Die eertydse Nazi-vakansiedorp Prora – herrys uit die ruïnes

“Auferstanden aus Ruinen, und der Zukunft zugewandt…” (Herrys uit die ruïnes, en die blik op die toekoms gerig) lui die eerste strofe van die eertydse Duitse Demokratiese Republiek (oftewel die kommunistiese Oos-Duitsland) se volkslied. Dit is waaraan ’n mens onwillekeurig moet dink as jy die ruïnes van die eertydse vakansieoord Prora op die Duitse eiland Rügen sien, wat nou nuwe lewe kry.

Rügen is Duitsland se grootste eiland en is in die Baltiese See geleë. Vandag is dit een van die gewilde vakansiebestemmings in Duitsland, veral vir binnelandse toeriste. Vir buitelandse besoekers is dit te ver uit koers uit en weg van die klassieke roete met sy sterk klem op Beiere en die Wes-Duitse Rhyn-vallei.

Die aangename seeklimaat, die skoon, breë en lang sandstrande asook ’n idilliese landskap het dit al meer as honderd jaar gelede ’n gewilde vakansiebestemming vir veral die mense van Berlyn gemaak. Keiser Wilhelm II was ook verskeie kere daar en van daardie tyd getuig nog talle pragtige villas in die Ostseebad Binz en ander kusdorpe wat destyds aan welgesteldes en adellikes behoort het en nou meesal hotelle en restaurante is.

Ook die Nasionaal-Sosialiste, oftewel Nazi’s, het die potensiaal van Rügen raakgesien. Anders as in die tyd van die keiser wou hulle egter ’n vakansieoord skep wat hom doelbewus op die arbeiders rig.

’n Paar kilometers noord van Binz is ’n lang sandstrand sonder ’n dorp naby. Hier het die Nazi’s se ontspanningsorganisasie vir die werknemers, Kraft durch Freude (krag deur vreugde), begin om ’n enorme vakansieoord vir 20 000 mense te bou. Soos alles wat die Nazi’s aangepak het, was dit monumentaal en ’n magsvertoon. Die georganiseerde vakansies het natuurlik ook ten doel gehad om die werkers met die Nazi-ideologie op ’n meer subtiele wyse te beïnvloed. Verskeie woonstelblokke is op ’n lengte van 4,5 kilometer gebou. Dit is in 1936 begin, maar weens die begin van die Tweede Wêreldoorlog in 1939, waar alle materiaal en werksmag vir die oorlogspoging benodig is, is die werk gestaak en dit nooit voltooi nie.

Ná die oorlog was Rügen deel van die Sowjet-besette deel van Duitsland en van die kommunistiese vasalstaat DDR (Duitse Demokratiese Republiek). Ook die kommunistiese party in die DDR het sy eie massa-organisasie vir die werkers gehad en het ook belang gestel om die kompleks te gebruik, maar die toeslag is toe aan die weermag gegee wat dit as barakke en opleidingsinstansie gebruik het, al was die geboue nie heeltemal voltooi nie. Hier was ook die bousoldate gevestig, die semi-militêre eenheid vir mans wat nie kans gesien het vir die diens met die wapen nie en as ’n soort tweederangse soldate bouwerk gedoen het. Op die hoogtepunt van die militêre benutting het daar 10 000 soldate in Prora gewoon en dié omgewing was verbode gebied.

Ná die einde van die Koue Oorlog en die DDR in 1990 is die strukture aan die Duitse weermag, waarin die DDR se NVA (Nationale Volksarmee) opgegaan het, oorgedra. Die weermag het, reeds besig om af te skaal, egter geen benutting vir die kompleks gehad nie en dit het weer ’n ruïne geword. Weens sy historiese betekenis as een van die min fisieke oorblyfsels van die Nazi-era is dit tot nasionale monument verklaar en in dele van die kompleks is ’n museum ingerig.

Vanaf 2004 is begin om die geboue aan verskeie ontwikkelaars te verkoop. Die reusekompleks sou ’n gemengde ontwikkeling ervaar van permanente wonings, vakansiewoonstelle, ’n hotel en jeugherberg en verskeie winkels en restaurante asook twee museums.

Die ontwikkeling is tans ver gevorder, maar nog nie voltooi nie, sodat ’n mens op opwindende wyse verlede en toekoms dig bymekaar kan sien. Dit is as ’t ware ’n langwerpige stad in wording en dit het deeglike beplanning geverg om die belange van die omgewing, die geskiedkundige erfenis, die behoefte aan wonings, vakansieplekke en ontspanning asook die infrastruktuuruitdagings in balans te bring.

Vakansieplekke, veral direk by die see, is ook in Duitsland baie gesog en duur, en die vakansiewoonstelle se koopprys begin by 280 000 Euro (sonder ʼn seeuitsig), sowat R5,3 miljoen ná die huidige wisselkoers. Meeste is reeds verkoop. Alhoewel die monumentale betonargitektuur in sy nugtere Bauhaus-styl nie juis aansprekend is vir ’n vakansieoord nie, is dit deur wit verf, grasperke, fonteine en ornamente hier en daar verfraai en die ontwikkeling is oor die algemeen geslaag. Die Nazi- en DDR-verlede maak dit boonop ’n unieke vakansieoord.

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese ·

Interessant dat die Nazi-verlede van hierdie vakansiedorp vir Duitsers aanvaarbaar is, maar die pragtig historiese Spandau Tronk moes gesloop word. Ai jai jai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.