Die verhaal van die swart dood in Eyam

Parogiekerk in Eyam (Foto: Alan Fleming via Wikimedia Commons)

Terwyl ek myself sit en jammer kry omdat ek tot satwordens toe ingeperk word en van my vryheid ontneem word, het ek skielik die storie van Eyam (uitgespreek Eem) in die natuurskone Derbyshire in die Engelse Middelande onthou. Dis ʼn tipiese eeueoue dorpie wat tot stand gekom het toe daar nog net met klip gebou is.

Die kronkelpad tussen digbegroeide klipkoppies eindig skielik as ʼn mens half onverwags die dorpie binnery. Herinnering aan wat ná meer as drie eeue gelede daar gebeur het, hang steeds swaar in die lug as ʼn mens rustig rondstap en kyk en lees wat op gedenkplate geskryf staan.

Vir eeue het die Midde-Ooste en Europa gesteier onder ʼn dodelike, uitwissende plaag wat na bewering vanaf China oorgewaai het en miljoene lewens geëis het. In die jare 1665-1667 was die pandemie beperk tot Londen en die vernaamste hawestede in die Suide en het nie Noordwaarts na die nywerheidstede versprei nie.

Toe gebeur daar ʼn tragiese ding in die dorpie Eyam in die hart van die Engelse Middelande. ʼn Bekende kleremaker het materiaal en gebruikte klere uit Londen bestel. Toe sy assistent ene George Viccars die bondel oopgemaak het, was dit besmet met vlooie, draers van builepes waarna as Black Death verwys is. Hy het binne dae siek geword en is ʼn week daarna dood. Binne twee weke het nog sewentien mense gesterf.

Met die aanbreek van die winter het sterftes tot ʼn einde gekom, maar so stilletjies het daar ʼn mutasie ontstaan en met die koms van die somer het die rol van vlooie en rotte as draers op die agtergrond verdwyn en is die plaag van mens tot mens oorgedra en talle sterftes het gevolg.

Nou net so ʼn tussenwerpsel: Terselfdertyd was daar ʼn dreigende godsdienstige burgeroorlog waarin die Anglikaanse Kerk ʼn rol gespeel het. Eyam se predikant (Rector) ene Stanley, ʼn Purityn en Oliver Cromwell-gesinde, is teen die lidmate se wens van sy pos onthef en ʼn andersdenkende, ene William Mopessen, ʼn monargie-gesinde, het hom met teenkanting van die gemeente, opgevolg.

In Junie 1666 het William Mopessen die gevaartekens en realiteit van die situasie besef en die gedagte van isolasie, om te keer dat die pes na die nywerheidstede versprei, sterk propageer. Die inwoners het aanvanklik nie geneë geneem met die gedagte nie, maar William Mopesson het die afgedankte predikant na sy kant toe oorgehaal en die inwoners was bereid om toe saam te staan. Stanley het in die buitewyk van die dorp sy intrek geneem, waar hy gebly het totdat hy weens die pes te sterwe gekom het.

Een van die grensklippe (Foto: Smb1001 via Wikimedia Commons)

Met ʼn radius van een myl is groot klippe en rotse in ʼn sirkel gepak om die middedorpgrens aan te dui. Niemand durf die grens oorsteek en niemand is ingelaat nie. Dit was ʼn geval van totale inperking om te verhoed dat die pes (Black Death) verder versprei. Net so onder ʼn duisend inwoners het hulle lewe op die spel geplaas om te keer dat ander sterf.

Inwoners van naburige dorpies het, as niemand in sig was nie, kos en ander lewensmiddele op die omringende klippe en rotse gaan neersit. Later het inwoners holtes in die klippe gekap, en met asyn gevul. Inwoners se munte wat ook in asyn gehou is om dit te ontsmet, is dan in die holtes gelaat. So het hulle hulle dankbaarheid aan die weldoeners betoon.

Met die koms van die somer het die mutasie vernietigend mense voor die voet afgemaai. Daar was nie meer plek vir grafte om die kerk nie en die eienaar van die lykswa kon nie byhou nie. Afgestorwenes is op komberse uit die dorpie gesleep om iewers begrawe te word. Elizabeth Hancock het sewentien familielede verloor en sy het haar man en ses kinders uitgesleep en op Riley Hill, binne die klipring, gaan begrawe. Tydens begrafnisdienste het families in groepe in die buitelug gestaan uit vrees vir verspreiding van die pes, van familie tot familie.

So het dit vir veertien maande aangehou, totdat ongeveer slegs ʼn kwart van die inwoners oorgebly het. Rector Mompesson, die predikant wat ook sy vrou verloor het, het dit so beskryf: My ears have never heard such doleful lamentations. My nose has never smelt such noisome smells and my eyes have never beheld such ghastly spectacles! Ná sy vrou se dood het hy uitgeroep: A Golgotha, a place of skulls!

Dorpsmeent en Kerkstraat (Foto: Alan Hearman via Wikimedia Commons)

Ná veertien maande het die swart dood hom uitgewoed en het die dorpie oor ʼn lang tyd weer teruggekeer na normaal. Rector Mopesson het ná sy aftrede probeer om na ʼn naburige dorpie te verhuis, maar die smet van die swart dood het aan hom bly kleef en was hy nêrens welkom en aanvaarbaar nie. Iewers het hy ʼn blyplek gekry waar hy tot sy dood toe gebly het.

In 1842 skryf William Wood, een van die afstammelinge van die oorlewendes: The immortal victors of Thermopylae and Marathon have no stronger claim to the admiration of succeeding generations than the villagers of Eyam, who in a sublime, unparalleled resolution gave up their lives – yea doomed themselves to pestilential death to save the surrounding country.

Eyam se inwoners het vir langer as ʼn jaar opgeoffer ter wille van ander. Amper alles verloor om weer van vooraf te begin. Die Swart Dood het sy tol geëis en die wat oorgebly het, het aangegaan met die lewe tot waar Eyam vandag, weliswaar ná eeue, steeds die idilliese dorpie in die natuurskone Peak District van Engeland is.

Daar was en is steeds lewe ná 1665-1666 se Black Death in Eyam. Daar móét en sál weer voluit gelééf word nadat die Covid-19-virus sy tol in 2020-2021 in ons dorpe, stede en landelike gebiede geëis het. Ons moet doen wat ons moet doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vlam ·

Baie dankie, gee mens hoop in hierdie tyd laat dinge weer eendag na normaal sal keer.

annie ·

Ek glo g’n woord van die so gehoorsame dorpenaars nie… weer die Britte wat shine vang. Dit het wild gegaan gedurende pandemies, veral die grotes en die regerings van die dag was erger deurmekaar as die beste politieke sirkusse in die hede. Lees Camus se Die Pes (in Afrikaans vertaal), ‘n fiktiewe geval en die Decameron (1353) van Boccaccio. Chaucer se The Canterbury Tales speel in die tyd van ‘n erge pes af. John Aberth is ‘n hedendaagse skrywer van boeke oor die Swart Dood. Verhale oor grootse heldedade en naasteliefde… is skaarser as hoendertande en sulke helde word selde besing.

Heinrich ·

Dankie Johan, goeie storie. Dit bly belangrik om in die hedendaagse ‘ek-‘ en ‘my-kultuur’ die groter prentjie te sien.

Eend Bessinger ·

Inspirerende artikel! Met die hulp van die Skepper sal ons ook hierdie plaag oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.