Wie is Rusland se vriende en wat is hulle motiverings?

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Andrey Gorshkov /SPUTNIK/AFP)

Rusland se aanval op Oekraïne is wyd veroordeel en die land staan polities geïsoleerd en ekonomies onder sanksies. Daar is wel ʼn klein groep lande wat by Rusland staan of ten minste neutraal is. Wie is die lande en wat is hulle motivering?

Met die laaste resolusie van die Verenigde Nasies op 23 Februarie 2023, wat die aanval op Oekraïne veroordeel het en Rusland se onttrekking geëis het, was daar sewe lande (insluitende Rusland self, asook Wit-Rusland, Sirië, Mali, Nicaragua, Noord-Korea, Eritrea en Mali) uit 193 lande wat teen die resolusie gestem het en hulle dus as vriende of bondgenote van Rusland getoon het. 32 het buite stemming gebly en daarmee te kenne gegee het dat hulle nie aan enige kant wil wees nie, of hulle brood aan beide kante wil botter.

Die ondersteuners van Rusland is ten eerste Wit-Rusland, vir alle praktiese doeleindes ʼn vasaalstaat van Rusland en met sy langtermyndiktator Alexander Lukasjenko – iemand wat soortgelyk aan mnr. Poetin van Rusland verkiesings bekook en die opposisie onderdruk. Trouens, sonder Rusland as groot broer is Wit-Rusland niks nie. Sirië is al jarelank in ʼn burgeroorlog gewikkel en Rusland ondersteun die diktator Assad met wapentuig en huursoldate, dus is Assad, boonop ʼn vyand van die Weste, se lojaliteit aan Rusland verstaanbaar.

By Eritrea en Noord-Korea speel die ou anti-Westerse instinkte wat deur Poetin se retoriek bedien word, en die sosialistiese aard van die lande wat nog steeds sentimente vir Rusland as opvolger van die Sowjetunie het, ʼn rol. In Mali, tradisioneel onder Franse invloed, het met die laaste staatsgreep ʼn anti-Westerse junta-beheer oorgeneem en die Westerse soldate die deur gewys, maar Rusland se huursoldate van die Wagner-groep, wat teen Islamitiese terroriste veg, verwelkom. Nicaragua word al vir dekades deur die sosialis Daniel Ortega diktatoriaal regeer, dus is ook hier die anti-Westerse en sosialistiese sentiment deurslaggewend.

Buiten die uitgesproke ondersteuners is daar heelwat lande wat voorgee om neutraal te wees, maar wat eintlik vir Rusland steun.

Ten eerste is daar China. Die land het die uitgesproke doel om die VSA as leier van die wêreld te vervang, al word dit verdoesel as intree vir ʼn multipolêre stelsel. Verder wil China ook graag die rol van bemiddelaar speel en het al met voorstelle vir vrede gekom, maar dit is voorstelle wat sterk tot voordeel van Rusland is. China se DNS is anti-Westers en dus is Rusland, wat onder Poetin dieselfde deuntjie sing, China se natuurlike bondgenoot. Bo en behalwe dit het China keiharde ekonomiese belange (en nog nooit veel omgegee vir menseregte of internasionale konvensies nie) en gebruik Rusland se ekonomiese verknorsing om sy grondstowwe soos olie en gas teen ʼn afslagprys te kry. Blykbaar lewer China ook wapentuig aan Rusland, alhoewel dit ontken word.

Iran is ook ʼn uitgesproke anti-Westerse land en is saam met Rusland en Sirië deel van ʼn anti-Israel- en anti-VSA-alliansie in die Midde-Ooste. Omdat Iran weens sy kernwapenprogram internasionaal geïsoleerd is, soek die land toenadering tot ander uitgeworpenes en lewer ook wapentuig, by name hommeltuie wat groot skade in Oekraïne veroorsaak, aan Rusland.

Indië is geen bondgenoot van Rusland nie, maar is met Rusland, nes China, Brasilië en Suid-Afrika, deur die BRICS-alliansie verbonde en kan dus nie vyandig wees nie. Indië tree toenemend met selfvertroue op en wil nóg van China, sy magtige buurland, nóg van die VSA (wat meer en meer voelers na Indië uitsteek) te afhanklik raak. Verder baat Indië wat ekonomies sterk groei, maar min eie hulpbronne het, ook by Rusland se goedkoop olie en gas.

Turkye is wel lid van NAVO en moet amptelik die oorlog veroordeel, maar probeer sy eie spesiale verhouding met Rusland te handhaaf en om as neutrale bemiddelaar op te tree. Vir Turkye en sy leier, Erdogan, beteken dit veral internasionale status en natuurlik ook ekonomiese voordele.

Kasakstan en ander voormalige Sowjet-republieke in Sentraal-Asië het sterk ekonomiese en militêre bande met Rusland en kan gewoon nie bekostig om hulle belangrike buurland te vervreem nie. Verder is dit ook alles min of meer outokraties regeerde lande wat in lyn met Rusland is.

Suid-Afrika het eintlik geen geostrategiese redes om vriende met Rusland te wil wees nie, buiten vir die feit dat beide deel van BRICS is. Suid-Afrika en Rusland se handelsbetrekkinge is relatief gering. Die ANC-regering het egter al telkens bewys dat anti-Westerse retoriek en sentimente uit die verlede meer tel as pragmatiese politiek.

Sowel mnr. Poetin asook die ANC-leiers deel die nostalgie oor die vergane Sowjetunie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.