Watter strome sleur ons Suid-Afrikaners mee?

Dis 31 Mei 1966.  Meer as 700 000 deelnemers het by die Voortrekkermonument saamgetrek vir die grootste Republiekfeesparade ooit.  Wit, bruin en swart glimlag.  Hulle deel die welvaart van ‘n jare lange skouspelagtige ekonomiese groeikoers.  Onder leiding van die eerste minister Hendrik Verwoerd wink ‘n blink toekoms nie net vir die Afrikaner nie, maar vir die hele Suid-Afrika.  Of hóé?

Watter strome sleur ons mee? (Foto: Louis du Plessis)

Die probleem om toekomstige ontwikkeling te peil, hang saam met die feit dat historiese tendense dikwels gevolg word teenoorgestelde tendense.  Dat stellings dikwels teenstellings in hulle verskuil.  In die 1960s was dit ook so.  Die indrukwekkende ekonomiese groei het nie slegs die posisie van die blanke gemeenskap verstewig nie, maar ook massas swart werkers na die Rand en Bloemfontein, Pietermaritzburg en Durban, asook Kaapstad toe gesuig.  Hiermee is die fondamente gelê vir ‘n vinnige toename in die lewenspeil ook van instromende swartes, vir veelseisende swart vakbonde en, op hulle hakke, oproerige swart politieke bewegings soos die ANC.

Ondanks beleidsrigtings van afsonderlike ontwikkeling op die oppervlak van verskillende volksgroepe, het ‘n verenigde ekonomiese rivier deur die land gestroom, wat almal sou meesleur.

Saam met die geïntegreerde politieke stelsel van een mens, een stem, waarvan die parlement in Kaapstad in 1994 die simbool geword het, het allerlei ekonomiese faktore Suid-Afrikaners voortgedryf.  Net soos oor stembriefies, ANC-vlae of DA-t-hemde, het Suid-Afrikaners al hoe meer opgewonde geword oor yskaste, DVDs en TV-stelle.

As ons vlugtig loer na lewenspeil en klasverskille, na hoe mededingend ons land is, en hoe ons nuwe owerheid sy pligte vervul, kan ons dalk enkele strome van die rivier sien wat ons meesleur.  Sodoende kan ons ons voorberei vir môre.

Lewenspeil:  Met watter soort kar wil ek ry?

‘n Vlugtige blik op opnames oor Afrikaners, dit is, oor blanke Afrikaanssprekendes, toon dat Afrikaners vandag, einde 2011, ondanks ‘n relatiewe afname in koopkrag, steeds die grootste gebruikers in Suid-Afrika is van kitsbanke en internetbankdienste, van elektriese huishoudelike items, en van huislenings.  Ook dat Afrikaners die meeste lede van mediese skemas uitmaak, die meeste kopers van begrafnispolisse en van mansklere, en die meeste eienaars van karre.

Volgens die syfers wat die Suid-Afrikaanse Reklamenavorsingstigting (Saarf) in 2011 bekend gemaak het, styg die luukse produkte in Suid-Afrikaanse huishoudings – alle kleure, tale en streke ingesluit – deurlopend.  Teen die einde van 2010 het meer as die helfte van huishoudings reeds die volgende items benut:  ‘n hoëtroustel (52%), ‘n mikrogolfoond (56%), ‘n DVD-speler (59%) en ‘n elektriese stoof (62%). Die gewildste produkte was ‘n yskas (80%) en ‘n TV-stel (84%).  Saarf maak dus by implikasie die gevolgtrekking dat, ondanks die aandeel van owerheidsdienste, die lewenspeil van Suid-Afrikaners stapsgewys verbeter.

In hierdie proses om lewenstandaarde te verhoog, gee ‘n klein kreatiewe minderheid die pas aan.  Eerstens: Uit ‘n bevolking van 50 miljoen betaal net min of meer 5.5 miljoen Suid-Afrikaners indiwiduele belasting.  Tweedens:  Uitgesonderd oorlogsareas, is Suid-Afrika, waarby die Afrikaner geïntegreer is, die land met die kleinste persentasie werkende volwassenes ter wêreld.

Derdens:  In Suid-Afrika is daar tans net meer as 300 000 indiwidue wat maatskappye besit wat meer as vier werknemers in diens het.  Dit is minder as een persent van die volwasse bevolking.  Dié maatskappye is een van die hoofbronne van die salarisse van 11 miljoen werknemers asook van die maatskaplike toelaes aan 14.3 miljoen Suid-Afrikaners.

Verskille:  Wie se beursie is die dikste?

