudits van die president, adjunkpresident, ministers en adjunkministers sal deur ’n onafhanklike entiteit gedoen word.

Die kommissie se aanbevelings oor die kiesstelsel sal eers breedvoerig in die parlement bespreek moet word omdat dit sal vereis dat wette en die Grondwet verander. Die kommissie het onder meer gevra dat die kiesers van die land die president regstreeks verkies.

Daar was verskillende reaksies op Ramaphosa se aankondiging met die oorgrote meerderheid wat duidelik vertroue in die regerende party verloor het en nie meer opgewonde raak as daar beloftes oor die uitroei van kriminele aktiwiteite in die regering gemaak word nie. Niemand hou meer asem op dat die tronkdeure eersdaags agter staatskapers sal toeklap nie.

Ons het geleer om nie te veel te verwag nie. Ook nie van die ridder Ramaphosa wat vyf jaar gelede op sy wit perd aangery gekom het om die land en sy mense te red nie.

Ons moet onthou dat die “ridder op die wit perd” ook in die saal was as adjunkpresident van die ANC en die land toe staatskaping hoogty gevier het. Nog belangriker was hy voorsitter van die kaderontplooiingskomitee wat verseker het dat die regte mense, of dan die regte lojaliste, in strategiese posisies beland het.

Iets wat Ramaphosa gerieflikheidshalwe verswyg het, is dat die Zondo-kommissie bevind het dat staatskaping gefasiliteer is deur die aanstelling van beïnvloedbare individue in sleutelposisies by staatsinstellings.

As Ramaphosa werklik ernstig was daaroor om staatskaping uit te roei sou hy die onderneming uitgespreek het dat kaderontplooiing iets van die verlede is en dat die ANC hom daartoe verbind om die beste persoon en nie die lojaalste kader in ʼn posisie te plaas nie.

Hy het dit egter nie gedoen nie, want uiteindelik is Cyril self steeds ʼn ANC-kader wat hom beywer om aan die einde van die jaar weer in die topposisie van sy party verkies te word.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Manie ·

Hulle is almal korrup, dus het Ramaphosa net ‘n keuse tussen die aanstelling van hoogs korruptes en minder korruptes.

Groen Ghoen ·

‘n Puik artikel. Mag mense Ramaphosa sien vir dit wat hy is: Die leier van die misdadige bende ANC kaders wat S.A. beheer.

Vincent ·

Ou Cyril is maar net so korrup en skelm soos die res van die ANC bende!

Jakes ·

Ek hoop hierdie onbeholpe president wprd deur sy eie party uit die kussings gelig. Hoogtyd dat ons n ander nar in sy plek kry sodat ons opnuut kan sien hoe ontsettend hopeloos hulle is.

SwartBees ·

Wat my bang maak van n nuwe nar is of hy vir homself en sy maatjies gaan sorg of gaan hy daar wees om die land reg te ruk.

Kokerboom ·

Mnr Ramaphosa het ‘n goue geleentheid laat verbygaan om vir altyg ‘n massiewe verskil in SA te maak! Hy beskik oor intellek MAAR sy partypolitieke verknogtheid , tekort aan visie( Hoe het hy in privaatsektor oorleef?) asook planloosheid en gebrek aan “guts” het hom laat gly. As hy ‘n gewete het sal die foute virewig by hom spook!

Republikein in die Wes Kaap ·

In 1994 was hy nog sonder geld. Toe kry hy miljarde rande se aandele op ‘n skinkbord. Die res is geskiedenis.

koos ·

Sê die kader wat in gebreke bly om reguit te sê waar die 4 miljoen vandaan kom. Onthou net, hy is al klaar stinkryk, nie omdat hy goeie besigheidsvernuf het nie, maar omdat hy die ontvanger van BEE voordele is. Wat verwag ons dan, dat die luiperd sy kolle sal verander?

gatgogga ·

“Min mense sou kon raai ………….”
Nee, die meeste mense kon raai. Maar, hoe die min mense wat kon raai, vir FW sy mandaat kon gegee het om ons in hierdie verknorsing in te dompel, dit kan min mense raai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.