Chris Chameleon: Leiers wat nie kan (of wil) lei nie

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Laat ek dit dan nou maar sê, ek het in my lewe nog nooit ʼn persoon geken wat geskik is om my te lei nie. Ewe belangrik is dat ek nog nooit ʼn persoon geken het wie ek geskik is om te lei nie. Dalk is daar ʼn persoon wat ek nie ken nie, wat geskik is om my te lei, maar ek is ook nie geïnteresseerd om my te laat lei deur iemand wat ek nie ken nie. En ja, dit is ʼn netelige kwessie, want leierskap en strukture van gesag is nou eenmaal ʼn deel van ons lewens soos rioolwerke en skoene dra – ʼn mens kan daarsonder, maar ʼn mens kan jou kwalik ʼn lewe daarsonder voorstel.

Die afgelope meer as dertig jaar van my volwasse lewenservaring het ook nie veel gedoen om my smaak vir leierskap te verbeter nie, inteendeel. Teleurstelling op teleurstelling het my teen hierdie tyd al skoon allergies vir leiers gemaak.

Daar is figure, en ek ken sommige van hulle persoonlik, wat volkome in staat is om instansies te lei wat enorme verbeteringe en vordering in ons samelewing teweeg bring. Met daardie soort leierskap het ek geen probleem nie, omdat dit opsioneel is. Anders as die geforseerde, onvermydelike leierskap van ʼn politieke elite, kan ek kies om ʼn instansie se leierskap oor sekere fasette van my lewe aan te neem al dan nie.

Leierskap is deksels moeilik. Dit sal die morele draer van die verantwoordelikheid van leierskap uitmergel en belas met geweldige wroeginge. Alternatiewelik – en dit glo ek is die algemener vorm van leierskap en die tipe wat daartoe aangetrek word – kan leierskap ʼn gerief van mag en welgesteldheid verseker vir die psigopatiese ampsdraer, wat in kille tevredenheid kan smul aan die vrugte van leierskap.

Hoekom ek myself as onbevoeg vir leierskap beskou is ʼn lang storie, maar ek vertel graag een deeltjie daarvan.

Tien jaar nadat ek die nasionale toneelkompetisie gewen het wat vir alle praktiese doeleindes my voet in die deur van die vermaaklikheidswese gevestig het, het dieselfde organisasie gevra of ek sal dien in die hoedanigheid van beoordelaar vir die finale. Daar sit ek toe in Pretoria en kyk hoe die sewe finaliste van die room van Suid-Afrika se jong talent met passie, groot drome en diepe toewyding wedywer om die groot kontantprys, die studiebeurs en die wêreld vol geleenthede wat oopgaan vir die wenner.

Soos gebruiklik, vergader die paneel van beoordelaars vir oulaas om die stemme te tel en die wenner en naaswenners aan te wys. Ek hou my eenkant, in die geselskap van my eie gedagtes. Die konsensus tussen my mede-beoordelaars is sterk. Almal stem saam oor die wenner en die tweede en derde plekke word in wisselende volgorde, maar altyd aan die dieselfde kandidate toegewys. Uiteindelik word die lys bepaal en toe val dit iemand op dat ek uit hoofde van my stilligheid ver in ʼn hoekie agter in die vertrek die armbeurs my stuiwer ontsê het.

“Wat dink jy, Chris?”

Ek steek toe ʼn potente preek waarin ek met respek ʼn beroep op my kollegas se oordeel doen om nie die afrigter te beloon nie, maar die kunstenaar. Die wenner, redeneer ek, is verreweg die mees afgeronde speler. Sy program is tot in die fynste detail uitgewerk en die puntenerige aandag aan nuanse, ritme, dinamiek en emosionele afwisseling getuig van die kundigheid wat deur ʼn gevestigde afrigter in haar dertigste jaar van drama-onderrig verwerf is. Ek verduidelik aan hulle hoe ek self tien jaar gelede op daardie verhoog te staan gekom het teen ses ander kandidate wat elk óf uit ʼn kunsskool kom óf as buitemuurse aktiwiteit by ʼn dramaskool hulle vaardighede geslyp gekry het. Die beoordelaars het destyds in my rou, ongeraffineerde talent belê met ʼn stempel van goedkeuring en vertroue in my werksetiek.

Ek voer toe aan dat die kandidaat wat op hierdie mooi aand die derde plek gegee word, die meeste rou talent het. Dat hy nie afgerig is nie, dat sy program getuig van ʼn sterk en opwindende verbeelding en dat, ondanks die tegniese tekortkominge, sy aanbieding die sterkste tot die hart van die toeskouer gespreek het.

Ná ʼn kort beraadslaging, laat die ganse paneel hulle toe oorhaal deur my hartstogtelike pleidooi en word hierdie spesiale jongman toe as die wenner aangewys.

Twee jaar later gaan koop ek een middag sigarette by die kiosk van ʼn kruidenierswinkel in die omgewing. Die winkelassistent wat my daar bedien is niemand anders nie as die jongman vol drome, verbeelding en talent om wie se ontwil ek my twee jaar gelede beywer het.

“My wêreld jongman!” roep ek verbaas. “Wat op dees aarde maak jy hier? Ek wou al so graag jou naam in liggies sien!”

“Nee oom, dit het toe nie so uitgewerk nie.”

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Etienne ·

Jy het jou verantwoordelikheid nagekom, punt. Dankie Chris vir jou lekkerlees bydraes.

koos ·

Leierskap beïnvloed ons almal (vra maar die gemiddelde Maroela leser wat hy/ sy dink van oorle de klerk…). Die probleem het vererger – daar is glad nie meer persoonlike slegte gevolge vir ons huidige regime nie. As ons eskom verdwyn, hou hulle liggies aan met werk asof dit ‘n wonderwerk is – ‘n wonderwerk wat deur die belastingbetaler se geld gefinansier word, terwyl die einste belastingbetaler in die donker sit. Ons kragprys gaan elke jaar met rasse skrede op, terwyl daar niks aan die township kragdiewe gedoen word nie. Daar is meer SASSA ontvangers as belastingbetalers. Iewers moet iets mee gee of ingee, en daai dag kan nie gou genoeg kom nie. Daarna, as ons oor begin en jy het die talent om te lei, kom asseblief na vore, selfs al wil jy nie lei nie. Jou medemens het jou nodig, en jou talente is in aanvraag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.