Wie werk nou eintlik by ’n ambassade?

tienie-fourie

Tienie Fourie. Foto: Verskaf.

Wat is in ’n naam, is een van Shakespeare se beroemde sêgoed.

Wat inderdaad, het ek onlangs gedink toe een van Suid-Afrika se grootste nuusdienste verwys het na die Amerikaanse ambassade se “adjunkhoof”. Eintlik is die ambassade se “charge d’affaires” bedoel, oftewel die persoon wat waarneem omdat daar nie ’n ambassadeur is nie. Die “charge d’affaires” is gewoonlik die tweede-in-bevel pleks van die adjunkhoof. Hy word ook die “minister” van die ambassade genoem.

Diplomatieke terme kan dikwels vol slaggate vir die oningeligte wees. Wie weet byvoorbeeld dat daar ná die minister ’n raad, oftewel “councillor” volg, met die range eerste sekretaris, tweede sekretaris, derde sekretaris en attaché daarna. Die raad is gewoonlik ’n politieke aanstelling, maar nie alle eerste en tweede sekretarisse of attachés is van die departement van buitelandse sake nie. Sommige van hulle is spioene wat hul lande in die buiteland verteenwoordig. Sommige, veral attachés, kan egter landboukundiges of iets soortgelyks wees.

Kom ons kyk na die spioene: elke liewe land op aarde het openlik spioene in ’n ander land. Suid-Afrika het spioene in Brittanje en elders, ander lande het spioene in Suid-Afrika, maar almal is “verklaar”. Brittanje sal byvoorbeeld sê ons wil toestemming hê om openlik vyf “tweede sekretarisse” aan te stel, en Suid-Afrika sal in ruil vyf spioene in Brittanje kan aanstel. Hul name moet egter bekend gemaak word en hulle kry ook diplomatieke beskerming. Baie lande probeer egter ander truuks: die Russe sal byvoorbeeld ’n “wetenskaplike attaché” aanstel wat daarop uit is om ’n land se kerngeheime te steel.

Die keuse van ambassade-personeel en veral ambassadeurs is ook interessant. Sommige lande, soos Amerika en Suid-Afrika beloon getroue partywerkers met diplomatieke poste. Wanneer ’n nuwe Amerikaanse ambassadeur aangestel word, moet hy ’n blanko bedankingsbrief onderteken. Wanneer daar dan ’n nuwe regering in Amerika gekies word, word net die datum ingevul en hy gaan terug huis toe. Dis hoekom Amerika net ’n charge d’affaires in Suid-Afrika het: president Trump het nog nie so ver gekom om ’n nuwe ambassadeur aan te stel nie. Dalk het Suid-Afrika se “sh*thole”-status” iets daarmee te doen. Amerika beloon gewoonlik diegene wat die meeste geld vir ’n kandidaat in die presidentsverkiesing inbring, met ’n ambassadeurspos.

In Suid-Afrika se geval is dit nie baie verskillend nie. Onder die Nasionale Party-bewind was ambassadeurs dikwels mense wat vir diens aan die NP of politici beloon is. Ek weet van verskeie. Vandag is dit eintlik nog meer die geval, selfs politici met kriminele rekords is al deur president Zuma in die buiteland aangestel. In al hierdie gevalle kry ek die beroepsdiplomate jammer wat gewoonlik die kastaiings uit die vuur moet krap.

Terug na terme: lande se verteenwoordigers by multilaterale organisasies soos die Verenigde Nasies is nie ambassadeurs nie, maar “permanente verteenwoordigers”. Suid-Afrikaners kan ook in poste by multilaterale organisasies aangestel word, maar hulle moet deur die Suid-Afrikaanse regering benoem word. “Multilateraal” beteken die teenoorgestelde van “bilateraal” wat net met verhoudings tussen twee lande gemoeid is. Lande in die Statebond het “hoë kommissarisse” in die plek van ambassadeurs. Tussen lande waar daar nie formele diplomatieke bande is nie, is daar ’n “saakgelastigde”. Suid-Afrika het byvoorbeeld ʼn saakgelastigde in Taiwan.

Enkele ander terme wat dikwels verwarring skep: ’n land kan ’n internasionale ooreenkoms teken, maar is nie verplig om dit te gehoorsaam voor sy parlement dit goedgekeur of “geratifiseer” het nie. So kan die Suid-Afrikaanse regering nie aan die Statuut van Rome en dus die Wêreldhof in Den Haag onttrek voor die parlement dit bekragtig het nie.

Niemand kan ook ’n land dwing nie: so het Israel nooit die Kernsperverdrag geteken wat hom sou verhinder het om kernbomme te maak nie.

Indien ’n land ongelukkig is oor ’n ander land se houding of verklaring, kan hy eerstens ’n diplomatieke brief van protes stuur, of die land se ambassadeur inroep, soos Suid-Afrika met Amerika wou doen. As hy erger beswaar wil aanteken, kan hy sy ambassadeur uit daardie land terugroep of diplomatieke bande verbreek.

Op die einde van die dag, soos Naas Botha sou sê, is diplomasie ʼn fyn kuns. Jy moet iemand kan hel toe stuur en hom laat uitsien na die reis! En Trump se emosioneel gelade benamings wat betrokke lande rooi laat sien en selfs aandeelpryse laat tuimel, is natuurlik die eerste taboe in die diplomatieke boek.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Tienie Fourie

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Baie interessant!
Veral die “spioene” wat nie mag spioeneer nie.

Die ongevulde Amerikaanse ambassadeurspos in SA, met min of geen gevolge, bevestig die vermoede dat die diplomatieke soustreine wêreldwyd met meer as die helfte gesny kan word sonder dat ‘n haan daaroor sal kraai. Die feit dat poste as belonings aangebied word, maak m.i. ‘n klug daarvan.

alwyn burger ·

Diplomasie, Oom Tienie, is nie ñ fyn kuns nie. Dit is ñ skynheiligheid , ñ verknegting waaroor Jean Jacques Rousseau so treur. Een van die kettings waarmee die mens homself vasbind. Soos politieke korrektheid. Malcolm X kla ook oor die geveinsheid van die liberale witman. Pres. Trump skep die indruk van iemand wat wil losbreek van sinnelose konvensies??.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.