Beskerm jouself só teen skelmstreke met begrafnispolisse

(Foto: Unsplash)

Dis belangrik dat jou gesin en familie nie sukkel met begrafnisreëlings wanneer jy te sterwe kom nie en die meeste verbruikers besef dit en maak voorsiening daarvoor. Dis juis daar waar baie verbruikers ingeloop word wanneer hulle maandelikse premies betaal, maar as hulle ʼn begrafnis moet reël, kom hulle agter dat hul premies in ʼn bedrieër se sakke verdwyn het. Ina Opperman vertel waarvoor jy moet ligloop.

Dis ongelukkig juis mense wat die eerste keer ʼn begrafnispolis uitneem wat dikwels ingeloop word omdat die ondernemers bedryf word in gemeenskappe waar mense bly, wat ʼn mens laat dink dat dit ʼn betroubare onderneming is. Polishouers vind dan eers uit wanneer hulle ʼn eis indien dat daar geen uitbetaling gaan wees nie.

Dit is daarom baie belangrik om net begrafnispolisse uit te neem by finansiële diensteverskaffers wat ʼn goeie reputasie het, sê Philani Potwana, hoof van intreemarkte by FNB. Sy kollega, Lee Bromfield, uitvoerende hoof van FNB Life, voeg by dat al hoe meer skelms betrokke raak by hierdie skelmstreek om begrafnispolisse te verkoop wat nie bestaan nie.

Die polisse word gewoonlik direk aan verbruikers verkoop en premies word as kontant ingevorder, maar daar is geen maatskappy wat die polis onderskryf nie. Die premies word ook nie aan ʼn geregistreerde versekeringsverskaffer oorbetaal nie.

Bromfield en Potwana beveel aan dat verbruikers die volgende wenke in gedagte hou om te voorkom dat hulle die slagoffers word van een van hierdie begrafnispolisskelms:

  • Bly weg van ongeregistreerde begrafnisdienste

Terwyl sommige verskaffers goedkoper premies en meer gerief belowe omdat hulle in jou gemeenskap bedryf word, is hulle egter nie altyd geregistreer nie. Daarom is dit beter om ʼn begrafnispolis uit te neem wat deur ʼn gerekende versekeraar verskaf word. Jy kan seker maak dat die polisverkoper geregistreer is deur in verbinding te tree met die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) of die Vereniging vir Spaar en Beleggings van Suid-Afrika (ASISA).

  • Maak seker jy beklink die transaksie met die regte persoon

Die bedrieërs gee soms voor dat hulle werk vir ʼn bekende versekeraar of verskaffer van finansiële dienste. Vra altyd vir die persoon wat die polis verkoop vir die maatskappy se besonderhede en maak seker of hulle by die FSCA geregistreer is. Indien die sogenaamde versekeraar nie die besonderhede wil gee nie, stuur die persoon weg en moenie enige sake met hom of haar doen nie.

  • Vra vir ʼn polisskedule

Nadat jy die polis uitgeneem het, vra die versekeraar om vir jou die polisskeduledokument te stuur vir jou rekords en as bevestiging van jou dekking. Die versekeraar is verplig om hierdie inligting vir jou te gee. Dit is belangrik om nie te teken vir enigiets wat jy nie verstaan nie. ʼn Goeie versekeraar sal deursigtig wees en alle relevante besonderhede bekend maak sodat jy gemoedsrus kan hê dat alles wat jy verlang deur die polis gedek word.

  • Maak seker jy weet wie is die versekeraar agter jou polis

Mense wat begrafnispolisse verkoop, werk nie altyd vir die versekeraar self nie. Jy moet daarom seker maak dat jy presies weet watter maatskappy die risiko van jou polis dra en die eise sal uitbetaal. Dit is baie belangrik om die hele polis te verstaan sodat jou gesinslede of familie nie later sukkel om eise te laat uitbetaal nie.

  • Moenie premies in kontant betaal nie

Bedrieglike begrafnisondernemings sal dikwels vereis dat jy die maandelikse premies in kontant betaal sonder om rekord te hou van jou betalings. Kies liewer ʼn debietorder om jou premies te betaal sodat jy dit later het om te bewys jy het betaal. Jy moet ook nie begin betaal voordat jy die polisdokument ontvang het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.