Chris Chameleon: Sou jy wou bid?

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

“Zou je willen bidden?” kom die hoflike vraag van ons gasheer en vriend, hier waar ons aansit vir ete in Nederland. Die tieners aan tafel, al drie van hulle tussen twaalf en agtien, die ma en die pa is almal, soos by verre meeste Nederlanders waarvan ek weet, ateïste en het reeds die gebruiklike, gesellige “eet smakelijk!” uitgeroep en eetgerei opgeneem om weg te lê.

Ek bid graag voor ete en my vriend weet dit. My dae is gevul met klein gebede: voor etes, voor ek gaan slaap, wanneer ek opstaan, soms wanneer ek in die verkeer sit. Die gebede is meestal dankseggings en bevestigings. Die gemak van gebed en die veiligheid daarvan het ook ʼn balanserende effek op my gemoed, asof ek onmiddellik ʼn soort ekwilibrium vind en die wêreld weer in sy (nietige) perspektief kan sien. Hulle weet dat wanneer hulle op besoek kom by my huis in Afrika, sal daar volgens die gebruik in my huis gebid word, maar nou wonder ek of ek hier moet bid of nie. Die geskuifel van tienersitvlakke op stoele verkondig reeds die ongemak, maar dit pla my nie – ek wek soms ongemak vir ʼn lewe.

***

Die winterspele is tans in volle swang in Suid-Korea. Ek vermoed dat my mense, daar ver in Suid-Afrika, net terloops kennis neem daarvan. Maar hier, in die koue van Wes-Europa is dit ʼn groot saak en klein Nederland staan ten tyde van hierdie skrywe in die vyfde plek met 17 medaljes, waarvan sewe goud is en die frisse geur van nasionale trots hang in die lug.

Nes in die geval van die somerspele, is daar baie items waar konsentrasie vooraf van uiterste belang is. Voordat die atlete jare en jare se oefening in hierdie een enkele, dikwels belangrikste oomblik van hulle lewens laat uitloop, staan hulle nie daar en dink aan koeksisters en toffieappels of oor hoe die mini-reeks wat hulle deesdae volg gaan eindig nie. Hulle visualiseer hulle sukses. Hulle sien hoedat hulle met gemak en grasie hul item voltooi en afrond. Onder leiding van hulle sportsielkundiges, lig hulle hul gemoedere met dankbaarheid vir die feit dat hulle daar kan wees en met waardering vir die toeskouers se ondersteuning van hulle uitnemendheid. En dan gebeur die vreemdste ding, al hierdie kopspeletjies, hierdie verbeeldingsreise, hierdie oortuigings, rituele en ontasbaarhede manifesteer in ʼn asemrowende, praktiese en wêreldse werklikheid. Kortom, of hulle dit nou so wil bewoord of nie, hulle het gebid en hulle gebede is verhoor.

In my reise na 35 lande, waarvan ek in 33 gewerk het, het ek telkens interessante verskille tussen nasies kon sien. “Almal het hulle geite,” soos ʼn Karoovriend altyd sê.

Een van die opvallende gewoontes van Nederlanders is dat hulle mekaar nooit laat eet sonder goeie wense nie. Dit gebeur uiteraard nie in restaurante nie, maar by die werk, in ʼn huis – wanneer jy sit en eet en selfs iemand wat nie eet nie kom verby, sê hulle altyd “eet smakelijk!”. Dis ʼn beleefde en algemene praktyk, soos vir Engelse om te sê “bless you!”  nadat iemand genies het. Die geselligheid van die toewensing is ʼn gedagte wat vorm kry in ʼn beweging van spraakorgane, wat die lug versteur en wanneer die luggolwe teen 1 000 m/s na jou oor toe beweeg, teen jou timpanum hamer en deur jou brein (ag hoe lekker wetenskaplik, hoe aards) vertolk word as ʼn toewensing, gebeur die mooiste ding: jy voel beter, die atmosfeer word geselliger, spysvertering vergemaklik en die ete is ʼn dankbare plesier.

***

Ons gasheer wag vir ʼn antwoord. Bid? Of nie?

“We hebben het zojuist gedaan,” antwood ek.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Luister ·

Baie dankie vir die pragtige, suiwer Afrikaans.
(En Hollands, haha.)
Jy verdien ook baie respek deurdat jy jou Christenskap so openlik uitleef.
Doen so voort.

evsbest ·

Kan nie wag vir die Meneer se boeke wat op die rake moet begin pryk nie. Fantastiese bewoording.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.