Volgens ‘n verslag wat die Universiteit van Kaapstad se Unilever-instituut vir Strategiese Bemarking onlangs vrygestel het, het die inkomste van die hoogste inkomstegroep in Suid-Afrika die afgelope paar jaar veel vinniger gestyg as die onderste groep.  Dit hang saam met die feit dat Suid-Afrika se Gini-koëffisiënt, wat ongelykheid in inkomste meet, onder die heel hoogste in die wêreld is.

Om lewenspeile te rangskik, is nogal ‘n moeilike neut om te kraak.  Aangesien daar net soveel teorieë is om ekonomiese stratifikasie uit te werk as om politieke ideologieë af te baken as om rugbyspelers te keur, is die doel van die indeling hieronder nie om ‘n keuse te maak ten gunste van een of ander teorie nie, maar om enkele grondliggende waarnemings uit te lig.  Ek benut graag een van die modelle van die ekonoom Sampie Terreblanche, wat oor talle dekades inkomsteverskille in Suid-Afrika noukeurig vergelyk het.

  • Wat Terreblanche noem die “laer klas”, vorm ongeveer 15 miljoen of 30% van die bevolking, en ontvang 3.4% van die land se inkomste.  Van hulle is rofweg ‘n hele 51.7% werkloos.
  • Wat hy noem die “laer middelklas”, vorm ook ongeveer 15 miljoen of 30% van die bevolking, maar ontvang 8.6% van die land se inkomste.  Van die laer middelklas het 32.1% nie werk nie.
  • Die “hoër middelklas”, dek min of meer 10 miljoen of 20% van die bevolking, en ontvang 13.7% van die inkomste.  Van die hoër middelklas is net 19.8% werkloos.
  • Die “hoër klas”, vorm ook rofweg 10 miljoen of 20% van die bevolking, maar ontvang die reuse aandeel van 74.3% van die land se inkomste.  En van hierdie gelukkige groep, is net om en by 6.4% sonder werk.
  • In sy verwerking van ‘n landwye inkomstestudie wys Terreblanche hoe lede van die verskillende rassegroepe hulle landwyd en op alle inkomstevlakke bevind.  Omdat Afrikaanssprekendes die meerderheid vorm van die wit en van die bruin gemeenskap, gee ek vlugtig die getalle van dié gemeenskappe wat op die verskillende vlakke is.  In die laer klas is 52 000 wit en 530 000 bruin en in die laer middelklas is 100 000 wit en 1.2 miljoen bruin.  Soos hierbo aangetoon, ontvang hierdie twee onderste lae saam net 12% van die land se inkomste, wat weer eens die aandag vestig op die enorme behoefte aan die soort liefdesdiens wat Helpende Hand lewer.  In die hoër middelklas is 604 000 wit en 1.4 miljoen bruin, met, in die hoër klas 3.7 miljoen wit en 1.1 miljoen bruin.
  • Ander betekenisvolle waarnemings is dat werkloosheid regstreeks verband hou met ‘n gebrek aan inkomste en dat, in ‘n geïntegreerde ekonomie, alle rassegroepe oor alle klasse versprei is.

‘n Vraag wat hieruit voortvloei, is:  Hoe doeltreffend kompeteer Suid-Afrika met ander lande?

Hoe ding ons mee in ekonomiese wêreldatletiek?

Hoeveel ondernemingstalent die minderheid ook al openbaar, hulle slaag net op ‘n beperkte manier daarin om die meerderheid op te hef wat, op die platteland en in die townships, ‘n bestaansekonomie voer.  Die Wêreld Ekonomiese Forum stel jaarliks ‘n ontleding vry van die mededingendheid van die ekonomieë van minstens 130 samelewings.  En wat is die resultaat?

Suid-Afrikaners val op die rangorde van ‘n reeks finansiële vaardighede, soos ouditeringstandaarde; stabiliteit van die bankstelsel; en finansiële dienste, tans onder die boonste tien ekonomieë.

Hierteenoor bevind die land hom op die rangorde van die volgende vermoëns tussen die onderste vyftien van 139 samelewings:  vakbond-werkgewers-samewerking; gehalte van opvoedingstelsel; standaard van opleiding in wiskunde en wetenskap; bekamping van MIV en Vigs, tuberkulose en malaria; en lewensverwagting.

Die ekonomie wat Suid-Afrikaners bedryf, waarin Afrikaanssprekendes soos ‘n roereier met ander taalgroepe deurmekaar geklits is, sak in die wêreldrangorde jaarliks laer af.  In 2006 was Suid-Afrika in posisie 36, in 2008 in posisie 45, en in 2010 in posisie 54.

