Wêreldbank ondersteun steeds sosialisme

Fanie Brink is ‘n onafhanklike landbou-ekonoom. (Foto: Facebook)

Deur Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom

Die Wêreldbank het geen begrip daarvoor dat die ANC-regering se sosialistiese ideologie reeds die ekonomie in Suid-Afrika feitlik finaal vernietig het en dat groter onbekostigbare sosiale besteding geensins ʼn oplossing bied om die ernstige fiskale en sosiale probleme in die land op te los nie.

Hierdie beleid het reeds die gaping tussen die inkomste en uitgawes van die regering sodanig vergroot dat dit groeiende begrotingstekorte en staatskuld, armoede, hongersnood, werkloosheid en ongelykheid tot gevolg gehad het, wat reeds oorgespoel het in opstande, onluste en die plundering van private ondernemings en belangrike vervoerroetes.

Die aanbeveling van die Wêreldbank, dat die oplossing in nog groter sosiale ondersteuning in die vorm van ʼn basiese inkomstetoelaag vir werklose volwassenes lê, is egter totaal onrealisties en onbekostigbaar. Dié bank het ten spyte van hierdie aanbeveling in sy verslag erken dat die fiskale beperkings wat die regering in die gesig staar, dit moeilik sal maak om die stelsel in die afsienbare toekoms vir maatskaplike bystand uit te brei.

Die nasionale tesourie het besluit om die regering se plan, om die fiskale toestand te stabiliseer deur skuld te konsolideer in plaas van verdere besteding, by die venster uit te gooi. Dit sal die gaping tussen die regering se inkomste en uitgawes aansienlik vergroot.

Dit sal die regering net in verdere bankrotskap dompel wat die agteruitgang van die ekonomie sal bespoedig!

Die ekstra uitgawes sal gefinansier word deur die belastingmeevaller wat voortgespruit het uit die stygings in die internasionale metaalpryse, so asof dit permanent sal voortduur.

Die parlementêre begrotingskantoor het aangevoer dat die tesourie se versuim om ʼn uitbreidende fiskale standpunt in te neem, bygedra het tot die sosiale onsekerhede en armoede wat die onlangse plundering en vernietiging veroorsaak het. Die begrotingskantoor was ook van mening dat die stabilisasie van die fiskale toestande net die sosiale en politieke onstabiliteit verder sal verhoog en dat die fiskale raamwerk vir groter besteding voorsiening moet maak.

Daar is niks anders wat die sosialiste van die ekonomie verstaan nie!

Uit die verslag is dit baie duidelik dat die Wêreldbank nie verstaan ​​dat Suid-Afrika nie langer:

  • enige vermoë het om mense wat toegang tot die arbeidsmark het aan ander staatsdienste en -programme te koppel, asook mense begunstig wat verdienste bevorder wat nie bestaan nie;
  • ʼn maatskaplike bystandstelsel het wat ʼn doeltreffende ingryping en goed gerig is op diegene wat die meeste ondersteuning nodig het nie;
  • ʼn program vir maatskaplike hulp het nie, wat as een van die land se belangrikste suksesse in die post-apartheidstelsel beskou word om armoede en ongelykheid te verminder;
  • die fiskale vermoë het om hoegenaamd ʼn “basiese inkomstetoelaag” te kan bekostig, wat reeds deur die minister van finansies verwerp is; en
  • ʼn departement van maatskaplike ontwikkeling en regeringsamptenare het met wie die bank kan praat, wat enige begrip het hoe ekonomiese groei geskep word nie. Dit terwyl daar baie ander inligtingsbronne bestaan wat aan die bank die werklike feite en realiteite oor die vernietigende ekonomiese situasie in Suid-Afrika kan verskaf.

Een van die kommerwekkendste aspekte wat uit die verslag spruit is dat die bank klaarblyklik nie omgee dat Suid-Afrika se ekonomie verder deur die vernietigende sosialistiese ideologie van die ANC-regering vernietig word nie en ook nie van plan is om iets daaromtrent te doen nie.

Suid-Afrikaners vra inderwaarheid vir die bank om die land se verdere ekonomiese verval te help stuit en om dit weer op ʼn pad na ekonomiese groei en voorspoed te help plaas. Dit blyk baie duidelik dat die bank geen oplossing daarvoor het nie, of nie sy weg oopsien om die ANC-regering van sy sosialistiese ideologie te laat afsien nie.

Die bank verkies om eerder die weg van die minste weerstand te volg!

Die enigste oplossing vir al die probleme lê suiwer in die aanvaarding van ʼn gemengde kapitalistiese/sosialistiese ekonomiese stelsel wat die goeie eienskappe van albei stelsels implementeer en die swak eienskappe daarvan elimineer. Dit sal ekonomiese groei aan die vraag- en aanbodkant van die ekonomie kan skep wat deur ʼn winsmotief gedryf word. Einde laaste sal dit die inkomste van die regering kan verhoog om die fiskale en sosiale probleme op te los.

Daar bestaan absoluut geen moontlikheid dat sosialisme ekonomiese groei kan skep nie, soos reeds wêreldwyd en ook baie duidelik in Suid-Afrika bewys is nadat die ANC-regering in 1994 aan bewind gekom het.

Daarom moet die jongste verslag van die Wêreldbank totaal verwerp word omdat dit niks goeds vir die land inhou nie. Die bank moet eerder kennis neem en verstaan dat die ekonomiese vooruitsigte vir die land vandag baie slegter lyk as op enige ander tyd in die verlede.

  • Fanie Brink is ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Landbounuus, Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H.A. ·

Ja, en so sal die regering van die land nooit ooit val nie. Boeties op elke uithoek van die wereld wat sorg dat die anc aan bewind bly tot Jesus kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.