Werk en rus

(Foto: Pixabay)

Hierdie is ‘n verwerkte weergawe van die toespraak gelewer by die SOS se Skolekongres in Junie 2023.

Toe ek vroeër vanjaar gekontak is om oor “fokus op die regte dinge” by die Skoleondersteuningsentrum se kongres te gesels, was my eerste gedagte dat dit ʼn maklike onderwerp is. Dit is nie moeilik om ʼn paar regte dinge te noem soos roeping, diensbaarheid en liefde nie. Ek was verkeerd. Hoe meer ek vir mense gevra het wat die regte dinge is waarop onderwysers moet fokus, hoe meer uiteenlopend was die antwoorde.

Melanie, wat self ʼn onderwyseres is, het dadelik geantwoord wat die dinge is waarop sy nie wil fokus nie, maar wat haar fokus steel, naamlik die onderwysdepartement se burokrasie en die stoute Prinslootjies wat in die straat af woon.

Ons oudste het gesê sy dink onderwysers moet fokus op die groot prentjie, want dit is die klein detail wat hulle ongelukkig maak, soos kinders wat nie hulle huiswerk doen nie of as die sleutel nie die klas behoorlik oopsluit nie.

Die bestuurspan by die FAK, waarvan die meeste kinders op skool het, het kortliks gesê die regte dinge om op te fokus is:

  • ʼn Rolmodel vir ons kinders wees en daarom is dit belangrik om by die beginsels te bly en as voorbeeld te dien
  • Waardes en geloof
  • Strewe na uitnemendheid en inspirasie vir kinders om alles te gee
  • Gee vir ons kinders gereedskap vir hulle ontwikkelingspad
  • Kwaliteit onderwys is krities
  • Dissipline kom net in die woordeboek voor roetine
  • Staan op teen boelies
  • Identifiseer swaarkry en vat hande met die gemeenskap om families by te staan
  • Kundigheid in jou vakgebied
  • Kyk Dead Poet Society
  • Hou kinders positief oor ons land
  • Vaardighede vir die werkplek

Alles is natuurlik die regte dinge. Elke antwoord bevestig hoe belangrik onderwysers in ons gemeenskap is, hoeveel ouers op onderwysers staatmaak en die waarde wat onderwysers in kinders se lewens voeg. Aan die anderkant het ek, soos wat die lysie langer word, skoon uitasem gevoel vir die onderwysers se part. Daar rus ʼn groot vrag op onderwysers se skouers.

Prof. Johan Buitendag, voormalige dekaan van Tukkies se teologiese fakulteit, het vroeër vanjaar tydens die oorhandigingsgeleentheid van die Andrew Murray-prysfonds ʼn belangrike leidraad oor die regte fokus gegee. Hy het opgemerk dat ons Calvinistiese werksetiek sterk klem op arbeid plaas.

Harde werk en arbeid staan sentraal in ons lewens- en wêreldbeskouing en is van nature deel van ons karakter en taal. In bykans elke Afrikaanse skoolwapen en skoollied is daar ʼn verwysing na werk. My laerskool se leuse is Arbeid skep vreugde en Hoërskool leuse is Steeds hoër. Ons ken van Ora et labora – bid en werk. Labor es tars – Werk is ʼn kuns. Arbeidadel werk, maak sterk.

Die oggendstond het goud in die mond. Hy werk hom byna dood. Die arbeider is sy loon werd. Die vrug van jou arbeid sal jy geniet. Die ou Volkskasbank se leuse was Arbeidsaam. In die Voortrekkers sing die kinders ʼn liedjie: Werk, werk lekker werk, werk maak sterk. Ons het die Calvinistiese werksetiek veranker in die kultuuropdrag van Genesis om die aarde te bewoon, te bewerk en te bewaar. Dit is reg so, want wie nie wil werk nie, moet ook nie eet nie.

Iemand wat hard werk het nie ʼn lui haar op sy kop nie, maar ons het net soveel waarskuwings en vermanings vir die luiaard. Soos gaan na die mier luiaard. Lamsak en dooie. Sy is lui by die vak, maar fluks by die bak. Melanie se gunsteling-idioom is: son in die weste, luiaard op sy beste. Langenhoven het dit probeer verduidelik: daar is nie ʼn luiaard wat nie wil werk nie, die luiaard verlang maar net na ʼn ander soort werk as die wat hy nou moet doen.