Omdat die daling van mededingendheidsvlakke van Suid-Afrika, regstreeks verband hou met die gehalte van die staatsdiens, moet ons enkele elemente daarvan noem.

Watter voorbeeld stel die klaskaptein?

Om te weet hoe effektief ons staatsdiens funksioneer, hoef ons net in drie rigtings te loer:  na die bekwaamheid van die indiwiduele staatsamptenaar, na die werkverrigting van staatsinstellings, en na hoe die staat een van sy lynfunksies hanteer, naamlik infrastruktuur.

Die eerste faktor.  Van huidige amptenare van die owerheid het nie net hulle onbevoegdheid al spreekwoordelik geword nie, maar ook hulle korrupsie.  Meer as 15 000 staatsamptenare is reeds aan bedrog skuldig bevind, en die spesiale ondersoekeenheid wat korrupsie in die staatsdiens uitpluis, het reeds meer as 95 000 staatsamptenare identifiseer wat welsyntoelaes steel.  Dié toelaes is terloops óns belasting.  Die vakverbond Cosatu waarsku deurlopend dat die ANC-regering, wat korrupsie in die staatsdepartemente nie kan beheer nie, ‘n “magtige roofdier-elite” daargestel het wat Suid-Afrika leeg suig.

Die tweede faktor.  Nie slegs is daar geen staatsdepartement sonder wyd verspreide korrupsie nie, maar ook elke eertyds produktiewe staatsinstelling – soos die SAL, die SAUK en Eskom – het die afgelope vyftien jaar skokkend verval.  Ander, soos die Landbank, is rot en kaal gesteel deur ontplooide ANC-kaders.

Die derde faktor.  Dis juis weens die gevolge wat wanbestuur vir die ekonomiese infrastruktuur het dat Suid-Afrika jaarliks sy mededingendheid in die wêreld inboet.  Wat die kommunikasienetwerk betref:  ‘n Derde van Suid-Afrikaanse paaie is reeds bykans onbegaanbaar.  Wat plaaslike dienste betref:  Elke burger is afhanklik van Suid-Afrika se 821 rioolwerke waarvan meer as die helfte besig is om in duie te stort.  Wat een die hoofbates van elke samelewing betref, onderwys:  Toetse bevind gereeld dat in óns samelewing meeste laerskoolkinders nie kan lees nie.  Cosatu waarsku dat tot 80% van skole wanfunksioneel is.  ‘n Feit wat mens eerder nooit moet herhaal in die geselskap van besoekers uit ander lande nie is dat minder as 35% skoliere hul hoërskoolloopbaan voltooi – een van die laagste persentasies ter wêreld.

Het Suid-Afrika wel ‘n regering?

Slotsom

Al styg die lewenspeil van Suid-Afrikaners stapsgewys, soos blyk uit die feit dat 80% huishoudings tans oor ‘n yskas beskik, is Suid-Afrika die land met die kleinste persentasie werkende volwassenes ter wêreld, terwyl belasting betaal en werk geskep word deur ‘n verstommend produktiewe minderheid.  Hierdie ekonomiese Gideonsbende dra die hele samelewing, óók die selfverrykende regering, op sy skouers.

Suid-Afrika se Gini-koëffisiënt is onder die hoogste in die wêreld, deels weens skerp landwye inkomsteverskille, wat by alle rasse voorkom, en die ysingwekkende gebrek aan werk.  Soos die syfers wys, raak dit almal, ook Afrikaanssprekendes.

Ondanks die minderheid se entrepreneurskap, word die Suid-Afrikaanse ekonomie, soos gemeet aan die mededingendheidsindeks, jaarliks minder kompeterend, onder meer weens die disintegrasie van owerheidsdienste.  Dit word gesien aan indiwiduele korrupsie, aan verval van staatsinstellings soos die Landbank en die skoolstelsel, en aan die ineenstorting van infrastruktuur soos paaie en riolering.

Die 13% Afrikaanssprekendes en spesifiek die 6% Afrikaners in die land, vorm deel van hierdie en ander strome binne die rivier van ‘n geïntegreerde Suid-Afrikaanse ekonomie.  Wanneer ons, nie van lugkastele af nie maar uit betroubare observasieposte uit, hierdie terrein verken, sien ons waar die rivier vandaan kom en waarheen hy ons meesleur.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Louis du Plessis

Meer oor die skrywer: Louis du Plessis

Louis du Plessis is 'n redaksielid van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek, mederedakteur van verskeie werke oor konflikbestuur, en voormalige professor in die Fakulteit Krygskunde, Universiteit van Stellenbosch. Sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae