Xi Jinping sal lewenslank sy pos behou

Xi Jinping (Foto: Angélica Rivera de Peña – Ceremonia Oficial de BienvenidaUploaded, Wikimedia Commons)

Die jaarlikse kongres van die Chinese Kommunisteparty is die afgelope week in Beijing gehou, en wat daar uitgekom het, het die Westerse wêreld geskud. Die belangrikste is dat die party ’n mosie aanvaar het dat pres. Xi Jinping lewenslank sy pos gaan behou. Sy filosofie vir China se toekoms is ook aanvaar waarvolgens die land voortaan gaan ontwikkel.

In ’n tyd waar die Weste juig dat Robert Mugabe en Jacob Zuma uit die kussings gelig is, is die stap van die Chinese merkwaardig en druis dit lynreg teen die Westerse demokrasie in. Die Weste wil mos hê dat lande elke paar jaar ’n verkiesing moet hou waar die landsburgers hul leiers kan kies.

Die saak het ook onlangs by die Woordfees op Stellenbosch ter sprake gekom waar kommentators gevra het waarom China met sy groter welvaart nie groter persoonlike vryheid aan sy burgers toelaat nie. Waarom word die media daar nog steeds so streng beheer en waarom word kritiek teen die Kommunisteparty en die regering ten sterkste verbied? Waarom kan kerke daar nie sê wat hulle wil nie?

Die antwoord lê miskien daarin dat China, met sy meer as 5 000 jaar se beskawing, altyd ’n keiser en dinastieë gehad het. Die keiser het deur die geskiedenis sy raadgewers gekonsulteer, maar uiteindelik gedoen wat hy gedink het reg was. Daar was nie verkiesings nie, en die keiserskap is dikwels van geslag tot geslag oorgedra tot dit uitgerafel het en deur ’n nuwe dinastie vervang is.

Die Kommunisteparty se Politburo is die hedendaagse keiser. Net sowat 89 miljoen Chinese Kommuniste beheer ’n bevolking van sowat 1,5 miljard mense. Die party sê egter hy het die room van die Chinese bevolking en dat die breinkrag binne die party dit kan lewer wat die hele bevolking wil hê: persoonlike welvaart wat huise, motors, elektroniese toebehore en so meer insluit. En ja, ná die rampspoedige veldtogte van Mao Zedong lyk dit of die party ’n ooreenkoms met die bevolking aangegaan het: Julle kry kans om ryk te word, maar laat die politiek aan ons oor. Praat met mense op straat in China, en jy sal hoor dat hulle geen politieke aspirasies het dat die regering moet verander nie.

Maar wat is Xi se persoonlike filosofie wat nou as landsbeleid aanvaar is? Onder meer dat die bekwaamste mense in China gewerf moet word sodat hulle die regte beleid kan formuleer en uitvoer sodat alle Chinese welaf en vooruitstrewend kan word. Korrupsie sal nie geduld word nie; kaders wat nie hul werk doen nie, moet in die pad gesteek word. Hy noem dit die Chinese Droom na analogie van die Amerikaanse Droom en hiermee is min fout te vind. Daar is natuurlik ook kritici van die onderdrukking van vryheid van spraak ter wille van “sosiale orde”, ’n sambreelterm wat omstrede maatreëls moet regverdig.

Xi se filosofie strek egter verder: Hy wil China (soos Trump met Amerika) weer so groot soos in die keiserlike tye maak. Daarom bou hy aan die Chinese weermag en het hy die droom van die “nuwe Syroete” na die Weste. Dié keer is dit nie met kamele nie, maar ’n spoorlyn wat China oor duisende kilometer met Europa sal verbind. Xi het ook sy tentakels oor die hele wêreld gespan, en die Chinese invloed strek nou tot in alle uithoeke van die wêreld. Beijing het ook pas aangekondig dat hy ’n Internasionale Ontwikkelings- en Samewerkingsagentskap gestig het om al sy hulp aan ander lande te koördineer. Dit word vertolk as ’n stap wat sal sorg dat China Amerika verbysteek as die grootste donateur in die wêreld. China sien homself nie nou as ’n ontvanger nie, maar as ’n land wat gee. Xi wil ook sy planne deurdruk om die yuan as internasionale geldeenheid aanvaar te kry en/of ’n ander geldeenheid daar te stel wat die dollar kan vervang.

Kortweg, dit som Xi se politieke filosofie van sosialisme met Chinese karaktertrekke op: Alle grond behoort steeds aan die staat, maar dit hang ander kapitalistiese doelwitte aan soos “maak geld dat dit bars”. Hef die armes op en kry hulle uit armoede gelig.

Westerlinge mag dalk nie van die beleid van kommunisme hou nie, maar die Chinese glo dis verkieslik bo die Westerse demokrasie wat hulle as ’n eksperiment beskou. Hulle sê die Amerikaanse president is die kandidaat wat die meeste geld het of wat in die sakke van wapenvervaardigers en die vuurwapenvoorstaanders is. Hy is nie noodwendig bekwaam vir die pos nie. ’n Gewilde storie in China is dat, toe president Mitterand van Frankryk vir Deng Xiaoping gevra het wat hy van die Franse rewoluie dink, hy geantwoord het dis nog te gou om te oordeel. Die Chinese glo ’n stelsel moet hom oor duisende jare bewys.

As ’n mens kyk na die “demokratiese” wanorde wat soms in die Weste heers, wonder jy of hulle nie reg is nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Tienie Fourie

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

MCH ·

Wanneer n maatskappy uitstekend presteer, is die bestuurspan verseker van n lang en vrugbare werkervaring wat hul tot afrede kan neem.
Indien hul swak presteer, word hul blitsvinnig vervang ten einde die bloeding te stop.
Dit is presies om die regte redes dat dit in China gebeur. Die artikelskrywer se laaste opmerking het betrekking.

Haan ·

Goeie skrywe. Die TED talk “a tale of two systems” werp baie lig op die Sjinese se politieke invalshoek… Baie interessant

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.