Chris Chameleon: ʼn Dorman in die huis

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Met groot oë kom my dogter die kamer binne gehardloop en maak alarm. “Pappa! Kyk! Kom kyk gou!”

Soos enige ouer, herken ek die stemtoon en kan dit onmiddellik toeskryf aan ʼn sekere versameling moontlike gebeure:
– Sy het ʼn nuwe blokkietoring gebou
– ʼn Koei staan voor die kombuisdeur
– Die kat het ʼn veldmuis by die huis ingebring
– ʼn Buurman kom by die oprit op
– Daar’s ʼn padda in die voorhuis.
– Sy’t iets gebreek en kom vermeld dit om die angel uit moontlike gevolge te haal.

“Wat is dit, Lente?” vra ek, slegs effe belangstellend van agter my werkstafel.
“Dorman! Daar’s ʼn dorman, pappa!”

ʼn Dorman. Dit klink ernstig. ʼn Dorman klink nie na iets wat enigiemand wil teëkom nie. Wat kan ʼn dorman doen? Sy antenna by jou neusgat oprank en jou brein soos ʼn melkskommel uitslurp? Dalk kom hy vanuit die berg gestap met groot dik bene van rots gemaak, elkeen so groot soos ʼn Putco-bus en vertrap jou huis? Miskien kom staan hy met ʼn boggelrug voor jou deur in ʼn vuil ou slonsjas met ʼn blikemmer oor sy kop en wieg skeef, stil, heen en weer.

“Gogga maak vir baba bang.” Die hoofkarakters in hierdie ou idioom is ʼn baba en ʼn gogga, maar soos dit met idiome gaan, gebruik ʼn mens dit byna nooit om van babas en goggas te praat nie. Dit gaan gewoonlik om grootmense en grootmensdinge.

Ek het grootgeword in ʼn tyd van groot gogga-maak-vir-baba-bang-streke. Dit lyk my meeste grootmense het al vergeet hoe erg die Koue Oorlog was. Die groot Rooi Beer uit die Ooste het op die landsgrense gestaan en brul, elke dan en wan het daar so ʼn vlagie histerie oor die moontlikheid van ʼn kernoorlog deur die samelewing gewaai. Predikers het skooltoere onderneem waarin hulle ons teen die euwels van pop- en rockmusiek gemaan het met bewyse soos vaagweg hoorbaar gemompelde boodskappe wanneer plate agteruit gespeel word.

Deesdae spook Noord-Korea so af en toe in ons mediahuise en ek gaan my dalk die grimmigheid van te veel mense op die hals haal as ek nou begin praat oor wat die afgelope twee jaar in die wêreld aangaan en daarom gaan ek glad nie begin praat oor wat die afgelope twee jaar in die wêreld aangaan nie. Ek sal net noem dat ons tans nog besig is om tot verhaal te kom oor wat die afgelope twee jaar in die wêreld aangaan en dat dit vir my lyk of ons die “tot verhaal kom” gaan uitstel en/of afstel omdat daar nou in Oekraïne ʼn gogga vir baba bang maak.

My vriende in Europa (hulle is veeltalig, soos dit maar gaan as ʼn mens vir twintig jaar elke jaar daar gaan werk) is hoogs besorg oor die nuus wat tans uit Oekraïene kom. Ons praat gereeld oor sulke dinge en wat wel duidelik is, is hoe anders ek, dalk uit hoofde van my Suid-Afrikaanse perspektief, na wêreldgebeure kyk.

Suid-Afrika het die afgelope twee dekades haar vereenselwiging met die Westerse wêreldbeskouing fundamenteel hersien. Wit mense in Suid-Afrika sukkel nog om dit gewoond te raak, maar amptelik is Suid-Afrika byvoorbeeld nie te ingenome met die Wêreldhof nie, kies sy die kant van Palestina teen Israel, assosieer sy meer met lande soos China, Indië en Rusland en dit wil voorkom of die langtermyn bondgenootskappe op ander plekke gevorm word as wat iemand wat as Westerling in Afrika identifiseer dalk sou verkies.

Mens vertel vir babas stories van goggas om hulle bang te maak, en die bedoeling van goggas in die stories van Hansie en Grietjie, Repelsteeltjie, Sneeuwitjie ens. is om hulle lesse te leer. Want ʼn bang kind se gedrag is in sekere opsigte makliker om te beheer. En daarom raai ek maar meestal my Europese vriende aan om nie nuus te kyk nie. Daar is bitter min daaruit te baat.

Dis ʼn fyn balans, want om onder ʼn klip te gaan sit is dalk nie minder produktief as om bo-op ʼn klip te gaan sit nie.

Maar eers moet ek gaan vasstel wat die dorman is, wat die bedreiging vir die huis is, wat werklik daaraan gedoen kan word. Ek besluit om nie my geweer uit te haal nie en volg haar na die stoepkamer. En daar sien ek die dorman. Hy beweeg rats en angstig rond en brom soos ʼn 50cc-motorfiets wat in ʼn voorstedelike straat ʼn pizza aflewer.

Ek maak die venster oop en laat die dorman (haar woord vir ʼn brommer), met sy verskriklike naam en ontsenuwende geluid, na buite. Die huis keer terug tot ʼn staat van vrede en geen bedreiging.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Deon ·

Ons moet dalk meer soos die meerkat regop bo-op die klip sit en die gevare betyds sien aankom. Die wegkruipery (onder die klip) van die/dit wat die wereld se mense seermaak, help niemand. Die gebeure in die Oekraïene maak reeds almal wereldwyd baie seer en die wegkruipers gaan die moeilikheid nie ontglip nie.

Psyggie ·

Chris, j y mag maar meermale stukkies neerpen. Dit is kostelik en kosbaar.

FM ·

Ek stem saam. ‘n Brommer is ‘n dorman.
‘n Brommer, vlieg, muis, rot, Indiese spreeus, witbors kraaie het op hierdie plaas geen bestaansreg nie.
Dankie Chris, ek geniet jou vertellings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.