Ten spyte van al die positiewe van harde werk, is dit ook so dat ons werkslawe of selfs werkverslaaf kan word. Die hoeveelheid werk vind neerslag in besige, besiger en besigste programme en werksdruk. Ons dryf nie net onsself nie, maar ook ons kinders om harder te werk, meer te gee, beter te doen, want prestasie skep ʼn toekoms.

Aan die hand van ʼn Duitse teoloog, Jurgen Moltmann, se teologie, het prof. Buitendag opgemerk dat die mens nie die kroon van die skepping is nie. Die kroon van die skepping is die Sabbat. Hoekom? Omdat daar in die rus van die Sabbat ʼn volkome harmonie was tussen Skepper, skepping en skepsel. God, mens en natuur. Ons maak ook ʼn fout om te dink die gebod, ses dae moet jy werk en die sewende dag moet jy rus, beteken ses dae werk jy jou dood om een dag te rus om die volgende ses dae volstoom te stormloop. Hierdie harmonie is ʼn allesomvattende harmonie wat al ons dae en ure insluit.

Moltmann het ʼn punt beet. Ons harmonie met onsself, met God, in ons gesinne, met die natuur is versteur. ʼn Mens hoef net te gaan kyk na die hoeveelheid kinders op antidepressante, medikasie om te wonder hoe gaan dit met pa en ma, juffrou en meneer? Dit laat ook die vraag is ons nog gelukkige mense? Leef ons op ʼn gelukkige aarde?

Harmonie gaan nie herstel word deur harder werk en meer te doen nie. Die sleutel is in die woordjie rus. In Matteus 28:11 is ʼn uitnodiging en belofte van Jesus: “Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is en ek sal julle rus gee.”

Die Griekse woordjie vir uitgeput is kopiao. Dit beskryf ʼn persoon wat totaal uitgebrand en oorwerk is van onophoudelike en aanhoudende werk.

Die Griekse woordjie vir rus wat in Matteus 28:11 gebruik word, is anapauo, wat vry vertaal beteken Jesus beloof om aan moeë, oorlaaide mense nuwe energie te gee, soveel energie dat jy weer jonk en uitgerus voel.

Die Joodse sprekers wat die uitnodiging en belofte van Jesus gehoor het, het ook ʼn ander beeld opgeroep. Die Hebreeuse woordjie vir rus in Matteus 28:11, is nucha. Nucha roep die beeld op van ʼn kameel in ʼn woestyn wat met swaar bagasie op sy rug stap. Nucha is die rus wanneer die kameel op die grond neersak, met sy bors op die sand gaan lê, sodat sy eienaar die swaar vrag kan aftel.

Die rus van Matteus 28:11 is dus nie ʼn Sondagmiddagslapie, lang vakansie, spa-behandeling of een of ander goedvoellysie met wenke om meer te ontspan nie. Dit beteken ook nie al die oueraande, vraestelle en buitemuurs is weg nie.

Die rus waarna Mattheus 11:28 verwys, vra ʼn ander lewensbeskouing en ingesteldheid. Dit keer die vraag om. Nie wat is die regte dinge waarop ek moet fokus nie, maar Wie is die regte fokus van al my dinge?

Hierdie rus beteken:

Ek kan rustig raak oor my kinders se toekoms. Hulle behoort aan die Here en Hy sal vir hulle sorg. Ook vir die Prinslootjies wat af in die straat woon.

Dit beteken ek hoef my nie dood te werk nie. Ek kan doen wat ek kan aan die dinge wat binne my beheer is en rustig raak oor dit wat buite my beheer is.

In my stormsterkte kwessies kan ek soms terugsit en besluit: Let God and let go.

Ek hoef nie swaar bagasie saam te dra nie, Sy las is lig.

In die rus, die dieper vrede, is die Gees van God aan die werk. Hy herstel nie net die harmonie nie, maar gee my nuwe krag, nuwe energie om met nuwe toekomshoop te doen wat my hand vind om te doen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fluisterwind ·

Alle mense is met sonde bevlek. Wat “Rus” beteken is dat hoe langer hoe meer ons, ons met Christus beklee hoe meer “Rus” / “Staak” ons, ons van die sonde wat ons vantevore bevlek het. Onderwysers, Ouers en Kinders kan rus wanneer hulle doen wat Christus doen, deur in alles God te verheerlik wat ons doen.

Linda ·

Net een vraag, wat vd mense wat nie werk kry nie, mag hulle ook nie eet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.