Dorings en ander bossies met ʼn prekie

Argieffoto (Foto: photoAC, Pixabay)

Dis ‘n ding wat ek van oorle Pa gekry het. Hy’t nooit van onkruid gepraat nie, maar van dorings en bossies en in die algemeen daarna verwys as “vuilgoed” en vuilgoed moes uit! Sy redenasie was destyds dat onkruid die geplante gewasse se kos opgevreet het. Daarom was sy landerye en boorde altyd skoon. Menigmaal het hy die voortou by die werkvolk geneem en self agter die skoffelpik ingeklim. Al singende, op die ritme van die skoffellied, het hulle ry na ry kafgedraf.

Hy het dit veral teen dorings, klitse en ‘n verskeidenheid Engelse vuilgoed gehad. Hy het vas geglo dat kankerroos of boetebossie, kakiebos, knapsekêrel en olieboom vuilgoed was, wat die Engelse die land ingebring het. Glo in die Kakies se perdevoer tydens die Vryheidsoorloë. Skotse dissel het dit immers duidelik bevestig. As Pa dit gesê het, was dit so, tot heden en vandag toe! Sekere bossies soos misbredie, hoenderkos en hondepisbossie was verduur omdat dit bruikbare bossies was. Maar ook net as dit in die omgewing van die kraal of dam se kant toe gegroei het.

So het ek ook my kinders grootgemaak – veral wat dorings betref. Die vuilgoed moes uit! Oral waar ons gebly het, was dit veral kleinduwweltjies, grootduwweltjies en skaapduwweltjies wat nie geduld is nie. As jy van die goed raak trap, is hulle uitgetrek en dan in die vuurmaakplek gegooi. En as hulle ná die reën opgekom het, is elke plantjie uitgetrek voordat hy kon saad maak. Só het speelplek om die huis doringloos geraak. Nou sien ek my kinders leer my kleinkinders om dieselfde te doen. Goed so!

Dis ‘n onbegonne taak om die pynderduiwels oral uit te roei – veral as daar nie genoeg hande is om die werk te doen nie. Onlangs, toe ons by die kinders gekuier het, het ek opgemerk dat daar in die vrugteboord kolle duwweltjies was. Ek het begin om die vuilgoed kol vir kol uit te roei. Emmers vol plante met dorings is op ‘n hoop gegooi om droog te word en om dan gebrand te word.

Ek het, terwyl ek daar gesit (ja, deesdae buk ek nie meer nie, ek sit op ‘n bankie) en duwweltjies uittrek, het ek onthou hoe ek as seuntjie soms met beide voete in die dorings beland het en dan bitterlik begin huil het. Dan het Pa voor my kom hurk sodat ek op sy rug kon klim en dan het hy my gedra tot op ‘n plek waar hy die dorings kon uittrek – en die trane met sy hand afgevee het! Dan het hy weer vir my beduie waar daar altyd doringkolle was en dat ek daar moes wegbly.

Dit was altyd vir my lekker om saam met Pa vuilgoed uit te trek omdat dit mettertyd so ‘n soort van ‘n band tussen my en hom gevorm het. As die grond los, of lekker nat na ‘n bui reën was, het ons saam gebuk en vuilgoed uitgetrek. Nadat ‘n stuk skoongetrek was, het ons asem geskep en dan het Pa se “Goed so, my seun!” sag op my oor geval. Vandag nog onthou ek die geure van nat grond en gekneusde plante. En die groen aan ons hande wat ons in die leivoor afgewas het.

Eendag, met my ou kleinetjie in sy grote growwe hand, het ons langs die geploegde land met die ploegsooie wat in die vroegoggendson geblink het, afgestap. Pa het ‘n olieboom, wat die ploeg vrygespring het, aan die anderkant van die land raakgesien. Hy het my opdrag gegee om die vuilgoed te gaan uitpluk. Ek het die kluite en sooie so ‘n kyk gegee en toe gesê-vra: “Pappa, dis ver en daar is net een!” “Ja, my seun”, het hy gesê. “Daai één gaan saadskiet en dan moet ons een van die dae ‘n plaat vuilgoed uittrek!” Ek het die olieboom gaan uittrek en toe ek weer by hom aansluit was sy “Goed so, my seun!” genoeg beloning. Hy kon sekerlik self die vuilgoed gaan uittrek het, maar hy het van beter geweet … Daar is altyd lesse te leer.

Terwyl ek daar sit en duwweltjieplante, met seker derduisende duwweltjies aan, uittrek en sien hoe die krat al voller raak, het my gedagtes ver paaie geloop. Ek het weer in Pa se diep voetspore geloop. Hy het min gepraat, maar my so baie dinge geleer. Dinge oor die lewe. Dankie Pa!

Daar op die bankie tussen die duwweltjies, het my gedagtes pad gevat. Ek was terug by, met albei voete in die dorings beland: Toe ek my weer kom kry, toe sit ek en preek ‘n prekie vir myself. So baie mense om ons, land met beide voete in die dorings – dorings wat baie keer bitter seer steek. Dorings van die lewe. Soms teen hulle beter wete in en in ander gevalle weer onverwags, onverdiend of per ongeluk. Verlies. Teleurstelling. Skade. Skande. Of sommer net wanneer die lewe sy gatkant na iemand toe draai. Dit kan soms bitter moeilik of dalk baie maklik wees, maar as ‘n mens voor so iemand gaan hurk, kan dié persoon opklim en gedra word na ‘n plek waar die dorings uitgetrek kan word … Ja, en verder kan uitgewys word waar lê die doringkolle, wat vermy moet word. Dis immers ‘n duidelike, dringende opdrag: “Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.” Gal. 6:2.

Oor die enkele olieboom wat uitgetrek moes word, dag ek: As ons om ons rondkyk, sien ons oliebome. My olieboom. Jou olieboom. Syne. Hare. Ons almal se oliebome. Haat. Ongeduld. Eiebelang. Onredelikheid. Teleurstelling. Verdriet, noem maar op. Dié goed wat my eie en ander se lewens versuur en vergal. Oliebome is vuilgoed, het Pa gesê, en vuilgoed moet uit! Ook die enkele een, voordat hy saadskiet. Oorle Ma het altyd vir ons gesê: “My kind, los die verkeerde goed! Moenie dat hulle kleintjies uitbroei nie!”

Dorings en bossies sal daar altyd wees “Vuilgoed!” het Pa gesê. “Die goed moet uit, anders skiet hulle saad!” Dis so waar, want bietjie kan onbeheerbaar baie raak … Ek en jy kan ‘n verskil maak. Nee, móét ‘n verskil maak!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

MM ·

Die ergste olieboom – die wat wortel en tak uitgetrek moet word, is die van eie-haat, eie-soort haat, en eie-doubt. Daaruit spruit teveel wortels wat die hele woud kan besmet en vernietig. Groetnis :-)

Annie ·

Baie wonderlike skryfstuk. As ek so self in die tuin skoffel en al die “vuilgoed” verwyder dink ek baie aan wat die Here in sy woord se oor die goeie saad wat gesaai word en waar dit val. As ek wel na laat om te skoffel siende dat ek ‘n enkel ma met twee tiener dogters is wat alles self doen, dan is dit ‘n groot skok om te sien hoe vinnig hierdie onkruid orals oor gevat het al was ek ook die vorige keer hoe deeglik. Dan besef ek dat ons in ons eie lewe die onkruid gedurig moet verwyder anders mag dit net oorneem en word dit baie moeiliker later om dit verwyder.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.